Hou op kla oor die probleme in jou gemeente

 

“Those speak foolishly who ascribe their anger or their impatience to such as offend them or to tribulation. Tribulation does not make people impatient, but proves that they are impatient. So everyone may learn from tribulation how his heart is constituted.” – Martin Luther

 

Hou op kla oor die probleme in jou gemeente

Sport het ontleders, kundiges en kommentators wat betaal word om te praat oor die prestasies van die verskillende spanne en spelers. Rolprente en boeke het kritici wat ‘n lewe daaruit maak om die gehalte van die rolprente en boeke te evalueer. Ons verbruikerskultuur bevorder die idee dat ons menings dié belangrikste is. Ons bring ook hierdie gesindheid in die kerk in. Ons evalueer die musiek, die lengte van die preek, die gebou … Dit lyk amper asof die kerk geseën is met mense met die geestelike gawe van kla.

 

Wat ons nodig het, is mense wat gewillig is om dinge te verander. Daar is niks mee verkeerd om die aandag op probleme in die gemeente te vestig nie. Maar as ons net die probleme identifiseer, hoe gaan dinge ooit verander? Voordat jy die problem op die tafel lê, dink aan die volgende:

  1. Is dit waardevol? Is dit ‘n probleem wat hanteer moet word? As die probleem hanteer word, sal dit die gemeente help?
  2. In watter seisoen is die gemeente? Gemeentes het seisoene waarin hulle baie besig is. Dikwels het hulle ‘n tekort aan leiers, fondse en vrywilligers. Jy moet dus besluit of die probleem dringend is en of dit kan wag tot dinge rustiger is. Natuurlik moet die saak hanteer word, maar dink net ‘n bietjie aan die tydsberekening.
  3. Is dit ‘n persoonlike voorkeur? Daar is ‘n verskil tussen probleme identifiseer en probleme skep. Persoonlike voorkeure is nie probleme nie. Ons moenie persoonlike voorkeure hanteer asof die gemeente besig is om iets verkeerd te doen nie.
  4. Is jy betrokke? Niks is meer frustrerend as ‘n toeskouer met baie opinies nie. Hulle sê hulle wil net help of hulle sê hulle het gedink jy behoort te weet. As jy nie genoeg omgee om betrokke te raak nie, kan jy nie die aandag op dinge vestig nie. Mense wat nie bereid is om betrokke te raak nie, is van min hulp – dit ontmoedig net ander. Jy moet wys dat jy vir die gemeente en nie net jou idees omgee nie.
  5. Wat is jou motief? Wil jy dinge verander tot voordeel van almal? Hanteer jy ‘n saak omdat jy vir die gemeente en die koninkryk van God omgee? Jou motief is baie belangrik. As jy nie met vertroue kan sê dat jy dit te berde bring vir die heerlikheid van God en die beswil van ander mense nie, moet jy weer dink of jy dit te berde moet brng.
  6. Wat is jy bereid om daaromtrent te doen? As jy nie bereid is om iets daaromtrent te doen nie, is jy nie die persoon om dit te berde te bring nie. Moenie probleme op die tafel lê sonder om ook ‘n oplossing aan te bied nie.

 

Die wêreld en die gemeente het nie meer mense wat op die pawiljoen sit en kritiseer nodig nie. Die oes is groot en die werkers is min. Kritici is nie werkers nie. Kerk wees is nie ‘n toeskouer sport nie. As jy ‘n problem te berde wil bring, word deel van die wedstryd.

 

 




Jesus word versoek

 

I know of no case study in history that describes an organization that has been managed out of a crisis. Every single one of them was led – George J. Flynn

 

Jesus word versoek

Na Jesus se doop word Hy deur die Gees in die woestyn gelei (Matteus 4:1 – 11). Nadat Hy 40 dae en 40 nagte niks geëet het nie, word Hy deur die duiwel versoek. Dit herinner ons aan Adam se versoeking. Hoekom is Jesus versoek? Deel van Jesus se werk was om die tweede Adam te wees. Hy word geroep om die laaste/nuwe Adam te wees om te doen wat die eerste Adam nie kon doen nie. Adam se grootste mislukking was juis sy reaksie op versoeking. Veral Paulus stel die eerste teenoor die tweede Adam in Romeine 5:12 – 19 en 1 Korintiërs 15:21 – 22 en 45 – 49.

