God is Gees

“Our greatest fulfillment lies in giving ourselves to others.” Henri Nouwen

God is Gees

‘n Mens wil graag jou eie idees oor God vorm. Miskien is dit om Hom maklikr te verstaan en te beheer. Die ware God is egter te groot vir ons om te verstaan. By die inwyding van die tempel sê Salomo: Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het (1 Konings 8:27). Paulus sê vir die Ateners dat God nie ver van enigeen van ons is nie (Handelinge 17:27). Hoe is dit moontlik dat een mens die heelal vul en tog naby aan elkeen van ons is?

 

Die antwoord kry ons in Johannes 4:24: God is Gees. ‘n Gees het nie vleis en bene nie. Die menslike liggaam  is beperk – hy word op dieselfde plek en tyd vasgevang. ‘n Mens kan nie op twee plekke gelyk wees nie. Sulke beperkings geld nie vir ‘n Gees nie. God as Gees is so groot dat Hy oral teenwoordig is – op alle plekke en op alle tye. Hy kan dus alles beheer; ons kan nie van Hom wegkruip nie.

Waarheen sou ek gaan om u Gees te ontvlug? Waarheen sou ek vlug om aan u teenwoordigheid te ontvlug?  Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar. Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas (Psalm 139:7 – 10).

 

Maar tog lees ons dat die Bybel van God se hande en oë praat. Hoe is dit moontlik as Hy Gees is? God gebruik dinge wat ons kan verstaan om dinge te verstaan wat veel groter as ons verstaansvermoë is. Hy het nie ons aardse soort hande en voete nie. Hy gebruik die woord oë as Hy sien en hande en voete as Hy oor sy optrede praat.

 

Ons moet altyd onthou dat ons baie klein teenoor Hom is. Daar is baie dinge van God wat ons nooit ten volle sal kan verstaan nie. Daarom  moet ons in vertroue aanvaar wat God sê. Hy weet die beste oor hoe om ons van dinge veel groter as onsself te vertel.

 

 

 

 

 




Om dankbaar te wees, is God se wil

 

Your existence is not accidental. Your skills are not incidental. God shaped your destiny, so don’t settle for someone else’s story. – Max Lucado

 

Om dankbaar te wees, is God se wil

Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag (1 Tessalonisende 5:18).

Mense wil weet wat God se wil vir hulle lewens is. Hier kry ons een ding wat God van gelowiges verwag: dankbaarheid. Hoekom wil God hê dat, maak nie saak wat in my lewe gebeur nie, ek altyd dankbaar moet wees? Rick Warren noem vyf redes.

  1. Dankbaarheid eer God

Ons moet leer om God te dank, nie net vir wat Hy doen nie, maar ook vir wie Hy is. Ons moet God dank vir sy wysheid, sy liefde, sy genade … Om hierdie gesindheid van dankbaarheid te hê, eer God. Gaan sit net en maak ‘n lysie van dinge waarvoor jy vir God dankbaar moet wees. Dit maak jou dag sommer beter.

 

  1. Dankbaarheid lei tot dieper verhoudings

Dankbaarheid bou dieper verhoudings tussen jou en ander mense. As jy jou verhouding met iemand wil verbeter, spandeer tyd om dankbaarheid teenoor hulle te bewys. Wees meer doelgerig in jou bewys van dankbaarheid. Skryf notas; stuur SMS’e en e-posse. Sê net vir hulle hoe dankbaar jy is. Dit bring mense nader aan mekaar.

 

  1. Dankbaarheid ontwikkel geloof

Kan jy God dank as jou lewe skeef loop? As jy deur moeilike tye gaan, moenie kyk na wat verlore gaan nie – kyk na wat oor is. Maak nie saak hoe sleg dinge in my lewe is nie, daar is altyd iets om God voor te dank. Hy het belowe om my deur moeilike situasies te help. Hy kan alles ten goede vir my laat uitwerk. Sy plan is in aksie. Dit vereis geloof om dit raak te sien.

 

  1. Dankbaarheid dien ander

Dit dien ander; dit word ‘n bediening. Ons is verlos om ander te dien. As jy ander waardeer, verhoog jy sy waarde. Almal van ons het bemoediging nodig. Ons het ‘n behoefte aan waardering, liefde. Waardeer almal; bewys dankbaarheid aan almal. Dan kan God jou gebruik.

 

  1. Dankbaarheid is ‘n getuienis teenoor ongelowiges

Die beste manier om jou geloof met ander te deel, is deur dankbaarheid te bewys Dankbaarheid skok mense, want meeste mense vandag is ondankbaar. Die Bybel sê dat ons so moet leef dat dit die waarheid van God vir ander aantreklik maak. Kyk hulle na jou lewe en wil meer weet wat jou so ‘n dankbare gesindheid gee?

