Ek het misluk – wat nou?

 

The passion of hatred, ignorance, and vainglory, having overpowered a man, holds his eyes fast as the tyrant does the free man. As he dares not speak out what is true, so the eye bewitched by such passions fails to see what is true and sound. But we must pray the Lord to make firm the wavering. – Huldrych Zwingli

 

Ek het misluk – wat nou?

Niemand se lewe bestaan uit een ononderbroke string oorwinnings nie. Almal van ons ondervind terugslae en mislukkings. Dit geld ook vir ons godsdiens – almal maak foute al probeer ons ons bes om God te dien. As dit waar is, is ‘n belangrike vaardigheid wat alle Christene moet aanleer, hoe om op mislukking te reageer.

 

As jy misluk het, is die eerste stap om uit te vind waarom jy misluk het. Daar is natuurlik baie redes, maar hier is vyf algemene redes.

  1. As jy nie vooruit beplan nie

‘n Verstandige mens sien onheil kom en sorg dat dit hom nie tref nie, onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor (Spreuke 27:12)

As jy wil hê dat die gemeente moet groei en gesond wees, vereis dit baie beplanning. Jy moet nie alleen beplan om nuwe mense te trek nie, maar ook wat jy met hulle gaan doen as hulle in die gemeente aankom. Byvoorbeeld: Hoe gaan ons hulle by ‘n kleingroep inskakel? Onthou: Noag het begin beplan lank voor dit begin reën het.

 

  1. Sodra jy dink dat jy “aangekom” het

Op selfverheffing volg ineenstorting, op nederigheid eer (Spreuke 18:12)

When Jesus walked through New Testament times, people had trouble seeing him as God; when some pastors walk through their churches, people have trouble seeing them as human.” (John Maxwell).

 

  1. As jy bang is om noodsaaklike waagstukke aan te gaan

Die vrees vir mislukking kan tot mislukking lei. Ons is dikwels so bekommerd oor wat ander van ons sal dink as ons misluk. Daarom probeer ons nie eers nie. As jy vir mense bang is, kan jy in ‘n strik beland, maar as jy jou vertroue in die Here stel, is jy veilig (Spreuke 29:25). Jy kan foute maak – jy moet net nie dieselfde fout oor en oor maak nie.

 

  1. Jy gooi te gou tou op

Dikwels is sukses net om die draai. Daniël bid vir dae aaneen en hy kry geen antwoord van God nie. Op ‘n dag sien hy in ‘n visioen ‘n magtige engel wat vir hom sê om nie bang te wees nie. Hierdie engel is 21 dae teruggehou voor Daniël se gebede beantwoord is (Daniël 10:12 – 14). Wat sou gebeur het as Daniël na 15 dae opgehou bid het? Onthou: baie wedstryde word eers in die laaste minuut gewen.

 

  1. As ek God se raad ignorer

Daar is ‘n lewenswyse wat vir die mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood (Spreuke 14:12). As ons God se raad ignorer, soek ons moeilikheid.

 

Wat maak ek as ek misluk het?

  • Erken jy het ‘n fout gemaak. Moenie ander blameer nie. As jy verantwoordelikheid aanvaar bevry dit jou van ‘n gesindheid wat altyd net verdedig en gee aan jou die geleentheid om te bepaal wat die fout was. Hy wat sy oortredinge bedek, sal nie voorspoedig wees nie; maar hy wat dit bely en laat staan, sal barmhartigheid vind (Spreuke 28;13 – OAV).
  • Herken die voordele van mislukking. Sien dit as opleiding. Mislukking wys vir jou wat nie werk nie. Dit dwing jou om meer kratief te wees; om nuwe maniere om dinge te doen te ontdek. Dit verhoed arrogansie. Mislukking laat ons weer nadink oor wat werklik in die lewe belangrik is.

 

Jou verlede is verby. Jy kan dit nie verander nie en daarom kan jy net so wel ophou dink daaraan. Broers, ek verbeel my nie dat  ek alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus (Filippense 3:13 – 14).

Ons dien ‘n God van tweede kanse – mislukking is nooit finaal tensy ons dit toelaat nie.

 

 




Waarom in die wêreld?

