Tematiese studie van die Bybel

 

Either we trust God by affirming all his revealed wisdom, or we play God by deciding what he got wrong. – John Piper

 

Tematiese studie van die Bybel

Hierdie is ‘n verdere blog van Mel Lawrenz oor hoe om die Bybel te lees.

Soms lees ons die Bybel soos ons deur die Kruger Wildtuin ry –  ons ontdek soos ons ry. Ander kere soek ons vir spesifieke temas of onderwerpe. Hoe doen ons so ‘n tematiese studie? Hoe kry ons die sleutelgedeeltes wat ‘n spesifieke tema dek?

 

Lawrenz beskryf vyf stappe. Hy gebruik die doop as ‘n voorbeeld.

  1. Kry die gedeeltes

Maak ‘n verwysing na al die Bybelse verwysing na ons onderwerp. Ons kan kyk na die woord doop in ‘n konkordansie of  in ‘n digitale soekfunksie (soos Biblegateway.com). Ons moet ook na woorde verwant aan doop kyk. Nou maak ons ‘n lys van al die gedeeltes. Skakel die gedeeltes wat nie met die kernbetekenis van doop verband hou nie, uit.

 

  1. Verstaan die onderwerp/tema in konteks

As jy in die Wildtuin kom en jy kry waarna jy soek, kyk jy nie vinnig en ry verder nie. Jy bestudeer dit. Dit is nie genoeg om die gedeeltes te kry nie – jy moet hulle bestudeer en hulle betekenis in konteks verstaan. Jy moet dus die verse om die vers wat oor doop praat bestudeer – waarskynlik die hele hoofstuk. Maak dan ‘n voorlopige gevolgtrekking oor die betekenis van die konsep in daardie besondere  gedeelte. Maak nota’s. Gaan na ‘n kommentaar en lees wat dit oor daardie gedeelte sê. Dit doen jy vir elke gedeelte.

 

  1. Vergelyk die verskillende gedeeltes

Jy het nou al die gedeeltes en jy verstaan die betekeenis in die konteks. Nou moet jy die verskillende gedeeltes vergelyk. Nou sien ons gedeeltes waar doop verwys na water en gedeeltes waar dit  as ‘n beeld gebruik word.

 

  1. Sintetiseer die kernkonsepte

Ons moet nou die idees bymekaar sit. Hier moet ons nou diep dink en bid.. Moenie haastig wees nie. Soek vir verbindings tussen die verskillende gedeeltes. Ons voeg nou gedeeltes bymekaar volgens hulle tipe. So beskryf Handelinge wat in die vroeë Christelike kerk gebeur het. Paulus vertel ons van die teologie van doop. Sintese beteken ons vergelyk gedeeltes in soortgelyke kontekste. Maak nota’s oor die belangrikste subtemas. Ons let op idees wat herhaal word; ons let op idees wat net een maal vermeld word. Hierdie stap moet ons entoesiasties maak, want ons sien dinge wat ons nie vantevore gesien het nie.

 

  1. Maak gevolgtrekkings

As jy met ‘n tematiese studie begin het jy gewoonlik ‘n vraag in gedagte. Dit is dalk iets soos “wat beteken die doop?” Jou gevolgtrekkings is die antwoord op jou oorspronklike vraag. Op hierdie stadium kan jy ook na ‘n woordeboek of ensiklopedie van die Bybel kyk. Jy mag dalk net verdere aspekte leer of jy mag uitvind jy het nie die onderwerp verstaan nie. Dit is deel van die proses.

 

Om duidelikheid oor die groot idees van die Skrif te kry, is ‘n bevredigende ondervinding wat jou geloof bou. Ons vind dikwels dat as ons die antwoord op een vraag kry nuwe vrae na vore kom. Geen probleem nie. Die ontdekking van die waarhede in die Bybel is ‘n lewenslange proses.

 

 




Sosiale Geregtigheid

Sunshine is delicious, rain is refreshing, wind braces us up, snow is exhilarating; there is really no such thing as bad weather, only different kinds of good weather. -John Ruskin

 

Sosiale Geregtigheid

Daar was ‘n sterk neiging in baie kerke na sosiale geregtigheid. Natuurlik is dit ‘n goeie ding, maar baie van die benaderings het ‘n sterk politieke ondertoon gehad. In die dae van die fundamentalisme het sosiale geregtigheid heeltemal van die tafel afgeval.

 

Wat is sosiale geregtigheid? Scot McKnight sê dat dit drie groot idees behels.

  1. Die woord geregtigheid kry ons dwarsdeur die Ou Testament en in die Nuwe Testament. Die woorde wat gebruik word om geregtigheid te beskryf, verwys na God wat regverdig is, na God wat sy wil aan die mense openbaar na God se mense wat sy wil uitleef. Die regverdige persoon, is die persoon wat God se wil uitleef – en sy wil is omvattend.
  2. In klassieke Grieks verwys die woord regverdig na ‘n deug van iemand wie se karakter gevorm is deur te lewe wat uitgeleef word in die lig van die wette – ‘n lewe geleef vir die gemeenskaplike welstand van die mense.
  3. Vandag is die betekenis van die woord nie meer so duidelik nie. In hulle boek Social Justice Isn’t What you Think it is, sê Michael Novak en Elizabeth Shaw dat daar ses verskillende gebruike van sosiale geregtigheid in die sekulêre wêreld is:
  • Die regverdige verdeling van voor- en nadele. Dit vereis ingryping deur die regering.
  • Wie besluit wat dit is? Hoe kan dit bereik word?
  • Die gemeenskaplike welstand. Hier val die klem op geleenthede.
  • Die progressiewe agenda. Hierdie is aktiviste vir groter regeringsingrype en groter spandering aan hulle gunsteling sake.
  • Nuwe burgerregte soos geslag, seks en reproduksie.

