Gee ons vandag ons daaglikse brood

 

His Kingdom cannot fail–He rules o’er earth and heaven

The keys of death and hell are to our Jesus given.”

Charles. Wesley

 

Gee ons vandag ons daaglikse brood

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

Die eerste element van gebed behoort aanbidding of lofprysing te wees – lees net die psalms. Natuurlik moet gebed ook belydenis van sonde insluit – as ons in God se teenwoordigheid kom, sien ons hoe ver ons tekortskiet. Danksegging – ons onthou God se genade en barmhartigheid – is nog ‘n belangrike element van gebed. Laastens moet gebed ook ons versoeke vir die behoeftes van ander en onsself insluit. Ongelukkig is dit gewoonlik waar ons begin – versoeke.

 

Hierdie versoek vir daaglikse brood beklemtoon ons daaglikse behoefte aan kos, maar ook dat dit God is wat dit voorsien. Hier wys Jesus vir ons hoe ons vir ons daaglikse behoeftes moet bid. Hier is ‘n paar belangrike lesse vir ons,

  • Jesus bid nie dat God ons brood aan ons moet verkoop nie; ook nie dat Hy dit vir dienste van ons kant sal ruil nie. Nee, ons vra: Gee ons … Ons gaan na Hom as bedelaars. Die Bybel sê dat ons op Hom kan vertrou, want Hy reageer op sulke versoeke: Elke goeie gawe en elke goeie geskenk kom van Bo. Dit kom van die Vader (Jakobus 1:17). God is bekommerd oor ons alledaagse behoeftes soos eet en drink. Jesus het nie gesê dat ons vir brood moet vra sodat ons laat kan slaap nie. As iemand nie vir sy eie mense en veral nie vir sy huisgesin sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy slegter as ‘n ongelowige (1 Timoteus 5:8). Ons moet dus vertrou dat God sal voorsien, maar ons moet ook alles in ons vermoë doen om te voorsien.
  • Jesus sê ons moet vir ons daaglikse brood vra – nie ‘n week of ‘n maand se voorraad nie. Hoekom belemtoon Jesus dat ons daagliks moet vra? Hy wil ons leer om ons afhanklikheid van sy voorsiening elke dag te erken. Hy is gewillig om in ons daaglikse behoetes wat ons voor Hom bring, te voorsien. Ons is voortdurend van God afhanklik om te voorsien.
  • Jesus bedoel nie dat ons net vir brood moet bid nie. Brood was ‘n stapelvoedsel vir die Jode. In die Ou Testament is dit ‘n kragtige simbool van God se voorsiening Dink maar net aan die manna wat Hy voorsien het in die woestyn. Ook is ons kultuur is brood ‘n simbool van voorsiening – ons praat van ‘n broodwenner. Ons kom na God in nederige afhanklikheid – ons kan ons behoeftes aan Hom bekend maak.

Jesus het gesê dat ons God met ons behoeftes moet nader. Hy sal voorsien.

 




‘n Oorywerige geloof (1)

 

Resolved: that every man should live to the glory of God. Resolved second: that whether others do this or not I will. —Martin Luther

 

‘n Oorywerige geloof (1)

Larry Osborne het ‘n baie interessante boek, Accidental Pharisees, geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs daaraan spandeer.

 

‘n Passievolle geloof mag ‘n donker kant hê. Vra vir Jesus. Toe Hy as mens op aarde opgedaag het, wou diegene wat hulleself as God se grootste bewonderaars beskou het, niks met Hom te doen gehad nie. Hulle wou Hom stilmaak. Toe hulle nie daarin slaag nie, maak hulle Hom dood – duidelik passie wat skeefgeloop het. Die Fariseërs is nie die enigste voorbeeld nie – dink maar aan die Kruisvaarders en die Inkwisisie.

 

Toevallige Fariseërs is mense wat ten spyte van die beste bedoelings en ’n begeerte om God te eer, onwetend ‘n oorywerige model volg wat die werk van die Here saboteer. Geestelike ywer is nie ‘n slegte ding nie: Moenie in julle toewyding verslap nie, bly altyd geesdriftig, dien die Here (Romeine 12:11). Maar hier het ons te doen met ywer vir die Here wat nie in lyn met die Skrif is nie.

