Die Psalms: Inleiding (5)

 

Let my heart be broken by the things that break the heart of God – Bob Pierce, stigter van World Vision

Die Psalms: Inleiding (5)

Daar is groot verskille in die denkwyses van die psalmdigters en die mens van vandag. Die Psalms is tot 3 000 jaar oud. Hul is dikwels moeilik om te vertaal. Selfs alledaagse woorde soos koning, priester, huis, liefde, ens. het dikwels in Hebreeus ‘n ander betekenis as wat ons noodwendig daaraan heg. Die meeste psalms is nie historiese beskrywings nie. Daar is egter heelwat parallelle tussen die psalms en historiese gebeure en periodes.

 

Die psalms het oor ‘n lang tydperk beginnende by Dawid ontwikkel. Die tradisionele kern het ander gedigte uit verskillende bronne om hom saamgetrek. Dit het dan versamelings gevorm wat die name van koormeesters, leermeesters, stigters van die musiekgilde en ander bevat het.

 

Hierdie opskrifte (byvoorbeeld Asaf) kan beteken dat die opskrif verwys na ‘n versameling van gewyde liedere wat hierdie “musiekdirekteure” of “musiekgildes” gebruik het.

 

Al die psalms is voor Christus. Met verloop van eeue en in die lig van latere gebeure het van die psalms se betekenis verander. Sinne is nie net in hulle onmiddellike historiese konteks gelees nie, maar teen die agtergrond van die Bybel in sy geheel.

 

Meeste van die eerste Christene was Jode. Vir hulle was die psalms ‘n noodsaaklike deel van aanbidding. Geen wonder die psalms het ook hulle plek ingeneem by Christene se lofprysing nie. Teen die tweede eeu het die Christene die Joodse psalms gesing; teen die vierde eeu is elke deel van Christelike aanbidding en toewyding verryk deur die psalms. Die aanvaarding van die psalms deur Christene het uiteraard hulle interpretasie beïnvloed.

 

Dit is onmoontlik om die datum waarop die psalms geskryf is, vas te stel. Die 150 psalms het oor ‘n lang tyd en onder verskillende omstandighede tot stand gekom. Al het elke psalm sy eie aard, is daar baie psalms wat gemeenskaplike kenmerke vertoon, en dus saam gegroepeer kan word. Of daar reeds gepoog is om die psalms met eenderse kenmerke bymekaar te sit toe die psalms saamgevoeg is, is onduidelik. Geen vaste patroon kan vasgestel word nie.

 

Die boek in sy huidige vorm het relatief laat eers beslag gekry. Sommige psalms het tydens die ballingskap in Babilonië ontstaan (586 – 539 vC). So vra Psalm 137:4: Hoe kan ons die lied van die Here sing in ‘n vreemde land? Psalm 119 het moontlik ontstaan kort nadat die tempel herbou is. Esra 3:5 – 6 beskryf hoe die aanbidding van God herstel is deur die terugkerende gemeenskap. Die psalms is dus eers later bymekaar gebring.

 




Die Bybel is die verhaal van God se dade – nie ons s’n nie

 

In my deepest wound I saw your glory and it dazzled me – Augustinus

 

Die Bybel is die verhaal van God se dade – nie ons s’n nie

Baie van ons sien die Bybel as ‘n boek van helde – Dawid, Daniël, ens – en van reëls. Daar is 1663 opdragte in die Bybel. Later lees ons die Bybel as ‘n boek vol praktiese advies – vyf stappe vir ‘n beter huwelik; sewe stappe om jou vrees te oorwin; ens. Natuurlik is die Bybel vol helde en reëls en praktiese advies, maar dit is nie die belangrikste nie.

 

Die Bybel is veral ‘n storie, maar dit is nie ‘n storie oor ons nie – nie alles oor ons nie. Ons speel ‘n rol, maar ons is nie die hoofkarakters nie. Ons is nie die sentrale karakter in die drama van ons lewens nie. As ek besef dat ek deel van ‘n groter storie is, kom dinge bymekaar. Die storie van die Bybel is so groot dat as ons die eers geleer het dan maak die res van ons lewens weer vir ons sin.

How much much larger your life would be if your self could become smaller in it (G. K. Chesterton).

 

Die Bybel is die storie van een Held wat gekom het om ons te red nadat ons die reëls gebreek het en sy adviers verontagsaam het. Die boodskap van die Bybel is nie: “Hier is praktiese instrumente waarmee jy jou lewe kan regstel nie.”Die boodskap van die Bybel is: “Rig jou oë op Jesus.”Die Bybel gaan nie oor take wat ons vir God moet doen nie – dit gaan oor God se liefde vir my.