 

Novak se gevolgtrekking is dat sosiale geregtigheid se spesifieke karakter sosiaal is op twee maniere:

  • Die vaardigheid om assosiasies te vorm; en
  • Die doel om die gemeenskap te bevoordeel.

 

Dit is duidelik dat sosiale geregtigheid se betekenis mettertyd aangepas is. Daarom is dit noodsaaklik dat as ons van sosiale geregtigheid praat ons dit moet definieer.




Innerlike vrede

 

Kindness has converted more sinners than zeal, eloquence, or learning – Frederick W. Faber

 

Innerlike vrede

Innerlike vrede is ‘n kosbare seën van God. Ons sien dit uit wat Jesus in sy afskeidspraatjie met sy dissipels sê. Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie (Johannes 14:27); Dit sê Ek vir julle, sodat julle vrede kan vind in My. In die wêreld sal julle dit moeilik hê; maar hou moed: Ek het die wêreld klaar oorwin (Johannes 16:33). Paulus sê aan die Filippense dat hulle al hulle behoeftes in gebed na God moet bring. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus (Filippense 4:7).

 

Baie van die briewe van Paulus, Petrus en Johannes begin deur die ontvangers vrede en genade toe te bid. Vrede is ‘n wonderlike werklikheid. Dit is ‘n gawe van God deur die Heilige Gees aan al sy dissipels wat volgens sy wil probeer leef. ‘n Ou formule wat lank reeds gebruik word, is: Jesus eerste; ander tweede; ek laaste.

 

Vrede is ‘n gawe in die sin dat dit my gerusstel dat my lewe nog op die regte pad is. Die Here is by my teenwoordig om my te beskerm en te help. My skuldgevoelens is weg; my hoop vir die ewige lewe is seker. Niks kan my van die liefde van God skei nie.

 

Wat ons hier het, is ‘n subjektiewe bewustheid van ‘n objektiewe werklikheid. Dit gaan oor ‘n verhouding wat met God versoen is. Hierdie kennis bring tevredenheid en opgewondenheid, As angs of wanhoop of vrees of hartseer my hart infiltreer bly my innerlike vrede die raamwerk waarbinne ek hierdie trouma hanteer.

 

Die onttrekking van God se vrede is ‘n teken dat een of ander aspek van my wandel met God nie is wat dit behoort te wees nie. Die weerhouding van sy vrede is een manier waarop God vir ons wys om weer te dink – aanpassings is nodig.

 

 

 

 

 




Die Psalms: Inleiding (1)

 

Take care of your body as if you were going to live forever: and take care of your soul as if you were going to die tomorrow – Augustinus

 

Die Psalms: Inleiding (1)

Billy Graham lees elke maand al 150 psalms. Vir hom het hulle duidelik ‘n besondere betekenis. Meeste van ons, ek ingesluit, lees die psalms nie so sistematies nie – ons pik hier en pik daar. Daarom het ek besluit dat ek hierdie jaar ‘n bietjie dieper in die psalms wil delf. Ek het veral gebruik gemaak van John Goldingay se drie-volume kommentaar – Psalms.

 

Ons weet menslik gesproke nie hoe die psalms as versameling tot stand gekom het of hoekom dit in die Skrif opgeneem is nie. Waarskynlik het die leierskap van die Joodse gemeenskap in Jerusalem besluit dat al die gebede en lofprysings wat gebruik is of tydens aanbidding gebruik kan word, bymekaar gesit moet word. Die psalms dien as hulpbron by lofprysing en aanbidding.

 

Maar het die psalms nog ‘n rol in die Christelike geloof – hulle kom tog uit die tyd van die Ou Testament? In die Nuwe Testament lees ons: Nee, laat die Gees julle vervul, en sing onder mekaar psalms, lofgesange, en ander geestelike liedere; sing met julle hele hart tot eer van die Here (Efesiërs 5:18 – 19).

 

Die Bybel aanvaar dat ons nie instinktief weet hoe om met God te praat nie – ons het hulp nodig. Psalms is ‘n boek van lofprysing en gebed om ons te help. Martin Luther sê dat die psalms aan ons gegee is sodat we can adapt and adjust our minds and feelings so that they are in accord with the sense of the psalms. Eugene Peterson stel dit so: The Psalms are where Christians have always learned to pray – till our age.

 

Die psalms sê egter nie net vir ons hoe om te bid of God te loof nie – dit wys vir ons hoe.  Jesus doen dieselfde as Hy ‘n werklike gebed aan sy dissipels gee toe hulle Hom vra hoe hulle moet bid. Most of Scripture speaks to us; the Psalms speak for us (Atanasius).

 

Die feit dat die Psalms deel is van die Bybel sê vir ons dat God hierdie gebede en lofprysing aanvaar het. Hier het ons dus 150 voorbeelde van dinge wat ons vir God kan sê. Hulle is deel van God se geïnspireerde woord.