Ek is bang

 

The shadow of the cross looms over the manger. When you understand that, you understand Christmas. —John MacArthur

 

Ek is bang

Die lewe is vol onsekerhede. As ons dit toelaat, is daar baie dinge waaroor ons ons kan bekommer – ons werk, gesin, finansies, ons huwelik, ons gesondheid, ens. Baie van ons leef ‘n leefstyl van angs – angs loop gedurig saam met ons. Hierdie angs steel ons vrede en tevredenheid. As ons nie leer om dit te hanteer nie, kan Satan ‘n vastrapplek in ons lewens kry. Hy sal nog meer angstige gedagtes in ons denke plant. Ons eindig met ‘n eindelose siklus van bekommernis. Dit mag later ons gesondheid nadelig beïnvloed.

 

Dit is nie wat God vir sy kinders wil hê nie. Hy wil hê dat ons in vrede en tevrede moet lewe. Paulus skryf aan die Filippense: Ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp (4:11) In vers 13 sê hy: Ek is nou tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. As ons vertroue in Christus kry, sal ons omstandigede ons nie beïnvloed nie.

 

Wat is die wortels van angs wat ons so bekommerd maak?

  1. Die eerste wortel is vrees en ons oorwin dit deur geloof in God se woord.

Vrees is dikwels die eerste reaksie op omstandighede wat spanning veroorsaak. Ons is onseker oor hoe om die huidige situasie te hanteer; ons is bekommers oor die toekoms. Maak nie saak wat die oorsaak van ons vrees is nie, die  probleem is ons fokus. Ons moet God se woord as raamwerk vir elke situasie gebruik.

 

Ons omstandighede mag hopeloss lyk. Onthou dan: Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur standvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees (Romeine 15:4). Daar was ‘n geleentheid waar die dissipels met iets wat vir hulle onmoontlik gelyk het, gekonfronteer is. Jesus sê vir hulle: Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik (Matteus 19:26). In die Bybel kry ons baie voorbeelde om vir ons te wys dat God groter is as enige probleem wat ons mag teenkom.

 

  1. Die tweede wortel van ons angs is twyfel en die sleutel om twyfel te oorwin is vertroue in God se weë.

Ons erken God se mag, maar soms lyk dit vir ons of Hy niks aan ons probleem doen nie. Ons wil hê dat Hy moet spring die eerste keer as ons Hom aanroep – en dan moet Hy doen wat ons vra!

Maar die Spreuke-skrywer leer vir ons: Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop (3:5 – 6). Hy het ons lief – meer as wat ons ooit sal weet.

 

  1. Die derde wortel van angs is beheer en ons oorwin dir deur ons aan God se wil oor te gee.

As dinge nie reg verloop nie, voel ons dinge is buite beheer. Maar dan moet ons onthou: Die Here het sy troon in die hemel gevestig, sy heerskappy strek oor alles en almal (Psalm 103:19). Dit sluit elke besonderheidjie van my lewe in. As ons in sy liefde glo en ons aan sy wil oorgee, kom tevredenheid, want ons weet ons is veilig in sy hande – maak nie saak van die omstandighede om ons nie.

 

Vrede en tevredenheid kan ‘n werklikheid in ons lewens word. Dit het niks met ons omstandighede, maar alles met God te doen

En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:7).

 

 




Gaan kinders wat as babas sterf hemel toe?

 

Nothing built for the glory of man will survive God’s scrutiny. But what is done for His glory will endure forever. —R.C. Sproul

 

Gaan kinders wat as babas sterf hemel toe?

Gaan kinders wat as babas sterf hemel toe? Die Skrif hanteer nie direk hierdie saak nie. Dit gee vir ons goeie redes om te vertrou dat hulle veilig in die arms van Jesus is. Hoe kan ons dit sê?

