Is julle ‘n gemeente of ‘n skare?

 

When the time comes for you to die, you need not be afraid, because death cannot separate you from God’s love. —C.H. Spurgeon

 

Is julle ‘n gemeente of ‘n skare?

Daar mag baie mense in die erediens wees., maar jy mag steeds nie ‘n gemeente wees nie. ‘n Skare moet ‘n gemeente word – mense moet ingeskakel word. Hierdie hele proses begin by mense se bewustheid van die gemeente. Daarna moet jy hulle beweeg om eredienste by te woon en dan om aktiewe lidmate te word. Die skare praat van “hierdie gemeente”; die gemeente praat van “ons gemeente.” Hulle is deelnemers en nie net verbruikers nie.

 

Die groot probleem in ons moderne kultuur is individualisme. Dit is mense wat van die een gemeente na die ander skuif sonder enige aanspreeklikheid en toewyding. Die Christelike lewe bestaan uit glo en ook uit behoort. Ons groei in Christus deur ons verhouding met ander gelowiges. Inskakeling by ‘n gemeente gebeur nie outomaties nie – jy moet ‘n sisteem en struktuur ontwikkel om hulle in te skakel.

 

Rick Warren sê dat voor mense by ‘n gemeente aansluit soek hulle eers antwoorde op vyf vrae:

  1. Behoort ek hier – dit gaan oor aanvaarding. Elkeen van ons het ‘n niche nodig en daarom is kleingroepe so belangrik. Jy moet vir mense wys jy het ‘n plekkie vir hulle.
  2. Wil iemand my ken – dit gaan oor vriendskap. Jy moet nuwe mense in staat stel om verhoudings in die gemeente te ontwikkel Daar is baie maniere om dit te doen, maar dit vereis beplanning. Mense verdien individuele aandag.
  3. Word ek benodig – dit gaan oor waarde. Mense wil met hulle lewens ‘n bydrae maak. Jy moet mense wys dat hulle met hulle gawes en talente beslis ‘n bydrae kan lewer.
  4. Wat is die voordele om by die gemeente aan te sluit? Jy moet duidelik die redes en voordele van lidmaatskap kan verduidelik. Verduidelik die Bybelse, praktiese en persoonlike redes vir hulle.
  5. Wat word van lidmate verwag? Jy moet die verantwoordelikhede duidelik kan uitspel Mense het die reg om te weet wat van hulle verwag word voordat hulle by ‘n gemeente aansluit.

 

Hierdie vrae word dikwels nie uitgespreek nie, maar jy moet hulle antwoord en vir nuwe mense van die visie van die gemeente vertel. In baie gemeentes word dit deur ‘n klas vir nuwe lidmate gedoen. Wat moet ons in so ‘n klas hanteer?

  • Wat is ‘n gemeente?
  • Wat is die doel van ‘n gemeente?
  • Wat is die voordele van lidmaatskap?
  • Wat is die vereistes vir lidmaatskap?
  • Wat is die verantwoordelikhede van lidmate?
  • Wat is die visie van die gemeente?
  • Hoe is die gemeente georganiseer?
  • Hoe kan ek by ‘n bediening betrokke raak?
  • Wat moet ek volgende doen as ek ‘n lidmaat is?

 

Warren gee ‘n paar leidrade vir hierdie klas:

  • Verduidelik wat verlossing beteken. Baie mense wat wil aansluit is nog nie eers gelowiges nie. Verduidelik dat om Christus te vertrou die eerste vereiste vir lidmaatskap is.
  • Hou die klas lewendig en interaktief. Gebruik video’s, notaboeke met die kurrikulum, interaksie in kleingroepe en ‘n lekker maaltyd saam. Sluit stories in om die geskiedenis, waardes en rigting van die gemeente meer persoonlik te maak.
  • Maak voltooiing van die klas ‘n vereiste vir lidmaatskap. Mense wat nie belangstel of onwillig is om meer van die gemeente te leer is nie toegewyd nie.

