Met gebalde vuiste

 

One of the signs of Christian maturity is the ability to disagree with other Christians on secondary matters without vilifying them. —J.R. Vassar

 

Met gebalde vuiste

In 1973 skryf Henri J. M.Nouwen ‘n kort boekie oor gebed: With Open Hands. Hierdie boekie was so gewild dat hy dit in 1995 en 2006 moes hersien. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Gebed is nie maklik nie. Dit vereis ‘n verhouding waar jy Iemand toelaat om in die middelpunt van jou persoon te kom en te sien wat jy eerder wou verberg het – om dinge aan te raak wat jy eerder onaangeraak wou laat. Dit is gevaarlik en vra dat ons onsself moet verdedig.

 

Die weerstand teen gebed is soos die weerstand van gebalde vuiste. Dit is ‘n beeld van spanning, van ‘n begeerte om styf vas te klou – dit verwys na vrees, As jy bid, word jy gevra om jou gebalde vuis oop te maak en jou laaste bietjie op te gee. Wie wil nou dit doen? Die eerste gebed is dikwels pynlik, want jy ontdek dat jy nie wil laat los nie. Jy klou vas aan wat bekend is – al is jy nie trots daarop nie. Jy glo nie jou lewe kan verander nie; die hoop vir ‘n nuwe lewe het reeds verby gevloei. Jy voel dit is veiliger om vas te klou aan ‘n slegte verlede as om op ‘n nuwe toekoms te vertrou. Jy wil nie oorgee nie.

 

As jy wil begin bid, keer baie dinge na jou toe terug – die bitterheid, die haat, die jaloesie, die teleurstelling en die begeerte om wraak te neem. Hierdie gevoelens is nie net daar nie – jy klou aan hulle vas asof jy nie sonder hulle kan klaarkom nie. Jy kan inderdaad geheg word aan donker magte soos haat. Solank as wat jy weerwraak soek klou jy aan jou verlede vas. Jy staan daar met gebalde vuiste – toe vir ander wat jou graag wil genees.

 

As jy wil bid, is die eerste vraag: Hoe maak ek my gebalde vuiste oop? Nie deur geweld of ‘n  besluit wat afgedwing word nie. Miskien kan jy jou weg na gebed vind deur te luister na die woorde van die engel aan Sagaria, Maria, die skaapwagters en die vroue by die graf: “Moenie bang wees nie.” Moenie bang wees vir Hom wat in jou intiemste spasie wil inkom  en jou uitnooi om dit wat jy so naarstiglik vasklou, te los nie. Moenie bang wees om jou haat, bitterheid en teleurstelling te offer aan Hom wat liefde is nie. Al het jy min om te wys, moenie bang wees om dit te wys nie.

 

Dikwels wil ons ons liefdevolle God ontvang deur alles wat lelik is, terug te hou. Dit is geforseerd en kunsmatig. Dit maak van gebed ‘n foltering. Elke keer as jy een van jou baie vrese oorgee, gaan jou hand oop – jou palms is oop om te ontvang. Jy moet baie geduldig wees totdat jou hande volledig oop is. Dit is ‘n lang geestelike reis. Baie het in jou lewe gebeur om jou vuiste so gebal te maak. Wat jy moet doen is om jou hande sonder vrees oop te maak, sodat Hy wat jou liefhet jou sondes kan verwyder.

 

Nou voel jy ‘n nuwe vryheid; gebed word ‘n vreugde – ‘n spontane reaksie. Nou is dit nie meer ‘n inspanning nie – lewendig, vol vrede en stil. As jy hierdie fees- en stil geleenthede as oomblikke van gebed herken, besef jy dat om te bid, is om te lewe.

Vraag: Wat is dit wat ek so vas in my vuis vasklem?

 




Bly aan God toegewyd

 

If you do not die to sin, you shall die for sin. If you do not slay sin, sin will slay you. —C.H. Spurgeon

 

Bly aan God toegewyd

Die versoeking om van God te vergeet, is altyd daar. Maar ons kan ons toewyding aan God behou. Lees net Josua 23:6 – 11.

  1. Gee aandag aan God se woord

Maar julle moet sterk staan aan die uitvoering van alles wat geskryf staan in die wetboek van Moses. Moet daarvan nie links of regs afwyk nie. Gedagtes gevul met die Skrif kan die sekulêre samelewing krities evalueer en kan deur die leë waardes van die wêreld sien. ‘n Teken van ‘n gebrek aan toewyding aan God is ‘n verminderde respek vir sy woord. Josua praat van die uitvoering van alles wat geskryf staan. Dit beteken nie dat ons net God se woord moet hoor nie, maar dat ons dit moet doen.

 

  1. Vermy heidense invloede (Vers 7)

Hoe vermy ons om na die beeld van die heidense volke gevorm te word? Deur God se woord te onderhou en te doen. Ons is altyd in die versoeking om te glo die wêreld is beter af as ons. Met God se woorde op jou lippe en God se lof in jou mond sal jy niks anders kan erken nie.

