Indeling van die psalms

 

It is not freedom for a fish to sun itself on the beach. It is death. The question of freedom is: What were you made for? – John Piper

 

Indeling van die psalms

Ons huidige 150 Psalms is saamgevat in vyf versamelings of boeke. Let op die einde van Psalms 41, 72, 89, 106 en 150. In al vier gevalle bevat die slotreëls die volgende:

  • ‘n Lofprysing aan God;
  • Die gedagte van vir altyd; en
  • Die woord

Maar reeds voor dit was daar al kleiner versamelings. Toe die 150 psalms saamgevoeg is, is sekere versamelings onveranderd gelaat. In ander gevalle is psalms tussenin gevoeg.

 

Daar is drie moontlike indelings:

 

  1. Indeling volgens die eerste vyf boeke van die Bybel
Die eerste boek van die psalms (1:1 – 41:14) Die groep word hoofsaaklik aan Dawid toegeskryf. Die groep toon ooreenkomste met die boek Genesis. Net soos Genesis vertel hoe die mens geskape is, in sonde geval het en daarna die belofte en verlossing ontvang, beskryf baie van dié psalms die mens as wese deur God geseën wat in sonde geval het en weer deur God verlos word.
Die tweede boek van die psalms (42:1 – 72:20) Hierdie groep word veral aan Dawid en die Koragiete toegeskryf en toon ooreenkomste met Eksodus. Net soos Eksodus die volk van Israel beskryf, beskryf baie van hierdie psalms ook die verval en herstel van die volk. Die Here red ons net soos Hy Israel gered het. Ons kan net ons probleme na Hom neem en Hom vra om te help.
Die derde boek van die psalms (73:1 – 89:53) Die meeste psalms word aan Asaf toegeskryf en toon ooreenkomste met Levitikus. Die tabernakel en die heiligheid van God is die tema van Levitikus, en hier gaan dit meestal oor die tempel en God se verhewenheid. Hy is almagtig, daarom kan ons Hom om verlossing vra. Hier word Hy geloof omdat Hy heilig is en sy volmaakte heiligheid vra van ons aanbidding en eer.
Die vierde boek van die psalms(90:1 – 106:48) Die skrywers is meestal onbekend. Die groep stem ooreen met Numeri. Numeri handel oor die verhouding tussen Israel en die omliggende lande. Heelwat van hierdie psalms handel oor die verhouding tussen God se koninkryk en volke. Ons is burgers van God se koninkryk, daarom kan ons altyd die gebeure en probleme op aarde in die regte perspektief sien.
Die vydfde boek van die psalms (107:1 – 150:6) Dawid het meeste van hierdie psalms geskryf. Net soos Deuteronomium oor God en sy woord handel, is die meeste van hierdie psalms lof- en dankliedere vir God en sy woord. Die meeste het oorspronklik ook musiek by gehad.

 

Dalk is hierdie vyf versamelings gebruik in openbare aanbidding parallel met die vyf boeke van Moses, want ook hierdie vyf boeke het min of meer teen hierdie tyd hul finale beslag gekry. Die priesterordes, die offers, die orkeste en die kore is eers na 515 vC (die jaar waarin die Tweede Tempel toegewy is) gevestig. Dit het tot gevolg gehad dié vorm van tempelaanbidding waarmee Jesus as twaalfjarige seun te doen gekry het toe Hy vir die eerste maal van Galilea na Jerusalem gereis het vir een van die groot feeste.

 

  1. Indeling volgens die name in die opskrifte

Hier word die psalms volgens die naam van die skrywers ingedeel: Dawid (74), Asaf (12), Koragiete (11), Salomo (2), Moses (1) en Etan (1). Hierdie indeling skep sekere probleme:

  1. In 49 psalms word die skrywer se naam nie genoem nie.
  2. Ons onvermoë om met volle sekerheid te sê dat die skrywer wie se naam in die opskrif voorkom, wel die skrywer is.
  3. Die psalms wat aan ‘n sekere skrywer toegeskryf word, lê nie altyd bymekaar nie. Hulle kom verspreid deur die boek voor,

 