 

Hoe sou God voel as ek weet dat die Bybel sy liefdesbrief vir my is, maar ek lees nooit Hosea of Habakkuk nie. Daar is geen groter waarheid in die wêreld as hierdie eenvoudige boodskap nie:  God het jou lief.  Hierdie is ‘n ryk en diep waarheid dat ons ons elke dag daarin moet verbly.

 




Geestelik, maar nie godsdienstig nie

 

There is no such virtue as temperance in spiritual feasting. —Jonathan Edwards

 

Geestelik, maar nie godsdienstig nie

“Ek is geestelik, maar nie godsdienstig nie.” Dit is iets wat ons vandag baie algemeen, veral by jongmense, hoor. Wat beteken dit? Baie jongmense gebruik dit om hulle persoonlike verhouding met Jesus te beklemtoon. Godsdiens, vir hulle, beteken reëls en gebruike – daardie wettisisme wat Jesus by die Fariseërs veroordeel het. Jong Christene distansieer hulle van al daardie dinge – godsdienstige tradisies wat gelowiges se aandag van dit wat waarlik belangrik is, aftrek.

 

Dit is interessant, want tot dusver het die kerk geglo dat “Geestelik, maar nie godsdienstig nie” na mense sonder enige godsdienstige affiliasies verwys. Nou begin ons besef dat dit na toegewyde Christene mag verwys – veral jongmense wat iets oor die gehalte van hulle geloof wil sê. Baie Christene is baie versigtig vir tradisie. In die Katolieke en Ortodokse kerke speel tradisie ‘n baie groter rol. Protestantse kerke beklemtoon persoonlike geloof wat nie deur gebruike of menslike tradisies belemmer word nie.

 

Geestelik, maar nie godsdienstig nie, is ‘n goeie voorbeeld hiervan. Jongmense wil dikwels hiermee vir hulle van godsdienstige tradisies distansieer. Tradisie vir hulle is nie iets onskuldig nie – dit is iets wat vermy moet word. Dit geld nie net vir godsdiens nie – ook op die gebied van die politiek skram jongmense weg van tradisie.

 

Is dit nie tyd dat ons weer baie ernstig na ons tradisies kyk nie? Tradisie moet die besware van skeptici, maar ook van baie gelowiges, oorkom.

 




Die Bybel is ‘n lewegewende wet

 

I would rather wear out than rust out,” George Whitefield

 

Die Bybel is ‘n lewegewende wet

Min mense raak opgewonde oor wette. In Psalm 119 noem die skrywer herhaaldelik die Skrif as die wet. Dit maak nie juis ons harte warm nie – dit intimideer ons.

 

Die skywer van Psalm 119 het iets geweet wat ons dikwels nie raaksien nie: God se wet bring lewe. Dit is iets soos ‘n maatlyn – jy maak seker jy het die regte lengte materiaal. Sonder dat jy gedurig meet, verval die eenvoudigste take in chaos.

 

God se wet is die maatband waarmee ons alles meet; dit is die standaard waarmee ons bepaal wat goed of sleg en reg of verkeerd is. Natuurlik haat ons dit as iemand anders vir ons sê wat reg en verkeerd is – ons sal eerder ons eie insigte volg. Ons weet ons harte is nie 100% rein nie. As ons nie ‘n maatband het nie, weet ons nie wat reg of verkeerd is nie. Ons het iets ekstern nodig om reg van verkeerd te onderskei. Daardie iets is die woord van God.

 

Die Bybel behoort ons soms te weerspreek en te ontstel. Gebeur dit nie, lees ons nie die Bybel korrek nie. Ons projekteer net ons vooropgestelde idees na God en verbeel ons dat Hy met ons saamstem. Al weerspreek God se woord ons lei dit ons tog deur die lewe. U woord is die lamp wat my die weg wys, die lig op my pad (Psalm 119:105). Dit is asof jy verlore was en weer die pad kry. Nou kla jy nie dat die pad te nou of beperkend is nie – jy verbly jou net daarin dat jy nie meer deur dorings en distels moet voortstrompel nie.

 

Dit is waarom die skrywer van Psalm 119 hom in die wet verbly. Laat u woord my op die regte pad hou; moet tog nie dat enige kwaad oor my die oorhand kry nie (119:133). Die Satan wil hê dat daar dele van ons lewens moet wees waar ons God se woord verontagsaam. So baie van ons laat dit toe. Die wysheid van God is nie arbitrêr nie. Dit is nie ‘n opsionele deel van ons lewens nie. Die wysheid van God is die lewe self.