 

Lidmaatskap gaan oor toewyding. Jy kry mense om hulle aan ‘n saak toe te wy deur hulle te wys  op die waarde van die voordele wat hulle vir hulle toewyding sal ontvang. As mense die waarde van lidmaatskap verstaan, sal hulle daaroor opgewonde wees. Nou word ‘n skare ‘n gemeente.

 

 




Maak goed klaar

 

What chiefly & finally ought to be striven for is not happiness which has to do with our own pleasure, but goodness which looks to God’s glory. — William Ames

 

Maak goed klaar

Jerry Bridges sê dat daar geen beter voorbeeld van volharding tot die einde en goed klaar maak as Paulus is nie. Hy sit vasgeketting in ‘n tronk in Rome en verwag om enige dag tereggestel te word. Hy skryf: Wat my betref, ek word alreeds as drankoffer uitgegiet. Die tyd van my dood is voor die deur.. Ek het die goeie  wedloop afgelê; ek het die wenstraap bereik; ek het gelowig end-uit volgehou (2 Timoteus 4:6 – 7). Ongelukkig, net ‘n paar verse verder skryf hy: Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat.

 

Hier het ons twee mense wat saam bedien het – Paulus was Demas se mentor.  Een het volhard en die wedloop voltooi – hy kyk vooruit na die oorwinningskroon. Die ander een het sy mentor verlaat. Ons hoor nooit weer van hom nie. In Filemon 24 verwys Paulus na Demas as sy medewerker. Hy was ‘n belowende jong man met ‘n belowende toekoms voor hom, maar hy bereik nie die wenstreep nie.

 

Dit laat ons dink. Ons mag nog baie jare voor ons hê en ons verwag om die wenstreep te bereik – om vas te staan en tot aan die einde te volhard. Demas het ook op ‘n stadium so gedink. Hy het nie by Paulus se span aangesluit met die idee om dit later, as dinge moeilik raak, te verlaat nie. Dit geld ook vir ouer mense. Yogi Berra, die bekende bofbalspeler, het gesê: “It  ain’t over till it’s over.” Ons maak klaar die dag as ons doodgaan. Almal van ons moet hierdie waarskuwing wat tot ons kom deur die lewe van Demas ter harte neem.

 

Wat moet ek doen om goed klaar te maak? Daar is veral vier noodsaaklike elemente van belang as jy goed wil klaar maak. Hierdie is dinge wat ons moet doen, maar oor alles staan God se genade. Paulus  skryf al sy volharding aan die genade van God toe. Ons kan kyk na ons verantwoordelikhede, maar ons moet onthou dat ons bemagtig word om hierdie verantwoordelikhede na te kom slegs deur die genade van God.

  1. Daagliks ‘n tyd van gefokusde gemeenskap met God

Hierdie tyd moet daagliks wees. Demas het nie sommer een oggend wakker geword en ‘n 180 grade omkeer gemaak nie. Hy het bietjie vir bietjie weggedryf na die teenswoordige wêreld. Sonder daaglikse gefokusde gemeenskap met God dwaal ons van koers af. Almal van ons het iets lief – Demas het die teenswoordige wêreld liefgehad. Wie het ons lief?  Daardie daaglikse tyd van gemeenskap met God is wanneer God se liefde vir ons en ons liefde vir Hom verfris word.

  1. Daaglikse toeëiening van die evangelie

Begin jou dag met God deur die evangelie vir jou toe te eien. God was genadig vir ons en ons moet dit in ons lewens erken. Die evangelie is nie ‘n boodskap net vir ongelowiges nie. Gelowiges het steeds elke dag die evangelie nodig.

  1. ‘n Daaglikse toewyding aan God as ‘n lewende offer

En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontferming van God:  Gee julleself aan God as lewende offers wat vir Hom aannnemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. (Romeine 12:1). Soos ons daagliks oor die evangelie nadink en oor wat God in Christus vir ons gedoen het, moet dit daartoe lei dat ons ons as lewende offers aan God aanbied. God vra nie dat ons ons tydelik aan Hom moet toewy nie Hy vra dat ons ons as lewende offeers aan Hom wy wat Hy kan gebruik soos Hy goeddink. Die gevolge van ons liggame as lewende offers aan God toe te wy, sal verskil van persoon tot persoon.

