Eksklusiwiteit

Blog37

Injustice anywhere is a threat tot justice everywhere – Martin Luther King Jr

Eksklusiwiteit

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Met eksklusiwiteit word uitdunning van die kudde belangriker beskou as die uitbou van die koninkryk. Die gunsteling verse vir hierdie mense gaan oor smal paaie en nou poorte. Hulle glo dat genade en barmhartigheid verdien moet word. Natuurlik is daar kostes verbonde om Jesus te volg – dit vereis verandering in ons optrede, waardes en prioriteite.

 

Maar die “toevallige Fariseërs” voel dat dit baie belangrik is om die “gepeupel” uit te hou. Hulle lig die dwarslat en is trots om dit hoog te hou deur te herdefinieer wat die beteken om ‘n Christen te wees. Die ware Christen, volgens hulle, kies altyd die moeiliker pad. Ekstra laste word byvoeg – meer opoffering, dieper studie …  dinge wat hulle sien as bewyse van ware dissipelskap. Hierdie is ‘n resep wat belangrike bestanddele uitlos. Dit beklemtoon ‘n paar geselekteerde verse en ignoreer die res van die Nuwe Testament. Dit is nie ‘n resep vir dissipelskap nie, maar vir Fariseïsme. Niemand probeer doelbewus Fariseërs produseer nie. Mense wat ‘n radikaler en meer aktivistiese geloof voorskryf, het die beste bedoelings. Hulle wil hê dat kerke en mense hulle volle potensiaal moet bereik – geen middelmatigheid nie.  Daar is altyd ‘n hoër vlak om te bereik. Mense wat moeg word, moet net harder werk, langer bid, meer studeer. No pain no gain.

 

Maar Jesus bied egter ook rus aan: Kom na My toe. almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed (Matteus 11:28 – 30). Is dit nie dalk hoekom Hy sy boodskap goeie nuus genoem het nie? Diegene wat altyd meer verwag, verstaan dit nie.

 

Mense probeer altyd die dwarslat hoër lig as waar God dit geplaas het. Hulle voeg meer laste by en noem dit dissipelskap. Hulle sluit die deure vir dié wat swak is en sukkel. Hulle noem dit reiniging van die kerk. Die bedoeling is edel; die vrugte is verrot. Soos Fariseërs probeer hulle die mense waarvoor Jesus gekom het, uit te hou. Hoekom doen ons dit

 

Dit gebeur veral nadat ons deel van die kudde geword het. Ons wil vashou aan wat ons verdien het; ons wil dié wat dit nie verdien nie, uithou. Ons wil nie met ander deel dit wat ons gekry het nie. Ons kry dit in alle beroepe – verhoog die standaarde en toegangsvereistes; maak dit moeiliker vir ander om in te kom. Mense sien dit selde raak. Glo hulle behou die vereiste standaard. Hierdie denke en optrede is loodreg teen Jesus se doel en werk – die rede waarom Hy gekom het.

 




#Griekssprekende weduwees maak saak

 

God’s commands are not designed to rob you of life or to plunder your freedom, but to graciously protect you from harm. —Paul Tripp

 

#Griekssprekende weduwees maak saak

#Feesmustfall. Dit is maar een van vele  # wat ons vandag kry. Maar in Handeling 6 kry ons #Griekssprekende weduweesmaak saak.

 

Die Griekssprekende weduwees het geglo dat hulle afgeskeep word in die daaglikse versorging. Die Hebreeussprekende weduwees het geen probleme gehad nie. Hoekom was hierdie Griekssprekende weduwees so ontsteld? Hulle is anders hanteer as gevolg van hulle etnisiteit. Hulle het ‘n patroon van diskriminasie ondervind. Hulle behoeftes en lewens was ook belangrik. Dit maak sommige mense ongemaklik.

 

Die apostels sien dat die basis van hulle klagtes geregverdig was. Hoe hanteer hulle dit?

