Wat is evangelisasie nie?

 

It is not what you believe that counts; it’s what you believe enough to do – Gary Gulbranson

 

Wat is evangelisasie nie?

Daar is ‘n paar dinge wat gereken word as evangelisasie wat nie waar is nie.

  1. Opleg van iets aan ander

Dit is verkeeerd om dit wat jy glo op ander op te lê – ‘n belangrike beswaar teen evangelisasie vandag. Dit is nie wat die Bybel met evangelisasie bedoel nie. Die boodskap wat jy deel, is nie ‘n mening nie, maar ‘n feit. Die waarhede van die Bybel word ook nie deur jou perspektief en ondervindings bepaal nie – jy het hulle nie uitgedink nie. Jy het dit nie uitgevind nie; jy het geen gesag om dit te verander nie. Al wat gebeur, is dat jy die goeie nuus vertel. Dit is net God wat dinge verder laat groei. Verkondig die goeie nuus akkuraat; leef ‘n lewe van liefde teenoor ongelowiges; bid dat God hulle van hulle sonde sal oortuig en aan hulle die gawes van bekering en geloof sal gee. Ons kan die evangelie verkondig, maar ons kan nie iemand manipuleer om dit te aanvaar nie.

 

  1. Persoonlike getuienis

Persoonlike getuienis is wonderlik. Die waarheid van die evangelie word deur ons daaglikse lewe bewys, Ons moet van hierdie gebeurtenis getuig. Dit kan sekerlik tot evangelisasie bydra. Getuienisse is kragtig. Getuienisse is inspirerend, maar dit is die evangelie wat verduidelik waaroor dit gaan en hoe dit gebeur het.

 

  1. Sosiale optrede en openbare betrokkenheid

Die begeerte om dit wat in ons samelewing verkeerd is, reg te stel is bewonderenswaardig, maar dit is nie die evangelie van Jesus Christus  nie. Dit mag die evangelie aanbeveel. Deur God se goedheid en deernis in ons optrede te weerspieël, is goed en reg. Hierdie optrede beveel die evangelie aan, maar deel dit met niemand nie. Om te evangeliseer moet die evangelie duidelik gekommunikeer word.

 

  1. Apologetika

Dit is ‘n goeie ding – dit antwoord die vrae en besware  wat mense oor God of Christus of oor die Bybel en sy boodskap het. Om vrae te antwoord en dele van die evangelie te verdedig, is dikwels deel van ons gesprekke met nie-Christene. Dit kan wel wonderlike geleenthede vir evangelisasie skep. Ons moet egter onthou dat sekere vrae onmoontlik is om te antwoord. Dit mag ‘n negatiewe effek hê. Dit mag ons aandag van die hoofboodskap aftrek. Ons reageer op ander se vrae. Evangelisasie volg God se agenda – die goeie nuus oor Jesus Christus en die pad van verlossing deur Hom.

 

  1. Die resultate van evangelisasie

Evangelisasie moet nie met sy vrugte verwar word nie. Om mense te bekeer, is nie in ons mag nie. Evangelisasie kan nie in terme van resultate, maar net in terme van trou gedefinieer word. Evangelisasie gaan oor die verspreiding van die goeie nuus. In die gelykenis van die saaier word dieselfde saad op verskillende plekke met verskillende resultate gesaai. As evangelisasie nie onmiddellik vrugte dra nie voel sommige Christene skuldig.

 

Baie evangelisasie vandag is emosionele manipulasie – neem dadelik ‘n besluit. Maar ons vergeet dat bekering die gevolg van ‘n bonatuurlike genadige optrede van God teenoor die sondaar is. As ons betrokke is in ‘n program wat bekeerlinge vinnig tel, waar besluite afgedwing word en evangelisasie volgens die onmiddelike sigbare effek beoordeel word, ondermyn ons ware evangelisasie. Mense kan selfs jare nadat die evangelie aan hulle verkondig is tot bekering kom.

 

Die Chrstelike oproep vir evangelisasie is nie net om mense te oortuig om besluite te neem nie, maar om aan hulle die goeie nuus van verlossing in Jesus Christus te vertel, om hulle tot bekering op te roep en om aan God die eer te gee. Ons misluk nie as ons getrou die evangelie verkondig aan mense wat nie bekeer word nie. Ons misluk as ons nie die evangelie verkondig nie.