 

Daar is duidelike verskille, maar ook ooreenkomste tussen Adam en Jesus se versoeking. Kom ons kyk eers na die verskille:

  • Adam word in die paradys versoek en Jesus in die woestyn
  • Adam word versoek terwyl hy saam met sy vrou was; Jesus was alleen.
  • Adam word versoek terwyl hy deur allerhande soorte kos omring was; Jesus was vir 40 dae en 40 nagte sonder kos.

 

Daar was ook sekere ooreenkomste. Satan kom na Adam en vra ‘n eenvoudige vraag: Het God werklik gesê julle mag van geen boom in die tuin eet nie? Hier verdraai Satan God se woord. Eva stel dit reg en sê vir Satan dat hulle van die vrugte van die bome mag eet, behalwe van die vrugte van die boom in die middel van die tuin. Satan gaan nou verder en vertel ‘n leuen en weerspreek direk God se woord: Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken. Satan se taktiek is duidelik: hy val die betroubaarheid, gesag en waarheid van God se woord aan. Hy gee te kenne dat hulle beperk en nie vry is nie.

 

Jesus se versoeking begin op dieselfde manier. Satan sê: As U die Seun van God is …  Pas vantevore, by sy doop, het God self verklaar: Dit is my geliefde Seun. Op elke versoeking van Satan antwoord Jesus met ‘n aanhaling uit Deuteronomium 6 – 8. Satan haal selfs uit Psalm 91 aan, maar Jesus wys dat sy interpretasie van die vers verkeerd is deur ‘n verdere aanhaling uit die Skrif. Ons kan tog nie een deel van die Skrif teenoor ‘n ander plaas nie.

 

Wat leer ons uit hierdie gedeelte?

  1. Is jy verbaas as God tye van beproewing, probleme, versoeking en toetsing in jou lewe toelaat? Onthou dat die Seun van God self dit deurgemaak het. Dwarsdeur sy lewe is Hy versoek – selfs deur sy vriende. Nadat Jesus vir die eerste maal sy dood aangekondig het, het Petrus Hom berispe. Luister net na Jesus se reaksie: Moenie in my pad staan nie, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, want jy dink nie aan wat God wil hê nie, maar aan wat die mense wil hê (Matteus 16:22 – 23).
  2. Satan se versoekings is nie altyd openlik en duidelik nie. Soms is dit baie subtiel. Daarom moet jy jou hart beskerm deur van God se genade afhanklik te wees om die aanslae af te weer.
  3. Memoriseer die Skrif. Jesus kon Satan se aanslae afweer deur gereeld uit die Skrif aan te haal. Kan ek en jy dit ook doen?

 




Jesus by die tempel

 

The truly wise are humble because they know they still have so much to learn. —Don Whitney

 

Jesus by die tempel

Die Nuwe Testament vertel ons baie min van Jesus se lewe vanaf sy geboorte tot aan die begin van sy bediening. Ons lees: Die Kindjie het gegroei en sterk geword, en Hy was vol wysheid, en die genade van God was op Hom (Lukas 2:40). In Lukas 2:41 – 52 beskryf Lukas wel een besondere geleentheid – Jesus by die tempel. In vers 49 lees ons Jesus se eerste woorde wat opgeteken is: Waarom het u na My gesoek?  Het u nie geweet dat Ek in die huis van my Vader moet wees nie. Hiermee gee Hy duidelik te kenne dat Hy die Seun van God is. Hy sê dat sy roeping is om te doen wat die Vader van Hom vra en om die Vader te verheerlik – in alle dinge en te alle tye.

 

Van die apokriewe boeke vertel meer oor Jesus se kinderjare. Dit vertel van Jesus wat sy mag vir nietige dinge gebruik het. Daar is vandag baie belangstelling in die apokriewe boeke, want Dan Brown se DaVinci Code sluit baie van die spekulasie wat ons in die apokriewe boeke kry, in.

In die tempel sit Jesus tussen die geleerdes – die teoloë van sy dag. Almal wat Hom gehoor het, was verbaas oor sy insig en sy antwoorde. Sonde belemmer ons vermoë om duidelik te dink. Almal van ons maak foute in ons denke. Al lees ons dieselfde Bybel is daar gedeeltes waaroor ons verskil, want ons kom na die Skrif met sekere vooroordele wat ons nie sommer kan ignoreer nie. Jesus se denke, daarenteen, was nie deur sonde beïnvloed nie, want Hy was sondeloos. Daarom dat die geleerdes verbaas was oor sy insig en antwoorde.

