Hoe verheerlik die kerk vir God?

 

Ninety-five percent of knowing the will of God consists in being prepared to do it before you know what it is –  Donald Barnhouse.

 

Hoe verheerlik die kerk vir God?

Aan Hom wat deur sy krag in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen. (Efesiërs 3:20 – 21).

In die skepping en in verlossing, in die hemel en op aarde, is die wêreld gemaak om Hom te verheerlik. Geen wonder dat Paulus bid dat God eer in die kerk sal kry. Wat beteken dit? Uit die konteks van Efesiërs is daar veral drie maniere waarop die kerk vir God kan/moet verheerlik.

 

  1. Die kerk as ‘n lewende liggaam

Nêrens sal jy Jesus se liggaam kry nie. Hy het opgestaan en Hy lewe. Wat jy wel kry, is die lewende liggaam van Christus – die kerk. Hierdie word vir ons in Efesiërs 1:19 – 23 verduidelik. God het Christus uit die dood opgewek en laat Hom in die hemel aan sy regterhand sit. Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.

Die krag van God waarna Efesiërs 3:20 verwys, sien ons in die opstanding van Jesus uit die dood. Tydens sy kruisiging is Jesus verneder, maar in sy opstanding ontvang Hy die Naam bo alle name.

 

Efesiërs 1 verbind  Jesus se verheerliking met die kerk. Dieselfde opstanding wat Jesus gekry het word ook in genade aan God se kinders gegee. Die kerk is Christus se opstandingsfamilie – sy lewende liggaam. Die kerk verheerlik God deur die opstandingslewe. Lewend in Christus getuig die kerk van sy teenwoordigheid. Deur vir, in en soos Christus te leef manifesteer die kerk die opstandingslewe.

 

  1. Die kerk is die plek van goeie werke

Efesiërs 2 sê vir ons dat verlossing nie deur goeie werke verkry word nie, maar dat diegene wat deur God se genade verlos is, sal goeie werke doen. Nee, God het ons gemaak wat ons nou is: in Christus Jesus het Hy ons geskep om ons lewe te wy aan die goeie dade waarvoor Hy ons bestem het (2:10). Hierdie werke word bepaal deur die individuele gawes wat God aan sy kinders gee.

 

Wat het dit met die kerk te doen? In Efesiërs 2:1 – 10  vertel Paulus van God se plan om een nuwe geloofsgemeenskap te maak. Deur sy dood aan die kruis het Hy ‘n einde gemaak aan die vyandskap en die twee met God versoen en tot een liggaam verenig (2:16). God maak nie net ‘n klomp mense bymekaar nie – Hy maak ‘n nuwe liggaam; Hy maak mense wat goeie vrugte vir Hom produseer. Soos druiwe kom hierdie vrugte in trosse – in die konteks van ‘n gemeenskap.

 

  1. Die kerk as God se reklamebord

God het die kerk geskep om ‘n uitstalling te wees van sy krag en wysheid. Ons kan sê dat die kerk God se bemarkingstrategie is. God vertoon sy krag deur die swakkes te red; Hy vertoon sy geregtigheid deur die skuldiges te versoen; hy vertoon sy genade deur opstandiges sy vriende te maak. Paulus stel dit so: Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim (Efesiërs 3:10).

 

Waaruit bestaan hierdie wysheid? Dit bestaan daaruit dat mense verenig word: Jood en nie-Jood, oud en jonk, swart en wit. Individue wat natuurlik nie van mekaar hou nie, word verenig in Christus. Die heerlikheid van die kerk word gesien in die mosaïek van diverse mense wat dieselfde God aanbid en wat uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig is (Efesiërs 5:21). Gebeur dit word die kerk ‘n lig wat God se heerlikheid weerkaats.

 




Jy mag die Naam van die Here nie misbruik nie

 

Educating the mind without educating the heart is no education at all.” – Aristoteles

 

Jy mag die Naam van die Here nie misbruik nie

Een van die eerste pligte van ouers is om aan hulle kinders ‘n naam te gee. Soms is dit nogal ‘n moeilike taak. Maar een ding is seker: die ouers gaan aan die kind ‘n naam gee! Mense gee nie aan hulleself name nie. Dit word aan ons gegee – dit is ‘n optrede van gesag.

