Die Psalms: Inleiding (7)

  1.  

    If Only I Knew Why. What if God gives himself instead of the answer? – John Piper

     

    Die Psalms: Inleiding (7)

    Die Psalms hou verband met die geskiedenis van die volk van God, die geskiedenis van sy leiers en die geskiedenis van individue. Baie Psalms bevat algemene stellings, beloftes en uitdagings, maar hulle verwys nie na spesifieke godsdienstige gebeure nie. Baie psalms praat asof hulle onder spesifieke geskiedkundige gebeure ontstaan het, maar hulle sê nie vir ons wat daardie gebeure ws nie.

     

    Baie dele van die Bybel impliseer dat ons die geskiedkundige agtergrond moet ken om hulle verstaan. Dit geld byvoorbeeld vir die profete-boeke.

    • Die profesieë se inhoud verwys na spesifieke nasies of individue of gebeure.
    • Baie profesieë begin deur na hulle spesifieke geskiedkundige agtergrond te verwys. Toe God die profesie gegee het.

     

    Die psalms bevat nie spesifieke verwysings na die geskiedenis soos ons in die profete-boeke kry nie. Hulle staan los van hulle oorspronklike konteks. Die psalms in ontwerp vir gebruik vir lof en gebed dwarsdeur die geskiedenis van God se mense. [Ons kry wel in Psalm 60 ‘n verwysing na Edom, maar dit sê nie wat die krisis tussen Israel en Edom was nie. Psalm 137 verwys na Babilon, maar sê nie na watter stadium van die ballingskap hier verwys word nie.]

     

    Ons kan sê dat die psalms steeds vandag baie vir ons te sê het oor lofprysing en gebed.

     

     




Sekere dinge wat jy nie vir iemand met depressie moet sê nie

 

Trust the past to God’s mercy, the present to God’s love, and the future to God’s providence – Augustinus

 

Sekere dinge wat jy nie vir iemand met depressie moet sê nie

Michael Patton is ‘n depressielyer. Daar is sekere dinge wat Christene vir hom sê wat hom baie ontstel. Die mense se bedoelings is nie noodwendig sleg nie. Hulle wil hê dat jy gesond moet word.

 

  1. Ruk jouself reg

Mense glo dat om depressief te wees ‘n wilsbesluit is. As jy die regte besluit neem, kan jy reg kom. Depressie is gewoonlik ‘n toestand van die brein – jy kan jou nie sommer regruk nie. Mense met depressie sou hulle tog regruk as dit so maklik was. Hulle wil nie depressief wees nie – dit is ‘n marteling.

 

  1. Dink positief

‘n Persoon met depressie kan nie positief dink nie – dit is hoekom hulle depressief is. Hulle wil nie negatief dink nie – hulle kan net nie anders dink nie.

 

  1. Bely jou sondes

Daar is sonde in die lewe van iemand met depressie. Hulle moet hulle sonde hanteer. Maar:

  • Almal sondig, maar nie almal is depressief nie. As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie (1 Johannes 1:8). Die depressiewe persoon mag dink dat om ontslae van al sy sonde te raak die antwoord is. Sodra hulle besef dat dit nie moontlik is nie, vererger die depressie.
  • Hulle kan nie die verlede verander nie. Hulle kan nie eenvoudig terugdraai en hulle keuses verander nie.
  • Hulle weet reeds dat hulle sondaars is. Moenie dat hulle op die verdediging gaan nie, want dan doen jy meer kwaad as goed.

 

  1. Kry onmiddellik medisyne

Medisyne is dikwels die antwoord en is ‘n gawe van God. Baie mense gebruik nie medisyne nie as gevolg van die stigma daaraan verbonde. Soms word die medisyne te maklik voorgeskryf. Ons sou nie al die psalms gehad het as hierdie soort medisyne destyds beskikbaar was nie. Vir sommige is ‘n korttermyn kursus voldoene; ander moet lewenslank medisyne gebruik. Dawid en Martin Luther was waarskynlik persone met depressie. Soms wil God hê dat ons deur die donkerte gaan. Daarom moenie te gou medisyne kry nie.

 

  1. Ek was al deur erger dinge

Mense bedoel dit goed, maar dit is nie iets wat jy vir ‘n persoon met depressie moet sê nie. Jy mag erger dinge ondervind het en daardeur gekom het, maar vir die persoon met depressie help dit niks nie.

  • As jy eers depressief is, is die depressie erger as enigiets waardeur jy gegaan het.
  • Lyding is relatief. Daar sal altyd mense wees wat slegter af is as wat jy is. Dit is nie die probleem nie. Dit is hoe jy die lyding waarneem en internaliseer teenoor hoe jy vantevore was wat die probleem is.