  • Hulle bemagtig Griekse leiers. Progorus, Nikanor, Nikolaus en Stefanus is Griekse name.
  • Hulle hanteer die situasie en maak seker die Griekssprekende weduwees was tevrede met die oplossing.
  • Hulle wys dat Griekssprekende weuwees wel saakmaak.

 

Die apostels het besef dat die belang en waarde van die Griekssprekende weduwees bevestig moet word. Dit beteken geensins dat die Hebreeussprekende weuwees nie saakmaak nie. Hulle het geglo dat alle weduwees wel saakmaak – daarom het die kerk ‘n bediening aan weduwees gehad. Hulle het die seerkry van die weduwees gehoor en daarmee geïdentifiseer.

 

Waar leer hulle om die behoeftes te hanteer? By Jesus. Dit is wat ons in Handelinge 6 leer.

 

 

 




Wat dryf jou?

 

The opposite of joy is not sadness. It’s hopelessness. —Tim Keller

 

Wat dryf jou?

Elke mens word deur iets gedryf. As jy dissipels van mense wil maak, moet jy uitvind wat hulle dryf. Uiteindelik wil jy hulle lei om deur God se agenda gedryf te word. Die HAT sê onder andere dat dryf  tot ‘n daad/handeling beweeg, beteken. Sommige mense word deur ‘n probleem of ‘n pynlike herinnering of vrees gedryf. Daar is honderde omstandighede, waardes en emosies wat mense se lewens dryf. Jy kan hulle net bereik as jy weet wat hulle dryf.

 

Rick Warren identifiseer vyf kragte wat mense dryf.

  1. Sommige mense word deur skuldgevoelens gedryf

Hulle hele lewe is een van weghardloop of wegkruip. Hulle verlede beheer hulle toekoms. Hulle glo hulle foute van die verlede is groter as God. Toe Kain gesondig het, het sy skuld hom van God se teenwoordigheid geskei. God sê vir hom: Jy sal ‘n doellose swerwer op aarde word! (Genesis 4:12).Beskryf dit nie baie mense vandag nie: doellose swerwers deur die lewe.

 

  1. Sommige mense word deur ‘n wrok gedryf

Hulle hou vas aan hulle seerkry van die verlede. In plaas daarvan dat hulle van hulle pyn deur vergifnis ontslae raak, bly hulle daaraan dink. So ‘n reaksie is ongesond. So ‘n wrok maak jou altyd meer seer as die persoon teen wie jy die wrok het. Hy het waarskynlik lankal die oortreding vergeet en aangegaan met sy lewe, terwyl jy nog die verlede herhaal.

 

  1. Sommige mense word deur vrees gedryf

Hierdie vrese mag die gevolg van ‘n traumatiese ondervinding, of onrealistiese verwagtings of ‘n genetiese neiging wees. Vreesgedrewe mense mis dikwels belangrike geleenthede, want hulle is te bang om te waag. Hulle vermy risiko’s en probeer die status quo behou.

 

  1. Sommige mense word deur materialisme gedryf

Die begeerte om nog meer te kry, word die doel van hulle lewens. Hulle glo dat dit hulle gelukkiger of belangriker sal maak. Besittings gee slegs tydelike geluk. Uiteindelik raak ons verveeld met wat ons het en wil ‘n nuwe, groter, beter weergawe hê.

 

  1. Sommige mense word deur die behoefte aan goedkeuring gedryf

Die goedkeuring van ouers, onderwysers, vriende beheer hulle lewens. Hulle is altyd bekommerd oor wat ander sal dink. Diegene wat die skare volg, gaan verlore in die skare. Een sleutel tot mislukking is om te probeer om almal tevrede te stel. As die menings van ander jou lewe dryf, sal jy sekerlik God se doel vir jou lewe misloop.