 

 




Uit die modderige slyk (1)

 

If we are to be part of this coming kingdom, God expects our lives – our churches and faith communities too – to be characterized by these authentic signs of our own transformation: compassion, mercy, justice and love – demonstrated tangibly – Richard Stearns

 

Uit die modderige slyk (1)

Psalm 40 leer vir ons baie van ons optrede as dinge in die lewe vir ons baie moeilik word. Ek gaan drie blogs aan hierdie psalm wy. Ek maak baie van die Ou Afrikaanse Vertaling gebruik

 

Hoeveel van ons het nie al in die modderige slyk vasgeval nie – ‘n diep put van wanhoop. Daar mag baie verskillende redes daarvoor wees, maar jou situasie voel hopeloos. Dit lyk dat hoe harder ons probeer om daar uit te kom, hoe dieper sak ons weg. Maar God wil nie hê dat ons in ‘n put van ongehoorsaamhed en wanhoop moet rondval nie.

 

In Psalm 40 lees ons dat die Psalmis in die modderige slyk vasgeval het. Hoekom? Want onheile sonder getal het my omring; my ongeregtighede het my ingehaal en ek kan nie sien nie; hulle is meer as die hare van my hoof, en my hart het my verlaat (40:12 – OAV). Die psalmis is bewus van sy sondes wat hom vasgevang en oorweldig het. Ons weet nie wat die sondes was nie, maar ons weet dit was baie. Hulle het hom oorweldig sodat hy nie meer reguit kan kyk nie en sy hart was flou. Hy het egter ook eksterne probleme van sy vyande: Laat hulle tesame beskaamd staan en rooi van skaamte word wat my lewe soek om dit weg te ruk; laat hulle agteruitwyk en in die skande kom wat behae het in my onheil (40:15 – OAV).

Die psalmis se situasie is desperaat; hy sien geen weg uit sy dilemma nie. Wat doen hy?

 

1.     Die psalmis onthou God verlossing in die verlede (40:1 – 10)

Die psalmis onthou ‘n ander dag toe God hom uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek het. Die psalmis onthou sy desperaatheid en sy hulpgeroepe. Hy onthou die lang wag. Hy spandeer nie baie tyd hieraan nie. Hy fokus op die Here wat hom verlos het. Ek het die Here lank verwag, en Hy het Hom na my toe neergebuig en my hulpgeroep gehoor; en my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ‘n rots gesit; Hy het my gange vasgemaak.En Hy het ‘n nuwe lied in my mond gegee, ‘n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die Here vertrou (40:2 – 4 – OAV). Hy dink aan hoe God se verlossing in stadia gekom het:

  • Vers 2: God buig na hom neer en hoor sy hulpgeroep.
  • Vers 3: God trek hom op uit die kuil van vernietiging en die modderige slyk. Die psalmis kon hom nie self daaruit kry nie – net die Here kan hom verlos.
  • Vers 3: God sit sy voete op ‘n rots en maak sy gange sekuur. Hy staan nou vas op soliede groond.
  • Vers 4: God gee aan hom ‘n nuwe lied – ‘n lofsang tot eer van onse God.

 

Hierdie is ‘n lofsang tot eer van onse, nie net my, God nie. God is die God wat verlos. Hy is die God van barmhartigheid. Baie sal hom sien en vrees en op die Here vertrou. Sommige mense sal sukkel om met die psalmis te identifiseer. Miskien was hulle nog nooit in ‘n desperate situasie nie. Maar dié wat al daar wees, sal weet waarvan die psalmis praat.

 

Maar die psalmis doen nog meer. Die wonder van God se verlossing laat die psalmis op drie maniere reageer:

 

  • Hy bevestig sy geloof in God

Welgeluksalig is die man wat sy vertroue in die Here stel en hom nie wend tot hoogmoediges en leuenaars nie. Groot dinge het U gedoen, Here my God – u wonders en gedagtes vir ons; niemand kan met U vergelyk word nie. Wil ek dit verkondig en uitspreek, dan is dit te veel om te vertel (40:5 – 6). Die  psalmis bevestig dat hy glo dat God se guns op diegene wat Hom vertrou rus, wat nie trotse mense en vals gode volg nie. Niks wat die wêreld aanbied, kan met die God van Israel vergelyk word nie.

