‘n Storie om ons te laat dink

 

By the cross, God sets aside and shatters all human pretensions to strength and wisdom. —D.A. Carson

 

‘n Storie om ons te laat dink

Een van die wonderlike stories vertel hoe Jesus in die hemel aankom. Die merke van sy kruisdood is nog duidelik sigbaar. Een van die engele sê vir Hom: “U moes darem verskriklik gely het op aarde.” Jesus antwoord: “Ja, Ek het.” Die engel vra: “Weet almal wat U vir hulle gedoen het?” Jesus antwoord: “Nee, nog nie.” Die engel: “Wat het U gedoen om seker te maak almal weet?” Jesus: “Ek het vir Petrus en Jakobus en Johannes gevra om vir ander te vertel wat op hulle beurt weer vir nog ander moet vertel totdat almal die verhaal gehoor het.” Die engel lyk maar skepties, want hy is goed bewus van die mens se swakhede: “Ja, maar wat daarvan as Petrus en Jakobus en Johannes vergeet? Wat as hulle sou moegword van die vertellery? Wat daarvan as mense 2 000 jaar later nie meer die storie van God se liefde vertel nie? Het U nie ook ‘n ander plan nie?” Jesus antwoord: “Ek het geen ander plan nie. Ek vertrou op hulle.” Jesus het gesterf om die evangelie aan ons te gee. Hy vertrou op ons om die boodskap aan alle mense oor te dra.

 




Hoe lees ek die Bybel?

 

“In a time of universal deceit — telling the truth is a revolutionary act.” (George Orwell). 

 

Hoe lees ek die Bybel?

Ons lees baie – koerante, stories, blogs, sosiale media, ens. Ons lees ook nie-fiksie meestal om ‘n probleem op te los – watter interessante plekke moet ek besoek, watter dieet moet ek volg … Ons evalueer wat ons lees en besluit dan of ons dit glo of nie. Ons gebruik die inligting vir ons praktiese behoeftes. Ons lees dit en dan vergeet ons dit – ons kan net soveel inligting onthou.

 

Dit is hoe baie mense die Bybel bestudeer: hulle soek inligting om ‘n probleem op te los … en vergeet dit weer. Maar as die Bybel bestaan, want die Skepper praat deur apostels en profete met ons om ‘n verhouding met Hom te vestig en te verdiep, dan moet ons sekerlik die Bybel anders lees. Ons lees die Bybel nie net vir inligting nie, maar vir vorming. Dit moet ons gedagtes oopmaak vir ‘n groot waarheid of dit moet ons hart versag of dit moet ons met ons sonde konfronteer of dit moet waardes by ons inskerp. Ons mag nie elke dag daarvan bewus wees nie, maar oor die langtermyn word ons deur God se waarheid gevorm en verander.

 

Robert Mulholland (Shaped by the Word) beskryf vormende lees soos volg:

  • Dit het niks met hoeveelheid te doen nie.
  • Dit is lees in diepte.
  • Dit moet toelaat dat die teks jou bemeester.
  • Dit vereis ‘n nederige, liefdevolle en gewillige benadering.

 

Dit vereis toewyding. In ons besige lewe lees ons meestal vinnig en oppervlakkig. Daarom gaan Bybellees en gebed hand aan hand. Ons praat met God en Hy praat met ons.

Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself. Iemand wat altyd net die woord aanhoor en nooit doen wat dit sê nie, is soos een wat na sy gesig in ‘n spieël kyk: hy bekyk homself, gaan van die spieël af weg en vergeet dadelik hoe hy gelyk het. Maar iemand wat hom verdiep in die volmaakte wet wat ‘n mens vry maak, en hom daaraan hou en nie vergeeet wat hy hoor nie, maar dit doen, hy sal gelukkig wees in wat hy doen (Jakobus 1:22 – 25).
 




Hoekom toets God ons geloof?

 

“Right is right even if nobody does it. Wrong is wrong even if everybody is wrong about it.” (G. K. Chesterton)

 

Hoekom toets God ons geloof?

Ons verwag dat die geloofshelde in die Bybel van die een episode van gehoorsaamheid na die volgende sou beweeg – opeenvolgende geloofsoorwinnings op die pad na ewige heerlikheid. Dit is nie wat ons in die Bybel kry nie.

