Trots se onheilige drie-eenheid

 

It’s not about charity. It’s about Justice – Bono

Trots se onheilige drie-eenheid

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Trots het veral drie paaie om in ons lewens te kom. Saam vorm hulle trots se onheilige drie-eenheid.

  1. Stomp=oog siekte

Maklik om te verduidelik; moeilik om te oorwin. Ons natuurlike geneigdheid is om die splinter in ‘n ander se oog te sien en onbewus van die stomp in ons eie oog te wees. Ons sien en onthou die slegste van ander; ons sien en onthou net die beste van onsself. Jesus waarsku hierteen in Matt 7:1 – 5. Ons het ‘n lys van tekortkominge van ander – maar ons ignoreer ons eie.

 

  1. Selfmisleiding

As ek my geestelike telkaart opstel, is meeste van ons skelm – nie doelbewus nie, maar die subtiele oneerlikheid van selfmisleiding. Meeste van ons het ‘n opgeblase mening van onsself – dit is wensdenkery. Sommige ander het weer ‘n kroniese, patologiese haat van hulleself. Vrae: my vermoë om met ander oor die weg te kom; my eerlikheid; my werksetiek; my basiese intelligensie. Meeste mense evalueer hulle as bo gemiddeld. Dit is nie dat ons nie wil erken dat ons in sommige gevalle onder die gemiddelde is nie – ons glo dit nie. Geen wonder ons kyk af op ander nie.

 

  1. Vergelyking

Ons neiging  is om onsself met ander te vergelyk. Dit is nie ‘n slegte ding per se nie – dit is ‘n natuurlike reaksie. Sonder vergelyking kan ons niks verbeter nie, sal ons nie weet watter boek om te koop nie. Die probleem met geestelike vergelykings – ons kan nie harte lees nie Ons ken nie agtergronde nie. Ons weet nie of iemand al lang pad gevorder het nie. Ons weet nie wat God besig is om agter die skerms te doen nie. Ons sou nooit godlasterlike Saulus as die toekomstige Paulus gesien het nie. Jy het nooit al die feite om te vergelyk nie. Daar is net te veel wat ons nie weet om te vergelyk met ander nie. Ons sien nie wat God sien nie. Daarom vra Hy dat ons oordeel aan Hom moet oorlaat

 

 

 




Oorgawe verskil van offers

 

One death is a tragedy; a million is a statistic –  Josef Stalin

 

Oorgawe verskil van offers

As dit kom by gee, volg ons eerder offers en gehoorsaamheid as dit wat God werklik verlang – oorgawe. Oorgawe begin as ons besef dat alles wat ons het nie eintlik ons s’n is nie. Jy kan offers bring en steeds in beheer wees. Oorgawe is ook anders as gehoorsaamheid – jy kan baie van God se opdragte gehoorsaam en nie oorgee nie.

 

Is baie van ons nie so nie: ons is goeie Christene, ons is aktief in die gemeente, ons gee groot bydraes … maar daar is iets wat ons verkies dat God ons nie daaroor vra nie. Solank as ‘n aspek van ons lewe ‘n geslote deur vir God is, het ons nog nie oorgegee nie.

 

Oorgee is ‘n blanko tjek sonder beperkings. Dit beïnvloed ons gehoorsaamheid en offers, maar dit is dieper as beide. Oorgawe is die reaksie van ‘n dankbare hart. Ons onthou dat God alles prysgege het vir ons. Sonder Hom het ons niks nie. Hy het sy lewe vir ons gegee, daarom kan ek met blydskap alles aan Hom oorgee.

 

Oorgawe beteken dat ek na God met oop hande en ‘n oop hart kom. Wat volgende gebeur is tussen my en die Heilige Gees. Hy mag my vra om ‘n sondige verhouding te beëindig; Hy mag my vra om my geld in sy koninkryk te belê …

 

Moenie na ander kyk as God jou vra om volledig aan Hom oor te gee nie. Kom na Hom met oop hande en sê: Here ek gee my volledig aan U oor.

