As God dan soewerein is, waarom moet ons bid?

To reveal God to men; and to direct men to come to the enjoyment of God. These are the only two great concerns of our nature.“ John Owen

 

As God dan soewerein is, waarom moet ons bid?

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

Ons lees in die Skrif dat God soewerein is en dat Hy oor alles heers. Ons lees ook dat God ons uitnooi om na Hom in gebed te kom en ons petisies aan Hom voor te lê. Hier het ons nou ‘n probleem. As God dan soewerein is en Hy het elke besonderheidjie van ons lewe bepaal – nou en ook die toekoms – hoekom moet ons dan bid? Die Bybel sê: Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is (Romeine 8:28). Beteken dit nie dat ons moet tevrede wees met alles wat Hy bepaal het nie? Is dit nie oortollig om nog te bid ook nie? Dit klink so asof God slaap en ons Hom met ons gebede moet wakkerkmaak?

Calvyn sê: It is not so much for God’s good, as it was for our good. Calvyn sê dat gebede meer voordelig is vir ons as vir God. Kyk na elemente in ons gebede soos aanbidding en belydenis. God is tog nie van ons lof afhanklik nie. Hy kan daarsonder klaarkom, maar ons kan nie. Aanbidding is noodsaaklik vir ons geestelike groei. As ons ‘n intieme verhouding met ons hemelse Vader wil ontwikkel, is dit noodsaaklik dat ons na Hom kom met woorde wat liefde en aanbidding uitdruk.

 

Dit is ook noodsaaklik dat ons ons sondes voor sy troon bely. Hy weet van hulle – selfs meer volledig as wat ons van hulle bewus is. Wat belangrik is, is dat ons vir die beswil van ons geestelike groei moet berou hê oor wat ons gedoen het en dit bely.

 

Wat van intree vir iemand anders? As ek sien iemand kry swaar en ek tree vir Hom by God in – ek pleit by God om in sy genade daardie persoon te help – betwyfel ek nie God se soewereiniteit nie? God weet tog reeds van daardie persoon se probleme. Het gebed dan enige waarde?

 

Ons kan nie gebed los net omdat ons dink dit het geen pragmatiese waarde nie. God self beveel ons om te bid. In die Nuwe Testament word groot klem op gebed geplaas. Jesus Christus is ons model en Hy het gebed beklemtoon. Maar werk gebed?

  • Petrus sodat hy Jesus nooit sou verloën nie: Al moet ek saam met U sterwe, ek sal U beslis nie verloën nie (Matteus26:35). In Lukas lees ons hierdie interessante woorde van Jesus aan Petrus: Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk (22:31 – 32). Jesus waarsku vir Petrus dat daar ‘n tyd van sif kom en dat Satan hom gaan aanval. Jesus was egter seker dat Petrus weer tot inkeer sou kom. Hoe kan Hy so seker wees? Hy het vir Petrus gebid.
  • Jakobus moedig die mense aan om te bid. Hy eindig sy gedeelte oor gebed (5:13 – 18) af net hierdie woorde: Die gebed van ‘n gelowige het ‘n kragtige uitwerking. Net hierna praat hy van Elia. Hy beklemtoon dat Elia ‘n mens net soos ons was. Sy gebede was egter kragtig: Hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en in die land het dit drie jaar en ses maande nie gereën nie. Toe het hy weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy oes gelewer.

Gebed bereik dinge; God in sy soewereiniteit reageer op ons gebede.

 




‘n Oorywerige geloof (2)

 

We have drifted away from being fishers of men to being keepers of the aquarium – Paul Harvey

 

‘n Oorywerige geloof (2)

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

Jesus speel die Fariseër kaart onder andere in sy bergrede. Om te wys dat dit onmoontlik is om toegang tot die hemel te verdien, verwys Hy na ‘n aantal bekende morele standaarde in die wet van Moses – by elkeen voeg Hy ‘n hoër standaard by – onmoontlik om te bereik.

 

Hy gebruik die formule: Julle het gehoor … maar Ek sê vir julle. Hy gebruik ses gebooie wat hulle gedink het hulle kan nakom en vervang dit met ‘n standaard wat hulle nie sou bykom nie. Jesus sê dat ons dade nooit regverdig genoeg is om ons in die hemel te kry nie. Hy volg dit op met twee onmoontlike stellings

  1. As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, sal julle nooit in die koninkryk van die hemel ingaan nie (Matteus 5:20)
  2. Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is (Matteus 5:48).

 

Hierdie stellings het sy hoorders ontstel. Hulle kon tog nie so volmaak soos hulle Vader wees nie. Hulle sou die Fariseërs moes verbygaan – die regverdigste van alle mense! Onmoontlik. Jesus wou hê dat hulle moes besef dat op hulle eie hulle dit nie sou regkry nie. Hy sou dit vir hulle moes doen.

Paulus speel ook die Fariseër kaart. Hy gaan terug na sy verlede en wys vir die mense dat hy op ‘n stadium ‘n Fariseër was. Dan sê hy dat al die voordele van ‘n Fariseër wees, is waardeloos in vergelyking met om in Christus te wees. Dit sou sy lesers geskok het. Die Fariseërs se toewyding was buitengewoon en Paulus sê dis niks werd nie.

