Van afsondering na gemeenskap na bediening

 

Better to shun the bait than to struggle in the snare. — Anoniem

 

Van afsondering na gemeenskap na bediening

Op 1 April 1996 skryf Henri Nouwen hierdie artikel vir Leadership Journal.

Die woord dissipelskap en dissipline het dieselfde stam. As ons dissipels van Jesus wil wees, moet ons gedissiplineerd lewe. In die geestelike lewe beteken dissipline die “poging om spasie te skep waarin God kan optree.” Dissipline beteken jy verhoed dat jou hele lewe gevul word; dit beteken dat spasie geskep word vir iets wat jy nie beplan of verwag het nie.

 

In Lukas 6:12 – 19 lees ons van Jesus wat sy twaalf dissipels gekies het. Jesus spandeer die nag in gebed en in afsondering met God. In die oggend roep Hy sy dissipels nader en kies twaalf van hulle en vorm so ‘n gemeenskap. In die middag, met sy dissipels, verkondig Hy die woord en genees die siekes. Let op die volgorde: afsondering – gemeenskap – bediening. Die orde wat Jesus vir ons leer begin by afsondering in gebed; daarna word ‘n gemeenskap gevorm; uiteindelik gaan hierdie gemeenskap uit om die goeie nuus te verkondig en te genees. Afsondering, gemeenskap en bediening is drie dissiplines waarin ons spasie skep  waarin God kan praat en optree. Doen ons dit gaan iets verrassend gebeur.

 

  • Afsondering

Dit beteken dat ek met God alleen is. Is daar spasie daarvoor in jou lewe? Hoekom is dit belangrik? Dit is die plek waar jy na God wat jou sy geliefde noem, kan luister. Om te bid, beteken ek laat daardie stem toe om oor die kern van my lewe met my te praat. Jesus het die hele tyd na daardie stem geluister. Op aarde is Hy geloof en gespot; Hy is gekruisig. Een ding het Hy geweet: Hy is God se geliefde Seun. Daaraan het Hy vasgehou. Daar is baie ander stemme wat ook praat. In hierdie wêreld is daardie stemme sterk. Jesus het ook hierdie stemme gehoor – dink maar aan sy versoeking in die woestyn. Jesus het die hele nag deurgebring in gebed met God. Jy moet bid; jy moet luister na die stem wat na jou, sy geliefde, roep. Die probleem is dat so gou as ons gaan sit, begin ons aan ander goed dink. Gebed is waar ons geestelike bediening begin. Dit is waar Jesus na God geluister het. Dit is waar ons na God luister.

 

  • Gemeenskap

Afsondering roep ons op na gemeenskap. In die afsondering besef jy dat jy deel van ‘n gemeenskap is. Gemeenskap is nie ‘n formele organisasie nie – dit is ‘n manier van lewe. Om jou vergader jy mense aan wie jy die waarheid wil verkondig. Dit is nie altyd maklik nie. In Jesus se lys van 12 name was daar die persoon wat Hom sou verraai. Hoekom volg gemeenskap op afsondering? As ons nie weet dat ons die geliefde seun/dogter van God is nie, gaan ons verwag dat iemand in die gemeenskap ons so sal laat voel. Hulle kan nie. In die dissipline van gemeenskap kry ons die dissiplines van vergifnis en feesvier.

 

  • Bediening

Alle dissipels van Jesus moet dien. Bediening beteken dat ek vertrou dat as ek die kind van God is, krag van my sal uitgaan en mense sal genees word. Hierdie bediening kan in twee woorde uitgedruk word: dankbaarheid en deernis. Kan ek dankbaar wees vir alles wat in my lewe gebeur. Bediening is om mense te help om te ontdek dat midde in die pyn is daar seën; midde in jou hartseer is daar blydskap. Deernis beteken om te ly en te leef met hulle wat ly.

 

Wat in ons lewe belangrik is, is nie sukses nie, maar vrugte. Hierdie vrugte word dikwels in my pyn en kwesbaarheid gebore.

