Ons het ‘n koning nodig

 

“A Christian separated from the communion of the saints would not be a Christian at all.”–Karl Barth

 

Ons het ‘n koning nodig

Almal wil ‘n koning wees – by die werkplek of ons huis of waar ook al. Konings staan bo ander mense. Hulle word geloof en geëer deur diegene om hulle. Adan en Eva is deur God aangestel as heersers oor sy koninkryk. Hulle was volkome in beheer van hulle gebied. Hulle was aan niemand verantwoordelik nie – amper niemand nie. Daar was steeds ’n Koning op sy troon. Ten spyte van al hulle voorregte was daar tog ‘n beperking op hulle – die boom van die kennis van goed en kwaad. Hy was ‘n goeie, liefdevolle Koning. Hulle eet van die vrugte en verloor alles wat hulle gehad het.

 

  1. Die koning wat die mense wou gehad het

In 1 Samuel 8 lees ons dat Israel, soos die nasies om hulle, ook ‘n koning wou gehad het. Ten spyte van God se waarskuwings was hulle vasbeslote – hulle wou ‘n koning hê. God gee hulle hulle begeerte – Saul word koning. Saul en sy opvolgers as konings het misluk. Selfs Dawid, die man na God se hart, het misluk. Die mense wou ‘n koning in plaas van die Koning gehad het, en hulle het die prys daarvoor betaal.

 

Loof God, want ons Koning, Jesus Christus, stap in die geskiedenis van die mens in. Die menswording is ‘n bewys dat God nie van sy mense wat swaargekry het, vergeet het nie.

 

  1. Die Koning wat mense nodig gehad het

Ons soek ‘n koning. Ons kyk na onvolmaakte mense om ons volmaak te lei. Dit sal nooit werk nie. Soos Israel kyk ons nooit na die Koning wat ons reeds het nie. Hy is regverdig, liefdevol en genadig; Hy kan nie omgekoop word nie; Hy doen nie alleen goed nie – Hy is goed.

 

Ons is voortdurend in opstand teen Hom, maar Hy het ons steeds lief. Hy verwelkom ons steeds aan sy tafel. Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word (Hebreërs 4:16).

 

Soos die sterrekykers uit die ooste gesê het, moet ons ook sê: Waar is Hy wat as koning van die Jode gebore is? Ons het sy ster sien opkom en ons het gekom om aan Hom hulde te bewys (Matteus 2:2). Hy was Koning, maar het vir sy mense die slagveld betree. Sy dood beteken dat die dood dood is; sy oorwinning is ons oorwinning; sy koninkryk is ons koninkryk.

 

Hy is die Koning wat ons nodig het. Hy is die antwoord op elke vraag van ons; Hy is die Koning na wie ons verlang het; Hy is die Koning wat ons reeds het.

 

 

 




Bemoediging

 

God is never satisfied with anything less than the devotion of ou whole life for the whole duration of our lives –  Sinclair Ferguson

 

Bemoediging

Barnabas het hom egter oor Saulus ontferm en hom na die apostels toe gebring. Hy het hulle vertel hoe Saulus op die pad die Here gesien het en dat die Here met hom gepraat het, en hoe hy in Damaskus openlik in die Naam van Jesus gepreek het (Handelinge 9:27).

 

Een van die belangrikste funksies van ‘n leier is om die hoop lewend te hou. As ander vasgevang is in wanhoop, sal doeltreffende leiers die duisternis verdryf met positiewe vooruitskouings oor die toekoms. Hulle sal diegene om hulle optimisties maak oor hulleself, oor ander en oor die toekoms van die organisasie. Hulle weet wanneer om langs iemand te kom staan. Hulle weet wanneer ‘n spanlid tereggewys moet word en wanneer hy ‘n skouer om op te huil nodig het.

 

Geen ander Nuwe Testamentiese persoon illustreer die vermoë om te bemoedig beter as Barnabas nie. Sy naam beteken “Seun van bemoediging.” Die dissipels in Jerusalem was bang vir  Saulus As gevolg van sy reputasie van ywer en wreedheid, bevraagteken hulle die geldigheid van sy belydenis van geloof in Jesus. As toegewyde Fariseër het Saulus Christene vervolg.

 

As gevolg van hierdie suspisie lyk dit asof Saulus se bediening sal doodloop nog voordat dit begin het. Dit mag gebeur het as Barnabas nie na vore getree het nie. Hy staan langs Saulus en lei hom na die apostels. Daar getuig hy van Saulus se bekering en bediening daarna. Hy moedig die apostels aan om Saulus se bediening te seën. Hulle reageer gunstig. Barnabas ondersteun Saulus – net wat hy nodig gehad het om sy bediening in alle erns voort te sit.