Hoekom is dit so belangrik? Die Fariseërs was geestelik indrukwekkend. Daarom is ons dikwels blind vir die gevaar om soos hulle te wees. Ons glo dat transformasie van passievolle verdedigers van God na vyande van God nie met ons kan gebeur nie. Ons kan tog welsprekend praat van God en die Skrif; Hom loof en verdedig. As Hy verskyn in maniere wat ons nie verwag en waarmee ons nie saamstem nie of wat ons ongemaklik maak, kan ons teen Hom veg. Dit is dikwels baie kort reis van ywerig vir God te wees na onbewustelik teen Hom te wees.

 

Is dit die einde van die pad? Nee. Vir sommige was dit net ‘n tydelike ompad. Hulle oë gaan oop. Dink aan Nikodemus en Saulus. Mense kan tot hulle sinne kom, en terugkeer na Jesus Christus.

 

 




Laat ons nie in versoeking kom nie

The ship belongs in the water of the world, but if the water gets in the ship, it sinks.” D. L. Moody

 

Laat ons nie in versoeking kom nie

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

Jesus het sy dissipels geleer hoe om hulle sondes van die verlede te hanteer. Nou wend Hy Hom na die toekoms. Hy hanteer nou hulle kwesbaarheid teenoor sonde. Ons moet ons Vader vra om ons teen versoekings en geestelike aanvalle te beskerm wat tot nuwe sondes mag lei. Jakobus maak dit baie duidelik:  God kan nie verlei word nie, en self verlei Hy niemand nie. Maar ‘n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep (1:14 – 15).

 

Soms voel God dat dit goed is dat sy kinders getoets word. ‘n Goeie voorbeeld is Abraham was sy eie seun moes offer. Abraham klou egter vas aan God se belofte dat hy ‘n seun sou hê en God gee aan hom ‘n plaasvervanger om te offer.

 

Jesus voeg nog iets by by hierdie petisie: Maar verlos ons van die Bose. Hierdie gedeelte maak die eerste gedeelte van hierdie petisie duideliker. Die Bose is maar net ‘n ander naam vir die Satan. Jesus sê ons moenie net bid om van versoekings verlos te word nie, maar ook van die listige streke van die Satan. Ons moet bid dat ons teen die aanslae van die Satan beskerm sal word. Satan speel ‘n baie prominente rol in die verleiding van Adam en Eva, maar ook van Job. Natuurlik het die Satan ook vir Jesus self versoek. Jesus praat dus hier uit ondervinding.

 

 




Vergeef ons ons oortredings

No men can be lords of our faith, though they may be “helpers of our joy.” John Owen

 

Vergeef ons ons oortredings

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

Belydenis van ons sondes behoort ‘n integrale deel van ons gebede te wees. Geen wonder Jesus leer ons om die Vader se vergifnis te soek nie. As ons sondig, plaas ons onsself in die skuld by God. Hier vra ons dat God ons skuld moet vergewe. Jesus het ons skuld aan die kruis betaal. In sy genade en barmhartigheid laat God toe dat Jesus ons skuld betaal. Ons skuld was so groot dat ons dit onmoontlik self kon betaal het.

 

In die Nuwe Testament word sonde met verskillende woorde beskryf. Kom ons kyk na ‘n paar hiervan:

  • ‘n Oortreding van die wet – ‘n misdaad. In die Bybel lees ons dikwels dat God die regter is. Ons weet Hy is ‘n regverdige Regter. Hy moet dus oortredings van die wet straf. Die bevinding sal sekerlik wees dat ons skuldig is, behalwe as iemand anders die straf wat ons verdien, betaal het.
  • In ons harte haat ons vir God. Ons moet met Hom versoen word – in vrede met Hom leef. Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is deur die lewe van sy Seun gered sal word (Romeine 5:10). Let wel: ons was vyande van God Hoekom? God is heilig en ons nie. Mense wat nie heilig is nie, waardeer nie ‘n standaard wat hulle tekortkominge blootlê nie. God se heiligheid en ons sondigheid skep ‘n kloof wat ons nie kan oorbrug nie. Daarmee saam sien en weet God alles. Ons kan nie van Hom wegkruip nie. Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontkom? Klim ek op na die hemel, is U daar; gaan ek lê in die doderyk, is U ook daar (Psalm 139:7 – 8). God is ook almagtig en onveranderlik. God is ‘n formidabele teenstander. As ons vyandig teen Hom is of van Hom vervreemd is, is ons deel van ‘n geveg wat ons onmoontlik nie kan wen nie.

Hierdie geveg kan net gewen word as ons onvoorwaardelik aan Hom oorgee. Dit is wat ek doen as ek Hom vra om my oortredings te vergewe. Maar Jesus heg ‘n voorwaarde aan hierdie petisie: soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree. As hierdie voorwaarde letterlik moet geld, het ons groot probleme. Ons kan net nie vergewe soos God vergewe nie. Wat Jesus hier sê, is dat dit is waarna ons moet strewe. Omdat ons van baie vergewe is, moet ons ander ook baie vergewe

 

Hierdie petisie herinner ons aan die diepte van ons sondigheid, dat ons daagliks vir vergifnis moet vra, want ons het dit daagliks nodig. Ons het almal dringend vergifnis nodig en ons hoef net daarvoor te vra.