 

Meeste mense dink dit is iemand anders se probleem. Ons sien dit nie in onsself nie. Hoekom nie? Omdat ons dit nie sleg bedoel nie. Dit is die gevolg van blinde kolle. Dit maak nie saak of oorywerigheid die gevolg is van ‘n keuse of per ongeluk nie – dit maak alles deurmekaar, dit maak almal seer, dit is ‘n verleentheid vir die Koning. Ons is veronderstel om stryery te vermy en in liefde mense wat ons teenstaan te onderrig. Om die geloof te verdedig, is ‘n goeie ding, maar dan moet ons dit doen met liefde en goedheid.

 

Niemand begeer om ‘n Fariser te wees; niemand kyk ooit in die spieël en sien ‘n Fariseër nie. Die woord beskryf altyd iemand anders. Maar Fariseërs is mense soos ons – hulle het God en die Skrif lief en probeer daarvolgens lewe. Niemand beplan om ’n Fariseër te wees nie – jy eindig net daar.

 

Die reis begin gewoonlik onskuldig. Sendinguitreik, ondervinding in ‘n kleingroep, ‘n nuwe Bybel onderwyser – open jou oë vir dinge wat jy nog nie vantevore gesien het nie. Jy begin in geloof; jy maak groot veranderinge; jy maak gebiede van sonde en kompromieë in jou lewe skoon; jy voeg nuwe geestelike dissiplines by. Jy sien gou dat sekere mense agterraak. Nou kan jou persoonlike najaag van heiligheid gevaarlik word. Jy word gefrustreerd met diegene wat nie jou passie vir die najaag van heiligheid deel nie. Dit is nou ‘n kritiese punt. As jy toelaat dat jou frustrasie lei tot afkeer en minagting vir mense wat jy agtergelaat het, is jy op ‘n gevaarlike ompad. Jy eindig met arrogansie. Minder en minder mense voldoen aan jou definisie van ‘n dissipel. Om reg te wees, is nou belangriker as om vriendelik en liefdevol te wees. Uniformiteit is belangriker as eenheid. Jy is nou op ‘n plek waar jy nie wil wees nie.

 

Vandag, as ons woord Fariseër hoor, dink ons aan valsheid, engheid, opgepofde geestelike verloorders. In Jesus se dae was dit ‘n eer om so genoem te word. Fariseërs was ywerig vir God, volledig toegewy aan hulle geloof, meesters van die Bybelse tekste; gehoorsaam aan selfs die mees obskure opdragte. Maak selfs ekstra reëls vir ingeval hulle iets mis. Hulle het die geestelike dissiplines ywerig beoefen. Soms bietjie hard en arrogant – meeste van hulle tydgenote aanvaar dit. Hulle betaal ‘n prys wat niemand anders bereid was om te betaal nie. As jy na die hoogste mate van toewyding wil verwys, speel jy die Fariseër kaart.

 

Jesus en Paulus het hierdie kaart gespeel. Daarna kyk ons volgende keer.

 




Laat u wil geskied

 

High-soaring, sun-soaked, fruit-laden branches are owing to deep-reaching, rock-splitting, truth-fed roots. – John Piper

 

Laat u wil geskied

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

Sekerlik die algemeenste vraag wat Christene vra, is: Hoe weet ek wat die wil van God is? Laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Hierdie petisie vloei voort uit die vorige twee. Maar hoe moet ons die wil van God verstaan? Daar is drie maniere waarop die meestal verstaan word:

  • Die soewereine wil van God. Dit beteken wat God beveel, gebeur. Toe Hy sê dat daar lig moes wees by die skepping was daar lig. Toe Christus vir Lasarus beveel om uit die graf te kom, gebeur dit onmiddellik.
  • Die voorskriftelike wil van God. Dit het met sy wet en opdragte – sy voorskrifte – te doen. God het hulle gegee om die gedrag van sy sy skepping te reguleer. Dit is God se wil dat jy nie moet moord pleeg nie. Ons kan hierdie wil oortree – en doen dit ook elke dag.
  • Die wil van God ten opsigte van sy basiese gesindheid – wat Hom tevrede stel en wat Hom ongelukkig maak.

Wat presies het Jesus bedoel toe Hy gesê het: Laat u wil geskied? Dit kan ‘n pleidooi wees dat sy soewereine wil geskied. Ons weet dat dit uiteindelik sal gebeur, maar intussen moet ons gereeld hieraan herinner word. Ons het ‘n vrye wil, maar dit is altyd ondergeskik aan God se soewereine wil.