 

  1. Bly getrou aan God

 Julle moet aan die Here julle God getrou bly, soos julle dit tot nou toe gedoen het. Dit beteken ons moet aan God vashou sodat geen sonde tussen ons kan kom nie. Dit beteken ons beplan tyd met Hom alleen in Bybelstudie en gebed. Ons vertrou op sy beloftes. U is vir my ‘n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels. Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my (Psalm 63:8 – 9)

 

  1. Kweek ‘n diep liefde vir God (vers 9 – 11)

Lê julle dus daarop toe om die Here julle God lief te hê. Die klem val hier op ‘n verhouding van liefde. God is nie net God nie – Hy is my en jou God. Sy passie vir ons kan nie geblus word nie.

 

Die vyande waarmee ons vandag te doen het, verskil van dié waarmee Josua te doen gehad het. Die strategie om hulle te konfronteer bly egter dieselfde.

 

 

 




Arrogansie

 

Christ has not two different bodies, one “temporal” and the other “spiritual”. He is one Head, and he has one body –  Martin Luther

 

Arrogansie

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Ons glo maklik dat die gawes wat God aan my gegee het, het Hy aan almal gegee.Ons sien en interpreteer die lewe deur ons eie ondervindings – enigste lens wat ons het. Dit is natuurlik om die dinge te glo soos ek dit sien. Die lewe werk nie so nie. Elkeen het sy eie stel genes, persoonlikheidseinskappe en geestelike gawes. Daarom reager ons nie dieselfde op dieselfde stel stimuli nie. Ons is verskillend. Gawe projeksie lei tot onrealistiese verwagtings en frustrasie met mense wat nie soos ons reageer nie.

 

Gawe projeksie lyk dikwels soos gesonde geestelike ywer, maar van binne is dit niks anders as sondige trots en arrogansie nie. Dit maak dat ons op ander neerkyk; dit skep baie vals skuldgevoelens. Gawe projeksie is nadelig omdat dit ons trots maak. Dit maak mense op wie ons projekteer, seer. Dit skep ‘n klomp onnodige skuldgevoelens.

 

Ons voel dikwels skuldig omdat ons ly aan gawe jaloesie. Gewoonlik word dit gekoppel aan iets wat ons dink belangrik in die koninkryk van God is en wens ons was beter daarmee. Ons moet nooit skuldig voel oor hoe God ons gemaak het nie – solank ons dit doen waarvoor Hy ons geroep het.

 

 




Sosiale media en my verhoudings

 

The truth does not change according to our ability to stomach it – Flannery O’Connor

 

Sosiale media en my verhoudings

“Ek maak nie meer vriende nie. Ek weet nie meer hoe om ‘n vriend te wees nie – ‘n ware vriend. Ek het baie foto’s gedeel; ek het baie goedbedoelde kommentare gelaat; ek het baie aanhalings gedeel. Ek het nie baie van my lewe met vriende gedeel nie. Ek voel ontmoedig, alleen en gefrustreerd.”

 

Klink bekend. Sosiale media het ‘n plek, maar baie mense moet erken dit het hulle lewens oorgeneem. Hoeveel mense gaan nog na ‘n restaurant en gesels net. Sosiale media het sy tol geëis van ons verhoudings. Daar is ‘n paar gebiede waar sosiale media ons verhoudings vernietig.

  1. Dit skep ‘n vals sin van intimiteit.

Dit laat ons voel ons ken mense beter as wat die geval is. Om van mense op Facebook en Instagram te hou, beteken nie dit is ‘n vriendskap nie. Opregte verhoudings neem tyd en kommunikasie.

 

  1. Dit skep ‘n indruk van ‘n gemeenskap

Ons glo ons het ‘n groot ingeboude ondersteuningstelsel, maar dit is nie ‘n werklikheid nie. Die enigste manier om ‘n gemeenskap te vestig is om saam met mense vir ‘n lang tyd te leef.

 

  1. Dit verhoed dat ons volledig geken word

Sosiale media rig virtuele grense op. Ons vertel die stories wat ons goed laat lyk. Maar dit is net in ons gebrokenheid waar ons ten volle geken kan word. Dit gebeur in die alledaagse wêreld.

 

  1. Dit keer ons na binne

Ons leef in ‘n lugleegte. Die Internet is ‘n afgesonderde plek Ons is almal daar, maar dit is meestal oppervlakkige gesprekke. Ons moet ophou om ons vriende te probeer beïndruk en begin luister na die stories wat hulle vir ons vertel. Ons moet die soort vriend word wat hulle nodig het.

 

  1. Dit stel onrealistiese verwagtings

Woorde en prentjies is nie genoeg nie. Die lewe moet geleef word

 

  1. Ons is goed om stories te vertel, maar nie so goed om stories te leef nie.

 

Natuurlik is daar baie voordele aan die sosiale media, maar ons moet net bewus wees van die potensiële nadele.