God het van oordeel gepraat (3)

 

 “If the Spirit of God detects anything in you that is wrong, He does not ask you to put it right; He asks you to accept the light, and He will put it right.” – Oswald Chambers

 

God het van oordeel gepraat (3)

So het hulle God, hulle redder, vergeet, Hy wat groot dinge in Egipte gedoen het (Psalm 106:21). Deur ‘n goue kalf te maak, wys Israel geen respek vir God en sy gebooie nie. Hulle aanbid nie vir God nie, maar beledig Hom. Hoe reageer God hierop? Hy straf die volk – Hy tref hulle met ‘n ramp (Eksodus 32:35). Hoekom tree God so drasties op? Die antwoord kry ons in Moses se lied: Israel het vreemde gode bo die Here verkies, Hom getart met hulle afskuwelike afgode,  offers gebring aan veldduiwels, aan goed wat nie gode is nie, aan onbekende gode, nuwe gode wat van die bure af kom, gode wat onbekend was aan julle voorvaders …Hulle het iets wat nie ‘n god is nie, bo My verkies, My getart met wat niks was nie (Deuteronomium 32:16 – 17, 21).

 

Wat gebeur as ons afgode aanbid? ‘n Afgod is geen god nie – dit is ‘n leuen. Agter die leuen staan die Satan en sy helpers – demone. Paulus stel dit so: Wat wil ek hiermee sê? Dat ‘n afgodsoffer of ‘n afgod enige betekenis het? Nee, maar dié wat aan hulle offer, aan bose geeste offer, en nie aan God nie (1 Korintiërs 10:19 – 20). Ons moet dit duidelik verstaan dat God nie enige vorm van aanbidding aanvaar nie. Die Gees sê uitdruklik dat in die eindtyd sommige afvallig sal word van die geloof. Hulle sal misleidende geeste navolg en die leerstelling van bose geeste aanhang (1 Timoteus 4:1).

 

Baie hiervan het reeds in ons tyd waar geword. Daarom kry ons so baie verskillende groepe en verskillende onderrig van mense wat die Naam van die Here gebruik. Jesus self het al gewaarsku teen vals profete: Nie elkeen wat vir My sê: “Here, Here,” sal in die koninkryk van die hemel ingaan nie, maar net hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemel is (Matteus 7:15 – 23).

 

Iets wat meer algemeen word, is dat die mens homself as sy eie God sien. Daarna kyk ons volgende keer.

 




Vrae wat ons oor elke teks moet vra

 

Inerrancy means the word of God always stands over us and we never stand over the word of God. —Kevin DeYoung

 

Vrae wat ons oor elke teks moet vra

Ons het vantevore ‘n soortgelyke blog geskryf. Ons gaan dit egter nou prakties toepas op die verhaal van die dogtertjie van Jaïrus en die vrou met bloedvloeiing (Markus 5:21 – 43). Hoe beantwoord hierdie gedeelte ons vyf vrae?

 

  • Wat leer hierdie teks my van God

God eer die geloof van almal wat deur Jesus na Hom toe kom. Sosiale status, geslag en ander onderskeiding is onbelangrik. God sorg vir die man wat besete was met bose geeste, die bekende man (Jaïrus), die uitgeworpe vrou met bloedvloeiing en die klein dogtertjie wat magteloos was. God het mense lief sonder enige onderskeid. Hy het geen witbroodjies nie.

 

  • Wat leer hierdie teks my van die sondige mensdom?

Siekte en dood is werklikhede van ons gevalle en sondige wêreld. Ons wêreld het die aanraking en genade van God deur Jesus Christus dringend nodig.

 

  • Wat leer die teks my van Jesus Christus?

Jesus gee om vir mense wat seergekry het. Jesus doen sy werk volgens sy tydtafel. As Jesus die onreines aanraak, word hulle rein, want Hy neem hulle onreinheid op Hom. Jesus gee genesing en lewe aan diegene wat Hom vertrou. Hy gee krag aan diegene wat geen krag het nie.

 

  • Wat wil God hê dat ek moet weet?

Ons kan met ons versoeke na Jesus kom – maak nie saak wie ons is en wat ons gedoen het nie. Ons moet in geloof na Hom kom – ons moet glo en nie bang wees nie. God aanvaar onvolmaakte geloof vanuit ‘n opregte hart as die voorwerp van die geloof Jesus Christus is.

 

  • Wat wil God van my hê?

God wil hê dat ons met enige versoek na Hom sal kom. God wil hê dat ek Hom vertrou ten spyte van my omstandighede. Hoekom? Want hy kan vertrou word om ons te genees en die groot vyand – die dood – te oorwin. Hoe weet ek dit? Ons kyk na die kruis en die leë gtaf. Wat ‘n Verlosser.

 

Hierdie vyf vrae moet deel van ons Bybelstudie word.

 

 




God het van oordeel gepraat (2)

 

 “The remarkable thing about God is that when you fear God, you fear nothing else, whereas if you do not fear God, you fear everything else.” – Oswald Chambers

 

God het van oordeel gepraat (2)

In die vorige blog het ons gesien dat God se oordeel onvermydelik is. Hoekom is God kwaad?  Deur net na Romeine 1 te kyk, kry ons ‘n hele aantal antwoorde. Kom ons kyk na ‘n paar:

  • Omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie (1:21).
  • In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos ‘n verganklike mens of soos voëls of diere of slange (1:23).
  • Dit is hulle wat die waarheid van God verruil vir die leuen. Hulle dien en vereer die skepsel in plaas van die Skepper, aan wie die lof toekom vir ewig (1:25).

