Gebed en aanvaarding

 

“Stop wasting time running after the perfect community; Live your life fully in your community today.”  –Jean Vanier

 

Gebed en aanvaarding

In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Stilte laat ons besef dat gebed bo alles aanvaarding is. As ons bid staan ons met oop hande.  Ons weet dat ons God sal ken uit die natuur, in mense wat ons ontmoet en in situasies waarin ons beland. Gebed skep die openheid waarin God aan ons gegee word. God wil toegang tot die menslike hart kry; Hy wil met oop hande ontvang word; Hy wil hê dat ons Hom moet liefhê soos Hy ons liefgehad het.

 

Hierdie openheid kom nie vanself nie. Dit vereis ‘n belydenis dat ek afhanklik, swak en sondig is. As jy bid bely jy dat jy nie God is nie en dat jy nog nie jou doel bereik het nie – en dit nooit in hierdie lewe sal bereik nie. Hierdie gesindheid is moeilik, want dit maak jou kwesbaar. Die wêreld sê: “Staan vas; kry ‘n greep op wat nou joune is; wees op jou hoede. Maak jou hande oop en hulle slaan spykers daarin. Wees altyd gereed vir die onverwagse aanval.”

 

Hoe kan jy ‘n gawe met so ‘n gesindheid verwag? Geen wonder gebed is so ‘n probleem nie, want dit vereis gedurige gereedheid om jou wapens neer te lê. Dit vereis dat jy moet leef in die verwagting dat God, wat alles nuut maak, jou ook sal nuut maak.

 

Gee word dikwels ‘n manier om te manipuleer – die een wat die geskenk ontvang word afhanklik van die wil van die een wat dit gegee het. As jy gee is jy in beheer van die situasie. Aanvaarding is iets anders. As jy ‘n geskenk ontvang, nooi jy ander in jou lewe in – hulle kry ‘n plek in jou lewe. Gawes is net gawes as hulle aanvaar word. Baie mense wil onmiddellik iets teruggee as hulle iets ontvang het. So herstel hulle die balans.

 

Miskien is dit die uitdaging van die evangelie: ons word uitgenooi om ‘n gawe te aanvaar waarvoor ons niks kan teruggee nie. Hierdie gawe is die lewensasem van God; die Gees wat oor ons uitgestort word. Diegene wat in gebed leef is gedurig gereed om God se lewensasem te ontvang en is bereid dat hulle lewens vernuwe kan word. Diegene wat nooit bid nie sit in ‘n hoekie en soek na asem. Diegene wat hulle vir God open kan weer vryelik asemhaal.

 

Ons besef met vreugde dat daardie selfde asem wat ons aan die lewe hou, is ook die bron van lewe vir ons broers en susters. Hierdie besef laat ons vrees vir ander verdwyn. As ons die lewensasem van God in ander raaksien, kan ons toelaat dat hulle in ons lewens inkom.

 

“Om iets te ontvang skep ‘n gevoel van afhanklikheid. Ek is nie daaraan gewoond nie. Ek bestuur my eie sake. As ek iets ontvang weet ek nie hoe om dit te hanteer nie. Dit voel asof ek nie meer in beheer is nie.” Dit is die siening van baie van vandag se mense. As ons ergter ervaar dat iemand ons ten volle aanvaar, wil ons alles in ons vermoë doen om te gee. Dan vind ons uit dat ons eintlik meer het om te gee as wat ons gedink het.

 

In hierdie aanvaarding van mekaar as gevolg van ons gebede, besef ons daar in nie plek vir vooroordele nie. Dan kan ons met mekaar praat en ons lewens deel op so ‘n manier dat ons harte tot mekaar spreek.

 

Gebed beteken bowenal dat ons God aanvaar wat altyd nuut en altyd anders is. Sy hart is groter as ons s’n. In gebed is ons voortdurend op ‘n pelgrimstog – op pad ontmoet ons meer en meer mense wat ons iets van God wys. Gebed gee ons die moed om ons arms uit te strek en om gelei te word. Na Jesus vir Petrus die opdrag gegee het om sy mense te lei, sê hy vir hom: Dit verseker Ek jou: Toe jy jonger was, het jy self jou klere vasgemaa en gegaan waar jy wil; maar wanneer jy oud is, sal jy jou hande uitsteek, en iemand anders sal jou vasmaak en jou bring waar jy wil wees (Johannes 21:18).

