Die Psalms: Inleiding (6)

 

The test of liberality is not what is given, but  what is left (William Kelly).

 

Die Psalms: Inleiding (6)

Die psalms kan beskou word as die hart van die Ou Testament en kan gesien word as ‘n samevatting en uitdrukking van die Ou Testamentiese teologie. Die psalms is nie deur Griekse denke beïnvloed nie, alhoewel party psalms hersien is in die tyd van Sokrates en Plato. As ons die psalms interpreteer mag ons nie Plato se filosofiese idees teruglees in die psalms nie. Alle Griekse denke was dualisties waar elke aspek van die lewe in twee verdeel is: hemel en aarde, liggaam en siel, liefde en seks, ens. Die Hebreeuse denke daarenteen was een. Jeremia praat van die skepping as ‘n geheel. Natuurlik kon ‘n mens praat van hemel en aarde, maar vir die Jood was hul slegs twee kante van dieselfde muntstuk. Vir die Jood was/is die siel nie iets wat tydelik in die liggaam gewoon het nie (soos die Grieke geglo het nie). Hul het geglo in die geheel. Dit is hierdie “geheel” wat die voorwerp van God se liefde is. Ons moet baie versigtig wees om nie tipiese Griekse idees in ons interpretasie van die psalms te dra nie – redding van siele, die onsterflikheid van die siel, ens.

 

Die gevolg van hierdie siening is duidelik in die regeringsvorme. Die Griekse “demokrasie” het werkers en vroue uitgesluit – dit was beperk tot die hoë sosiale vlakke. In Israel het elke dorpie sy “regter/ouderling” gekies. Hy het by die hek gesit en reg gespreek. Hy moes dit op so ‘n wyse doen dat niemand – ook vroue, slawe en vreemdelinge – benadeel word nie. Slawe is na ses jaar vrygelaat en het ‘n bonus ontvang. Drie maal per jaar, tydens die groot feeste, moes hierdie “regter” na Jerusalem gaan. By hierdie geleenthede het hy saam met sy mede-regters in ‘n “parlement” gesit en die koning geadviseer oor alledaagse aangeleenthede wat die mense geraak het. Ons lees dat ‘n groot aantal van hierdie “regters” uit ballingskap teruggekeer het. Daar het hul waarskynlik as verteenwoordigers van die volk opgetree, al was daar geen koning nie. As ons in die psalms lees van regstoepassing deur die koning moet ons altyd die demokratiese struktuur agter die koning in gedagte hou.

 

Die psalmdigters was wel deeglik bewus van ‘n duidelike skeidslyn – nie tussen liggaam en siel nie, maar tussen goed en kwaad. God voer oorlog teen hierdie kragte van die bose. Hy word selfs as ‘n krygsman beskryf. Om God se doel te bereik – die verlossing van alle mense – moet bloed gestort word. God se mense moet bereid wees om saam met Hom te deel in die gevare van hierdie oorlog. As hul nie bereid is om hul deel van die pyn en lyding te dra nie, sal God, as een van die Vennote in die gelofte, self hul deel aan hul opdra. Dit is slegs deur pyn en lyding, gedra in liefde, dat God se koninkryk na die aarde kan kom. Daarom word God in die psalms nie alleen as Skepper nie, maar ook as Redder, gehuldig.

 

 




Hoe gebruik ons Bybelkommentare?

 

Since you cannot do good to all, you are to pay special attention to those who, by the accidents of time, or place, or circumstances, are brought into closer connection with you – Augustinus

 

Hoe gebruik ons Bybelkommentare?

Hierdie is nog een van Mel Lawrenz se reeks oor hoe ons die Bybel moet lees.

Een dag sê ‘n engel van die Here vir Filippus om na die pad tussen Jerusalem en Gasa te gaan. Daar kry hy ‘n Etiopiër op pad terug nadat hy Jerusalem toe gekom het om te aanbid. Hy was besig om uit die profeet Jesaja te lees. Filippus vra vir hom: Verstaan u wat u lees? Die man antwoord hom: Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie? (Handelinge 8:26 – 40).

