Die gesondheid van my huwelik

With a friend we don’t have to say or do something special. With a friend we can be still and know that God is there with both of us.” Henri Nouwen

 

Die gesondheid van my huwelik

Hoe kan ek die gesondheid van my huwelik bepaal? Kevin DeYoung stel voor dat ons die volgende vrae vra.

 

  1. Bid ons nog saam? Hierdie is moeilik in ons besige lewe, maar dit is nie onmoontlik nie. DeYoung sê hy weet van geen slegte huwelik waar man en vrou gereeld saam bid nie.
  2. Sien julle mekaar nog raak? Sien jy nog jou vrou se aantreklikheid raak?
  3. Hou julle nog mekaar se hande vas? As hierdie eenvoudige liefdesdaad nie daar is nie, mag daar nog ander dinge wees wat ook afwesig is.
  4. Wanneer laas het jy gesê: “Ek is jammer”? Hier verwys hy na ‘n opregte verskoning wat uit ‘n gebroke hart kom.
  5. Wanneer laas het jy “dankie” gesê? Dit gaan hier oor ‘n spesifieke uitdrukking van dankbaarheid.
  6. Wanneer laas het jy ‘n verrassing beplan? Verraas jy nog jou vrou met verrassings? Met blomme? Met ‘n soen uit die bloute?
  7. Wanneer laas het julle julle kinders in die verleentheid gestel? Sien hulle julle ooit dans? Mekaar soen? Kinders moet sien hulle ouers het ‘n aangename tyd saam.
  8. Wanneer laas het julle oor iets anders as die kinders gepraat? Kom net weg van die kinders en moenie op hulle fokus as hulle nie daar is nie.
  9. Wat sal ander van jou eggenoot dink deur na jou te luister?
  10. Dink jy meer oor wat jy nie gee of oor wat jy nie ontvang nie? Almal van ons kry seer in die huwelik. Almal van ons word soms teleurgestel. Fokus jy op jou vrou/man se tekortkominge of op die plekke waar jy moet verbeter?

 

The couple that laughs together lasts together.

 

 




‘n Profeet soos Moses (3)

By faith we expect rich harvest fields and breaking nets, for the gospel is specifically designed to bear fruit. —Jack Miller

 

‘n Profeet soos Moses (3)

Ek sal ‘n profeet vir julle na vore laat kom, een van julle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel (Deuteronomium 18:18).

Na hierdie belofte het baie jare verloop, maar geen profeet wat Moses se gelyke was, kom na vore nie. God het egter nie stil gesit nie. Hy rig die geskiedenis op die pad wat Hy verkies het. Langs die pad gebruik Hy profete om betekenis aan sy optrede te gee. Hierdie profete wys vooruit na wat Hy beplan het. Hierdie profete vertel herhaaldelik van Een wat sou kom.

 

Ons weet dat hierdie Een wat sou kom uit die geslag van Dawid sou kom; dat Hy as priester vir altyd sal dien; dat Hy uit die hoogste plek – God se regterhand – sal regeer. Hulle sien hierdie Een as profeet, priester en koning – almal in dieselfde Persoon. Hy is die beloofde Messias.

 

In Israel is ‘n persoon as koning of priester of profeet met olie gesalf. Dit was dan die teken van sy gesag om leiding te gee. Messias of Christus beteken beide gesalfde. Jesus Christus pas die beskrywing van die Messias, soos deur die Ou Testamentiese profete geskilder. Hy doen magtige dade; Hy genees blindes, dowes, stommes, lammes; Hy maak storms stil; Hy loop op die water; Hy gee lewe terug aan dooies. Na die opwekking van die weduwee van Nain se seun deur Jesus sê die mense: “‘n Groot profeet het onder ons opgestaan,” en “God het na sy volk omgesien.” (Lukas 7:16).

 

Die mense van sy tyd het baie geargumenteer oor wie hierdie Jesus nou werklik is. Van hulle kom tot die gevolgtrekking: Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer wondertekens doen as wat hierdie man gedoen het nie? (Johannes 7:31).

 

Toe Jesus Jerusalem vir die laaste keer op ‘n donkie binnery, het die skare hulle klere en boomtakkies op die pad voor Hom gegooi. Hulle roep onder andere uit: Prys die Seun van Dawid … Loof die Koning (Matteus 21:8 – 11; Lukas 19:37 – 38).

 




‘n Profeet soos Moses (2)

Apparently it never occurred to the early Christians to question their belief in God or even God’s goodness because they were unjustly suffering for their beliefs. Rather, their faith gave them direction in the face of persecution and general misfortune. Suffering was not a metaphysical problem needing a solution but a practical challenge requiring a response. — Stanley Hauerwas

 

‘n Profeet soos Moses (2)

Ek sal ‘n profeet vir julle na vore laat kom, een van julle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel (Deuteronomium 18:18).

