Laat u koninkryk kom

 

Isolation + feeding on vanity = soul-starving loneliness. Isolation + communion with God = soul-feeding solitude. – John Piper

 

Laat u koninkryk kom

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

Ons sien God se Naam as heilig. Dit plaas ons in ‘n posisie van aanbidding – ons sien God as die Een wat algeheel heilig is. Dit bring ons op ons knieë voor Hom. Ons buig voor God soos ‘n onderdaan voor sy aardse koning buig. Daarom: Laat u koninkryk kom. Die eerste petisie vloei oor in die tweede een.

 

Jesus begin sy bediening met die aankondiging dat die koninkryk van God naby gekom het. Dit beteken dat in die verhaal van verlossing wat deur die Bybel ontplooi word iets nuuts gaan gebeur.  Maar die koninkryk van God was nog altyd daar. God moes nie wag tot die tyd van die Nuwe Testament om as soewereine Heerser gekroon te word nie – Hy was van die begin af Koning oor die heelal. By Sinai gee God aan Israel sy wet. Daarin sê Hy onder andere: Ek is die Here jou God … Jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eksodus 20:2 – 3).

 

In Israel se geskiedenis breek daar ‘n tyd aan waar hulle God as hulle koning verwerp – hulle wil soos die ander nasies ook ‘n koning hier op aarde hê. Dit gebeur nadat God verklaar het dat Hy Israel se koning is. Toe Samuel by God hieroor kla, sê God vir hom: Hulle het jou nie verwerp nie; hulle het My verwerp as koning oor hulle (1 Samuel 8:7). Samuel waarsku hulle teen ‘n aardse koning wat net vat. God is egter ‘n koning wat net gee en gee.

 

Hierdie gevoel teen die heerskappy van God is so diep in die mens se hart ingewortel dat die mense Jesus voor die Romeinse gesag gebring het. Die aanklag was dat Jesus Homself Koning gemaak het. Net soos God deur die antieke Israeliete as koning verwerp is, net so is Jesus verwerp. In Johannes 18 kry ons ‘n interessante gesprek tussen Jesus en Pontius Pilatus. Pilatus wil weet of Jesus die koning van die Jode is. Jesus antwoord hom: My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie … As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie. Pilatus vra weer of Jesus ‘n koning is waarop Jesus antwoord: Ek is ‘n koning … Hiervoor is Ek gebore en hiervoor het Ek na die wêreld toe gekom. Jesus getuig hier van die heerskappy van die ware Koning. As Hy sy volgelinge oproep om te bid laat u koninkryk kom, maak Hy hulle deelnemers aan sy sending: om die koninkryk van God oor die hele wêreld te versprei.

 

Wat is die koninkryk van God: Die maklike antwoord is dat dit die gebeid is waaroor God regeer. Omdat ons weet dat God die Skepper van die heelal is, moet die hele wêreld sy ryk wees. Die koninkryk van God is waar Hy regeer en Hy regeer orals. Daarom is die koninkryk van God orals.

 

In die Nuwe Testament kom Johannes die Doper in die woestyn met ‘n ernstige aankondiging: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemel het naby gekom (Matteus 3:2). Jesus kom met dieselfde aankondiging. As die koninkryk van God dan die heelal is, hoekom sal iemand dan sê die koninkryk het naby gekom? Johannes die Doper en Jesus sien iets meer in hierdie konsep van die koninkryk van God.

 

Hulle verwys na die koninkryk waar God se Messias sal heers. Hy is nie net die mense se Verlosser nie, maar ook hulle Koning. Net voor Jesus se hemelvaart vra sy dissipels nog vir oulaas ‘n vraag: Here, is dit nou die tyd dat U die koninkryk van Israel weer gaan oprig? (Handelinge 1:6). Jesus antwoord hulle: Dit is nie vir julle om die tyd en omstandighede te weet wat die Vader in sy eie krag bepaal het nie. Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en in Samaria en tot in die uithoeke van die wêreld.

 

Die koninkryk het naby gekom, want die Koning van die koninkryk was by hulle. Met sy koms na die wêreld vestig Jesus God se koninkryk op aarde. Hy het dit nie voltooi nie, maar Hy het dit begin. Jesus se koninkryk is nie iets van die toekoms nie. Christus is op hierdie oomblik Koning: Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde (Matteus 28:18). Daarom sê Paulus: Maar ons is burgers van die hemel (Filippense 3:20).