 

Daar is ander kragte wat mense se lewens kan dryf. Hulle lei almal na ‘n doodloopstraat: ongebruikte potensiaal, onnodige spanning en ‘n onvervulde lewe. As ons hierdie kragte verstaan, sal ons verder as na die optrede van die mense wat ons so frustreer kyk en kyk na dit wat die ware behoefte in hulle lewens is.

 

Een van die grootste gawes wat jy vir hierdie mense kan gee, is om vir hulle te wys hoe om lewens wat deur God gedryf en beheer word, te leef. Niks is belangriker as om God se doel vir jou lewe te ken nie. Niks kan kompenseer as jy nie sy doel vir jou lewe ken nie – nie sukses, rykdom roem of plesier nie.

 

Sonder ‘n doel is ‘n mense se lewe  sonder betekenis. In die Bybel het verskeie mense hierdie hulpeloosheid beskryf.

Ek het gedink: ek het my tevergeefs vermoei, ek het my heeltemal verniet afgesloof  (Jesaja 49:4)

Ek wil nie meer nie, ek sal tog nie vir altyd lewe nie; laat my staan; my lewe is niks meer werd nie (Job7:16)

Die grootste tragedie in die lewe is nie die dood nie, maar ‘n lewe sonder doel

 




Oorwin trots

 

Don’t fail to do something just because you can’t do everything –  Bob Pierce.

 

Oorwin trots

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Die Skrif en gehoorsaamheid is die brood en botter van geestelike volwassenheid. Baie Christene het groot agting vir die Skrif, maar gebruik dit verkeerd – dit lei tot meer trots as geregtigheid. Dieselfde geld vir gehoorsaamheid. Hoe kan die Skrif en gehoorsaamheid Fariseërs produseer? Dit word bepaal deur hoe ons die Bybel gebruik en hoe ons gehoorsaamheid interpreteer.

 

Die Bybel is veronderstel om ons te leer wie God is, wat Hy wil hê en hoe ek hierteenoor vaar. As ek dit korrek lees en die verandering waarvoor dit vra, maak, lei dit tot geregtigheid en seën. Ons gebruik soms die Bybel vir ander doeleindes:

  • Ons gebruik dit as ‘n verkyker – ons sien ander se tekortkominge in die fynste besonderhede. Dit is makliker as om die aaklige dinge wat ek in die spieël mag sien, te hanteer.
  • Die Bybel as stut/kruk – gebruik dit om ons intellektuele vermoëns en kennis af te wys. Bybelkennis en akkurate teologie is belangrik. Regte denke lei tot regte lewens. Goeie Bybelkennis moet kom met ‘n waarskuwing – hoe meer ons weet, hoe meer is ons geneig om op ander wat minder as ons weet, neer te sien. Daar is natuurlik dwaalleer en dit moet onthul word. Meeste van die punte waaroor ons argumenteer en waarop ons trots is, is nie sake van belang vir ons verlossing nie. Dit mag belangrik wees, maar dit is nie noodsaaklik nie. As ons die Bybel as kruk gebruik, word elke verskil ‘n geleentheid om my meerdere kennis en verstaan af te wys – om ons te skei. Trots en die gebrek aan liefde maak ons kennis nutteloos.
  • Die Bybel as afspringplek vir spekulasie. Nou: Hoe lyk antichris/ watter soort vis het Jona ingesluk/ hoekom het God toegelaat dat Satan Job se lewe deurmekaar krap; ens? Die Bybel antwoord nie hierdie vrae nie. Baie teorieë en spekulasie wat sê hulle het die antwoorde. Om hieroor te dink, is intellktueel stimulerend. Ons word kundige oor alle moontlike dinge wat nie geantwoord kan word nie – selfaangestelde kundiges. Die Bybel laat baie vrae onbeantwoord. Sommige dinge is net buite my bestaansvermoë of is onbelangrik of niks van my besigheid nie. Hoe meer tyd ek hieraan spandeer, hoe meer mis ek wat God regtig vir my wil sê – en hoe trotser word ek.