Daar is net een God

The perfect church service would be one we were almost unaware of; our attention would have been on God. —C.S. Lewis

Daar is net een God

Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag (Deuteronomium 6:4 – 5).

God bevestig aan Moses dat Hy die enigste God is en dat Hy ons liefde verdien – al ons liefde en nie net ‘n deel daarvan nie. Toe kom Jesus en een van die skrifgeleerdes vra vir Hom wat die heel grootste gebod is. Jesus antwoord: Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag (Markus 12:29 – 30). Hierdie is die fondament waarop ons godsdiens gebou is – die basis van al God se gebooie.

 

Beteken dit dat ek niemand anders mag liefhê nie? Wat van my eggenote, kinders, familie, vriende, ens? Na Jesus die grootste gebod gegee het, gaan Hy onmiddellik verder: Die tweede is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself (Markus 12:31). Paulus sê: Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad het en sy lewe daarvoor afgelê het (Efesiërs 5:25). Hierdie soort liefde verminder nie my liefde vir God nie. Dit is God se wil dat ons ander moet liefhê.

 

Hoe bewys ek my liefde vir God? Die liefde vir God bestaan dan daarin dat ons sy gebooie gehoorsaam (1 Johannes 5:3). As God waarlik ons Here is, verdien Hy ons volle gehoorsaamheid. Ons kan nie sê dat ons Hom liefhet as ons vergeet wie Hy is en wat Hy gedoen het. As ons Hom waarlik liefhet, sal ons Hom hanteer soos ‘n ware God. As ons ander liefhet soos Hy ons beveel het, pas dit in by ware liefde en toewyding aan Hom.

 

Wat is dan verdeelde liefde? Daarna kyk ons volgende keer.

 




‘n Dag in die lewe van Jesus (Markus 1:19 – 34)

 “Beware of being obsessed with consistency to your own convictions instead of being devoted to God. The important consistency in a saint is not to a principle but to the divine life. It is easier to be an excessive fanatic than it is to be consistently faithful, because God causes an amazing humbling of our religious conceit when we are faithful to Him.”Oswald Chambers

‘n Dag in die lewe van Jesus (Markus 1:19 – 34)

Ons leef in ‘n tyd van pragmatisme. Meeste mense vra twee vrae:

  • Wat kan jy vir my doen?
  • Wat het jy onlangs vir my gedoen?

Die fokus is op bruikbaarheid, prestasie en middel na ‘n doel. Ook op geestelike gebied kom hierdie vrae na vore. Ons vra hierdie vrae van God asof Hy ons dienaar  is en asof Hy verplig is  om ons behoeftes te reageer.

 

In die stuur en menswording van sy Seun antwoord God ons vrae. God dien ons; God bedien ons; Hy offer selfs sy Seun vir ons. Miskien is die sleutelvers wat die Markus-evangelie opsom 10:45: Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense. Die losprys, die betaling vir sonde, gebeur aan die kruis. Hierdie diens aan gewonde en hulpelose sondaars was ‘n kenmerk van Jesus se bediening – van die begin tot aan die einde.

 

In hierdie gedeelte sien ons Jesus se sin van sy roeping en die dringendheid daarvan. Hy is waarlik die Dienaar van God. Hy genees dié wat fisies siek is en maak mense vry van bose geeste. Ons vra: Wat kan Jesus vir my doen? Meer as wat ons ooit gedink het moontlik is.

 




Hoekom ly ons in hierdie wêreld?

 

 “Faith never knows where it is being led, but it loves and knows the One who is leading.” – Oswald Chambers

 

Hoekom ly ons in hierdie wêreld?

Daar kom tye waar die oeste misluk, waar werk skaars is, waar mense gebrek ly. Hoe verstaan ons dit in die lig van God se liefde? Die wêreld wat God gemaak het, is tog nie ‘n wêreld van tekorte, siekte en dood nie. God se wêreld is tog ‘n wêreld van oorvloed, gesondheid en lewe. Die mens se sonde bring egter lyding en swaarkry. [Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. En nie net die skepping nie, maar ook ons wat die Gees ontvang het as die eerste gawe van God, ons sug ook. Ons sien daarna uit dat God sal bekend maak dat Hy ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry (Romeine 8:22 – 23).