 

Laat u koninkryk kom? Waarvoor bid ons as ons dit sê? Daar is ‘n logika in die petisies in hierdie gebed. Ons begin deur te pleit dat God se Naam geheilig sal word. As dit nie gebeur nie, sal sy koninkryk nie kom nie. Maar ons wat glo dat God se Naam heilig is, het die verantwoordelikheid om te verseker dat sy koninkryk sigbaar kom. Ons doen dit deur so te leef dat dit van die werklikheid van God se koninkryk getuig.

 




Van kopkennis na hartstoepassing

 

He who would learn to serve must first leard to think little of himself – Dietrich Bonhoeffer

 

Van kopkennis na hartstoepassing

Vertrou volkome op die Here en moenie op jou eie insigte staat maak nie (Spreuke 3:5). Hoe kom ek hiervandaan na die persoonlike bevestiging van die psalmis in Psalm 56:4 – 5 beweeg: Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U. In God, wie se woord ek prys, in God stel ek my vertroue, ek is nie bang nie. Met ander woorde, hoe kom ek van kopkennis na hartstoepassing? Hier is ‘n paar moontlikhede.

  1. Jy moet realistiese verwagtings van beide lyding en diens hê

God se beloftes skakel nie pyn, vrees en hartseer uit nie. Natuurlik gee die evangelie vir ons rus in hierdie wêreld, maar daar is ook geen twyfel dat lyding deel van God se plan is nie. Ons verheug ons ook in die swaarkry, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop (Romeine 5:3 – 5). Ons probeer dikwels God se beloftes soos ‘n towerstaf gebruik wat elke pyn kan wegneem. Paulus maak dit egter duidelik dat God se beloftes ons nie van pyn beskerm nie. Ja, die evangelie kleur ons pyn met hoop wat dit meer draaglik maak.

 

  1. Bid en lees jou Bybel daagliks en woon die weeklikse byweenkomste by

Hoe minder ons God se woord lees, hoe minder lyk dit vir ons of dit op ons van toepassing is. As ons ons aptyt vir die dinge van God verloor, moet dit ons nie verbaas as ons nie God se teenwoordigheid in ons lewens aanvoel nie. ‘n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom (Matteus 4:4).

 

  1. Kry ‘n Skrifgedeelte en memoriseer dit

Memorisering van die Skrif is belangrik. Ons het daarvan vergeet in die tyd van soekenjins op ons rekenaars. Memoriseer ‘n gedeelte; dink daaroor na; kry alles wat jy moontlik kan daaruit; kry ‘n ander gedeelte en doen dieselfde.  Die vermoë om onmiddellik een van God se waarhede toe te pas, help ons om ons emosies in die vorm van die kruis en nie in die vorm van die wêreld te buig nie.

 

  1. Kry ‘n Christelike lied wat aanklank vind terwyl dit God se waarheid kommunikeer

Musiek is kragtig en help ons om ons emosies tereguleer. As ons liedere kan sing wat die waarhede van die Skrif kan versterk, kan ons moeilike tye beter hanteer. Dit is nie toevallig dat die grootste boek in die Bybel – die psalms – ‘n boek van liedere is nie.

 

  1. Kry ‘n plek om in te skakel en te dien

Ons moet ‘n hoër prioriteit aan ander as aan onsself gee Dit help ons om uit die dryfsand van selfbejammering te kom, want ons besef dat ons nie alleen in ons swaarkry is nie. As ons ander probeer oplig deur God se beloftes op hulle lewens toe te pas, kry ons ook krag

 

Om God se beloftes van genade op ons seer harte gevul met vrees toe te pas, is waar dinge ‘n werklikheid vir baie Christene word. Hierdie vyf voorstelle gaan jou nie oornag verander nie, maar dit sal jou help om die veiligheid van God se beloftes en die deernis van sy versorging te voel.