 

Om ander te versorg vereis ‘n toenemende aanvaarding. Die aanvaarding lei Jesus en sy dissipels na waar hulle nie wou wees nie – die kruis. As jy jonk is, wil jy alles beheer, maar as jy jou hande in gebed oopgemaak het, laat jy jouself lei sonder dat jy weet waarheen jy op pad is. Jy weet net dat God se vryheid jou na ‘n nuwe lewe sal lei – al is die kruis die enigste teken wat jy kan sien. Maar vir die een wat bid, boesem die kruis nie vrees in nie.

Vraag: Op watter manier is ek vir afhanklikheid bang?

 




Uitreikbediening in ‘n gemeente

 

When I was young, I admired clever people. Now that I am old, I admire kind people. -Abraham Joshua Heschel, rabbi en professor (11 Jan 1907-1972)

 

Uitreikbediening in ‘n gemeente

Baie gemeentes het geen uitreikbediening nie. Rick Warren glo dit is omdat hulle die verkeerde vraag vra. Hulle vra: Hoeveel gaan dit kos? Die regte vraag om te vra, is: Wie gaan dit bereik? As die gemeente evangelisasie wil doen, gaan dit geld kos. Warren deel dan ‘n paar insigte:

  1. Geld gespandeer aan evangelie is nooit ‘n uitgawe nie – dit is ‘n belegging

Die mense wat jy bereik, betaal meer as terug wat jy in hulle belê het. As die finansies in die gemeente moeilik word, is die eerste ding wat skade lei gewoonlik die begroting vir evangelisasie. Moenie dit doen nie – dit is die bron van nuwe bloed in die gemeente.

 

  1. Mense gee vir ‘n visie en nie vir ‘n behoefte nie

Gemeentes met die grootste visie trek die meeste geld. Gemeentes wat die meeste maak met dit wat hulle het, trek meer: Aan elkeen wat het, sal meer gegee word, en van hom wat nie het nie, sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word (Lukas 19:26). As die gemeente altyd met finansiële probleme sukkel, maak seker dat jou visie duidelik is en goed gekommunikeer word. Geld vloei na Godgegewe, Gees-geïnspireerde idees.

 

  1. As jy sente aan evangelisasie spandeer, gaan jy sent resultate kry.

In Matteus 17 lees ons van die tempelbelasting. Jesus stuur vir Petrus om ‘n vis te gaan vang. Die eerste vis wat byt, moet hy uittrek. As jy sy bek oopmaak sal jy ‘n silwermuntstuk daarin kry. Vat dit en betaal hulle die belasting vir My en vir jou. Hier is ‘n belangrike les: as jy op visvang (evangelisasie) fokus, sal God die rekeninge betaal.

 

  1. God’s work done God’s way will not lack God’s support

Hierdie was die leuse van die bekende sendeling Hudson Taylor.

 

 




Gebed en stilte

 

The angel fetched Peter out of prison, but it was prayer that fetched the angel. —Thomas Watson

 

Gebed en stilte

In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Ons weet daar is ‘n verband tussen gebed en stilte. Soms is stilte in ons lewens vrede, maar soms maak dit ons bang. Daar is nagte met die sterre en die maan, maar daar is ook nagte wat pikdonker is. So is daar ook twee stiltes: die een vol vrede en die ander een skrikwekkend. Vir baie mense is stilte ‘n bedreiging – hulle weet nie wat om daarmee te doen nie. Dit maak hulle onrustig. Sommige mense kan nie sonder musiek om hulle studeer nie. As hulle in ‘n kamer moet sit sonder ‘n konstante vloei van klank, word hulle senuweeagtig.

 

Vir baie mense is stilte ‘n bedreiging. Dit is nie verbasend dat hierdie mense probleme met gebed het nie. Maar stilte is vol klanke: die wind wat waai, die blare wat ritsel, die voëls wat hulle vlerke klap, die golwe wat op die strand aanspoel. As ons dit nie kan hoor nie, hoor ons steeds ons eie asemhaling, ons sagte voetsteppe. Maar ons is doof vir die klanke van stilte.

 

As ons van ons lawaaierige wêreld na ‘n wêreld van stilte beweeg, word ons bang. Ons word soos verslaafdes wat deur die pynlike proses van onttrekking moet gaan. Maar nog moeilier is innerlike stilte. Mense wat in al die lawaai vasgevang is, verloor voeling met hulle innerlike self. Die innerlike vrae word nie beantwoord nie; onseker gevoelens word nie opgeklaar nie; verwarrende emosies word nie verstaan nie.

 

As ons die daaglikse lawaai uitskakel, kan ‘n nuwe innerlike lawaai dikwels gehoor word. Om in ‘n stil kamer te kom, beteken nie noodwendig innerlike stilte nie. ‘n Innerlike bespreking vind plaas. Baie onopgeloste probleme vereis ons aandag. Almal vereis ons aandag.

