Psalm 2

 

Language had created the word ‘loneliness’ to express the pain of being alone. And it has created the word ‘solitude’ to express the glory of being alone – Paul Tillich

 

Psalm 2

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

 

Let op dat Psalm 2 geen opskrif het nie. Daarom dat sommige teoloë voel dat Psalm 1 en 2 oorspronklik ‘n enkele psalm was. Ons kan hierdie psalm in vier dele onderverdeel.

 

Vers 1 – 3: Die planne van die volke.

Die volke bedink nuttelose planne. Hiermee gaan hulle nêrens kom nie Mense maak hulle moeg en dit tevergeefs. Dit is veral die konings en leiers wat so optree. Hoekom sal hulle nêrens met hulle planne kom nie? Hulle span saam teen die Here.

 

Vers 4 – 6: Die Here se reaksie op die planne van die volke

Die Here woon in die hemel. Hy sit egter nie net daar nie, maar Hy kyk wat op die aarde aan die gang is. Hy sien die konings besig om planne te maak. Wat is sy reaksie hierop? Hy lag hulle uit en spot met hulle. God neem hulle glad nie so ernstig op soos wat hulle hulleself opneem nie. Daarna word Hy toornig. Toe praat God met hulle en jaag hulle op loop.

 

Vers 7 – 9: Die koning se reaksie

Die koning van Israel vertel wat die Here gesê het: die Here is die koning van Israel se Vader; Hy gee die hele aarde as die koning se besitting; die koning van Israel sal die ander konings verpletter. Soos erdewerk sal jy hulle stukkend slaan verwys na ‘n ou gebruik om potte met jou vyand se naam daarop flenters te slaan – dit is ‘n gebed vir hulle vernietiging.

 

Vers 10 – 12: Die implikasies vir die volke

In die psalms is daar geen probleem om die magtiges te konfronteer nie. Die konings word gewaarsku om verstandig te wees. Hoe moet hulle dit doen? Die psalmis gee vir ons drie antwoorde:

  • Dien die Here met ontsag;
  • Juig Hom toe met bewing; en
  • Soen sy seun (dit verwys waarskynlik na die koning as God se seun). Om die koning te soen, is ‘n teken van erkenning en eerbetoon.

As jy egter opstandig is, sal jy op die pad omkom. Die leiers sal daarby baat as hulle goeie raad aanvaar. Hierdie psalm sê vir die konings hoe hulle hulleself teen die toorn van die Here kan beskerm.

 

Psalm 2 plaas weer twee bestemmings voor die volke – hulle moet die een of die ander kies. As hulle voortgaan om hulle eie planne te maak, sal dit ernstige negatiewe gevolge vir hulle inhou. Die Here is bereid om sterk op te tree.

 

Ons leef vandag in die Weste in ‘n post-Christendom wêreld. Die huidige kultuur het al die beperkings van die Christelike geloof afgeskud. Hierdie psalm rig ‘n ernstige waarskuwing tot ons: Hierdie is nie die einde van die verhaal nie.

 




Die Christelike geloof sonder bekering is nie die Christelike geloof nie

 

We open our Bibles to learn. We open our lives to love – Scot McKnight

 

Die Christelike geloof sonder bekering is nie die Christelike geloof nie

Die woord bekering laat baie mense wegskram. Wat veronderstel was om ‘n gawe en geleentheid te wees om God se genade te ondervind, word nou negatief gesien deur baie mense. Dit is ‘n noodsaaklike deel van ons Christelike geloof waarsonder ‘n ontmoeting met God nie moontlik is nie.

 

Bekering beteken ek keer my rug op my menslike begeertes en klou vas aan God se wil. Bekering oorbrug die gaping tussen ons mislukkings en God se vergifnis. Dit is die toegangspad na ‘n nuwe lewe en ‘n intieme verhouding met God. Maar dan moet ons ophou om bekering as ‘n las te sien – dit is nie “ek moet” nie,  maar “ek kan.”  Die liefdevolle God gee aan ons die geleentheid om ons rug op ons sondes te draai. Bekering is ‘n gawe en nie ‘n las nie.

 

Die basiese definisie van bekering is: ek draai my rug op iets; ek verander my denke. Dit gaan oor die soeke na vergifnis van al my foute – waarvan daar baie is. As ek my bekeer, sê ek vir God dat ek sy wil bokant myne stel. Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis (Handelinge 3:190.

 “Repentance grows as faith grows. Do not make any mistake about it; repentance is not a thing of days and weeks, a temporary penance to be got over as fast as possible! No; it is the grace of a lifetime, like faith itself. God’s little children repent, and so do the young men and the fathers. Repentance is the inseparable companion of faith.” —Charles Spurgeon

 

 

 




Die skeppingsverhaal

 

The irony of the gospel is that the only way to be worthy of it is to admit you’re completely unworthy of it – Tim Keller

 

Die skeppingsverhaal

Temper Longman III het pas ‘n nuwe kommentaar oor Genesis geskryf. Genesis 1 vertel vir ons van die skepping en die vorming van die wêreld. Dit is nie ‘n wetenskaplike beskrywing van die skepping nie. Dit is in die kultuuromgewing van die antieke Nabye-Ooste geskryf. Dit hanteer nie en is nie veronderstel om moderne wetenskaplike vrae te beantwoord nie.