  1. ‘n Geloof in die soewereiniteit en liefde van God

Dit moet voortdurend uitgeleef word. Die lewe is nie maklik nie – soms is dit selfs pynlik. As jy tot die einde wil volhard ten spyte van al die probleme en pyn, moet jy glo in God se soewereiniteit. Jy moet glo dat God in beheer van elke dag is – elke gebeurtenis in jou lewe. God oefen daardie beheer uit vanuit sy oneindige liefde vir jou.

God sal nooit sy beloftes wegneem nie. Hierdie versekering staan al voel dit of die wêreld om jou inmekaar val. Volhard, nie net verduur nie. Wees soos Paulus. Toe hy gesê het dat hy die wedloop voltooi het, het hy gesê dat hy volhard het. Ons moet vas staan – nie stil staan nie. Ons moet vorentoe gaan anders gaan ons nie die wedloop voltooi nie.

 




Psalm 5

 

The upright soul is constant in his profession, and does not change his behavior according to his companions. — George Swinnock

 

Psalm 5

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Hoe moet ek reageer as mense my deur misleiding en bedrog afkraak? Hierdie psalm stel ‘n manier voor waarop ons kan bid. Hier is geen aanduiding van die persoon vir wie gebid word of van die konteks nie. Vers 4 mag aandui dat hierdie ‘n oggendpsalm is.

 

5:2 – 3: Hierdie pleidooi bestaan uit woorde wat gehoor kan word: Luister tog … verstaan … slaan ag op. Dit gaan nie hier oor innerlike nadenke nie, maar die psalmis skreeu om hulp. Hy kan dit doen, want die Here is my Koning en my God. As die Here Koning is, is ek sy dienaar en staan onder ‘n sekere verpligting.

 

5:4 – 8: Ons kry nou ‘n belydenis van vertroue in God en sy oordeel. Die psalmis se situasie word eers later vir ons duidelik. Die Here hoor die psalmis nog voordat hy Hom aanroep: in die oggend hoor U my stem. In die oggend lê ek my saak aan U voor. Die oggend was natuurlik een van die tye wat daaglikse offers en gebed gebring is. Dit was ook die begin van ‘n nuwe dag met al sy probleme.

 

In vers 5 – 6 lees ons van almal wat onreg pleeg. Hulle kan nie die Here soos die psalmis nader nie. God duld nie goddeloosheid en boosheid nie. Die Here verdeel ook grootpraters. Mense kan baie skade deur hulle woorde aanrig. Mense se woorde van veroordeling kan mense uit die samelewing druk; God se veroordeling lei tot vernietiging en verwerping. Maar die psalmis kom na God se huis op grond van u oorvloedige troue liefde.

 

5:9 – 10: Die psalmis is bewus daarvan dat die Here luister na gebed en dat Hy teen mense wat verkeerd doen, is. Dit lei tot ‘n spesifieke pleidooi. Die psalmis is bewus dat hy teenstanders het. Daarom sy pleidooi: lei my deur u regverdige optrede, maak u pad voor my reguit. Die psalmis spel nou die implikasies vir hierdie teenstanders uit. Hulle is boos deur en deur. Daar is niks betroubaar in hulle woorde nie; hulle binneste huisves vernietiging, hulle keel is ‘n oop graf, hulle tong praat vleitaal.

 

5:11 – 12: Die psalmis begin met ‘n pleidood dat God sy teenstanders sal laat boet – laat hulle deur hulle eie planne tot ‘n val kom. Hulle moet vir hulle baie oortredings betaal. Hoekom? Hulle aanval is nie net op mense nie, maar hulle is teen U in opstand. Maar die psalmis volg dit op met ‘n pleidooi dat almal, nie net die psalmis nie, wat by die Here skuil, bly sal wees.