  1. Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig vol liefde en trou (Eksodus 34:6). Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie (Genesis 18:25). Ons lees ook dat God wil hê dat alle mense gered moet word (1 Timoteus 2:4; 2 Petrus 3:8). En Hy gee in die besonder om vir kinders. Hierdie waarhede is nie genoeg om te bewys dat  kinders hemel toe gaan nie. Maar as ons oor hierdie saak dink, moet ons by die werklikheid van God se karakter begin. Die God wat ons in die Skrif ontmoet is besonder lief vir kindertjies en Hy is goed.
  2. Die Bybel is vol vertroue dat gelowiges hulle kinders na die dood sal sien. Na sy jong seuntjie dood is, aanbid Dawid vir God en sê: Waarom moet ek nog vas? Kan ek hom na my toe laat terugkom? Ek gaan na hom toe; hy kan nie na my toe terugkom nie (2 Samuel 12:23). Met hierdie woorde vertroos Dawid sy vrou. Die Skrif sê hier dat almal wat op God se verlossing vertrou weer hulle kindertjies sal sien.
  3. Die vlak van aanspreeklikheid van hierdie kinders is anders. Die Bybel sê dat jong kinders ‘n ander maatstaf van aanspreeklikheid as ouer mense – mense wat in staat is om die waarheid te verstaan – het. God hou ons aanspreeklik voor Hom gebaseer op ‘n aantal kriteria:
  • Ons is onderhewig aan God se oordeel, want ons kan die verskil tussen reg en verkeerd verstaan. Paulus sê dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan (Romeine 2:14 – 16). Alle mense ken dus reg en verkeerd. Dit is nie dieselfde vir klein kindertjies nie. God praat met die ongehoorsame Israel en sê vir hulle: Julle babatjies … en julle kleuters wat nou nog niks weet nie (Deuteronomium 1:39). In hierdie geval word die kindertjies nie aanspreeklik gehou vir die ongehoorsaamheid van die Israeliete nie. Al het God die Israeliete vervloek, word die kindertjies toegelaat om die beloofde land in te gaan.
  • In Romeine 1:18 – 21 lees ons van die mens se aanspreeklikheid voor God. Hier lees ons dat God sy heerlikheid aan alle mense geopenbaar het. Hierdie openbaring laat hulle sonder verskoning – hulle kan nie God se heerlikheid verwerp nie. As ‘n kind nie God se heerlikheid kan verstaan of waarneem nie, dan is daardie kind nie op dieselfde vlak strafbaar voor God nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie. Die kind sal nie op dieselfde manier geoordeel word nie, want hy is nie sonder verskonining nie

 

Beteken dit nou dat kinders onskuldig voor God staan?  Nee. Die Bybel maak dit duidelik dat almal ‘n sondige natuur het. Niemand is onskuldig nie (Romeine 3:9 – 20; Efesiërs 2:3). Die kind leer nie om te sondig nie, maar druk die sondige wese inherent in hom uit. Almal wat van God se oordeel gered word. word gered deur God se genade. Jong kinders het steeds die genade van God nodig,.

 

 

 




Orde uit chaos

 

What is the deepest root of your joy? What God gives to you? Or what God is to you? – John Piper

 

Orde uit chaos

Die aarde was heeltemal onbewoonbaar, dit was donker op die diep waters (Genesis 1:2). Chaos. Eers daarna lees ons die bekende: Laar daar … wees. Die wêreld begin met chaos en donkerte. Hier leer ons dus twee baie belangrike waarhede.

 

  1. Die woord bring orde uit die chaos

Toe God alles gemaak het, het Hy met ‘n vormlose vakuum begin en het dit toe met sy woord gevorm. Daarmee wys Hy vir ons dat ons lewens ‘n vormlose vakuum is totdat God se woord vrede, en skoonheid en orde bring. Die teenoorgestelde is ook waar: as God se woord uit ons lewens padgee, verval dit weer in chaos. As God se woord verwerp word, verander orde in wanorde, lig word duisrternis.