 

 

 

 




Bestudeer ‘n Bybelse karakter

 

To speak of hell is precarious. But not to speak of hell is more percarious –  Timothy Keller

 

Bestudeer ‘n Bybelse karakter

Hierdie is weer een van Mel Lawrenz se artikels oor hoe om die Bybel te lees.

Die kernbetekenis van die Bybel sal ons maklik verstaan as ons die Bybel lees. Dit gaan oor God en mense en God se optrede om gebroke mense te red. Dit is soos ‘n drama met een hoofkarakter – God – en baie ondersteunende karakters. Sommige is net name in ‘n geslagsregister; ander soos Abraham, Josef, Moses, Petrus, ens is die onderwerp van verhale.

 

Dit is dus nie verbasend dat ons in Bybelstudie soms ‘n spesifieke karakter wil bestudeer nie. Hoe doen ons dit?

  1. Begin met die regte aannames

Ons lees die verhaal van Abraham in Genesis 12 – 25. In die proses kry ons insigte in die aard van die menslike natuur en die weë van God.  Nie alle besonderhede in die lewe van Abraham het ‘n parallel in ons ondervindings nie. Ons moenie probeer om alle besonderhede van Abraham se lewe op ons lewens toe te pas nie. Ons moet ook onthou dat helde in die Bybel steeds sondige mense was. Die lewe van die belangrikste karakters in die Bybel gee aan ons ‘n paar geestelike beginsels en nie lesse in elke klein besonderheid nie.

 

  1. Ons moet die regte gedeeltes kry

Jy kan maklik die gedeeltes waarin byvoorbeeld Baranabas vermeld word in ‘n konkordansie kry. Jy moet seker maak dat hulle almal na dieselfde persoon verwys. Name soos Maria, Johannes en Jakobus is baie algemeen in die Nuwe Testament.

 

  1. Lees elke gedeelte in konteks

Moenie net geïsoleerde verse lees nie. Lees ook die verse om die verwysing – selfs die hele hoofstuk. Maak notas. Ons waarnemings mag die volgende insluit:

  • Die omstandighede van die verhaal
  • Hoe die persoon opgetree en gepraat het
  • Die reg of verkeerd van wat hy gedoen of gesê het
  • Die ontwikkeling van die karakter

 

  1. Maak gevolgtrekkings en toepassings

Kyk na die kern van die persoon se lewe. Is daar lesse vir my vir vandag in sy lewe? Moenie dit forseer nie.

 

 




Die louwarm gemeente

 

To be modern is to be addicted to choice and change – Os Guinness

 

Die louwarm gemeente

Laodisea. Hier was ‘n gemeente wat lou was met te veel vertroue in hulle eie geestelike toestand. Jesus sê vir hulle: Maar nou – omdat jy louwarm is  en nie warm of koud nie –  staan Ek op die punt om jou uit my mond te spoeg (Openbaring 3:16).

 

Hoeveel gemeentes vandag is nie apaties nie – sonder dat hulle daaroor bekommerd is. Hoekom is apatie belangriker as wat ons dink?

  1. Apatie teenoor Christus mag gevaarliker as vyandskap teen Hom wees

Mense glo apatie is beter as vyandskap. Jesus stem nie saam nie. Ek ken jou dade, dat jy nie koud en ook nie warm is nie. Was jy maar koud of warm! (Openbaring 3:15).  Dit is hierdie louwarm mense wat in ons kerkbanke sit wat die moeilikste is om te bereik. Hoekom? Want hulle sê vir hulleself: Ek … het aan niks ‘n behoefte nie (3:17). “Complaint against God is far nearer to God than indifference about Him.” (George MacDonald).

 

  1. Apatie teenoor Jesus is die godsdiens van vandag

Die persepsie van ons huidige kultuur is dat ons alles – ook godsdiens – met matigheid moet doen Daarom dat gemeentes mik vir die middel – genoeg godsdiens om darem aanvaarbaar te wees, maar nie so baie dat ons as oorywerig beskou sal word nie. Louwarm godsdiens is die doel. John Stott glo dat die brief aan Laodisea die belangrikste brief vir die moderne kerk is: Perhaps none of the seven letters is more appropriate to the twentieth century church than this. It describes vividly the respectable, sentimental, nominal, skin-deep religiosity which is so wide spread among us today. Our Christianity is flabby and anemic, we appear to have taken a lukewarm bath.