 

Ons hanteer dinge wat God gemaak het asof dit Hom kan vervang. Die dinge wat ons moes help om God te eer en te ken, word nou teen Hom gebruik – dit word wapens om die kennis van God te vernietig. Ons draai weg van God se waarheid en verruil dit vir die leuen.

 

Wat doen die mens as hy sy rug op God keer? Hy maak vir hom ‘n meer aanvaarbare “God.” Kyk net wat het by Sinai gebeur. God gee aan die hele volk die tien gebooie. Luister na die tweede gebod: Jy mag nie vir jou ‘n beeld of enige afbeelding maak van wat in die hemel daarbo of op die aarde hieronder of in die water onder die aarde is nie (Eksodus 20:4). Maar die mense word moeg om te wag vir Moses om van die berg af te kom. ‘n God wat jy nie kan sien nie en wat so tydsaam is, was vir hulle onaanvaarbaar. Daarom maak hulle vir hulle ‘n ander “god” – ‘n goue kalf (Eksodus 32).

 

Luister wat sê die volk oor hierdie goue beeld: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel! Aäron bou selfs ‘n altaar waarop die volk offers vir hierdie nuwe “god” kan bring. Hulle glo dat aanbidding vir die ware God moes wees, maar hulle wou Hom nie in sy huidige vorm hê nie. Hulle soek ‘n god wat hulle sou toelaat om te leef soos hulle wil.

 

Volgende keer gaan ons kyk na die aanbidding van afgode en demone.

 




Naäman

To abandon prayer is to embrace atheism. —Alec Motyer

 

Naäman

Ons kry die verhaal van Naäman in 2 Konings 5:1 – 16. Naäman was ‘n belangrike man. Hy was ‘n groot en trotse man – die bekendste generaal in Aram. Maar hy het melaats geword. Die siekte sou hom sy posisie ontneem – hy sou uit die samelewing geban word. Daar was geen genesing nie. Hierdie diagnose vernietig lewens.

 

In Naäman se huishouding was ‘n jong dogtertjie wat uit Israel ontvoer is. Die laagste in die huishouding. Naäman is desperaat en daarom luister hy na haar. Die meisie se geloof in die God van Elisa is groot. Hoe vernederend om na ‘n vyand te luister en dan nog na ‘n vyand te gaan vir hulp. Maar Naäman gaan.

 

Maar in plaas van die profeet self te sien, moet die trotse Naäman ‘n boodskapper sien – asof sy melaatsheid nie voldoende vernedering was nie. Die boodskapper sê dat Naäman hom in die Jordaan moet gaan was. Die riviere in sy land was veel beter as die Jordaan. Sy amptenare pleit by hom. Uiteindelik gaan was hy hom in die Jordaan en word genees.

 

Wat leer ons uit hierdie storie?

As Jy nie ‘n gelowige is nie

Elkeen van ons glo dat ons weet wat reg is, maar diep binne in ons weet ons dat dit nie waar is nie. Wat verkeerd is, is sonde. Nou probeer ons allerhande maniere om van die sonde en sy gevolge ontslae te raak – sonder sukses. Jesus sê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader  toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6).

 

Is  die riviere van Damaskus, die Abana en die Parpar, nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was om rein te word nie?  Nee, God het ‘n pad gemaak om gereinig te word – net een pad. Vir Naäman klink dit na dwaasheid. Mense kan alle maniere probeer om rein te word –Mohammed. Bhoeddha … Maar God het ‘n eksklusiewe pad gemaak – Jesus. Die lewende, genesende water is net by Hom te vinde.

 

God mag jou vra om jou trots in jou sak te steek en na een van daardie Christene wat jy so haat, te luister. Die boodskap van genesing en lewe kom dikwels van iemand wat jy normaalweg verontagsaam. Moenie dat ‘n meerderwaardige gesindheid jou verhinder om jouself te verneder om te doen wat jou sal red.

 

As jy ‘n gelowige is

Israel was vol melaatses, maar hulle is nie genees nie. God genees hier ‘n vyand van Israel. God soek diegene wat Hom sal glo – al moet Hy buite die grense van die kerk gaan om hom te vind. Moenie dink omdat jy binnekant is jy nie as buitestaander  beskou kan word nie. Naäman luister na ‘n jong dogtertjie. Hy doen wat hy beveel word al klink dit nie vir hom rasioneel nie. God werk in die lewens van mense wat Hom vertrou. Hy gebruik die laagste van die laagste om met die hoogste te praat.

 

Wees versigtig na wie jy luister. Wees versigtig hoe jy reageer. Selfs Christene sal ‘n onvoldoende rivier verdedig as hulle op hulle eie wysheid vertrou Ons moet ook die storie verder lees. Gehasi, Elisa se dienaar, het sekerlik baie wonderwerke gesien. Tog het hy nie geloof nie. Die wêreld is vol Gehasi’s. Ons moenie sommer aanvaar dat ons beter as hy is nie.

 

God het ‘n pad in Jesus gemaak. Net een pad. Kom, verneder jouself en word rein.