 

 




Julle kry nie omdat julle nie bid nie

 

When we get more pleasure out of receiving than giving, we are kept from the deeper pleasure we were made to enjoy – John Piper

 

Julle kry nie omdat julle nie bid nie

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

Hierdie woorde kom uit Jakobus 4:2. Die werklikheid is nie dat God alleen werk nie; ons is nie poppe in ‘n poppekas en Hy trek al die toutjies nie – ons het geen aandeel aan sy verlossingsplan nie. Dit is ‘n verdraaiing. God gebruik mense om sy soewereine doel te bereik.

 

Ons kan tog nie net sit en wag vir God om alles te doen nie – om sommer die oes uit die hemel te lewer nie. Nee, ons moet die grond voorberei, saai, die land bewerk en die oes insamel. Dit geld ook vir ons gebede. God roep ons om te werk – te ploeg, te plant, te studeer, voor te berei, ens. Ons moet al daardie dinge doen, maar God gee die groei: Ek het geplant, Apollos het natgegooi, maar dit is God wat laat groei het (1 Korintiërs 3:6). Gebed is ‘n plesier, maar dit vereis sekerlik tyd en energie. God weet wat ons nodig het nog voor ons vra, maar Hy vereis die werk.

 

As ons nie die voordele van God ontvang nie, moet ons twee vrae vra:

  • Het ons daarvoor gevra?
  • Het ons die nodige werk gedoen?

Gebed is nie ‘n wonderstaf nie – as ek bid is God verplig om te antwoord. Ons glo dat ons die mag het om God te manipuleer om te doen wat ons verlang. My môre is in God se hande. Ons rig ons versoeke aan Hom en vertrou ons môre aan sy soewereiniteit toe.

 

 

 

 




Die vloek van vergelyking

 

Pray, but when you pray, move to your feet –  Spreekwoord uit Afrika

 

Die vloek van vergelyking

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Om te vergelyk is nie sleg nie, maar wat ons doen met vergelykings is die probleem. Ons plaas mense in rangorde. Ons kategoriseer gou mense as wenners en verloorders – gebaseer op baie min bewyse. Vergelyking is baie sleg as dit by ons geestelike lewens kom.

 

Geestelike vergelykings is dwaas. Ons ken nie altyd die volle verhaal nie – ons sien net die buitekant en nie die hart van die persoon nie. Daarom is baie van ons gevolgtrekkings oor mense verkeerd. Die Fariseërs was indrukwekkend aan die buitekant, maar dood binne.

 

Geestelike vergelykings is dikwels bevooroordeeld. Ons manier is om te vergelyk sodat ons altyd bo uitkom. As ons bo is, is dit moeilik om nie af te kyk na mense wat afsteek by onsnie. Trots is nou gevaarlik. Om neer te sien op ander sien ons as ‘n klein sonde – dit is nie belangrik nie. “Moeilik om nederig te bly as ek soveel beter as ander is.” In Spreuke 6:16 – 19 kry ons ‘n lys van dinge wat God haat. Bo-aan die lys – oë wat straal van hoogmoed. Min mense sou dit bo-aan lys verwag.

 

Hierdie sonde wat God so haat, word gewoonlik gevind in mense wat dink dat hulle God meeste liefhet. Kyk na gelykenis van die Fariseër en die tollenaar. Die Fariseër doen baie goeie goed – baie om op tevrede te wees. Die tollenaar het niks om vir God aan te bied nie; hy is verraaier van sy eie mense. Te skaam om op te kyk, vra hy net vir genade. Volgens Jesus het hy gekry waarvoor hy gevra het. Die Fariseër se gebede is nie verhoor nie. Volgens Jesus maak dit nie saak hoe ywerig jy is nie. Die Fariseër se arrogante vertroue in sy eie geregtigheid en sy manier om op ander neer te sien, maak alles wat hy gedoen het niks werd nie. Hy is slegter af as die tollenaar.

Wie is op jou lys? Trots is dié blinde kol van baie mense. Ons sien onsself nooit as arrogant nie; ons dink nooit ons kyk ontoepaslik neer op ander nie. Ons dink ons sien dinge soos hulle werklik is. Ons dink mense op wie ons neersien, is waarlik onder ons. Het ek nie dalk my eie “dank God ek is nie soos hulle nie” lys nie? Wie is op daardie lys? Hierdie lys is gevaarlik – dit kan al die goeie wat ek doen tot niet maak. Vernietig hierdie lysie, verbrand dit.