 

  • Die psalmis wy hom toe aan God se wil

U het geen behae in slagoffer of spysoffer nie; ore het U vir my gegrawe; brandoffer en sondoffer het U nie geëis nie. Toe het ek gesê: Kyk ek kom; in die boekrol is dit my voorgeskrywe. Ek het lus, o my God, om u welbehae te doen, en u wet is binne-in my ingewande (40:7 – 9 – OAV). Ore het U vir my gegrawe, word soms met U het my ‘n oop oor gegee. Die psalmis besef dat God dit vir hom moontlik gemaak het om Hom duidelik te hoor. Hy besef God het geen behae in rituele en eksterne godsdiens nie. Hy soek nie offers nie. Wat Hy soek is ‘n toegewyde hart en ‘n wil om gehoorsaam te wees.

Die psalmis wy hom toe om die Here op hierdie manier te dien. Kyk, ek kom … om u welbehae te doen. Dit is ‘n begeerte om gehoorsaam te wees.

 

  • Die psalmis verkondig God se woord

Ek verkondig u blye boodskap van geregtigheid in die groot vergadering; kyk, my lippe bedwing ek nie. Here, U weet dit. U geregtigheid bedek ek nie binne-in my hart nie; van u trou en u heil spreek ek; u goedertierenheid en u trou verberg ek nie vir die groot vergadering nie (40:10 – 11). Let op die negatiewes waarmee hy die positiewes beklemtoon: my lippe bedwing ek nie … u geregtigheid bedek ek nie … u goedertierenheid en trou verberg ek nie. Maar hy het: Ek verkondig ‘n blye boodskap van geregtigheid … van u trou en heil spreek ek.

 

Die psalmis onthou dat God hom uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek het en sy voete op vaste grond geplaas het. Dit is die verlossing in die verlede wat hom vertroue gee.

In die volgende blog gaan ons kyk na die psalmis se gebed vir God se verlossing in die hede.

 




Hoe moet ons evangeliseer?

 

The hypocrite deceives others while he lives, but deceives himself when he dies. —Thomas Watson

 

Hoe moet ons evangeliseer?

Die geloof kom dus deur die prediking wat ‘n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van Christus (Romeine 10:17). Hoe doen ons dit? ‘n Balans tussen eerlikheid, dringendheid en vreugde is nodig

 

Eerlikheid –  as hulle hulle bekeer en glo, sal hulle gered word. Hulle sal moet bekeer en dit kos iets. Moenie sekere dele weglaat nie. Mense wil nie negatiewe goed insluit nie. Vryheid is deel van die boodskap, maar sonde en skuld staan ook sentraal Om mense bewus te maak van hulle verlore en sondige toestand is deel van goeie nuus van Jesus Christus. Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie my dissipel wees nie (Lukas 14:27). Moenie die evangelie manipuleer of afwater nie.

Dringendheid – ons moet die dringendheid van bekering beklemtoon. Hulle moet nou besluit. As Jesus Christus die enigste weg is waarvoor wag ons. Die geleentheid mag verbygaan.

Vreugde. Die herstelde verhouding met God bring vreugde. Ons moet hierdie  vreugde aan ander oordra.

 

Eerlikheid + dringendheid sonder vreugde =  onversetlike vasberadenheid

Eerlikheid + vreugde sonder dringendheid =  nalatigheid oor tyd

Dringendheid + vreugde sonder eerlikheid=verdraaide aansprake oor onmiddellike voordele van die evangelie.

 

Ons moet die evangelie mey eerlikheid, dringendheid en vreugde verkondig.




In die troonkamer

 

Do not have your concert first, and tune your instruments afterward. Begin the day with God. —Hudson Taylor

In die troonkamer

Hoe het God Homself aan ons geopenbaar? Daar is baie plekke in die Bybel waar God Homself geopenbaar het. Een voorbeeld is Jesaja 6.

 

God verskyn aan Jesaja. Jesaja roep uit: Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige (6:5). Dit gebeur met baie van ons – ‘n nuwe verstaan van God. Jesaja nooi ons uit om sy visie van God te deel in Jesaja 6:1 – 4. Wat sien ons hier van God? John Piper noem sewe dinge.

