Die pad van wysheid (3)

 

Three ways to make Jesus your king: trust him, obey him, and expect great things from him – Tim Keller

 

Die pad van wysheid (3)

In die vorige blog het ons na enkele aspekte van wysheid gekyk. Ons kyk na verdere aspekte van wysheid.

 

  1. Wysheid gaan oor strategieë om die doelwitte te bereik

Spreuke vertel vir ons hoe om die slaggate van die lewe te vermy. Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van die pad af (10:17). Die wyse man is gewillig om raad te aanvaar. Die dwaas, daarenteen, loop nie in God se wysheid nie en aanvaar nie raad nie. In die dwaas se oë is sy eie pad die regte; wie wysheid het luister na raad (12:15); Luister na raad, aanvaar wat jou geleer word, sodat jy uiteindelik wysheid kan hê (19:20).

 

  1. Wysheid gaan oor verhoudings

Ons moet altyd die beste vir ander soek. Liefde, geregtigheid en trou is die maatstawe vir ons handelinge met ander. Ons het praktiese wysheid nodig om ons in hierdie deugde te lei. Wie sy naaste verag, doen sonde; wie medelye het met die mens in nood, met hom gaan dit goed (14:21); As iemand wat jou haat, honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink. Die Here sal jou daarvoor vergoed, en jy sal jou vyand vuurrooi van skaamte laat word (25:21 – 22). Liefde vir die naaste, al tree hy nie liefdevol op nie, is die kenmerk van ‘n wyse man. Die selfgesentreerde persoon is ‘n dwaas.

 

  1. Wysheid gaan oor selfbeheer

In Galasiërs 5:23 is selfbeheersing ‘n vrug van die Gees. Sonder  selfbeheer is die mens baie kwesbaar: ‘n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm, so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersing het nie (Spreuke 25:28). Die Spreuke-skrywer verwys baie na ‘n gebrek aan selfbeheersing. Twee voorbeelde is: Wie kort van draad is, begaan dwaashede (14:17);  ‘n Geduldige mens is baie verstandig; een wat kort van draad is, stel sy dwaasheid ten toon (14:29). ‘n Gebrek aan selfbeheer is ‘n resep vir mislukking.

 

  1. Wysheid gaan oor nederigheid.

Ons kan nederigheid op twee maniere sien: jy aanvaar die dinge wat jy nie kan verander nie en jy aanvaar regstelling in jou lewe – dinge wat jy moet verander. ‘n Goue ring, goue juwele, so is die wyse vermaning vir wie wil luister (25:12). Die wyse man luister na ‘n teregwysing en is dankbaar daarvoor. Wie op ‘n teregwysing ag slaan, sal lewe en ‘n tuiste vind tussen mense wat wysheid het (15:31).

 

Jesus kom na die wêreld as die volmaakte wysheid. Aan God is dit te danke dat julle met Christus Jesus verenig is. Hy het vir ons geword die wysheid wat van God kom: die vryspraak, die heiliging en die verlossing (1 Korintiërs 1:30); Die geheimenis is Christus, en in Hom is al die verborge skatte van wysheid en kennis te vind (Kolossense 2:2 – 3). Die lewe van wysheid waartoe ons geroep is, is ‘n lewe om meer sood Christus te wees. Is daar ‘n wyse en verstandige mens onder julle? Dan moet hy dit toon deur sy goeie gedrag en deur dade wat van  nederigheid en wysheid getuig (Jakobus 3:13).

 

‘n Lewe van wysheid erken dat God weet wat Hy doen en dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet. Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig opreg. Hierdie wysheid bring jou in die regte verhouding met God, en jy moet dit gebruik om vrede te maak (Jakobus 3:17 – 18).

 




God praat eerste; dan bring ons ons vrae

 

You’re so heavenly minded, you’re no earthly good –  Johnny Cash

 

God praat eerste; dan bring ons ons vrae

Hierdie is ‘n verdere artikel van Mel Lawrenz oor hoe om die Bybel te lees.

 

Daar is twee basiese maniere waarop ons die woord van God leer ken.

  • Die eerste is om met ‘n oop gemoed en hart na die Skrif te kom – met ‘n gesindheid van ontdekking. Ons probeer ons vooropgestelde sienings te beperk. Ons laat toe dat die woorde van die skrywers hulle impak hê. God se woord stel die agenda. Om die Bybel op hierdie manier te lees, is ware ontdekking Dit is ‘n gesindheid wat sê: “God my verstand en hart is oop. Sê wat U wil, breek af wat U wil; bou wat U wil.”
  • Die ander manier om God se woord te bestudeer, is om na die woord met vrae te kom. Moet jy jou kind klein of groot doop – wat sê die Skrif? Ek wil van my vrou skei – wat sê die Skrif?

 

Beide benaderings is geldig. As ons die eerste metode gebruik, mag ons geleenthede om die Skrif toe te pas, mis. As ons net die tweede benadering gebruik, laat ons God nooit toe om die eerste woord te praat nie. In die proses mis ons die groot idees in die Skrif wat ons vrae nooit sou verwag het nie.