 

Kom ons kyk na Abraham. In Genesis 12 roep God hom om alles te los en Hom te volg. Abraham doen dit. Oorwinning. Daarna volg ‘n gemengde beeld van Abraham. Hy lag vir God se belofte; hy plaas sy vrou twee maal in gevaar om sy eie bas te red; hy kry ‘n kind by ‘n slavin; hy gee aan Sara die reg om daardie slavin te mishandel.

 

Hoekom vertroos dit ons? Ons lewens as Christene bestaan nie uit ‘n ononderbroke reeks oorwinnings nie. Abraham se op-en-af gehoorsaamheid sê vir my dat God deur gebroke mense soos ek en jy kan en sal werk. Deur Abraham se mislukkings leer ons iets van ons geloofsreis.

 

  1. Ons geloof neem toe omdat God ons toets

Net nadat Abraham God gevolg het, kom daar ‘n hongersnood in die land. Hy word gedwing om na Egipte te gaan. Dit was nie toevallig nie – God was besig om sy geloof te toets. Geloof is nie ‘n eenmalige besluit wat ons neem om God te volg nie – soos ‘n spier word dit sterker as dit geoefen word. Geloof is die belangrikste spier in die Christen se lewe en God wil dit versterk. Alles in die lewe van ‘n Christen groei in die grond van geloof.

 

  1. As God ons geloof toets, bring Hy ons dikwels tot op die rant

God gee nie vir Abraham ‘n seun onmiddellik nadat Hy dit belowe het nie. Abraham moes eers sy totale hulpeloosheid besef. Daarom moes hy dertig jaar wag voor die belofte vervul is. Abraham was reeds 70 jaar oud toe die belofte gemaak is. Hoekom moes hy nog dertig jaar wag? Om ‘n spier te groei, moet dit tot op die rant gedruk word. Dit is wat God met ons geloof doen – Hy druk ons tot die rant toe. As God onmiddellik ‘n seun vir Abraham gegee het, sou dit rede vir blydskap gewees het, maar nie vir geloof nie. Abraham moes eers sy eie hulpeloosheid besef voordat hy ten volle op God se beloftes vertrou het. Waarskynlik het dit God dekades geneem om daardie punt te bereik, maar Hy het daar gekom.

 

Miskien is God tans besig om jou tot op die rant te druk. Dis nie aangenaam of gemaklik nie. Niemand hou daarvan om deur die valleie te loop nie, maar dit is net daar waar God ons kan laat besef dat Hy voorsien. Ons kan nie hierdie toetse op ons eie slaag nie. Omdat Jesus getoets is ver bo enigiets wat ons ooit sal ondervind, kan ons Hom volg as ons getoets word.

 

 

 

 




Die krag van Gebed

 

To trust God in the light is nothing, but trust him in the dark—that is faith. —C.H. Spurgeon

 

Die krag van Gebed

In Markus 9:14 – 29 kry Jesus se dissipels met ‘n seun wat deur ‘n gees besete was, te doen. Hy  het dikwels op die grond neergeval en rondgerol met skuim om sy mond.  Die gees het hom selfs in die vuur en in water gegooi. Die seun se vader het hom na die dissipels gebring vir genesing. Hulle kon hom nie help nie. Toe Jesus daar aankom wil Hy weet wat aan die gang was. Die seun se vader verduidelik die situasie aan Jesus. Na ‘n kort gesprek genees Jesus die seun.

 

Later toe hulle alleen was, wou die dissipels weet waarom hulle nie die seun kon genees nie. Jesus antwoord hulle: Hierdie goed kan met niks anders as met gebed uitgedrywe word nie. As ons bid, onderwerp ons ons aan die Bron van alle krag – Jesus Christus. Doeltreffende, lewensveranderende bediening kom nooit deur die krag van ‘n mens nie, maar deur die krag van God. Die mens is net die kanaal waardeur God werk. Gebed is die manier om hierdie kanaal oop te hou.

 

Die gesprek tussen die vader en Jesus is baie interessant. Die vader sê: As U tog miskien iets daaraan kan doen, kry ons jammer en help ons. Let op: As. Beteken dit dat hy nie geloof in Jesus het nie? Daarom sê Jesus vir hom: Vir die een wat glo, kan alles. Dan die vader se uitroep: Ek glo … Help my in my ongeloof. Dit is waar elke gelowige leef.  Ons glo, maar met die krag van Christus nodig om ons in ons ongeloof te help. Net die gelowige wat bid, kan ander help. Sonder gebed het jy geen bediening nie.