God het van oordeel gepraat (1)

 

 “No healthy Christian ever chooses suffering; he chooses God’s will, as Jesus did, whether it means suffering or not.” – Oswald Chambers

 

God het van oordeel gepraat (1)

As daar ‘n onderwerp is wat Christene – en die kerk – vandag vermy, is dit God se oordeel en sy toorn. Tog het God self oor oordeel gepraat. Ons lees ook dikwels van God se toorn in die Bybel. Ons gaan ‘n paar blogs hieraan spandeer waarin ons onder andere gaan kyk na:

  • Die oordeelsdag
  • Hoekom is God kwaad?
  • Kom ons maak ‘n meer aanvaarbare God
  • Die aanbidding van demone
  • Die mens as sy eie God
  • God gemaak na die beeld van die mens
  • Soek God in alle erns.

 

God praat oor oordeel

God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur die ongeregtigheid probeer onderdruk (Romeine 1:18).

Sommige mense glo dat God nooit kwaad word nie, want hulle sien nie veel daarvan nie. Hoekom nie? Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek (Romeine 2:5). Baie van God se profete het dieselfde waarskuwing oor die oordeelsdag uitgespreek.

 

Hoe kan ons seker wees dat God se oordeelsdag beslis sal kom? Jesus Christus se opstanding bewys dat die dood nie die einde van alles is nie. [Dié wat goed gedoen het, sal opstaan en lewe, en dié wat verkeerd gedoen het, sal opstaan en veroordeel word – Johannes 5:29.]

 

Jesus self praat baie oor die oordeelsdag en van die pyn van die hel wat nooit ophou nie. [Gaan na die ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is –  Matteus 25:41] God weet dat daar ‘n vreeslike straf vir sondige mense wag. [Ek sal vir julle sê vir wie julle bang moet wees: vir Hom wat mag het om, na die dood, in die hel te werp – Lukas 12:4 – 5.]

 

Jesus Christus sal deel van hierdie oordeel wees. [Self veroordeel die Vader niemand nie, maar die oordeel het Hy geheel en al aan sy Seun oorgelaat – Johannes 5:22.]

 

Almal sal aan God antwoorde moet gee oor die keuses wat hy in sy lewe op aarde gemaak het. gemaak het

 

Wat ons dus sien, is die volgende:

  • God se oordeelsdag kom beslis al sien ons nie nou tekens daarvan nie.
  • Hierdie sal ‘n verskriklike dag wees.
  • Jesus Christus sal self deel van hierdie oordeel wees.
  • Almal sal aan God verantwoording moet doen.

 

Dit bring ons by die volgende vraag: Hoekom is God dan kwaad? Daarna kyk ons volgende keer.

 




Sterk gemeentes het ‘n sterk spangees

 

Work is always healthier for us than idleness; it is always better to wear out shoes than sheets. —C.H. Spurgeon

 

Sterk gemeentes het ‘n sterk spangees

Maar hoe bou jy hierdie sterk spangees? Deur ‘n gesamentlike doelwit en goeie kommunikasie. Jy moet verseker dat beide elemente teenwoordig is terwyl jy jou span biu. Hoekom is dit belangrik?

 

  1. Die liggaam van Christus funksioneer soos ‘n spanbediening

Ons het baie lede in een liggaam, en die lede het nie almal dieselfde funksie nie. Net so is ons, al is ons baie, in Christus een liggaam, en almal afsonderlik lede van mekaar (Romeine 12:4 – 5). God het dit so ontwerp dsat ons mekaar nodig het. Elke lidmaat het ‘n belangrike rol om te vervul.  Niemand het al die gawes wat nodig is om ‘n gemeente suksesvol te maak nie. As jy jou omring met mense met dieselfde sterkpunte as wat jy het, gaan jy groot probleme ondervind. Leiers moet erken dat daar sekere dinge is wat hulle nie kan doen nie. Die eerste stap na spanwerk is ‘n leier wat erken dat hy ‘n span nodig het.  Kies altyd spanlede wat vir jou swakhede kompenseer.

 

  1. Spanne bereik meer as individue wat afsonderlik werk

Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die eenval, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie … Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie (Prediker 4:9 – 12). In Nehemia lees ons ook van mense wat in groepe of families saam gewerk het. Jesus het ook dissipels twee-twee uitgestuur. Hierdie wedersydse bemoediging is noodsaaklik vir jou bediening. Een van die duiwel se gunsteling instrumente wat hy dikwels gebruik is ontmoediging.

 

  1. Sterk spanne word nie deur onenigheid bedreig nie.

Goeie kommunikasie sluit in dat mense die geleentheid moet hê om hulle menings uit te spreek – al verskil hulle van dié van die leier. As mense nie met meer as een mening na vore kom, word daar nie baie in jou span gedink nie. Jy moet ‘n omgewing skep waarin spanlede nie bang is om hulle menings te lug nie, waar hulle nie bang is om ‘n fout te maak nie.

