Sekularisasie

No man is an island – Johm Donne

 

Sekularisasie

As ons na die korrespondensie van ouer mense kyk, sal ons dikwels sien dat hulle DV gebruik. Dit is ‘n afkorting vir die Latynse woorde Deo volente (Deo =  van die Latynse stam Deus wat God beteken; volente van die Latynse stam vollens wat gewillig beteken). Saam beteken hulle “as dit God se wil is.” Die oorsprong hiervan is Jakobus 4:13 – 15: Kom nou, julle wat sê: “Vandag of môre sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar daar bly; ons sal sake doen en geld maak.” Julle wat nie eers weet hoe julle lewe môre sal wees nie! Julle is maar ‘n damp wat ‘n oomblik verskyn en sommer weer verdwyn. Julle moet eerder sê: “As die Here wil, sal ons lewe en sal ons dit of dat doen.”

 

Hierdie gewoonte het vandag feitlik verdwyn. Gaan jy na Google en soek na DV kry jy dat digital video die betekenis van hierdie afkorting is. Wanneer het DV se betekenis verander? Is dit ‘n teken van ons wegdryf van God? Die wêreld word toenemend sekulêr. Die mense wat erken dat hulle Christene is, neem af in die Westerse wêreld. Is dit belangrik dat die wêreld meer sekulêr raak?

 

Wat beteken sekularisasie? Volgens HAT is dit “gelykvormig aan die wêreld maak; nie-kerklik maak.” Dit beteken godsdienstige skeptisisme; dit is die siening dat godsdienstige oorwegings geen plek het in burgerlike sake nie. Sogenaamde “sagte” sekularisasie beteken dat die kerk vryelik kan opereer in die openbaar. Die kerk kan egter nie aanvaar dat sy sienings aanvaar sal word nie. “Harde” sekularisasie beteken dat godsdiens tot godsdienstige instellings beperk moet word – geen deelname in die openbare arena nie. Godsdiens in skole moet verban word. Godsdienstige oortuigings kan nie openbare moraliteit vorm nie. God word uit alle openbare ruimtes verban.

 

“Harde” sekularisasie beteken ons moet ons geskiedenis en erfenis verlaat. Dit is intellektueel vlak en geskiedkundig oneerlik – dit is kinderagtig, maar dit is die pad waarop ons tans loop. Hoe moet die kerk hierop reageer?

  1. Moenie kla oor ‘n tydperk wat verby is nie, maar moedig “volwasse” sekularisasie aan. Hierdie vorm van sekularisasie beteken dat die kerk geen spesiale voordele moet verwag nie. Volwasse sekularisasie erken dat verandering onvermydelik is, maar besef dat ‘n samelewing wat los van sy wortels raak, sal gou verdwyn. ‘n Aantal verskillende stemme word toegelaat aan die tafel van idees. Geloofwaardige Christelike stemme kan aan die bespreking deelneem.
  2. Die kerk moet hom aan ‘n getroue teenwoordigheid in die samelewing toewy. Christene wat in die samelewing teenwoordige is, sal nie toelaat dat godsdiens tot ‘n ghetto beperk word nie. Hulle sal vir Jesus leef; hulle sal die waardes wat Hy geleer het, modelleer; hulle sal Hom getrou op die markplein volg. Hulle sal hulle daaraan toewy om sout en lig vir ‘n veranderende wêreld te wees.

 

 




Jesus en die geldwisselaars

 

“While you are proclaiming peace with your lips, be careful to have it even more fully in your heart.” – Franciskus van Assisi

Jesus en die geldwisselaars

Hierdie episode, ook bekend as die reiniging van die tempel, is algemeen bekend. Meeste geskiedkundiges erken dat hierdie gebeurtenis werklik gebeur het. Daar is egter twee vrae wat ons moet beantwoord.

  1. Wanneer het hierdie gebeurtenis plaasgevind?

Die Evangelie volgens Johannes plaas hierdie gebeurtenis aan die begin van Jesus se openbare bediening (2:13 – 22). Die ander evangelies plaas dit heelwat later. Die probleem is dat Matteus, Markus en Lukas net een besoek van Jesus aan Jerusalem beskryf. Hulle kon hierdie gebeurtenis net tydens Jesus se besoek geplaas het. Meeste geskiedkundiges volg Markus se plasing. Die gevolg van hierdie gebeurtenis is dat die Romeine in Jesus begin belangstel het. Hiermee word die gebeure wat tot Jesus se gevangeneming en kruisiging gelei het, aan die gang gesit. Paasfees met sy fokus op vrylating van vyandige onderdrukking, was dikwels die tyd vir probleme. Selfs ‘n kleinskaalse simboliese optrede in die tempel, sou die Romeine se aandag getrek het.