 

Die lewe vandag is sinies en sarkasties en krities. Dankbare mense wat ander aanmoedig staan uit. Christene moet bekend wees vir hulle radikale liefde, goedheid, vreugde en dankbaarheid. Daar is ‘n woord daarvoor: om meer en meer soos Christus te wees.

 

 

 




Wat is verdeelde liefde?

Listening is much more than allowing another to talk while waiting for a chance to respond. Listening is paying full attention to others and welcoming them into our very beings. The beauty of listening is that, those who are listened to start feeling accepted, start taking their words more seriously and discovering their own true selves. Listening is a form of spiritual hospitality by which you invite strangers to become friends, to get to know their inner selves more fully, and even to dare to be silent with you.” – Henri Nouwen

 

Wat is verdeelde liefde?

Dit is liefde wat wegneem van ons liefde vir God. Die profete is baie duidelik hieroor – ons behandel God asof Hy die tweede beste is. Ons doen dit wanneer ons ander se wil en nie God se wil volg nie – as ons nie sy opdragte onderhou nie; as ons ander en nie God nie aanbid en dien. Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien (Matteus 4:10).

God begeer en eis die eerste plek in ons lewens. Hy aanvaar nie ‘n tweede plek nie.  Niemand kan aanspraak maak op die eer wat God toekom nie. Ek is die Here, dit is my Naam, die eer wat My toekom, gee Ek aan geen ander nie, die lof wat my toekom, gee Ek nie aan gesnede beelde nie (Jesaja 42:8).

 

Hier sien ons dat God se Naam die Here is. In Hebreeus is dit YHWH. So sien ons dat met die geboorte van Kain Eva uitroep: Ek het ‘n man in die wêreld gebring met die hulp van die Here! (Genesis 4:1). Later in dieselfde hoofstuk lees ons: In daardie tyd het die mense begin om die Naam van die Here aan te roep (Genesis 4:26). Van die begin af was God bekend as die Skepper van die mens.

 

Toe God vir Moses na Egipte stuur, vra Moses vir God wat hy moet sê as die Israeliete sou vra wie hom gestuur het. God antwoord: Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur (Eksodus 3:14 – 15). Hierdie God is nie afhanklik van engele vir sy wese nie. Inteendeel, alles is van Hom afhanklik vir hulle bestaan. Alles – mense, engele, geeste of alle materiële dinge bestaan net so lank as wat God dit toelaat.

 

Daarom lui die eerste gebod dan ook: Jy mag naas My geen ander gode hê nie (Eksodus 20:3). As ek verstaan wie die Here is, sal ek onmiddellik sien waarom dit verkeerd is om ander gode te hê. Niemand kan met Hom vergelyk word nie. Ek is die Here, Ek het alles geskep, Ek alleen het die hemel oopgespan, Ek het die aarde gevorm; daar was niemand by nie (Jesaja 44:24).

 

Maar hoe lyk hierdie God? Daarna gaan ons volgende keer kyk.

 




Toepassing in preke

 

 “We tend to use prayer as a last resort, but God wants it to be our first line of defense. We pray when there’s nothing else we can do, but God wants us to pray before we do anything at all.” –  Oswald Chambers

 

Toepassing in preke

Hoekom preek leraars? Sommige glo dit is om God se woord te verduidelik of om die teks te interpreteer of om mense te help om God se woord te verstaan. Dit is reg, maar nie voldoende nie. Paulus gee vir ons God  se doel in Efesiërs 4:11 – 13: En dit is die ‘gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos ‘n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.

 

Hoekom gee God apostels, profete, evangeliste en herders en leraars? Om mense te help om meer soos Christus te word. Hoe gebeur dit? Deur toepassing. Die enigste manier waardeur lewens verander word, is deur die toepassing van God se woord. Doen ons dit nie, loop mense die kerkgebou in en daarna weer uit – onveranderd. Nou kry ons Christene wat niks anders as mense van die wêreld optree nie. God belowe in Jesaja 55:11: So sal die woord wat uit my mond kom, ook wees: dit sal nie onverrigter sake na My toe terugkeer nie, maar dit sal doen wat Ek gedoen wil hê en tot stand bring waarvoor Ek dit gestuur het.

 

As die woord onverrigter sake terugkeer, lê die probleem nie by die boodskap nie. Dit is die manier waarop dit gekommunikeer word. Hoekom kry ons nie meer toepassing nie?

  • Ons aanvaar dat mense self dit sal doen.
  • Ons laat dit oor aan die Heilige Gees. Maar jy is die instrument van die Heilige Gees. Die Heilige Gees praat deur jou.
  • Persoonlike toepassing maak mense ongemaklik. Ons het dit nog nie in ons eie lewens toegepas nie.
  • Dit vereis meer tyd in voorbereiding.
  • Ons is bang ons word gesien as simplisties.
  • Ons besef nie die belang van toepassing nie.

 

Toepassing antwoord twee vrae:

  • Hoekom is dit belangrik?
  • Wat nou vorentoe?