 

Jesus kwalifiseer hierdie petisie. Hy sê nie net laat u wil geskied nie, maar voeg by: op aarde net soos in die henel. Dit wys vir ons dat daar ‘n verskil is tussen die uitvoering van God se wil op aarde en in die hemel. Ons weet dat die soewereine wil van God altyd uitgevoer word. Waarskynlik verwys Jesus hier na God se voorskriftelike wil. Hierdie wil word altyd in die hemel uitgevoer, want daar is geen sonde nie. In die hemel word God voortdurend verheerlik en die gelowiges vind vreugde in Hom.

 

Jesus bevestig met hierdie petisie dat die wil van God in die hemel gedoen word, maar Hy bevestig ook dat dit nie op aarde gedoen word nie. Mense op aarde streef nie daarna om God te verheerlik nie; mense op aarde soek nie die koninkryk van God nie. Laat u wil geskied is ‘n uitdrukking van geloof en onderdanigheid – ons onderwerp ons aan God.

 




Stel doelwitte

 

We are saved as a gift of God’s grace so that we might be sent as a gift of God’s grace. —Kevin Dibbley

 

Stel doelwitte

Doelwitte is uniek en moet ons unieke persoonlikheid en passie weerspieël. Elkeen het sy eie manier om sy doelwitte te bepaal. Mark Batterson (The Circle Maker) beskryf tien stappe om ons te help om ons doelwitte te stel.

 

  1. Begin met gebed.

Wat van groot waarde is, is om jou vir ‘n dag of twee te onttrek. Dit gee aan jou die geleentheid om te droom, te bid en te dink. As jy jou doelwitte in die konteks van gebed stel, is dit waarskynliker dat hulle God sal verheerlik.

 

  1. Stel jou motiewe vas

Kyk lank en hard in die spieël. Maak seker jy stel jou doelwitte vir die regte rede. ‘n Algemene doelwit in baie gemeentes is byvoorbeeld om hierdie jaar soveel rand in te vorder. ‘n Beter doel sou wees dat ons as gemeente hierdie jaar soveel rand gaan weggee.

 

  1. Dink in kategorieë

Moenie iemand anders se doelwitte net so oorskrywe nie. Jy kan hulle wel gebruik om idees te kry. Om jou te help kan jy jou doelwitte in kategorieë verdeel (voorbeelde:gesin. Fisies, familie, ondervindings, ens). Alle doelwitte moet ‘n geestelike dimensie hê.

 

  1. Wees spesifiek

As ‘n doelwit nie meetbaar is nie, sal ons nooit weet of ons dit bereik het nie. Dit is nie altyd maklik nie. Dit is beter om te hoog te mik en die doelwit nie te bereik nie, as om te laag te mik en dit maklik te bereik.

 

  1. Skryf dit neer.

The shortest pencil is longer than the longest memory. As jy nie jou doelwitte neergeskryf nie, het jy hulle nie werklik gestel nie. As jy ‘n doelwit neerskryf, hou dit jou aanspreeklik.

 

  1. Sluit ander in

Niks versterk ‘n verhouding soos gedeelde doelwitte nie – hulle is die gom van verhoudings. A jy ‘n doelwit met iemand anders deel, vermeerder dit jou vreugde. Baie hiervan het natuurlik met jou familie te doen.

 

  1. Vier fees langs die pad

As jy ‘n doelwit bereik het, vier dit.

 

  1. Droom groot

Jou lys sluit groot en klein doelwitte in. Sommige is korttermyn en ander is langtermyn. Maar daar moet ‘n paat baie groot doelwitte wees. Groot doelwitte maak van ons groot mense.

 

  1. Dink lank

As ons groot wil dink, moet ons langtermyn dink. As jy wil droom totdat jy die dag doodgaan, moet jy doelwitte stel wat ‘n leeftyd neem om te bereik. Dit is nooit te laat om te begin nie.

 

  1. Bid hard

Die stel van doelwitte begin en eindig met gebed. Doelwitte wat deur God bevestig word, word in gebed gebore en gebed is wat hulle tot by vervulling bring. Gebed help ons om geleenthede wat God vir ons skep, raak te sien