  1. Indeling volgens temas
  • Wysheidspsalms – die digter maak uitsprake oor die lewe, die skepping en die openbaring wat God aan sy volk gegee het.
  • Koningspsalms – hier word verwys na verskillende aspekte van die koning se regering. Baie van hierdie psalms is later Messiaans geïnterpreteer.
  • Vertrouenspsalms – die digter se onvoorwaardelike vertroue op God staan voorop.
  • Boetepsalms – skuldbelydenis is prominent.
  • Lofpsalms – God word geloof en geprys. Dit kom baie algemeen voor en daarom sal die Psalms soms as die Loflied bekend staan.
  • Onskuldpsalms – daar word gekla oor lyding deur iemand anders veroorsaak. Die digter beklemtoon sy onskuld en die Here word dikwels gevra om die skuldiges te straf.
  • Skeppingspsalms – God se skeppingsmag word besing.
  • Klaagpsalms – die klaagliedere van ‘n enkeling of van die volk. Twee dinge is opvallend:
  • Die klaer se afhanklikheid van God; en
  • ‘n Beskrywing van die oorsake of redes waarom hy kla.
  • Vloekpsalms – die digter is so verontwaardig oor sy vyande se misdade teen hom dat hy dit beskou as misdade teen God. Daarom versoek hy God om die misdadiger selfs uit te roei.
  • Geskiedenispsalms die klem val op die groot dinge in Israel se geskiedenis en dat alles God se werk is. Dit is dade wat van God se grootheid getuig.
  • Sionspsalms – die berg Sion met die tempel, die aardse woonplek van God, word besing.
  • Troonbestygingspsalms handel oor die Here se heerskappy oor die hele wêreld.
  • Pelgrimsliedere deur die gelowiges gesing toe hulle jaarliks vir die groot feeste na Jerusalem opgetrek het.
  • Hallelujapsalms – hulle begin en eindig met die Hebreeuse woord: Halleluja.

Ons het nou lank stilgestaan by die agtergrond van die psalms. Ons kan nou na die individuele psalms kyk.

 

 




God se soewereiniteit teenoor menslike vryheid

 

Anger isn’t the opposite of love. Hate is and the final form of hate is indifference – Becky Pippert

 

God se soewereiniteit teenoor menslike vryheid

Bepaal God die gebeure in ‘n mens se lewe, of besluit ons self? Dit is ‘n vraag wat by baie gelowiges spanning veroorsaak. Die Bybel beskryf hulle dikwels saam asof hulle saamwerk en nie mekaar weerspreek nie. Kom ons kyk na ‘n voorbeeld uit die Bybel.

 

Een van die wreedste vorm van verraad waarvan ons in die Bybel lees, is Josef wat deur sy broers as slaaf verkoop word. Hulle doen dit, want hulle was baie ontstel oor Josef se drome. Uiteindelik verkoop die handelaars hom in Egipte aan Potifar. Na heelwat intriges word hy die tweede in bevel in Egipte. Sy broers kom in Egipte aan om kos te koop as gevolg van ‘n wêreldwye hongersnood.

 

Josef se broers herken hom nie en daarom word hulle deur sy woorde geskok: Ek is julle broer Josef. Julle het my verkoop, en ek is Egipte toe gebring. Maar julle moet nou nie sleg voel of bang wees omdat julle my verkoop het nie, want God het my voor julle uit gestuur om lewens te red … Dit is nie julle wat my hierheen gestuur het nie, maar God (Genesis 45:4 – 5, 8). Josef erken dat hulle hom verkoop het, maar hy maak aanspraak op ‘n hoër Mag as die oorsaak van sy reis na Egipte – die soewereine God. Hier sien ons dat dieselfde gebeurtenis beide ‘n goddelike en menslike oorsaak het: Josef se broers verkoop hom en hy beland in Egipte. Maar ook God is betrokke hierby. Hulle sonde en God se plan word deur dieselfde gebeurtenis uitgevoer.

 

Ons moet baie versigtig wees hoe ons dit verstaan. God se soewereine beheer verander nie die broers se sonde in iets goeds nie. Dit impliseer ook nie God in hulle sonde nie. Toe hulle hom verkoop het, sondig die broers teen God en teen Josef. Wat belangrik is, is dat die broers se sonde nie God se plan frustreer nie.