 

Doeltreffende leiers soos Barnabas bring hoop deur ondersteunende woorde. Wat sou gebeur het as Barnabas net stilgebly het oor Saulus? Sy woorde getuig van liefde en moed.

 

In die lewe kry ons soms slae. Dan het ons gerusstelling van God en ander mense nodig sodat ons die goeie stryd kan stry.

En mag julle in al die goeie wat julle in woord en daad doen, bemoedig en gesterk word deur ons Here Jesus Christus en God ons Vader. Hy het aan ons sy liefde bewys en aan ons deur sy genade ‘n blywende troos en goeie hoop gegee (2 Tessalonisense 2:16 – 17).

 

 

 
 
 

 

 




Maria Magdalena

 

The Law tells us what to do. The Gospel tells us what God has done for us in Christ. —Michael Horton

 

Maria Magdalena

Daar is baie Maria’s in die Bybel wat verwarrend is. Oor Maria Magdalena is daar baie misverstande. So byvoorbeeld is Magdalena nie haar van nie, maar ‘n verwysing na die dorp in Galilea van waar sy gekom het. Daar is twee vrae wat van belang is:

  1. Was Maria Magdalena ‘n prostituut?

Nêrens in die Bybel lees ons dat sy ‘n prostituut was nie. Pous Gregorius 1 (oorlede in 614) het gesê dat sy die vrou, wie se naam nie genoem word nie, is wat in owerspel betrap is (Johannes 7:58 – 8:11). Dit verskil egter van die Bybelse beskrywing van haar. Tog is dit die wyse waarop sy voorgestel word in Jesus Christ Superstar, The Last Temptation of Christ en The Passion of the Christ. Geen wonder daar is maar min mense wat weet dat die Bybel haar nie as ‘n prostituut beskryf nie.

 

  1. Was Maria Magdalena ‘n apostel?

Maria Magdalena is meer prominent in die evangelies as ander vrouens. Sy is dan ook ‘n getuienis in die mees Christologiese betekenisvolle oomblikke. Die evangelies stem saam oor haar teenwoordigheid by die dood, begrafnis en opstanding van Jesus. Volgens die evangelies van Markus en Johannes het Jesus na sy opstanding eerste aan haar verskyn. In Lukas 8:2 – 3 is sy een van Jesus se volgelinge wat sy bediening ondersteun het: Hierdie vroue het uit die middele vir Jesus en die twaalf gesorg. Daar word ook gesê dat sewe bose geeste uit haar gegaan het.

 

Jesus se verskynings na sy opstanding het gesag verleen aan die getuies daarvan. Dit het hulle as leiers in die Christelike gemeenskap bevestig. Was sy meer as net ‘n toegewyde volgeling van Jesus of was sy ‘n leier? Die gnostiese Evangelie van Maria ondersteun so ‘n gevolgtrekking. In sy gewilde boek The Da Vinci Code sê Dan Brown dat Maria Magdalena die dissipel aan Jesus se regterhand in die bekende Da Vinci skildery is. Sy was ook, volgens Brown, Jesus se swanger vrou tydens sy kruisiging. Die Evangelie van Maria word nie deel van die Bybel nie, want die vroeë kerk het dit as dwaalleer beskou.

 

In die evangelies word Maria Magdalena geskilder as ‘n belangrike getuie en volgeling van Jesus. Ons kry verwysings na haar ook in buite-Bybelse literatuur. Sy was moontlik welvarend – in Lukas 8 word sy met die welgestelde en polities invloedryke Johanna die vrou van Gusa, ‘n hoë amptenaar van Herodes geassosieer.

 

 




Jesus se eerste en tweede koms

 

Men are more in danger from prosperity than adversity. For when matters go smoothly, they flatter themselves & are intoxicated by success. — Johannes Calvyn

 

Jesus se eerste en tweede koms

Jesus het gekom. Jesus sal weer kom. Daar gaan ‘n groot verskil tussen sy eerste en tweede koms wees. Ons kan dit in tabelvorm weergee

 

Jesus se eerste koms Jesus se tweede koms
Hy kom om te sterf Hy kom om te heers
Hy kom op ‘n donkie Hy kom op ‘n oorlogsperd
Hy kom as ‘n nederige dienaar Hy kom as die verheerlikte Koning
Hy kom in swakheid Hy kom in mag
Hy kom om te verlos Hy kom om te oordeel
Hy kom in liefde Hy kom in toorn
Hy kom as gesluierde God Hy kom as geopenbaarde God
Hy kom met 12 dissipels Hy kom met ‘n menigte engele
Hy kom om vrede te bring  Hy kom om oorlog te maak
Hy kry ‘n doringkroon Hy kry ‘n kroon wat by koninklikes pas
Hy kom as die lydende Dienaar Hy kom as die Koning van die konings en die Here van die here.