1.      God is lewendig

In die jaar van koning Ussia se dood … Ussia is dood, maar God leef. Van ewigheid tot ewigheid is U God (Psalm 90:2). God was die lewende God reeds voordat die heelal tot stand gekom het. Daar is geen staatshoof wat 50 jaar van nou nog daar sal wees nie. God was altyd en sal altyd lewend wees.

 

2.      God het gesag

Jesaja sien vir God: Hy het op ‘n baie hoë troon gesit. Daar is vrede en Hy is in beheer. Ons gee nie vir God beheer oor ons lewens nie – Hy het dit of ons nou daarvan hou of nie.

 

3.     God is almagtig

Hierdie troon van God is nie een van vele nie. Hierdie troon is baie hoog. Hierdie troon is hoër as enige ander troon. Dit verwys na God se oppermag om sy gesag uit te oefen. Geen opponerende gesag kan God se opdragte tot niet maak nie. Wat Hy voorstel, bereik Hy: Ek sê wat Ek besluit het en dit gebeur, wat Ek wil doen, doen Ek (Jesaja 46:10). Hierdie almagtige gesag van die lewende God is ‘n toevlug vol vreugde en mag vir diegene wat sy verbond onderhou.

 

4.      God is skitterend

Jesaja sien vir God op hierdie hoë troon sit en die onderste van sy kleed het die tempel gevul.  Hy is ‘n God van overgelykbare grootheid. Hierdie grootheid van God sien ons op duidende maniere. Sy kreatiewe volheid loop oor in ongelooflike skoonheid. As die wêreld so wonderlik is, hoeveel meer skitterend moet die Here wat dit alles ontwerp en gemaak het nie wees nie?

 

5.     God word eerbiedig

By Hom was daar serafs om Hom te dien. Elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy gesig bedek, met twee sy voete en met twee het hy gevlieg. Ons weet nie wat hierdie skepsels was nie. Volgens Jesaja as hulle uitroep het die deure in hulle kosyne gerammel en die tempel word vol rook. Selfs hulle kan nie na God kyk nie – hulle bedek hulle oë. Hulle voel so onwaardig in God se teenwoordigheid dat hulle selfs hulle voete bedek. Groot soos hulle is, aanbid hulle hulle Skepper met nederigheid.

 

6.     God is heilig

Die serafs het mekaar telkens toegeroep: “Heilig, heilig, heilig is die Here die Almagtige! Heilig beteken afgesonder. ‘n Heilige ding is afgesonder van die gewone. Aardse dinge en mense is heilig in die sin dat hulle afgesonder van die wêreld en toegewy aan God is. Ons lees in die Bybel van heilige grond, heilige sabatte, ‘n heilige volk, heilige klere, die heilige Skrif, ens. Van wat kan jy God afsonder om Hom heilig te maak? Hy is tog afgesonder van alles wat nie God is nie. Daar is tog ‘n oneindige verskil tussen Skepper en skepsel. God is nie heilig omdat Hy die reëls nakom nie – Hy het die reëls geskryf. Sy heiligheid is sy unieke, goddelike wese. Sy heiligheid is wat Hy as God is. Daar is net nie woorde om God se heiligheid te beskryf nie. Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees! (Habakuk 2:20).

 

7.     God is heerlikheid

Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare! Die hele aarde is van sy heerlikheid vol! (OAV). God se heerlikheid is die manifestering van sy heiligheid. Sy heerlikheid is die openbaring van sy heiligheid. In die wat naby My is, wil Ek my as die Heilige laat ken, en voor die oë van die hele volk wil Ek My verheerlik (Levitikus 10:3 – OAV).

 

In Jesaja 6:10 sê God vir Jesaja dat hierdie boodskap die mense gaan verhard – hulle wil nie so ‘n God hê nie. In vers 13 lees ons egter van ‘n stomp waat oorbly: die gewyde geslag. Johannes haal hierdie vers in 12:40 aan. Hy voeg by: Jesaja het dit gesê omdat hy die heerlikheid van die Here gesien en oor Hom gepraat het (12:41). Jesus was dus die vervulling van die majesteit van Jesaja 6. Dit, sê Johannes, is waarom Jesus verwerp is: Hulle het verkies om liewer deur mense geëer te word as deur God (12:43).