 

Wat ons wel sien, is dat God alleen die Skepper is. Die son, maan en sterre is skeppings en nie gode nie. Die vraag is of hierdie verhaal iets te sê het vir ons vandag. Longman noem die volgende:

  1. God is die Skepper; ons is skepsels. Daar is niks wat gelyk aan God is nie. Die kern van afgodery is as ek die onderskeid tussen Skepper en skepsel vergeet. Die son, maan en sterre is nie gode nie; menslike regeerders is nie gode nie; mensgemaakte beelde is nie gode nie.
  2. God is soewerein, selfonderhoudend en oppermagtig. God is betrokke en bly betrokke.
  3. Geslag en seksualiteit is deel van die skepping. Beide mans en vroue is na die beeld van God gemaak. Hulle word beveel om die aarde te vul en oor die aarde te heers. Hulle weerkaats God se heerlikheid.
  4. Die skepping is goed.
  5. God verklaar die sewende dag heilig. In Genesis word die mense nie beveel om die sabbat te onderhou nie. Longman glo dat die opdrag om die sabbat te onderhou vir Israel was en dat dit nie op die kerk van toepassing is nie. Christus vervul die sabbat. Daar is nie meer ‘n enkele “heilige” dag nie, maar alle dae is heilig en behoort aan God.
  6. Christus is die beeld van God. Hy is volkome mens en volkome God. Mense word opgeroep om in Christus nuwe skepsels te word: Lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig (Efesiërs 4:24).
  7. Alle mense is na die beeld van God gemaak – diegene wat ons liefhet, haat, ontstel en vir ons blydskap bring. Daarom moet ons almal met respek en deernis hanteer. Dit sluit in alle rasse, beide geslagte, verskillende seksuele oriëntasies, beroepe, ryk, arm … almal. Hulle weerspieël God se heerlikheid en verteenwoordig sy teenwoordigheid op aarde.

 

Die beeld van God word aan alle mense gegee – nie selektief net aan sekere mense nie. Dit word ook nie van sommige mense weerhou nie. Dit vorm die Christelike etiese raamwerk.

 

Dit is duidelik dat die skeppingsverhaal steeds baie vir ons sê.

 

 




Psalm 1

 

The physical presence of other Christians is a source of incomparable joy and strength to the believer. —Dietrich Bonhoeffer

 

Psalm 1

[Ek gaan dwarsdeur van die Nuwe Testament en Psalms. ‘n Direkte Vertaling van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika (2014) gebruik maak.]

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Psalm 1 is ‘n onverwagse begin vir ‘n versameling liedere en gebede, want dit is ‘n gedig wat kommentaar lewer op hoe die wêreld werk. Dit vra dat mense aandag moet gee aan God se onderrig. In vers twee kry ons dat die woord tora twee maal gebruik word. Dit word hier met wet vertaal, maar onderrig is ‘n beter vertaling. Hierdie psalm moedig nadenke oor die onderrig van God aan – dit gaan oor twee alternatiewe wêreldsienings.

 

Vers 1 – 3 is ‘n verklaring dat dit goed sal gaan met mense wat in die Here hulle vreugde vind. Dit is iets wat ons ook in Spreuke kry: Dit gaan goed met die mens wat wysheid gevind het, wat insig as sy deel ontvang het (3:13); Dit sal goed gaan met dié wat op my pad bly (8:32); Dit sal goed gaan met die mens wat na my luister (8:34).  Die psalm begin met drie negatiewe stellings: dit sal nie goed gaan met mense wat:

  • die raad van goddelose mense volg;
  • Op die pad van sondaars staan; en
  • In die byeenkoms van spotters sit nie.

As jy tussen hierdie drie groepe mense sit, sal jy mettertyd hulle wêreldsiening aanvaar. Die positiewe alternatief is dat die gewone Israeliete, daarenteen, hulle vreugde in die wet van die Here vind. Hoe doen hulle dit? Hulle sê sy wet dag en nag prewelend op. Vers 3 sê dat die regverdiges soos ‘n boom langs ‘n watervoor sal wees – hy gee vrugte op sy tyd.

 

Vers 4 – 5 is dan ‘n beskrywing van die toekoms van die goddeloses. Hoe verskil hulle van die gelowiges? Die manier waarop die dinge vir hulle uitwerk – die bestemming. Hulle is soos kaf. Kaf is ‘n beeld van iets wat nutteloos is. Hulle is soos kaf, want as die oordeel kom, sal hulle nie staande bly nie.

 

Vers 6. Hier lees ons vir die eerste keer in hierdie psalm van die Here self. Hier kom die psalmis en hy lê twee paaie voor ons: die pad van die regverdiges en die pad van die goddeloses. Dit is baie duidelik dat die Here self by die pad van die regverdiges betrokke is. Die psalmis plaas sy lesers voor ‘n keuse. Watter pad gaan jy volg?

 

Psalm 1 is ‘n inleiding tot wat verder in hierdie boek gaan gebeur – dit berei die pad voor vir wat vorentoe gaan gebeur. Dit sê dat voordat ons die Here kan loof of sy hulp kan soek, moet ons eers aandag aan sy onderrig gee.

Die woorde van die psalms is woorde van geloof (Martin Luther)