 

  1. Apatie teenoor Jesus is nie met sy waardigheid gesinchroniseer nie

Waaroor is die louwarm kerk apaties? Oor die persoon Jesus. Daar is ‘n geweldige verskil tussen die heerlikheid en wonder van Christus en ons vervelige en lou reaksie teenoor Hom. Hierdie verskil bring vrae oor ons geestelike gesondheid en lewenskragtigheid na vore. Apatie is ‘n problem, want dit mis die kern van die Christelike geloof: die grootheid van Christus.

 

Apatie is ‘n groter problem as wat ons dink. Maar wat kan ons daaraan doen? God gee self die antwoord in hierdie brief: Ek raai jou aan om van My goud te koop wat deur vuur gesuiwer is sodat jy ryk mag wees en wit klere dra (3:18). ‘n Nuwe visie van God se grootheid is altyd die geneesmiddel  vir apatie. God nooi sy mense uit om Hom weer vars te ondervind: Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan by hom en saam met hom ‘n ete geniet en hy met My (3:20).

 




God herlaai (reboot) die skepping

 

Men are not against you; they are merely for themselves. -Gene Fowler, joernalis en skrywer

 

God herlaai (reboot) die skepping

J.D Greear sê hy het net een oplossing vir elke probleem met sy rekenaar – reboot. Daar is ook ‘n “reboot” in die Bybel – God noem dit nie so nie, maar dit is wat met Noag gebeur het. Dinge in die wêreld het so sleg geword dat God besluit het om die skepping te herlaai. Die verhaal van Noag bring baie vrae na vore – historiese vrae oor die vloed, praktiese vrae oor die ark, filosofiese vrae oor die goedheid van God. Wat ons moet sien, is God se agenda met die herlaai van die skepping.

 

Twee agendas definieer hierdie herlaai.

  1. God sorg vir die hele skepping

Toe Noag en sy gesin uit die ark kom, maak God ‘n verbond met die hele skepping: Dit is die teken van die verbond tussen My en julle en die wilde diere by julle, ‘n verbond wat vir alle toekomstige geslagte geld (Genesis 9:12). God gee om vir die hele skepping. Die skepping sien met gespanne verwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die skepping is immers nog aan verydeling onderworpe (Romeine 8:19 – 21). In Psalm 19:2 lees ons: Die hemele getuig van die mag van God. Die lug en die see en die berge het stemme as jy net mooi luister.

 

Menslike sonde maak hierdie stem stil. As rentmeesters van God se skepping moet ons verseker dat hierdie stem weer helder praat.  Die wêreld is ‘n liefdevolle skepping van God. Wat met ons pleit om verlossing te aanvaar sodat dit ook kan wees wat God geskep het.

 

  1. Die buitengewone waarde van die menslike lewe

Die waarde wat jy aan iets heg, word bepaal deur die prys wat jy daarvoor betaal het. Net nadat Noag uit die ark gekom het, lees ons: Wie die bloed van ‘n mens vergiet, deur die mens sal sy bloed vergiet word. God het die mens gemaak as sy verteenwoordiger (Genesis 9:6). Geen prys kom naby die prys van ‘n mens se lewe nie. Hier sien ons die hoë waarde wat God aan die mens heg. Daarom moet ons lewe sover as wat dit moontlik is, beskerm – want ons dra God se beeld. Vir Hom is ons kosbaar.

 

Tydens die National Prayer Breakfast in 1994 het Moeder Teresa verwys na aborsies en gesê:  “Anybody that doesn’t want a child … please, give it to me. I want that child.”

 

Dit moet die gesindheid van elke Christen wees. Is daar individue in ons samelewing wat ons nie as menslik beskou nie? Is daar mense wat die samelewing nie liefhet nie of hulle ignorer of verwaarloos? Mense wat niemand wil hê nie. Dan moet die gemeente en alle Christene sê: “Ek wil hom/haar hê. Gee hom/haar vir my.”