 

5:13: Die psalm het na ‘n situasie waaruit die psalmis gered moet word, verwys. Die Here sal alle regverdiges as ‘n skild omring… met welwillendheid.

 

Wat leer ons uit hierdie psalm? As ons onder druk is, kan ons ons na die Here draai. Jy kan Hom vra vir verlossing en seën vir jouself. Die psalm aanvaar dat ons vir God kan sê wat ons wil hê. Dit is beter om ons begeertes uit te druk as om dit te onderdruk. Dan laat ons dit aan God oor. Hy kan besluit wat Hy met ons gebed wil doen.

 

 




Interpretasie van die Bybel

 

Being a Christian is less about cautiously avoiding sin than about courageously and actively doing God’s will – Bonhoeffer

 

Interpretasie van die Bybel

Hierdie is ‘n verdere artikel in Mel Lawrenz se reeks oor hoe om die Bybel te lees.

 

Baie mense glo dat omdat daar so baie verskillende interpretasies van die Bybel oor die eeue was, dit onmoontlik is om die werklik betekenis te bepaal. Nie waar nie. Daar sal altyd probleme wees om kleinere besonderhede te verstaan, maar die basiese betekenis van die Bybel is toeganklik vir almal. Die skrywers wou sekerlik gehad het hulle lesers moet verstaan wat hulle geskryf het. Die Bybel is die woord van God en Hy sou sekerlik wou hê dat ons Hom moet verstaan.

 

Daar is ‘n paar basiese beginsels om die Bybel te interpreter. As ons hulle in gedagte hou, sal dit makliker wees.

 

  1. Die eenvoudigste en natuurlikste verduideliking van ‘n teks is altyd die beste

Dit is tog hoe jou vriende verwag dat jy ‘n brief of e-pos sal lees. Dit is wat die skrywers van die Bybel verwag. As die teks sê dat Jesus en sy dissipels van Galilea na Jerusalem gereis het, is dit wat hulle gedoen het.

 

  1. Die Bybel is sy eie beste interpreteerder

Meeste van dit wat vir ons uitdagend voorkom, word ook elders in die Bybel hanteer. Kyk na kruisverwysings en die betekenis word duidelik.

 

  1. Weet hoe figuurlike taal werk.

Die metafore, gelykenisse en simbole was kragtige maniere waarmee die skrywers gekommunikeer het. Simboliese en figuurlike taal is nie ondergeskik aan letterlike taal nie.

 

  1. Aanvaar die uitdrukking as letterlik as die natuurlike manier om die teks te lees is om die woorde in hulle gewone betekenis te verstaan

Jesus was nie letterlik ‘n deur nie, maar as Johannes sê die dissipels het agter ‘n toe deur bymekaar gekom, beteken dit letterlik ‘n deur.

 

  1. Die metodes wat ons gebruik om die Bybel te verstaan is basies dieselfde as dit wat ons gebruik om enige geskrewe teks te verstaan

Ons kry die betekenis van die woorde, hoe woorde saam werk, die agtergrond van die teks, ens. Daarom kan gewone gelowiges die Bybel lees en verstaan.

 

  1. ‘n Besondere Bybelse teks het ‘n spesifieke betekenis

Dit mag op verskillende maniere toegepas word, maar die betekenis is spesifiek aan die bedoeling van die skrywer. Dit verhoed dat ons tekste kan gebruik om te beteken wat ons graag wil hê hulle moet. Dit is nie wat God bedoel het nie.

 

  1. Die Bybel het groot temas en dit help ons om die verskillende dele te interpreteer

In die Ou Testament kry ons God se beloftes, die verbond, die mense van God, die land, ens. In die Nuwe Testament is die sentrale tema Jesus Christus. Hieruit besef ons dat die koms van die Messias in die Ou Testament ook ‘n belangrike tema is.

 

Om die Bybel reg te interpreteer is die manier waarop ons die skrywers respekteer, God aanbid en onsself help om die waarheid van God te ken.