 

Merkwaardig is dat niemand ooit aan God ‘n Naam gege het nie. Hy het sy eie Naam gekies. Ons sê nie vir God wie Hy is nie … Hy sê vir ons wie Hy is. Dit is ‘n teken van soewereine gesag. Sy Naam kom voor alle ander name.

 

In Eksodus 3 vestig God die aandag op sy spesiale verbondsnaam Yahweh (HERE). Hierdie naam openbaar God lank voor Hy die tien gebooie aan Israel by Sinai-berg gee. By die brandende bos vra Moses wat God se Naam is. God gee dit vir hom.

Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur. Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag.” (Eksodus 3:14 – 15).

Die Naam wat God geopenbaar het, Yahweh, was sy persoonlike naam. Uit persoonlike ondervinding leer die Israeliete dat hierdie God wat sy Naam aan Moses geopenbaar het ‘n God is wat verlos.

 

Ons sien egter gou dat HERE meer as ‘n naam is – dit is God se identiteit. Dit is hoe die Hebreërs name verstaan het. Vir hulle was ‘n naam onlosmaaklik van die persoon. As ons die naam van God gebruik, verwys ons na die essensie van sy goddelike wese.

 

Die derde gebod is beide negatief en positief. Negatief: dit verbied die misbruik van God se Naam. Die Ou Vertaling sê dat ons nie die Naam van die Here ydelik mag gebruik nie. God se mense word nie verbied om sy Naam te gebruik nie. God gee juis sy Naam aan ons sodat ons persoonlik met Hom kan praat. Om Hom by name aan te roep versterk ons liefdesverhouding met Hom.

 

Wat God wel verbied is die misbruik van sy Naam. Ons mag dit nie ydelik of op ‘n leë manier gebruik nie. Die spesifieke misbruik wat God in gedagte het, is om dit onnadenkend te gebruik asof Hy nie saakmaak nie. God se Naam het ‘n diep geestelike betekenis.- dit is iets heilig en moet as sulks gebruik word.

 

As ons sy Naam misbruik ontken ons sy heiligheid. Enigeen wat dit doen, sal aanspreeklik gehou word: Die Here sal die een wat sy Naam misbruik, nie ongestraf laat bly nie. Die presiese straf word nie genoem nie, maar hier het ons ‘n ernstige waarskuwing. Om sy Naam te misbruik is ‘n direkte aanval op sy eer en heerlikheid. As God sê dat iemand wat sy Naam misbruik aanspreeklik gehou sal word, moet ons dit ernstig opneem.

 

 




Twyfel is ‘n probleem (2)

 

No matter what good truths you have to teach, no one will thank you if you do not speak kindly. —C.H. Spurgeon

 

Twyfel is ‘n probleem (2)

In die vorige blog het ons na die anatomie van twyfel gekyk. Nou gaan ons kyk na die antwoord op twyfel.

 

Nog meer belangrik as die anatomie van twyfel is die antwoord op twyfel. Die antwoord uit Matteus 11:2 – 19 is ten minste tweevoudig.

  • Ons konfronteer twyfel met Bybelse openbarings

Toe Johannes se volgelinge vir Jesus gekonfronteer het, antwoord Hy: Gaan vertel vir Johannes wat julle hoor en sien. Daarna gebruik Jesus gedeeltes uit Jesaja 35:5 – 6 en 61:1 om die wonderwerke mee te beskryf wat Hy besig was om te doen wat inderdaad bewys dat Hy die Messias is. Hy vertel vir Johannes se volgelinge onder andere dat die blindes sien. In die hele Ou Testament lees ons nooit van ‘n blinde wat weer kan sien nie. In die Nuwe Testament is daar met die uitsondering van Paulus se bekering (Handelinge 9:17 – 18) geen storie waar Jesus se volgelinge iemand se sig herstel het nie. Eeue gelede het Jesaja reeds geprofeteer: Blindes sal kan sien (Jesaja 35:5).

 

Die gedeeltes in Jesaja waarna Jesus verwys, verwys nie net na genesing nie, maar ook die oordeel wat die Messias sou bring. Jesus se wonderwerke was ‘n teken dat God se koninkryk in die wêreld besig is om in te breek. Johannes moes vertrou dat Jesus inderdaad die finale oordeel sal bring. God kom sy beloftes na. Om twyfel te probeer beveg sonder die fondament van die waarheid van God se woord is nutteloos. God se woord is ‘n rots, nie omdat dit alles maklik maak nie, maar omdat dit jou voete uit die dryfsand hou – ten spyte van moeilike omstandighede en onvervulde verwagtings.