 

Is ons nie bang om ontslae te raak van al die afleidings van buite nie, want dit lei tot ‘n konfrontasie met wat binne in ons is? Daarom probeer ons om altyd besig te wees. Kan ons alleen wees van tyd tot tyd – ons oë toemaak, ontslae raak van al die geluide en kalm en stil sit? Om halm en stil en alleen te wees, beteken ons is volledig wakker en gee aandag aan elke beweging in ons. Miskien sal daar vrees en onsekerheid wees as jy die eerste maal hierdie onbekende terrein betree. Stadig maar seker sal jy ‘n orde ontdek wat jou verlange om alleen te wees sal verdiep.

 

Met hierdie nuwe vertroue vang ons weer opnuut ons lewens van binne af vas. In hierdie “innerlike ruimte” waar gevoelens van liefde en haat, teerheid en pyn, vergifnis en gierigheid geskei of versterk of verander word, sien ons ‘n sagte hand. Nou kan ons weer meesters van ons eie huis word. Daar is geen nodigheid om meer bang te wees nie.

 

Hierdie is nie maklik nie. Lawaai van buite eis steeds ons aandag en rusteloosheid van binne maak ons bang Ons is vasgevang tussen hierdie versoeking en vrees. As jy egter hierdie stilte ontdek het, voel dit of jy ‘n geskenk ontvang het Die belofte van hierdie stilte is dat ‘n nuwe lewe gebore kan word. Dit is die stilte van vrede en gebed, want dit bring jou terug na Hom wat jou lei. In hierdie stilte voel jy nie meer dat jy gedryf word nie – jy kan jouself wees.

Nou besef jy dat jy baie dinge kan doen – vryelik en nie ander dwang nie. Jy sien jou lewe in die regte perspektief. Te midde van al jou sorge kan jy bid.

Vraag: Hoekom vermy jy stilte?

 




Hoe moet ek ‘n Bybelgedeelte verstaan?

 

“The gospel does not fall by chance like rain from the clouds, rather it is delivered by human hands to wherever it is sent by God.” — John Calvin

 

Hoe moet ek ‘n Bybelgedeelte verstaan?

Ons gaan voort met Mel Lawrenz se reeks oor How tot Study the Bible.

In die vorige twee blogs het ons gekyk na hoe om ‘n hele Bybelboek te benader en hoe om die betekenisvloei van ‘n Bybelboek te verstaan. Dit het ons gedoen deur ‘n raamwerk te vorm.

 

Nou moet ons meer in diepte na ‘n spesifieke gedeelte kyk. Ons moet altyd die konteks en betekenis van die hele boek eerstens verstaan. ‘n Gedeelte is ‘n segment van die boek wat op een of ander betekenisvolle wyse verbind is. Soms is dit net enkele verse, maar soms mag dit meer as een hoofstuk wees. Die hoofstuk en vers-indelings help ons, maar is nie definitiewe verdelings nie – hulle is eers heeelwat later bygevoeg.

 

Kom ons gebruik Hebreërs 11 as voorbeeld. Dit begin met ‘n wonderlike stelling: Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie. Lees hierdie hoofstuk stadig deur – net lees. Lees dit ‘n tweede en ‘n derde keer. Teen die derde keer merk jy sekere gedeeltes en/of jy maak notas. ‘n Mens “sien” baie meer in ‘n gedeelte as jy hardop lees.

 

Deur net te lees, sien jy die struktuur van die gedeelte. Die inleidende waarheid oor geloof word gevolg deur ‘n reeks bekende Ou Testamentiese mense wat diep geloof gedemonstreer het. In verse 32 – 38 kry ons ‘n afsluiting oor die rol van hierdie geloofshelde, en ‘n beskrywing van die koste van geloof – marteling en martelaarskap. In vers 39 kry ons ‘n breë waarheid: En hoewel daar oor hulle almal vanweë hulle geloof met soveel lof getuig is, het hulle nie verkry wat beloof is nie. Hierdie is ‘n waarheid wat op ons lewens toegepas kan word.

 

Dit is die volgende stap in hierdie boek. Hoofstuk 12 gee vir ons ‘n toepassing in die werklike lewe – raak ontslae van dit wat ons hinder en die sonde wat ons vasklem. Laat ons met volharding hardloop terwyl ons die bewaarder van ons geloof, Jesus Christus, volg.

 

Om op een vers te fokus is onvoldoende en gevaarlik. Die betekenis van ‘n enkele sin is net duidelik in sy wyer konteks. Ons moet die hele verstaan, voordat ons die dele kan verstaan.