 

  1. Wat was die betekenis van hierdie tempeloptrede?

Het Jesus sy selfbeheer verloor? Beide die evangelies van Johannes en Markus beskryf dit as ‘n gebeurtenis wat beplan is – nie ‘n skielike impulsiewe besluit nie. In Markus 11:11 – 19 lees ons dat Jesus die tempel besoek het, maar tot die volgende dag wag voor Hy iets doen. In Johannes gebruik Jesus tyd om eers ‘n sweep van toutjies te maak.

 

Is die reiniging van die tempel dalk die regte betekenis? As die verkoop van diere op die tempelterrein plaasgevind het, moes dit in die buitenste hof, die sogenaamde Hof van die Heidene, plaasgevind het. Die mis van diere het heilige plekke onrein gemaak. Maar die teenwoordigheid van heidene het in ieder geval die plek onrein gemaak. Jesus het in ieder geval met mense wat ritueel onrein was geëet.

 

Moontlik maak Jesus beswaar teen die minagting van die nie-Jode. Jesus maak veral beswaar teen die gebrek aan respek vir die plek van aanbidding deurdat kommersiële aktiwiteite daar plaasgevind het. In Markus haal Jesus Jesaja 56:7 aan as Hy die mense teregwys: My huis sal ‘n huis van gebed vir al die nasies wees. Johannes fokus op die tempel wat in ‘n besigheidspel verander word. Hy mag hier na Sagaria 14:21 verwys: Daardie dag sal daar in die huis van die Here die Almagtige geen handelaar meer wees nie. Hierdie kan as die twee kante van dieselfde muntstuk gesien word.

 

Antieke tempels was nie so stil soos ‘n katedraal nie. Dit was luidrugtig en besig. Die verkoop van diere was tog noodsaaklik vir die hoof funksie van die tempel – die offer van diere. Dit was ‘n risiko om diere die hele pad van die huis te bring. Mense het dikwels ‘n dier by die huis verkoop en by die tempel ‘n plaasvervanger gekoop. Die geldwisselaars was daar om verskillende geldeenhede na ‘n standaard geldeenheid te wissel. Beide die verkoop van diere vir offers en die betaling van die tempelbelasting is deur die Joodse wet voorgeskryf. Dit was belangrike funksies van die tempel.

 

Omdat Jesus mense en diere wat noodsaaklik was vir die funksionering van die tempel uitgegooi het, sien sommige mense dit as ‘n simboliese optrede wat die vernietiging van die tempel voorspel. Net daarna in Johannes 2:19 sê Jesus: Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek hom oprig. Jesus het geweet dat die tempel vervang gaan word met die volmaakte koninkryk van God.

 

 




‘n Vrygewige gemeenskap

 

A religion of individual salvation had been taught, along with a wholesale rejection and condemnation of traditional culture. The result has been … a superficial Christianity with no deep roots – Lesslie Newbigin

 

‘n Vrygewige gemeenskap

As ons net ‘n gedeelte van die besoekers kon hou, sou die gemeeente groei; ons kan God se  liefde met meer mense deel; ons sou sterker, gesonder lede van ons gemeenskap gewees het. Ons sou die wêreld ‘n beter plek gemaak het. Ons moet die vreemdeling wat deur ons deure inloop in ons gemeenskap verwelkom soos Jesus. Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou, en hy saam met My (Openbaring 3:20). Jesus is in die vreemdeling en besoeker.

 

God stuur die besoekers. Hoe ons hulle verwelkom en met hulle verbind, is die manier waarop ons getuig van die genade en liefde wat ons van God ontvang het. Alle besoekers is deel van die sendingveld.

 

Mense kom na ons met hulle eie storie. Hulle het dalk in ‘n ander kerk seergekry; soms voel hulle verlore; hulle soek. Vrygewige gemeenskappe verwelkom nie net hierdie mense nie, maar verkondig luidkeels dat ons wil hê dat hulle deel van ons gemeenskap moet word. Ons besef die lewe in die geloofsgemeenskap word verryk as ons nuwe lede byvoeg. Ons verwerp die siening dat mense graag alleen gelaat wil word. Mense wat ‘n erediens bywoon as vreemdelinge en besoekers wil nie alleen gelaat word nie.