 

Jesus is na die tempel gebring toe Hy 12 jaar oud was. Dit was die paasfees. Na die paasfees vetrek Josef en Maria terug na Nasaret. Hulle reis in ‘n groot geselskap.  Daarom kom hulle eers na ‘n dag agter dat Jesus nie met die geselskap is nie. Hulle draai terug. Drie dae lank soek hulle Hom voordat hulle Hom in die tempel kry. Maria was ontsteld en wil weet waarom Jesus so met hulle gemaak het – jou vader en ek het met angs na jou gesoek.

 

Jesus wys sy moeder so ligweg tereg, Sy moes geweet het dat Hy in die huis van sy Vader moet wees. Sy het immers heelwat openbarings gehad. Selfs op die ouderdom van 12 jaar weet Jesus wat sy taak is: Hy was onderworpe aan die Vader vir die werk waarvoor Hy geroep is.

 

Wat kan ons uit hierdie gedeelte leer?

  • Jesus onderwerp Hom aan sy aardse ouers. Hy gaan saam met hulle terug Nasaret toe en Hy was aan hulle onderdanig (2:51). Net so moet ons ook onderdanig wees aan diegene wat gesag oor ons het.
  • Jesus het sy roeping voltooi. Daarom kan ons ook nou vir God Vader noem. Ons moet Hom vir hierdie voorreg loof.

 




Die Ontwikkeling van die Psalms

 

High degrees of Christian assurance are simply not compatible with low levels of obedience. —Sinclair Ferguson

 

Die Ontwikkeling van die Psalms

Die skrywers van die Septuagint (tussen derde en tweede eeu voor Christus) het reeds die psalms min of meer in sy huidige vorm geken. Dit was egter die einde van ‘n lang proses. Hoe het hierdie proses verloop? Ons weet nie wanneer die individuele psalms geskryf is nie, maar ons kan wel iets van die proses naspeur.

 

In die Psalms is daar ‘n aantal subversamelings. Hierdie subversamelings het soortgelyke opskrifte en gebruike en hanteer soortgelyke onderwerpe. So kry ons twee openingsversamelings van Dawid (Psalms 3 – 41 en 51 – 72). Aan die einde van Psalm 72 lees ons: Hier eindig die gebede van Dawid, seun van Isai. Dit geld egter net vir die versameling en nie die hele boek nie, want later kry ons weer Psalms van Dawid. Daar is ook twee versamelings van die Koragiete (42 – 49 en 84 – 87 met ‘n Dawidpsalm tussenin – Psalm 86). Daar is psalms van Asaf (Psalm 73 – 83) en verdere Dawidspsalms (138 – 145).

 

Soms is dit duidelik hoekom psalms op mekaar volg, maar meestal is hulle losstaande. Psalms wat op mekaar volg sluit in 1 en 2, 3 en 4, 16 en 17, 30 en 31 en 32 en 33.

 

Daar is ook psalms wat sekere eienskappe deel. So byvoorbeeld gebruik Psalms 42 – 83 die woord Elohim vir God en nie YHWH nie. Psalms 93 en 95 – 99 vier God se koningskap. Psalms 113 – 118 staan as die Egiptiese Hallel bekend en is tydens die paasfees gebruik. Psalms 120 – 134 is weer pelgrimspsalms,

 

Hierdie versamelings is mettertyd saamgevoeg in een bundel. Daarom is daar geen struktuur in die psalms wat ons kan help met sy inhoud nie. Die Midrasj (=antieke kommentaar op deel van die Hebreeuse Skrif wat aan die teks aangeheg is) sê: As to the exact order of David’s psalms, Scripture says elsewhere: Man knoweth not the order thereof. Ons moet aanvaar dat slegs God die orde verstaan: Wie soos Ek is, laat hom dit sê, laat hom sy saak stel en dit aan My voorlê; laat hom ‘n verklaring gee van wat gebeur het vandat Ek my volk lank gelede gemaak het en ook wat sal gebeur; laat hy vertel van die dinge wat kom (Jesaja 44:7). Ons moet aanvaar dat die psalms nie soos Genesis of Jesaja werk nie. In plaas van soek na struktuur van die psalms as geheel moet ons eerder probeer om die tipe psalms wat herhaaldelik voorkom, verstaan.