 

Hoekom verwag ons iets meer as pyn en dood? Die wêreld is tog vol opstand teen sy Skepper. As ons die Gewer van alle lewe verwerp, moet ons lyding en dood verwag. God laat mense toe om sy aarde te bewoon en Hy seën hulle. [Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen – Matteus 5:45] God gee aan ons tyd om, voor dit te laat is, van Hom te leer en na Hom te draai. Baie van ons is ondankbaar en hou aan sonde doen. Ons sien nie sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld raak nie. [God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil bring lei nie? – Romeine 2:4]

God gebruik soms hartseer en lyding om mense na Hom toe terug te bring. ‘n Goeie voorbeeld is Jeremia. Jeremia en sy mense geniet goeie tye, maar dit verander nie hulle harte nie. [Hulle het nie vir hulleself gesê: Ons moet die Here ons God dien wat ons die groot reëns gee, die vroeë en die laat reëns, elkeen op die regte tyd, wat vir ons gesorg het met oeste op die regte tyd,” nie – Jeremia 5:24.] Later volg moeilike tye – oorlog en hongersnood. Dit wys vir mense die gevolge van sonde. [Julle oortredings het dit laat verander, julle sondes het die voorspoed van julle weerhou – Jeremia 5:25.] Steeds wou die volk nie luister nie. Die gevolg is dat Jerusalem vernietig word en baie in ballingskap weggevoer word.

 

Klaagliedere vertel ons hoe die skrywer huil terwyl hy sien hoe sy mense van honger sterf. Hy weet hoe hard God probeer het om hulle terug te wen. [Deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie; daar is geen einde aan sy ontferming nie; dit is elke môre nuut. U trou is groot – Klaagliedere 3:22 – 23.]

God is ‘n God van liefde; God is verdraagsaam. Soms moet ons egter verstaan dat opstand teen Hom nie altyd ongestraf sal bly nie.

 

 

 




Liefde van die begin af

 

Christianity is, in its very essence, a religion of the Word of God (John Stott)

 

Liefde van die begin af

Terwyl Hy by Moses verbygaan, roep die Here: “Ek, die Here, is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou. Ek betoon my liefde aan geslagte en geslagte. Ek vergewe ongeregtigheid, oortreding en sonde, maar Ek spreek niemand sonder meer vry nie” (Eksodus 34:5 – 6).

By Sinai wys God ‘n deel van sy heerlikheid aan Moses. God gee in hierdie verse ‘n beskrywing van Homself. God ontken nie dat Hy kwaad oor die sonde is nie, maar as Hy Homself openbaar, waarvan praat Hy heel eerste? Hy praat eerste van sy liefde. Is sy liefde net vir baie goeie mense? Nee, sy liefde vergewe diegene wat teen Hom in opstand was. Daar is dus hoop vir almal van ons wat sondig. God praat eerste van sy genade en deernis wat na ons toe uitreik ten spyte van ons sonde.

 

God bewys sy liefde vir ons nie net in woorde nie, maar ook in dade – van die begin af. Die Skepping was ‘n liefdesdaad. Toe God alles gemaak het, het Hy na alles gekyk en dit was baie goed (Genesis 1:31). Nadat God alles gemaak het, maak God die mens om in hierdie mooi en goeie huis te woon. [Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers  oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip (Genesis 1:25 – 26)]. As beeld en verteenwoordiger van God kan die mens op God en sy dade reageer – meer so as enige dier.

Daar is egter een ding in die skepping wat nie goed was nie. Dit is nie goed dat die mens alleen is nie (Genesis 2:18). God besef dat dit nie goed was vir Adam om alleen te wees nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke (Genesis 2:18). God maak hulle as ‘n gawe vir mekaar. Uit die vreugde van hulle eenheid word kinders gebore – ‘n verdere gawe van God. Ten spyte dat Adam en Eva God se gebod verontagsaam het, het God vir hulle in die tuin kom soek. Hy het selfs vir hulle velklere gemaak (Genesis 3:21).

 

Die heelal is veel groter as ons klein mensies, maar God kies om spesiale aandag aan die mens te gee. Hieroor kan ons maar net in verbasing staan. God het ons lief – van die begin af.