Was al die profete in die Ou Testament maar net soos Moses nie? Daar was tog ander profete in daardie tyd – dink maar aan Aäron en Mirjam. God self maak dit duidelik dat Moses anders as hulle was. As daar ‘n profeet van die Here onder julle is, maak Ek My aan hom bekend deur visioene en praat Ek met hom in drome. Maar met my dienaar Moses is dit anders. Hy is die betroubaarste in my diens. Met hom praat Ek direk en persoonlik, nie in raaisels nie. Hy sien selfs die gestalte  van die Here (Numeri 12:6 – 8). Voor Moses se dood lê hy sy hande op sy opvolger – Josua. Maar dan lees ons: Daar het nie weer ‘n profeet in Israel opgetree wat soos Moses was nie. Die Here het hom gestuur om in Egipte al die tekens en wonders vir die farao en sy amptenare en sy hele land te doen. Moses het al die magtige dade, al die groot dade wat vrees inboesem, voor die oë van die hele Israel gedoen (Deuteronomium 34:10 – 12).

 

God het Moses as sy spesiale agent en sy wetgewer gebruik. Daarom sien ons dat al die latere profete die mense oproep om die wet van Moses” te volg. Hierdie profeet wat belowe word, sal ook as God se Middelaar dien. Hy sal met spesiale gesag van God toegerus word om opdragte aan mense te gee.

 




‘n Profeet soos Moses (1)

 

“Cowardice asks the question, is it safe? Expediency ask the question, is it politic? Vanity asks the question, is it popular? But, conscience ask the question, is it right? And there comes a time when we must take a position that is neither safe, nor politic, nor popular, but one must take it because it is right.” (Martin Luther King, Jr.)

 

‘n Profeet soos Moses (1)

Ek sal ‘n profeet vir julle na vore laat kom, een van julle volksgenote. Hy sal soos jy wees. Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel (Deuteronomium 18:18). Hier gee God aan Moses die belofte van ‘n toekomstige profeet. Hierdie profeet sal ‘n volksgenoot van Moses wees – ‘n Israeliet of Jood. Hierdie profeet sal soos Moses wees – Hy sal uitstaan sodat die mense Hom sal erken.

 

Hoekom is dit belangrik? Ons kry die antwoord in verse 15 en 16: Die Here jou God sal ‘n profeet onder jou na vore laat kom, een van jou volksgenote. Hy sal soos ek wees. Vir hom moet jy gehoorsaam. Dit sal wees soos destyds toe die gemeente by Horeb bymekaargekom het en jy vir die Here jou God gesê het: Ék kan nie weer ‘n keer die stem van die Here my God aahoor en weer na die groot vuur kyk nie, want dan sterf ek.’’ By Horeb (ook genoen Sinai) het God die Israeliete na hulle vertrek uit Egipte ontmoet. Hierdie was ‘n dramatiese verskyning van God: donderslae, weerligte, rook op die berg, die klank van die ramshoring – en uiteindelik praat God self.

 

Die volk bewe van angs en bly op ‘n afstand staan. Hulle was bang dat God dalk met hulle sou praat, want dan sal ons sterf (Eksodus 20:19). Hulle pleit dat God eerder met Moses moet praat. Mense sien God as te groot om direk met Hom te praat. Luister na Paulus: Hy alleen besit onsterflikheid; Hy woon in ontoeganklike lig. Geen mens het Hom gesien of kan Hom sien nie. Aan Hom kom toe eer en ewige mag (1 Timoteus 6:16).

 

Israel het iemand nodig gehad om hulle voor God te verteenwoordig – ‘n middelaar. Dit was Moses. Hy dra God se boodskappe aan die volk oor, maar hy lê ook die mense se behoeftes aan God voor. God weer dat mense in die toekoms ook ‘n Middelaar nodig sou hê. Daarom die belofte in Deuteronomium 18:18 van ‘n ander Profeet wat sou kom.

God besef dat mense antwoorde vir die baie probleme van die lewe nodig het. Ons moet gedurig keuses maak oor hoe om te leef. Die probleem is dat ons dikwels op die verkeerde plekke antwoorde soek. Moses waarsku die volk teen besweerders, towenaars, goëlaars, slangbesweerders of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie (Deuteronomium 18:9 – 13). Mense het al hierdie metodes gebruik, maar God waarsku daarteen, want Hy wou hulle van vals antwoorde weerhou.

 

In Jeremia 27:9 – 10 lees ons: Julle moenie luister na julle profete, julle droomuitlêers, julle towenaars, julle goëlaars wat vir julle sê om nie die koning van Babel te dien nie. Dit is vals profete wat vir julle optree, en daardeur sal julle ver weggevat word uit julle land. Ek sal julle verban en julle sal omkom. God gee vir die mens ‘n pad  waar hy al die antwoorde kan kry. Net nadat God teen allerhande vals profete gewaarsku het (Deuteronomium 18:9 – 13) gee Hy aan hulle die belofte van ‘n nuwe profeet – soos Moses (Deuteronomium 18:18).

 

Hierdie boodskap van God is waar en betroubaar en ons kan dit met gerustheid volg. Hoekom? Ek sal my woorde in sy mond gee, en hy sal vir sy volksgenote alles sê wat Ek hom beveel. Wat duidelik is uit hierdie gedeelte is dat die mens ‘n middelaar nodig het en dat God self hierdie Middelaar voorsien.