 

Sonde skeur die skepping uitmekaar. God se woord skep; sonde breek af – elke keer. Sonde sit donkerte in ons harte. Maar hierdie muntstuk het ook ‘n teenkant.

 

  1. Die woord sal eendag herstel wat sonde vernietig het

In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God en die Woord was God self … Alles het deur Hom tot stand gekom: ja, nie ‘n enkele ding wat bestaan, het sonder Hom tot stand gekom nie. In Hom was daar lewe, en die lewe was die lig vir die mense (Johannes 1:1, 2 – 3).

 

Jesus, die Woord, kom die donker, sonde-gevulde, chaotiese wêreld binne. Hy bring lewe en lig. Jesus doen dit deur sy bediening; Hy genees siekes; Hy open die oë van blindes; Hy laat lammes weer loop. Jesus verdryf enige duisternis in die wêreld met laat daar lig wees.

 

Is jou lewe deur sonde vernietig? Draai na Christus, want Hy maak dinge weer nuut. Jou lewe mag chaoties lyk, maar as God alles uit niks uit kan skep, kan Hy sekerlik alles in jou herskep. Hy doen die gereeld – aanmekaar.

 

 




Die Psalms: Inleiding (2)

 

What does love look like? It has hands to help others. It has the feet to hasten to the poor and needy. It has eyes to see misery and want. It has the ears to hear the sighs and sorrows of men. That is what love looks like – Augustinus

 

Die Psalms: Inleiding (2)

In die oorspronklike Hebreeus beteken psalm ‘n lied. Om te sing is eie aan die mens. En tog: die lied van Israel is anders as dié van byvoorbeeld sy buurlande. Dit het nie oorspronklik ‘n besondere godsdienstige betekenis gehad nie, want vir die Jode het die hele lewe aan God behoort. Hy het immers die lewe aan almal gegee. Tog is al die psalms of aan God gerig of  praat van die liefdevolle wil en doel van God. Party is klagtes uit die hart gerig aan God. Ander is baie persoonlike sondebelydenisse waar die skrywer duidelik aantoon hoe die sonde hom van God vervreem het. Ander is lofprysings waar die digter hom verwonder aan die genade van God. Sommige is klaarblyklik op ‘n siekbed geskryf. Ander is geskryf in die skadu van die dood. Sommige is liedere vergelykbaar met ons moderne vorm van liedskrywing. Sommige kyk terug na die geskiedenis van Israel en God se liefdevolle hantering van sy volk oor baie eeue heen. Dit lei dikwels tot ‘n verklaring van geloof in die toekoms. Ander het te doen met die koning, wat ‘n baie spesiale plek in die geskiedenis van Israel beklee het. Ander beskryf die prag en betekenis van Jerusalem – die heilige stad. Dit is daar waar die koning regeer en dit is vandaar waar, eendag in die toekoms, die Koning sal kom wat oor die hele wêreld sal regeer. Ander verbly hul in die Wet as God se geskenk aan die wêreld – die lig op die pad van die gelowige. Ander staan in eerbied voor die wonder van die natuur, die donderstorm, die aardbewing, die migrasie van die voëls, die indrukwekkende seders van Libanon.

 

Die hele spektrum van die mens se ervaringsveld kom in die Psalms tot uiting. Die skrywers stort hul ware gevoelens uit en skets vir ons die dinamiese, kragtige en lewensveranderlike verhouding wat hul met God het. Hul bely hul sondes, hul gee uiting aan hul twyfel en vrees, hul vra God se hulp in tye van nood en hul prys en loof Hom. Alle psalms erken alles is en bly in die hand van God. Omdat dit so ‘n eerlike boek is, kom mense deur die eeue steeds daarheen terug vir troos in tye van nood en beproewing. Saam met die psalmdigters word hul uit wanhoop tot blydskap opgehef as hul die krag van God se ewige liefde en vergifnis ontdek.