 

Nadat die vader, Jakob, oorlede is, vrees die broers vir hulle lewe: nou dat Jakob nie meer daar is nie, sal Josef wraak neem? Josef se reaksie getuig van genade en ‘n verstaan van die spanning tussen God se soewereiniteit en menslike vryheid. Moenie bang wees nie. Ek is nie God nie. Julle wou my kwaad aandoen, maar God wou daarmee goed doen (Genesis 50:19 – 20). Hier leer ons dat dieselfde gebeurtenis twee verskillende motiewe kan hê. Die broers wou vir Josef kwaad aandoen, maar God wou goed doen. Ons kan nie God blameer vir die kwaad nie. Ons kan Hom wel loof vir die goed wat Hy doen.

 

In Jesus se kruisiging is die geheimenis van God se soewereiniteit en die mens se vryheid duidelik. In Lukas 22:22 praat Jesus van Judas se verraad: Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word. Jesus onderwerp Hom aan God se plan, maar terselfdertyd hou Hy sy verraaier verantwoordelik. Judas se verraad het geen invloed op God se plan nie.

 

Luister na Petrus se woorde op daardie eerste pinksterdag: God het besluit en dit vooruit bepaal om Hom aan julle uit te lewer. En julle het Hom deur heidene aan die kruis laat spyker en Hom doodgemaak (Handelinge 2:22). Later lees ons: Dit is wat werklik in hierdie stad gebeur het. Herodes en Pontius Pilatus het met heidennasies en die volk Israel saamgespan teen  u heilige Dienaar, Jesus, wat deur U gesalf is, en hulle het alles gedoen wat U vooruit beskik en besluit het (Handelinge 4:27 – 28). Toe sondaars vir Jesus gekruisig het, het hulle net gdoen wat God vooraf reeds besluit het. Jesus se verlossingsdood was deel van God se plan van voor die skepping. Terselfdertyd was Jesus se kruisiging die grootste onreg wat nog ooit gedoen is.

 

Die spanning tussen God se soewereiniteit en die mens se vryheid is vir ons geheimsinnig – ons verstaan dit nie. Maar om met enigeen te peuter lei tot misverstande. Om die mens se verantwoordelikheid te ontken, verander die samesweerders teen Jesus in God se dienaars wat goed gedoen het deur Jesus te kruisig. Om Jesus se soewereiniteit af te water  verander die kruis in noodoptrede deur God. Beide benaderings is verkeerd.

 

 




Die baie genres van die Skrif

 

“…although the realm of politics is important, it is a poor place to discover the significance of one’s life.” — Stanley Hauerwas

 

Die baie genres van die Skrif

Hierdie is nog een van Mel Lawrenz se artikels oor hoe om die Bybel te lees.

As ek my pos kry, kan ek sien watter is advertensies of rekeninge of persoonlike briewe. Hierdie sortering help my om die waarde van die verskillende posstukke te bepaal.  Net so bestaan die Bybel uit baie verskillende genres Die belangrikste is:

  1. Vertellings/Verhale

Dit is boeke wat ‘n storie vertel. Hier dink ons aan boeke soos Eksodus, Rut en Handelinge.  Dit vertel vir ons wat gebeur het. Daar is dikwels geestelike lesse wat ons uit gebeurtenisse kan leer. Soms is dit net die geskiedenis van God se mense.

 

  1. Poësie

Dit sluit byvoorbeeld die psalms en dele van ander boeke in. Dit gebruik dikwels beelde. Idees word dikwels herhaal. Poësie kommunikeer idees en dikwels ook emosies. Dit beskryf die lewe in al sy volheid.

 

  1. Wysheid

Spreuke, Job, Prediker is veramelings van wyshede wat ons morele en etiese lewens moet vorm. Hulle dek baie praktiese onderwerpe. Jakobus in die Nuwe Testament stem tot ‘n mate met Spreuke ooreen.

 

  1. Profete

Daar is vier groot profete – Jesaja, Jeremia, Esegiël en Daniël. Dan is daar 12 kleiner profete – van Hosea tot by Maleagi. Dit is God se woord aan sy verbondsvolk. Hy waarsku en bemoedig hulle. Dit is meestal uitsprake. Ons kry geestelike lesse uit hulle oor die ingesteldheid van God (teleurgesteld, verontwaardig, hartseer, ens) en die toestand van die mense wat aangespreek word (bang, ongehoorsaam, arrogant, ens). Ons moet die profesieë lees as God se uitdaging aan die oorspronklike gehoor. Dan moet ons dit op ons dag toepas.