Depressie is ‘n relatiewe ding. Om vir mense te sê dat jy al erger dinge ondervind het, is onwys en onverantwoordelik. Dit kan net die persoon se depressie vererger.

 

  1. God sal jou nie meer gee as wat jy kan hanteer nie

Nêrens sê die Bybel dit nie. Ons lees wel dat geen versoeking meer sal wees as wat ‘n mens kan weerstaan nie (1 Korintiërs 10:13).

 

  1. Depressie is sonde – Christene het vreugde in hulle lewens

 Is dit waar? Geseënd is dié wat treur, want hulle sal vertroos word (Matteus 5:4). Is depressie sonde? Ek is oortuig dit is nie die geval nie.

Dit is die dinge wat ons nie moet doen nie. Maar wat kan ons doen as ‘n geliefde van jou depressie het. Dit is nie jou werk om die depressie op te los nie. Jy kan die persoon beter laat voel. God kan jou gebruik om die persoon met depressie weer heel te maak. Maar dit is nie jy wat dit doen nie, maar die Heilige Gees. Baie van wat ons sê vererger die depressie. Job se vriende het sewe dae in stilte by hom gesit (Job 2:13). Hulle moes die hele tyd stil gebly het. Sit by iemand met depressie – stil met jou arm om sy skouers. As jy praat moet dit natuurlik en nie-veroordelend wees. Jou doel is om daar te wees wanneer hulle jou nodig het.

  “Silences make the real conversations between friends. Not the saying but the never needing to say is what counts.” —Margaret Runbeck

 




Diens van Barmhartigheid

 

Faith is to believe what we do not see; and the reward of this faith is to see what we believe – Augustinus

 

Diens van Barmhartigheid

Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word (Matteus 5:7).

Wat is barmhartigheid? Gewoonlik dink ons aan twee dinge: om mense wat dit nie verdien nie te vergewe of om mense te help wat hulleself nie kan help nie. Maar barmhartigheid is veel meer. Daar is ten minste sewe fasette van barmhartigheid. Hierdie is ook sewe maniere om ons verhoudings te verander en om ‘n barmhartigheidsbediening te ontwikkel.

 

  1. Wees geduldig met mense se giere

Mense is soms eienaardig; hulle het allerhande maniertjies. Soms het hulle irriterende gewoontes. Jy bewys barmhartigheid as jy nie geïrriteerd of kwaad word nie. Almal van ons het maar ons giere. Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde (Efesiërs 4:2). Begin deur barmhartigheid by die huis te bewys, want julle sien mekaar se foute meer as wat enigiemand anders dit sien en jy moet die res van jou lewe met hulle saamleef.

 

  1. Help enigeen wat seer kry

Daar is mense wat seer kry om ons, maar ons is gewoonlik te besig om dit raak te sien. Dink maar weer aan Jesus se gelykenis van die barmhartige Samaritaan. Twee mense loop by die beseerde man langs die pad verby. Dit is die Samaritaan wat hom help. Jesus sê dat ons naaste die persoon is wat seer het, maak nie saak hoeveel hy van ons verskil nie.

 

  1. Gee mekaar ‘n tweede kans

 Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het (Efesiërs 4:32). In vers 31 noem Paulus enkele negatiewe reaksies: Moet nooit verbitterd of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Die wêreld se reaksie word dikwels deur bitterheid en harde woorde gekenmerk – kyk net op Facebook.

 

  1. Doen goed aan diegene wat jou seer maak

Barmhartigheid beteken dat ons aan mense gee wat hulle nodig het en nie wat hulle verdien nie. Die mense vir wie jy nie wil liefhê nie, verdien dit die meeste. Mense wat ander seer maak, het baie liefde en barmhartigheid nodig.

 

  1. Wees vriendelik teenoor dié wat jou beledig

Verbale aanvalle op die kerk is besig om toe te neem. Een van die groot probleme van kerkleiers vandag is die sogenaamde kultuuroorlog. Oorloë kom altyd teen ‘n duur prys. Ons moet besluit: wil ons die argument wen of wil ons mense vir God wen.