 

Baie gemeentes nooi mense uit om eredienste by te woon, maar is nie bereid om met hulle te verbind nie. Gemeentes moet mense daarvoor afsonder. Hulle moet goeie luisteraars wees; hulle moet die nuwelinge help verstaan hoe God in hulle lewens werk en moet hulle help om hulle besondere lewensreis, gawes en talente te gebruik om die gemeenskap te versterk.

 

Die toekomstige gemeente nooi mense uit om Jesus te ontmoet en hulle geloofsgemeenskap te ondervind. Vrygewige gemeenskappe ken en word deur hulle gemeenskappe geken. Hulle is goeie bure vir diegene wat langsaan woon. Hulle neem deel aan die aktiwiteite van die buurt – hulle staan bekend as behulpsame burgers. Hulle besef evangelisasie is afhanklik van mense ken en met hulle in ‘n verhouding te wees. Hulle kommunikeer

 

Die toekomstige kerk moet ‘n ruimte in die skare skep – ‘n ruimte waar mense kan nadink, mediteer of met ander in ‘n groep nadink.

 

 




Die toekoms van rentmeesterskap

 

A house divided against itself will not stand – Abraham Lincoln

 

Die toekoms van rentmeesterskap

Ons weet dat van die vroeë gemeenskappe alles wat hulle gehad het, gedeel het. Ons weet hulle het kollektes vir die armes opgeneem. Spesiale aandag is aan weduwees en wese gegee. Jesus kom en sê dat alles wat sy volgelinge besit, is syne. God is die Skepper van alle dinge. Hy leer hulle dat hulle versorging van mekaar en die gemeenskap waarin hulle lewe, is noodsaaklik vir hulle verhouding met Hom. Hy sê hulle moet hulle rykdom gebruik, dit vermenigvuldig en om vrygewig en eerlik daarmee te wees. Jesus sê ons moet onsself afvra wat ons met al God se dinge – sy wêreld en sy hulpbronne – gaan doen.

 

Kerke wat gaan oorleef is entiteite wat die intrinsieke waarde van hulle gemeenskappe en diegene wat daarin woon verbeter. Om dit te kan doen moet kerke verbind wees met mense in hulle siviele konteks. Hulle sal die gemeenskappe waarin hulle woon en die inwoners daarvan moet liefhê. Geloofsgemeenskappe woon nie in ‘n wêreld los van die wêreld om hulle nie. Ons bestaan op ‘n spesifieke plek en ons behoort daar en ons word opgeroep om die dinge wat God gemaak het, te onderhou.

 

Organisasies wat in die toekoms sal floreer is daardie organisasies wat opreg en nie vals is nie; hulle is oop vir deelname deur almal. Rentmeesterskap gaan oor verhoudings en dit sal groei as dit ‘n verhouding tussen mense en God is. Mense moet wat hulle gee, verbind met hulle waardes en hulle geloof in ‘n God wat omgee en wat mense help om met mekaar te verbind. Waar begin ons? Deur vertroue te herbou. Vertroue word gebou as die gemeenskap en nie die kerk die begunstigde is. Vertroue en gemeenskapsimpak is die meetinstrumente vir gesondheid en lewenskrag. Geloofsgemeenskappe van die toekoms moet sigbaar vir die wêreld om hulle wees.

 

Om by rentmeesterskap betrokke te wees, sal beteken dat ons ‘n mate van voorspelbaarheid verloor. Ons moet individue aan mekaar verbind deur nuwe metodes en tegnologieë te gebruik. Rentmeesterskap in die toekoms sal deursigtig wees – mense sal weet waarvoor die fondse gebruik word. Die gebruik van fondse sal aanspreeklik wees en reageer op die behoeftes. Die ontvanger sal  met respek en waardigheid hanteer word.

 

Die kerk se besigheid is nie om finansiële opbrengs te vermeerder sodat sy begroting kan klop nie. Ons is geroep. Rentmeesterskap gaan oor deelname aan God se ekonomie – God se voorsiening vir die wêreld. Rentmeesterskap gaan nie net oor gee nie, maar oor betrokkenheid met die skepping van ‘n nuwe wêreld. Uiteindelik gaan dit daaroor om individue met God en met mekaar te verbind.