 

 




Laat u Naam geheilig word

My good name I can leave to the Father. My brother’s good name has been entrusted to me. — Andrew Murray

 

Laat u Naam geheilig word

Ek gaan ‘n hele aantal blogs gebruik om weer na die Ons Vader-gebed te kyk. Ek gaan onder andere van R. C. Sproul se boek The Prayer of the Lord gebruik maak.

 

God sluit in sy tien gebooie die volgende in: Jy mag die Naam van die Here jou God nie misbruik nie (Eksodus 20:7). God plaas ‘n hoë premium daarop dat dit belangrik is dat sy kinders sy Naam as heilig beskou en dat dit so hanteer moet word. Ons sien presies dieselfde in die Ons Vader gebed. Die dissipels het vir Jesus gevra hoe hulle moet bid en Hy sê: So moet julle bid.

 

Laat u Naam geheilig word. Ons lees hierdie woorde asof hulle ‘n bevestiging van ‘n erkende waarheid is. Hierdie is egter ‘n petisie – ‘n versoek. Onthou wat Jesus hier doen, is om die prioriteite waarvoor ons in ons gebede moet vra, vas te lê. En die heel eerste ding wat Hy noem, is dat God se Naam heilig gehou sou word.

 

Wat beteken dit as ons sê dat God heilig is? Hy is anders as alles wat ons nog ooit ondervind het; God die Skepper is anders as sy skepsels – Hy is nie geskep nie en Hy is ewig. Sy wese is van so ‘n aard dat dit almal se aanbidding waardig is. Hy leer ons hier om te vra dat God se Naam as heilig beskou moet word – dat dit met eerbied hanteer moet word.

 

Min van ons sou hierdie as ons eerste prioriteit gepaas het. Dit is vir ons vreemd om soveel klem op die regte hantering van ‘n naam te plaas. Tog voel ons seergemaak as mense ons name vergeet of verkeerd uitspreek. Ons voel mense dink nie baie van ons nie – hulle neem ons nie ernstig op nie. Hierdie eerste drie petisies hou verband met mekaar. Dit help nie om te bid dat God se koninkryk moet kom as sy Naam nie geheilig word nie – God se koninkryk kom nie vir mense wat geen respek vir Hom het nie.

 

Deur hierdie petisie eerste te plaas sê Jesus dat God se Naam die fondament van alles is – hoe ons voor Hom leef, word deur ons gesindheid teenoor Hom en ons siening van wie Hy is, bepaal. Geen aanbidding vir of gehoorsaamheid aan Hom kan vloei uit ‘n hart wat nie respek vir die Naam van God het nie. Jesus sê dat ons nie agting het vir sy Naam nie, wys dit dat ons geen agting vir Hom het nie. Voordat God se koninkryk kan kom en voordat sy wil gedoen kan word, moet ons eers agting vir God se Naam hê.

 

 




Die grootste gevaar van die Christelike geloof

 

The most important daily habit we can possess is to remind ourselves of the Gospel. —C.H. Spurgeon

 

Die grootste gevaar van die Christelike geloof

Die grootste gevaar van die Christelike geloof is nie ateïsme of Islam of ‘n ander godsdiens of onsedelikheid nie. Nee, dit is selfvoldaanheid. Selfvoldaanheid beteken dat ons met die status quo tevrede is – tevrede met hoe dinge is in jou eie persoonlike geestelike lewe en in die kerk.

 

Die Christelike geloof behoort gedurig in ‘n toestand van uitdaging en verandering te wees. Die kerk moet altyd nader aan God se toekomstige koninkryk beweeg. Te veel Christene is heeltemal tevrede om op een plek te bly. Hulle vrees verandering veral as dit beteken dat hulle buite hulle gemaksone moet beweeg.

 

God is dinamies. Hy soek altyd nuwe maniere om sy kerk uit te daag. Natuurlik is tradisie nie net sleg nie. Wat sleg is, is die behoud van die status quo omdat dit gemaklik is. ‘n Gemeente wat te bang is om te verander, is reeds dood. Passie vir die koninkryk van God is ‘n teken van egtheid. Passie vir die koninkryk van God gaan gepaard met kwesbaarheid, aanspreeklikheid en beskikbaarheid. Dit is alles dinge wat ons ongemaklik maak. Dit is egter noodsaaklik vir groei.