 

 




Die goeie nuus van Jesus Christus

“In our own woundedness, we can become sources of life for others.” Henri Nouwen

Die goeie nuus van Jesus Christus

Watter hoop het ‘n mens teen ‘n vyand soos die Satan? Ons kan nie eers ons vyand sien nie. Ons stryd is nie teen vlees en bloed nie,  maar teen elke mag en gesag, teen elke gees wat heers oor hierdie sondige wêreld, teen elke bose gees in die lug (Efesiërs 6:12). Daar is net een antwoord: Soek julle krag in die Here en in sy groot mag (Efesiërs 6:10). In dieselfde gedeelte waarin Johannes sy volgelinge teen vals profete waarsku, verseker hy hulle: Julle behoort aan God, liewe kinders, en het die vals profete klaar oorwin omdat Hy wat in julle is, groter is as die duiwel, wat in die wêreld is (1 Johannes 4:4).

 

Satan kan God nie oorwin nie. As God sy mag in ons en vir ons gebruik, kan Satan ons nie oorwin nie. En die Seun van God het juis gekom om die werk van die duiwel tot niet te maak (1 Johannes 3:8). Jesus stuur sy apostels as sy boodskappers om sy goeie nuus te verkondig.

 

Ons wêreld is die toneel van ‘n groot oorlog tussen God en Satan. Die mens kan kies wie hy wil aanbid en dien. Satan gebruik leuens, misleiding en ons begeertes om ten gunste van hom te kies. So kry hy ons sover om sy bose pad te kies – opstand teen God. Maar God se mag is groter as dié van Satan. Deur Jesus Christus kan ons by God in sy oorwinning oor Satan aansluit.

 

Ons aanbidding en gehoorsaamheid moet aan God ons ewige Koning behoort.

 

 

 

 

 

 




Waar kry ons die krag om voluit vir Jesus te gaan?

Alas, it is true that with none of my great and numerous shortcomings have I wrestled harder than with such impatience.  Yes, I am making some progress but I have never reached the point yet of keeping this wild beast completely under control. — Johannes Calvyn

 

Waar kry ons die krag om voluit vir Jesus te gaan?

Groot risiko’s lei dikwels tot groot belonings. Soms is om groot te waag die enigste regte ding om te doen. Die enigste manier om Jesus te volg, is met totale en volledige oorgawe. Maar om groot te waag, vereis baie vertroue. Waar kry ons die krag om voluit vir Jesus te gaan? J. D. Greear gee ‘n rede:

 

Vertroue om vir God te waag kom net as ons God se toewyding verstaan

‘n Duidelike beeld hiervan kry ons in Genesis 15. Moenie bang wees nie Abram, Ek beskerm jou! Jou beloning sal baie groot wees. Na God se versekering in 15:6 sê Abram vir God dat hy nog onseker is. Abram, ‘n man wat vir sy geloof geprys word, twyfel. Dit gee moed vir ons. God antwoord Abraham se twyfel deur ‘n interessante toneel. Bring vir My ‘n vers, ‘n bok en ‘n skaapram, almal drie jaar oud, en ‘n tortelduif en ‘n jong duif. Abram sny alles middeldeur en plaas die helftes teenoor mekaar. Dit was die antieke manier om ‘n kontrak te teken – veral omdat min mense geletterd was. Sononder het ‘n diep slaap vir Abram oorval: Angs, ‘n groot donkerte het hom oorweldig. Maar God in die vorm van vuur, in plaas van Abram, gaan tussen die stukke deur.

 

In daardie dae as ‘n koning ‘n verbond met ‘n dienaar gesluit het, het die dienaar alleen tussen die stukke deurgestap. Selde het die koning ook deurgestap. Hierdie is die enigste geval waarvan ons weet waar die Koning alleen deurgegaan het. Die betekenis is duidelik: as God nie sy deel van die verbond nakom nie, sal Hy in bloed betaal. As Abram nie sy deel van die verbond nakom nie, sal God ook in bloed betaal. God is aan beide kante van die verbond. Daar kry Abram die vertroue om voluit saam met God te gaan: Vertroue om vir God te waag, kom net as ons God se toewyding verstaan.

 

Moed is nie ‘n deug nie, maar ‘n visie. As ons sien wat God vir ons gedoen het, kry ons ‘n nuwe perspektief. As ons misluk, kan ons in die arms van ons Verlosser rus, wat bewys het dat Hy nooit moed opgee oor ons nie. Golgota wys dat God meer toegewy is aan ons as wat ons ooit kan dink. Vir so ‘n God kan jy met vrymoedigheid waag.