 

  • Beveg twyfel met vreugdevolle onderwerping

Nadat Jesus sy groot werke aan die dissipels vertel het, sluit Hy af: En gelukkig is elkeen wat nie aan My begin twyfel nie. Om gelukkig te wees, beteken dat ons Jesus vertrou. Al is dit moeilik moet ons steeds na Jesus in geloof kyk. Die beloning is sy seën. Dit is ‘n belofte van God.

 

Twyfel onder gelowiges is algemeen. As ons weet wat dit veroorsaak en weet hoe om dit teen te werk, het ons al ver gevorder.

 




Twyfel is ‘n probleem (1)

 

Twyfel is ‘n probleem (1)

In die vorige blog het ons gesien dat Johannes die Doper begin twyfel het. In hierdie blog gaan ons na die anatomie van twyfel kyk (Matteus 11:2 – 6).

 

Daar is ten minste drie dinge wat ons van twyfel in hierdie gedeelte leer:

  • Twyfel kom dikwels in moeilike omstandighede

Johannes was ‘n profeet in die woestyn wat onder moeilike omstandighede God se woord verkondig het. Met moed berei hy die weg vir die Messias voor. Hy wys mense na Jesus. Nou, as gevolg van hierdie getroue verkondiging, ondervind hy skande. Honger, marteling en ‘n emosionele stryd daar waar hy in die tronk sit. Dit herinner ons aan Elia wat vir Isebel vlug en gereed was om die handdoek in te gooi (1 Konings 19). Moeilike omstandighede kan lei tot twyfel.

 

  • Daar is verwagtings waaraan nie voldoen is nie.

Jesus was immers die Messias wat gestuur is om vir die gevangenes vrylating aan te kondig (Jesaja 61:1). Dit is duidelik dat Jesus aan baie van die verwagtings nie voldoen nie. Hierdie is die verwagtings wat baie van die Jode vir Hom gehad het. Johannes het verkondig dat die Christus sou oordeel (3:11 – 12), maar die Romeinse heerskappy was steeds in plek – en Johannes sit daarom in die tronk. Dit moes vir Johannes verwarrend gewees het. Rome is nog in beheer; sonde is oorvloedig; politieke en godsdienstige korrupsie vier steeds hoogty. Alles lyk nog soos dit al geslagte lank gelyk het. In plaas van Rome omverwerp spandeer Jesus tyd met sondaars en leer hulle van vergifnis. Hy vas nie eers nie. Is dit die Messias wat ons moet verlos, dink Johannes.

 

  • Johannes se persepsie is beperk

Hy verstaan eenvoudig nie alles wat besig is om te gebeur nie. Daarom stuur hy sy volgelinge om navraag te doen.

 

Spruit ons twyfel nie dikwels uit dieselfde faktore nie? Dit is dikwels te midde van uitdagende omstandighede waar geloof moeilik is. Dit gebeur veral as ons getrou saam met die Here geloop het en Hom gedien en aanbid het. Dan volg ‘n tragedie en ons begin wonder waar God is. Ons verstaan nie waarom sekere dinge gebeur nie, veral as ons beproewings ons vermoë om Hom te dien, belemmer. Ons weet dat God goed is, maar ons verstaan nie waarop hierdie swaarkry nie wil klaarkry nie.

 

Twyfel is dikwels die gevolg van sonde in ons lewens of in die lewens van diegene om ons. Selfs as dit nie as gevolg van ons sonde is nie, moet ons altyd onthou dat ons persepsie beperk is. Johannes het geen idee gehad hoe die verhaal van Jesus gaan verloop nie. God was besig met ‘n nuwe en anderse tipe koninkryk. Dit was meer as net ‘n verandering van ‘n politieke regime; God bring verlossing vir die hele wêreld. Johannes is verward. Was die Messias nie veronderstel om seën en oordeel in die nabye toekoms te bring nie? Wanneer sou sy koninkryk kom?

 

Soos Johannes is ons perspektief ook beperk. As omstandighede moeilik is en as daar nie aan ons verwagtings voldoen word nie en vrae kom na vore, moet ons altyd onthou ons perspektief is beperk. Ons moet vertrou dat God weet wat Hy doen.

 

Maar wat is die antwoord as ons twyfel? Daarna kyk ons in die volgende blog.