 

  1. Bou brûe van liefde na die ongewildes

Daar is mense in jou straat of met wie jy werk met wie niemand vriende wil maak nie. Almal vertel grappe agter hulle rug. Hulle mag ‘n ander lewenstyl of geloof hê; hulle mag as gevolg van hulle kultuur anders aantrek. Hulle is nie deel van die groep nie; hulle is nie gewild nie. Hoekom sou God wou hê dat ons brûe na hulle moet bou? Want jy kan nie jou teenstanders vir God wen nie. As jy ‘n lewe van barmhartigheid leef, sal jy gekritiseer word. Jesus was nie bang om met sulke mense geassosieer te word nie. Hoekom nie? Hy het presies geweet wie Hy is en Hy het geweet wat sy roeping was: om diegene wat verlore was te soek en te vind.

 

  1. Heg meer waarde aan verhoudings as aan reëls

Watter ongelowige kan jy uitnooi vir ete? Toe Jesus vir Levi/Matteus geroep het om sy dissipel te wees, het hy ‘n groot feesmaal gehou waar ‘n groot aantal tollenaars en ander mense saam met hulle aangesit het. Nooi ongelowiges uit vir ‘n ete by jou en daarna nooi jy hulle om ‘n erediens saam met jou by te woon. Dit is jou bediening van barmhartigheid.

 

Het ek en jy in ons lewens ‘n bediening van barmhartigheid?




Is godsdiens verantwoordelik vir die probleme in ons gemeenskap?

 

People travel to wonder at the heights of mountains, at the huge waves of the sea, at the long courses of rivers, at the vast compass of the ocean; and they pass by themselves without wondering – Augustinus

 

Is godsdiens verantwoordelik vir die probleme in ons gemeenskap?

Daar is ‘n toenemende persepsie in die samelewing dat geloof die oorsaak van baie probleme in ons gemeenskappe is. In die hof van openbare mening kry die Christelike godsdiens die wind van voor. Vir dekades is geglo dat die Christelike geloof irrelevant is, maar vandag word dit toenemend vervang met die siening dat dit sleg vir die gemeenskap is.

 

Die Barna Group het ‘n studie gedoen om die gemeenskap se huidige persepsies van geloof en die Christelike godsdiens vas te stel. Geloof en die Christendom word deur miljoene mense as ekstrimisties beskou. Hoekom?

 

  1. Volwassenes en veral ongelowiges is bekommerd oor godsdienstige ekstremisme

Godsdienstig gemotiveerde terrorisme lei daartoe dat toenemend meer mense teen ekstremisme gekant is – dit is ‘n bedreiging vir ons gemeenskappe. 75% van Amerikaners stem saam.

 

  1. Amper die helfte van nie-godsdienstige volwassenes glo dat die Christelike geloof ekstremisties is

Wat kommerwekkend is, is dat net 14% van ateïste en agnostici sterk glo dat Christene nie ekstremisties is nie.

 

  1. Die omvang van dit wat as ekstremisties beskou word, is breed.

Daar is vier kategorieë.

  • Algemeen as ekstremisties aanvaar deur 80% van volwassenes. Dit sluit in die gebruik van godsdiens om geweld te regverdig, weiering van standaard mediese behandeling vir kinders en die weiering om ‘n kliënt wie se leefstyl met hulle geloof bots, te bedien.
  • As ekstremisties aanvaar deur 50 – 80% van volwassenes. Dit sluit in demonstrasies buite ‘n organisasie wat hulle as immoreel sien, protes teen regeringsbeleid wat bots met hulle godsdienstige sienings. Dit gaan hier oor  sosiale aangeleenthede.
  • As ekstremisties aanvaar deur 20 – 50% van volwassenes. Hier gaan dit oor dinge wat veral by sekere groepe voorkom soos spreek in tale, dra van spesiale klere of hoofbedekkings en die nakom van sekere dieetbeperkings.
  • As ekstremisties aanvaar deur minder as 20% van volwassenes. Hierdie sluit in die lees van die Bybel of Koran in die openbaar, om geld aan ‘n godsdiensinstelling te skenk.

 

  1. Evangelicals staan uit in hulle gesindheid teenoor ekstremisme

Hulle is baie minder geneig as ander groepe om die elemente as ekstremisties te beskou.

 

Hierdie navorsing wys vir ons weereens die uitdagings wat Christene vandag moet hanteer. In ‘n godsdienstig plurale en verdeelde gemeenskap is daar verskillende groepe wat meeding om te besluit hoe geloof moet werk. ‘n Groot aantal optredes en selfs oortuigings word nou as ekstremisties beskou deur ‘n groot deel van die bevolking. Gelowiges is nie meer deel van die kulturele hoofstroom nie. Geen wonder soveel Christene ondervind frustrasie nie. Hulle is nie meer in pas met die kultuurnorme en –momentum nie

[Kinnaman se boek Good Faith analiseer hierdie nuwe sosiale ekstremisme.]