 

“The Gospel cannot be truly preached without offense and tumult.” ― Martin Luther

 

Waarom in die wêreld?

Julle moet nie ontsteld wees nie. Glo in God; glo ook in My (Johannes 14:1).

Andy Stanley (Why in the World: The Reason God became one of us) sê dat by almal van ons op een of ander stadium ‘n verband tussen God en vrees gemaak is. Dit kan wees dat ‘n kategeet vir jou gesê het dat God vir jou kwaad is as gevolg van jou sonde. Miskien is dit ‘n prediker. Miskien het iemand vir jou gesê dat as jy in die hemel wil kom, moet jy ‘n spesfieke gebed bid – doen jy dit nie, beland jy in die hel.

 

God is geheimsinnig. Hy is nie ‘n ou man met ‘n wit baard wat in die hemel sit nie. In Jesaja 55:8 – 9 sê God: My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede is nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle  gedagtes.

 

Geen wonder mense sien God as ver weg – selfs skrikwekkend – nie. Ons vrees ons verstaan nie – en ons kan God nooit volledig verstaan nie. Baie mense word Christene omdat hulle ‘n gunstige ooreenkoms met God wil aangaan – hulle glo Hy is vol toorn en wraak. Hulle besluit het min met liefde en baie met vrees te make.

 

Jesus het nie gekom sodat God kan weet ek bestaan nie – dit is veel beter as dit. Jesus het nie gesê dat Hy die beste verduideliking van God het nie; Jesus het gesê dat Hy die beste verduideliking van God is.

 

Wat doen jy om nader aan God te kom? Wat is dit van hierdie gewoonte of praktyk of benadering wat jou God se teenwoordigheid laat voel.

 




Jesus se verheerliking

 

“ A Christian man is the most free lord of all, and subject to none; a Christian man is the most dutiful servant of all, and subject to everyone.” ― Martin Luther

 

Jesus se verheerliking

Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy  as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid (Johannes 1:14).

Verwys Johannes hier na Jesus se verheerliking op die berg? Sy heerlikheid was tot op daardie stadium verborge, maar by hierdie geleentheid word dit aan drie van sy dissipels geopenbaar. Jesus se verheerliking kommunikeer iets van wesentlike belang. Jesus het gekom en mens geword om onder andere God se heerlikheid te openbaar. Hier gebeur dit voor ‘n klein gehoor.

 

Ons lees van Jesus se verheerliking in Matteus 17:1 – 8. Die goddelikheid wat Jesus met sy Vader en die Heilige Gees gedeel het, was versluier tydens sy aardse bestaan. Nou is Jesus op sy finale reis na Jerusalem waar Hy gekruisig sou word en weer sou opstaan uit die dood. Hy, Petrus, Jakobus en Johannes gaan saam ‘n hoë berg op. Daar het sy voorkoms voor hulle oë verander: sy gesig het begin straal soos die son, en sy klere het wit geword soos die lig.

 

Ons sien dat Jesus se gesig verander het. Dit herinner aan Moses. Ons lees dat Moses 40 dae en 40 nagte op Sinaiberg was. Toe hy daarna van die berg afkom met die twee plat klippe met die tien gebooie daarop, het sy gesig geblink (Eksodus 34:29 – 33). Hy moes sy gesig met ‘n doek bedek het. Moses se gesig het gestraal, maar wat ons hier sien, is die lig van God wat in Moses se gesig weerkaats word. Jesus se gesig, daarenteen, straal van die heerlikheid in Hom. Uit Hom straal die heerlikheid van God (Hebreërs 1:3). Paulus het ook hierdie heerlikheid op pad na Damaskus gesien. Jesus se klere verander ook – spierwit. Daar is geen vlekkie op nie.

 

Skielik verskyn Moses en Elia saam met Jesus. Moses verteenwoordig die wet en Elia die profete. Petrus bied aan om drie hutte vir hulle te bou. Terwyl hy nog praat, verskyn daar ‘n wolk en daar kom ‘n stem uit die hemel: Dit is my geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom. Dit was God wat gepraat het. Die dissipels word bang en val op die grond neer.