 

Ernstige Bybelstudie sal altyd insluit die insigte wat ons kry uit Bybelkommentare. Daar is verskillende kommentare vir verskillende doeleindes. Ons moet hulle op geselekteerde tye gebruik tydens ons Bybelstudie. Die gebruik van kommentare is noodsaaklik. Natuurlik moet die individuele gelowige die teks van die Bybel op ‘n natuurlike en sinvolle wyse kan lees en so die teks verstaan. Ons moet ‘n direkte verhouding met God se woord hê, sodat ons direk deur die waarheid en krag van sy woord beïnvloed kan word.

 

Die lees, verstaan en toepassing van die waarhede van die Bybel was nog altyd ‘n funksie van die geloofsgemeenskap. Die woorde van die profete en apostels was gerig aan God se mense aan die begin. Nou is dit ‘n gesamentlike poging van die geloofsgemeenskap. Daarom doen ons persoonlike Bybelstudie, maar ons raak ook met ander gelowiges betrokke by Bybelstudies.

 

‘n Kommentaar is ‘n verduideliking van die teks deur iemand wat die taal, konteks en vorm van die teks bestudeer het. Hy gee aan ons besonderhede wat ons nie kan kry deur net die teks te lees nie. Hier dink ons aan dinge soos argeologiese ontdekkings, geskiedkundige besonderhede, taalkundige eienaardighede en besonderhede oor die geografie en kultuur.

 

Watter soorte kommentare kry ons?

Dit hang van jou doel af – wat wil jy bereik? Hier is ‘n paar tipes:

  • Kritiese, tegniese en eksegetiese kommentare. Hulle bevat baie besonderhede insluitend kommentaar op die Hebreeus, Aramees of Grieks gebruik in die oorspronklike teks. Hulle word veral gebruik deur mense wat hierdie tale verstaan
  • Verklarende kommentare is geskryf vir mense wat gereeld ander onderrig. Hulle is van waarde vir enige ernstige student van die Bybel. Hulle gaan gedeekte vir gedeelte, reël vir reël na en verduidelik die agtergrond en betekenis. Hulle beskryf ook hoe die teks toegepas kan word in die alledaagse lewe.
  • Kommentare vir aanbidding. Hulle spandeer baie min tyd aan die besonderhede van gedeeltes en gaan direk na die geestelike betekenis en die toepassing.

 

Hoe besluit ek watter kommentare om te gebruik?

As ons ‘n in-diepte studie maak van ‘n gedeelte, moet ons twee of meer kommentare gebruik en notas maak soos ons vorder. Ons sien gou waar die kommentators ooreenstem en verskil oor die betekenis van die teks. Ons kry baie besonderhede wat ons nie sou kry deur net die teks te lees nie. Ons kies die kommentaar wat aan ons vereistes sal voldoen.

 

Toe die Etiopiër gesê het: Hoe sou ek on as niemand dit vir my uitlê nie? openbaar hy die nuuskierigheid en leerbaarheid wat noodsaaklik is vir volgelinge van Jesus. Ons is geseënd met die baie kundiges wat toegewyd gestudeer het om ons te help om die betekenis van die Skrif te verstaan.

[Daar is ook uitstekende kommentare op die Internet beskikbaar]

 




Hoe blaas ons nuwe lewe in die kerk?

 

You have made us for yourself, O Lord, and our hearts are restless until they rest in you – Augustinus

 

Hoe blaas ons nuwe lewe in die kerk?

Meeste gemeentes vandag het of ‘n plato bereik of is besig om te krimp. Hierdie gemeentes moet hernuwe word. Baie faktore dra tot die verandering in ‘n gemeente by. Een van die faktore wat ons in gemeentes wat groei kry, is ‘n fokus na buite. Hoekom? Dit verhoed dat mense nie net vir hulleself leef nie, maar vir die Hoof van die kerk.

 

Een van die redes waarom gemeentes stagneer, is omdat baie lidmate meer soos verbruikers as mede-arbeiders optree. As ‘n gemeente weer wil lewe, moet hy meer aan God en minder aan homself dink. Ons het verkondiging en demonstrasie van die evangelie nodig. Dit is twee kante van dieselfde muntstuk. Mense moet weet dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het en dat ons Hom kan vertrou en volg in genade deur geloof. Maar die evangelie moet ook gedemonstreer word – mense leef die implikasies van die evangelie in hulle gemeenskap uit. Gemeentes wat waarlik lewe leef die evangelie in woord en daad.

