Drie lofliedere

 

Though you hoard up wealth, gold is nothing but dust to a dying man. —C.H. Spurgeon

 

Drie lofliedere

Dwarsdeur die Ou Testament word God se verlossingsoptredes besing. Dink aan die liedere van Moses (Eksodus 15) en Debora (Rigters 5). Baie van hierdie lofliedere kry ons in die psalms. In Lukas 1 en 2 kry ons drie lofliedere wat die koms van die Messias vier. Vandag staan hulle bekend volgens die eerste woord van elk in die Romeinse vertaling.

 

  • Die Magnificat

Hierdie is die Loflied van Maria (Lukas 1:46 -55). Sy is oorweldig deur die grootheid van die Here dat Hy juis vir haar gekies het as moeder van die Messias. Sy sien dit as ‘n voorreg: elke nuwe geslag sal my gelukkig noem. Sy gaan verder en sê dat God magtige dinge gedoen het: hoogmoediges in hulle eiewaan het Hy uitmekaargejaag; maghebbers het Hy van trone afgeruk. Daarenteen het Hy behoeftiges met goeie gawes oorlaai. Sy verbind ook Jesus se koms met God se beloftes aan Israel. Hy vervul die beloftes wat Hy aan Abraham gemaak het.

 

  • Die Benedictus

Dit is die loflied van Sagaria (Lukas 1:68 – 79). Sagaria hanteer soortgelyke temas as Maria in sy lied. Die Jode het verlang na die dag wat die Here self sou kom. Dit sou ‘n donker dag wees, maar ook ‘n dag van verlossing – ‘n dag van hoop. Hy loof die geboorte van Jesus as ‘n besoek van die Here om te verlos. Sagaria verbind ook die koms van die Messias met die verlossingsbeloftes aan Abraham.

 

  • Die Nunc Dimittus

Hierdie is die lied van Simeon (Lukas 2:29 – 32). Josef en Maria bring vir Jesus na die tempel. God het belowe dat Simeon nie sou sterf voordat hy die Messias gesien het nie. Toe Jesus na die tempel gebring word, herken Simeon Hom dadelik as die beloofde Messias en sing sy kort lied.

 

Hierdie drie liedere herinner ons weer daaraan dat ons die persoon en werk van Jesus Christus nie kan verstaan sonder dat ons die Ou Testamentiese beloftes verstaan nie. Martin Luther het gesê dat die lied van Maria gaan oor die groot dade van God ter versterking van ons geloof, vertroosting van die armes en tot verskrikking van die magtiges.

  • Maria se loflied versterk ons geloof en vertroos ons met die waarheid van God se trou. Dit hou ons nederig. God wat magtig is en groot dinge vir Maria gedoen het, kan ook groot dinge vir ons doen,
  • Sagaria se loflied sien God se tere genade teenoor die mens. Ons moet Hom wat uit Maria gebore is, dank vir ons verlossing.
  • Simeon se lied se belang word so deur J. C. Ryle beskryf: If they, with so few helps, lived such a life of faith, how much more ought we with a finished Bible and a full Gospel. Let us strive, like them, to walk by faith and look forward.

 




Wat het Jesus vir jou gedoen?

 

If your actions inspire others to dream more, learn more, do more, and become more, you are a leader – John Wuincy Adams

 

Wat het Jesus vir jou gedoen?

As jy hierdie vraag vra, is die gewone antwoord: “Jesus het aan die kruis vir my sondes gesterf.” Dit is waar. Maar is dit die volle verhaal? As Jesus net aan die kruis moes sterf vir my sondes kon Hy mos daardie Goeie Vrydag neergedaal het uit die hemel om gekruisig te word. Hy kon drie dae later weer opgestaan het en na die hemel teruggekeer het.

 

Was dit nodig dat Jesus in ‘n stal gebore moes word? Was al die swaarkry en verdrukking nodig? Was die vyandigheid wat Jesus van die Joodse leiers moes verduur nodig?  Beteken dit niks dat Jesus vir 33 jaar op aarde geleef het nie?

 

Jesus het nie net as Verlosser gesterf nie, maar Hy het ook in volmaakte gehoorsaamheid geleef. Hoekom? Sodat sy geregtigheid aan almal wat op Hom vertrou, oorgedra kan word. As ek op die oordeelsdag voor God staan, sien Hy vir Jesus en sy geregtigheid oor my. Deur sy gehoorsaamheid verlos Jesus sy mense vir die ewige lewe.

 

Ons moenie Jesus se werk op aarde onderskat deur te eng net op sy kruisiging te fokus nie. Ons moet na Jesus se lewe kyk en sien dat Hy besig was om sy lewenslange roeping te vervul. Leer uit sy lewe.

 




Die Spartane

 

The reason men do not look to the Church today is that she has destroyed her own influence by compromise.  — G Campbell Morgan

 

Die Spartane

Die Ateners was die slim mense; die Spartane was die krygers. Die volke het hulle vir hulle krag, moed en uithouvermoë bewonder. Wat het hulle onderskei van die ander volke? Nie hulle skerp spiese nie, maar hulle sterk skilde. Om jou skild in ‘n geveg te verloor, was die grootste misdaad wat ‘n Spartaan kon pleeg. As jy jou helm of borsplaat in die geveg sou verloor, word jy verskoon. Maar as jy jou skild verloor, verloor jy jou burgerskap. Hoekom? ‘n Kryger dra sy helm en sy spies vir sy eie beskerming, maar sy skild vir die beskerming van die hele linie.

 

Die krag van die gemeente kom nie uit sy programme en dienste nie, maar dit kom van God en hoe goed die lidmate saamwerk. Die kerk word van alle kante aangeval deur die wêreld. Dit is tragies in hoe baie gemeentes daar onenigheid is – dikwels oor beuselagtighede. Dit is tyd dat alle lidmate vashou aan hulle skilde en mekaar beskerm.

 




Die sirkel van veiligheid

 

It is not our eye on him which is our great protection, but his eye on us. —C.H. Spurgeon

 

Die sirkel van veiligheid

‘n Leeu loop om die veld waar vier osse besig was om te wei. Dikwels het hy probeer om hulle aan te val. Sodra hy naby aan hulle gekom het, het hulle hulle sterte na mekaar gedraai. Maak nie saak van watter kant hy gekom het nie, het hy hom in die horings van een van hulle vasgeloop. Eendag begin die osse onder mekaar baklei en elkeen loop alleen na ‘n deel van die veld. Nou val die leeu hulle aan daar waar hulle alleen is. Gou was hulle al vier dood. (Esopus  – 6de eeu)

 

Die wêreld om ons is vol gevare – dinge wat ons lewens ellendig maak. Hierdie gevare is voortdurend teenwoordig. Ons het geen beheer oor hulle nie. Hulle sal ook nie sommer verdwyn nie.

 

Uit die eenvoudige verhaal van Esopus leer ons ‘n baie eenvoudige waarheid. Elke gelowige is kwesbaar. Alleen kan ons nie die gevare die hoof bied nie. Daarom is daar ‘n geloofsgemeenskap. Ons hoef nie alleen die gevare te trotseer nie – God en ons medegelowiges is daar om by ons te staan.