 

Al drie evangelies se beskrywing van Jesus se verheerliking op die berg word voorafgegaan deur ‘n gesprek van Jesus met sy dissipels. Hy sê onder andere vir hulle: Daar is party van dié wat hier staan wat beslis nie sal sterwe voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie (Matteus 16:28). Is Jesus se verheerliking dalk ‘n vervulling van hierdie profesie?

 

Wat leer ons uit hierdie gedeelte?

Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is (2 Korintiërs 4:18). Lees en dink na oor hierdie vers. Dit sê dat alle gelowiges die heerlikheid van die Here weerspieël en dat ons verander word om aan die beeld van Christus gelyk te word.

 

Ons hoor elke week dat die woord van God verkondig word. Luister ons na Hom? Indien nie, begin vandag nog na Hom te luister.

 

 




Hoe moet ons die Psalms lees en verstaan?

 

We need no other arguments to prove that God made the world but itself.” John Owen

 

Hoe moet ons die Psalms lees en verstaan?

Daar is ten minste drie maniere waarop ons die psalms kan lees:

  1. Dit kan gelees word as antieke literatuur – interessante gedigte geskryf toe die mens uit die bronstydperk beweeg het. Ons kan iets leer van die destydse beskawing, hul skrywers en die ontwikkeling van hul denke.
  2. Dit kan gelees word vanuit die Joodse perspektief. Dit is belangrik vir die Christen om te weet hoe die Jode die psalms verstaan, hoekom hulle so verstaan word en hoekom jy as Christen dit moontlik anders verstaan. Die Christen mag egter nie aan die Jood voorskryf hoe hy die psalms moet verstaan nie.
  3. Dit mag vanuit die Christelike perspektief gelees word – ‘n perspektief wat Christus vir ons geopenbaar het. Hy besef dat die Christen meer in die psalms mag ontdek as wat die oorspronklike skrywers bedoel het of as wat die nie-Christen mag doen. Die Christen lees die psalms met die wete dat Christus en vele Nuwe Testamentiese skrywers dit aanhaal. Jesus het Psalm 22 aan die kruis aangehaal. Het Hy nie daarmee aangetoon dat die besondere psalm relevant was vir daardie besondere situasie nie?

 

Dit wil voorkom of ons die psalms gelyktydig op verskillende maniere moet lees.

  1. Dit kom uit ‘n besondere geskiedkundige tydperk en word beïnvloed daardeur. Ons kan eintlik nie verstaan waarvan die psalmis praat nie, tensy ons ‘n beeld het van die ou Jerusalem, die stadsmure, die kroningsplegtigheid, die skare wat druk om by die tempel uit te kom om te aanbid, die wrede koning Nebukadneser, die Israeliete in ballingskap in Babilon wat verlang om terug te keer, ens.
  2. Hierdie gedigte is geskryf deur mense wat reeds die wonderlike goedheid van God ontdek het. God het immers met hul ‘n gelofte aangegaan gebou op liefde en getrouheid. Die psalms is geskryf deur die mense van God.
  3. Die psalms, as deel van God se Woord, is nie dooie drukwerk nie. Die psalms lewe deur die Gees van God wat ons na waarheid lei. Die skrywers van die NT glo Jesus is die Woord van God – nie net vandag nie, maar vir alle tye, verlede, hede en toekoms. Die psalmis het reeds geweet dat God hul gered het, net soos ons dit weet deur die Kruis. Hul het nie geweet hoe God hul gered het nie, behalwe dat Hy aan hul ‘n teken/sakrament gegee het by die deurtog deur die Rooi See. In hierdie opsig verstaan ons meer as wat hul verstaan het. Die Christen is geregtig om in hierdie ou gedigte meer omtrent die liefde en genade van God te vind as selfs die oorspronklike digters.

 

Om die psalms te lees is ‘n heilryke en opwindende ondervinding. Ons sien dikwels dat die psalmdigters hul harte en gedagtes voor die Here uitstort. Hul sê vir Hom as hul dink Hy het hul in die steek gelaat of as hul ongeduldig raak. Ons verskil op twee maniere van die psalmdigter:

  • Ons sê nie altyd vir die Here wat ons dink en hoe ons voel nie; en
  • Ons besef daarom nie altyd met Wie ons praat nie.