 

  1. Evangelies

Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Hierdie boeke is meer as verhale of biografieë. Hulle is geskryf deur gelowiges en gee ooggetuie verslae van die lewe en onderrig van Jesus. Dit is geloofsdokumente wat ‘n wêreldveranderende gebeurtenis beskryf.

 

  1. Briewe

Die briewe van die Nuwe Testament was spesifieke kommunikasies aan spesifieke persone of gemeentes. So hanteer 1 Korintiërs probleme – die gemeente het ‘n aantal vrae aan Paulus gestel. Die briewe aan Timoteus is geskrywe om ‘n jong kerkleier  te bemoedig. Ons moet altyd probeer uitvind wat die omstandighede was wat tot hulle skrywe aanleiding gegee het.

 

  1. Apokalips

Openbaring en dele van Daniël is openbarings. Hulle verkondig dringende boodskappe aan hulle oorspronklike gehore – veral waarskuwing en vertroosting. Hulle gebruik baie simboliese taal.

 

As ons die Bybel bestudeer, bepaal ons die genre waarmee ons te doen het. Dit help ons om die betekenis te verstaan. Doen ons dit nie, sal ons dele verkeerd verstaan en die waarheid van God se woord verkeerd toepas. God se woord is diep – genoeg om lewenslank te bestudeer.

 

 




Opskrifte van die Psalms

 

You either bear the everlasting dignity of acting God’s sovereign will willingly, or the everlasting shame of acting his will unwillingly. – John Piper

 

Opskrifte van die Psalms

Die eerste of eerste twee verse gee bepaalde inligting oor die psalm. Net 34 van die psalms het geen opskrif nie. Die opskrifte in die ander 116 psalms kan in vier kategorieë ingedeel word:

 

  1. Persoon of groepe

101 psalms word aan ‘n spesifieke persoon of groep verbind. Dit is nie noodwendig ‘n aanduiding van outeurskap nie, maar eerder dat die betrokke psalm tot ‘n spesifieke versameling behoort. Die persone/groepe wat ter sprake is, is Dawid, Koragiete, Asaf, Salomo, Moses, Etan en Heman die Esragiet (Ps 88).

 

  1. Musikale of liturgiese notas.

Die mees opvallende is:

  • Die koorleier (55 psalms). Moontlik het die psalm op ‘n stadium ‘n rol in die tempeldiens gespeel. Die presiese doel van die frase is onbekend.
  • Dit sluit in: By die dood van die seun; Die duif in die hoë bome.
  • Musikale notasie. Dit kom nooit in die opskrif voor nie. Sela kom 71 keer voor. Dit is waarskynlik ‘n musikale notasie waarvan ons die implikasie nie meer begryp nie.

 

  1. Psalmtipe

Dit is ‘n aanduiding van die literêre kategorie.

  • ‘n Psalm (57). Presiese implikasie onduidelik, want die psalms is uiteenlopend.
  • ‘n Pelgrimslied. (15).
  • ‘n Lied (17).
  • ‘n Gedig (19)
  • ‘n Gebed (5).
  • ‘n Herinnering (2).
  • Ander wat slegs een maal voorkom sluit in: ‘n Klaaglied, ‘n Getuienis; vir onderwys bedoel; vir die sabbatdag; ‘n Dankpsalm; ‘n Loflied.

 

  1. Historiese of kultiese situasie

16 psalms bevat spesifieke kultiese of historiese gegewens: die inwyding van die tempel; die sabbatdag; ‘n hulpelose met wie dit sleg gaan.

Die Bybelse boeke het aanvanklik geen titels gehad nie. So staan Genesis as bere’shith in Hebreeus bekend – dit beteken in die begin – die eerste woorde van die boek.  Die psalms staan aanvanklik as Lofprysing bekend. In die Griekse vertaling (die Septuagint) word na hulle verwys as psalmoi – liedere gesing met begeleiding van ‘n snaarinstrument.