 

As mense fokus op God, sy heerlikheid en sy roeping en as hulle ander in nood bedien, het hulle meer tyd vir hulle bediening en minder tyd vir allerhande drama in die gemeente. He who rows the boat has no time to rock the boat (Anoniem). ‘n Fokus na buite kan konflik in die gemeente verhoed. Nou is daar nie meer plek vir musiek volgens my smaak, die leraar wat doen wat ek wil hê, die kerk soos ek wil, ens. Nee, nou is almal mede-arbeiders wat God se roeping uitleef.

 

Gemeentes wat na buite fokus, vertel die goeie nuus van Jesus Christus, maar hulle lidmate is ook betrokke by bediening in en buite die gemeente – beide verkondiging en uitlewing van die evangelie. Lidmate in gesonde gemeentes verkondig nie die evangelie omdat hulle aangesê is om dit te doen nie – vir hulle is dit ‘n natuurlike deel van lewe in die gemeente. In lewende gemeentes is evangelisasie nie iets wat net deur ‘n paar mense gedoen word nie – en die res sit op die pawiljoen en kyk nie. Evangelisasie is nie ‘n toeskouersport nie. Christene hou van evangelisasie solank as iemand anders die werk doen. In lewende gemeentes aanvaar alle lidmate eienaarskap vir evangelisasie.

 

Gemeentes wat groei deur bekerings, is aktief, selfs aggressief, betrokke by bediening en betrokkenheid in hulle gemeenskap – dit is deel van hulle DNS. Hierdie gemeentes het ook ‘n ander perspektief op lidmaatskap. Dit is meer as ‘n vorm invul en aansluit – dit sluit in ‘n toewyding om te dien, beide in die gemeente en die gemeenskap.

 

Christene moet deel van die gemeenskap wees. Hierdie gemeente kyk na buite. Hierdie fokus na buite beweeg in die gemeenskap met ‘n passie vir “gestuurdheid.”

 

 




Die Bybel het meer waarde as die lewe self

 

The truth is like a lion. You don’t have to defend it. Let it loose. It will defend itself – Augustinus

 

Die Bybel het meer waarde as die lewe self

U wet is vir my kosbaarder as ‘n oorvloed van goud en silwer (Psalm 119:72). Die digter gaan verder: My lewe is gedurig in gevaar, maar u wet verontagsaam ek nie (119:109) – God se wet is vir hom ‘n reddingsboei. Hoeveel van ons kan dit sê van die Bybel.

 

Die probleem is nie dat ons nie weet hoe waardevol die Bybel is nie – ons het nog nie ons praktyk in lyn met dit wat ons glo gebring nie. As ons die woord van God se waarde besef, hoekom verslind ons dit nie? Daar is ‘n vyand wat soos ‘n brullende leeu rondloop en soek na mense om te vernietig. Ons enigste hoop is God se woord, want die enigste manier om ‘n leuen te konfronteer is deur die waarheid te ken.

 

Toe die duiwel vir Jesus aangeval het, het Hy hom met die woord gekonfronteer. Waarmee kom ons na vore as die duiwel ons aanval? Die woord van God is lig en lewe; dit is verlossing. God het alles met woorde geskep. Jesus het siekes genees, blindes se sig herstel, sondes vergewe en mense uit die dood opgewek met woorde.

 

Ons waardeer nie altyd God se woord soos ons behoort te doen nie. Die skrywer van Psalm 119 eindig hierdie psalm met: As ek sou ronddwaal soos ‘n skaap wat weggeraak het, soek my dan, want u gebooie het ek nie verontagsaam nie. Daar is spanning in hierdie psalm: die psalmis sê aan die een kant dat Hy God se woord liefhet. Aan die ander kant sê hy dat daar dinge is wat hy meer liefhet. Wat doen hy? Hy besluit om God se woord lief te hê en vra God om sy hart in lyn te bring.

 

Hierdie is ‘n bemoediging vir wandelende harte. Ek het nie God se woord lief soos ek dit behoort lief te hê nie. Groei as ‘n Christen begin deur te erken dat ek nie sy woord lief het nie en dan vra ek dat God my maak wat ek behoort te wees.