 

Om ons geloofsisteem  deur die eerste metode op te bou, is die beste langtermyn benadering om ‘n struktuur vir ons geloof te bou. Hoe benader ons die Skrif met ons vrae? Dit is verkeerd om ‘n vraag te vra en dan na die Bybel te gaan en sekere verse uit te soek wat God dalk mag gebruik om die dilemma op te los. Ons kan goeie antwoorde in die Bybel kry as ons vrae soos die volgende vra:

  • Wat is die betekenis van sonde?
  • Wat is die basis vir ‘n goeie huwelik?
  • Is ek verantwoordelik vir die foute van my kinders?
  • Wat is die werk van die Heilige Gees?
  • Hoe moet ek bid?

In sommige gevalle is dit maklik om ‘n antwoord te kry. Ander vereis werk.

 

Dikwels kry die vrae ‘n ander vorm as ons vir die antwoorde soek. Ons besef dat ons nie die regte vraag gevra het nie.

 

Daar is twee benaderings om die Bybel te bestudeer. In beide gevalle bestudeer ons die Skrif in gehoorsaamheid en onderwerping. Om die tweede benadering te volg – deur antwoorde op ons vrae te soek –  moet ons weet hoe om ‘n tematiese studie te doen. Daarna kyk ons volgende keer.

 

 

 




Die pad van wysheid (2)

 

Here the bottom falls out of all merit … Christ must do and must give everything – Martin Luther.

 

Die pad van wysheid (2)

In die vorige blog het ons na wysheid in die algemeen gekyk. Nou kyk ons na verskillende aspekte van wysheid.

 

  1. Wysheid gaan oor verstaan

In die Bybel word wysheid gereeld teenoor dwaasheid gestel. In Spreuke 1 – 9 kry ons ‘n algemene oproep om wysheid as dié waarde in die lewe te soek. Die soeke na wysheid is ‘n prioriteit, want dit laat ons die lewe verstaan. Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag (1:7). Hier word die beeld gebruik van ‘n ouer wat sy kind onderrig. Verstaan is die vermoë om te leef in die lig van God se openbaring. Maar die wysheid is ook prakties – ons moet doen wat ons verstaan. Wysheid in die hart begin by ons denke. Dit gaan oor dink en leer en ontleer. Dit is ‘n konstante leerervaring waarin my onderskeidingsvermoë uitbrei.

 

  1. Wysheid gaan oor aanbid

Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig (9:10). Al die wysheid wat ons op ons eie bymekaarmaak, skiet ver tekort. Aanbidding begin by die nederige en dankbare vertroue in en gehoorsaamheid aan God. Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie. Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop. Moenie dink jy het die wysheid in pag nie, dien die Here en vermy wat sleg is (3:5 – 7). Ons kry hierdie oproep om te aanbid midde in die oproep om wysheid te soek.

 

  1. Wysheid gaan oor doelwitte

Wysheid stel ons in staat om doelwitte te stel wat die moeite werd is om na te jaag. Die kennis van God is ons konstante doelwit in alles wat ons doen. Wysheid stel ons in staat om doelwitte te formuleer en om dan daarop te fokus. Dit het ek wel ingesien dat dit ‘n mens meer baat om wysheid te hê as om dit nie te hê nie, net soos lig ‘n mens meer baat as duisternis. Die wyse weet wat hy doen, vir die dwaas is daar net donkerte (Prediker 2:13 – 14a). Wyse manne stel doelwitte en daarom weet hulle waarheen hulle op pas is. Die dwaas loop deur die lewe asof hy blind is, Die lewe van die dwaas is doelloos.

 

Volgende kyk ons na verdere aspekte van wysheid.




Die pad van wysheid (1)

 

Reproof is one of the few things more blessed to receive that to give – Derek Kidner

 

Die pad van wysheid (1)

Kennis begin met die dien van die Here; dit is net dwase wat wysheid en opvoeding gering ag (Spreuke 1:7).

In ons soeke na die wil van God moet ons nie die gawe van die Heilige Gees vergeet nie. Die Heilige Gees gee aan ons wysheid en insig. Wysheid en insig is wat ons nodig het as ons deur die wil van God gelei word. Kom ons kyk nader na die aard van wysheid.

 

Die aard van wysheid

Die Skrif praat dikwels oor wysheid. Alle mense word opgeroep om wysheid te soek. Daar word belowe dat as ons opreg soek ons wysheid sal kry. God se gawe van wysheid is vir almal. Wysheid is die vermoë om ware beginsels toe te pas op ‘n manier wat lei tot ‘n regte lewe. Dit is ‘n reis langs die regte weë; dit is leef op ‘n wyse wat God verheerlik; dit is nederig, eerlik en realisties. Wysheid maak dit duidelik wat in ‘n besondere situasie gedoen moet word. Daarom moet wysheid deur almal wat die wil van God wil doen, begeer word.

 

Wysheid begin deur die goedheid van die Skepper en die wêreld wat Hy gemaak het, te erken. Dit beteken ons moet daardie seëninge wat God elke dag op ons pad strooi, waardeer en geniet. Die lewe is vol terneerdrukkende dinge wat ons sal  neerdruk as ons dit toelaat. Wysheid as medium van God se leiding bemoedig ons met blydskap en dankbaarheid teenoor God. Om is wysheid te leef is een dimensie van wat dit beteken om ons Verlosser as ons model te hê.

 

In die volgende blog gaan ons na verskillende aspekte van wysheid kyk.