Moet die kerk verander?

 

Jesus himself did not convert the two thieves on the cross; he waited until one of them turned to him – Dietrich Bonhoeffer

 

Moet die kerk verander?

So we beat on, boats against the current,

 Borne back ceaselessly into the past

  1. Scott Fitzgerald

Kyk ‘n bietjie om jou. Oral word geboue gesloop om plek vir nuwes te maak. ‘n Mens kry die gevoel dat dit makliker is om van die oue ontslae te raak en ‘n nuwe ding te bou as om die oue te probeer vernuwe. Die idee dat ons voor kan begin sonder die gewig en baggasie van die verlede is ‘n leuen. Ons loop altyd die toekoms in met ‘n sleutelbestanddeel van die verlede – onsself.

 

Die kerk is ‘n stoorkamer van die verlede – vol artefakte van die teologie, liturgie en Sondagskole van die verlede. Dit was deel van die Verligting, die Industriële Revolusie, allerhande musieksmake, ens.

 

Glo jy aan ‘n kerk wat besig is om dood te gaan of glo jy aan ‘n lewenskragtige kerk? Die manier waarop jy jou kerk sien, het ‘n direkte effek op die kerk self. Kwantum fisika leer vir ons dat die waarnemer die werklikheid van dit wat waargeneem word, vorm. Ons skep ons kerk en die wêreld om ons deur hoe ons dit waarneem en die stories wat ons daarvan vertel. Die implikasie is dat niks meer dreigend vir die lewe en sending van die kerk is as siniese en negatiewe leierskap nie. Ons onvermoë om God se hand aan die werk te sien in die wêreld om ons, skep ‘n omgewing wat dit nog moeiliker maak om God te sien.

 

Ons taak is mede-bouers van hierdie kerk. God is nou besig om sy kerk te maak; die Heilige Gees is aan die beweeg om dit te voltooi. Maar ons het ook ‘n aandeel in hoe die kerk gaan lyk, wie dit gaan lei, hoe dit in die wêreld bestaan, hoe dit georganiseerd is, ens. Ons moet egter altyd Salomo se woorde onthou: Sou God werklik op die aarde woon? Die hemel, selfs die hoogste hemel, kan U nie bevat nie, hoe dan nog hierdie tempel wat ek gebou het! (1 Konings 8:27):

 

Die God wat ons volg, is uit en tussen die mense. Hy vra dat ons wat Hom volg kerk moet maak daar waar Hy is – uit en tussen die mense. Ons moet plek maak vir kreatiwiteit en innovering. Ons God kan nie ingeperk word nie – die kerk kan God nie inperk nie. Die kerk moet homself in ‘n nuwe skepping maak. Dit kan nie ‘n struikelblok vir toegang tot God wees nie. Ons moet mense toelaat om na vore te kom en God te vind

 

Toegang tot God en God se liefde is vir baie van ons die rede waarom ons in die kerk is – dit maak ‘n verskil in ons lewens; dit daag ons uit om beter mense te wees. So ‘n God kan nie ingeperk word nie. Ons moet die wêreld ‘n ander plek maak. Ons moet dit nuut maak deur God se liefde, genade, vergifnis en barmhartigheid. Ons moet ander uitnooi, verwelkom en met hulle verbind. God open Homself vir ons en sê vir ons wat deur die wêreld platgedruk is: Kom na My en Ek sal vir julle rus gee. Moenie die kindertjies van My weghou nie; moenie dié wat weggedwaal het, wegwys nie. Laat hulle almal kom …laat ons almal gaan; laat ons saam die kerk maak.

 

Ons nooi mense uit na ‘n verhouding met ‘n besondere God in ‘n besondere gemeenskap met ‘n besondere taal, liturgie en sosiale sisteem. Die kerk is die familie van God; dit is die tempel van die Heilige Gees. Maar al is dit waar, moet ons ook erken die kerk is dikwels dislojaal. Ons word opgeroep om gereeld na ons geloof terug te keer.

 

 

 

 

 




Die binding van Isak (Genesis 22:1 – 19)

 

“Where there is peace and meditation, there is neither anxiety nor doubt.” – Franciskus van Assisi

 

Die binding van Isak (Genesis 22:1 – 19)

Christene verwys na hierdie gedeelte as die “offer van Isak,” maar die Jode verwys hierna as die Akedah –  die “binding” van Isak. Binding is eitlik meer akkuraat, want Isak is vrygestel voordat hy geoffer is.

 

In Genesis kry ons baie van die basiese temas wat noodsaaklik is vir ons verstaan van die Bybel.  Die sleutel om hierdie gedeelte te verstaan kry ons in vers 12: Want nou weet Ek dat jy God vrees en jou seun, jou enigste, van My nie teruggehou het nie (OAV). Baie Bybelgedeelte beskou “vrees van God” as die kernwaarde in ons godsdiens. Die vrees van die Here is die beginsel van die kennis (Spreuke 1:7 – OAV). Om God te vrees is om die onmeetbare verskil tussen God en mens in nederigheid te erken. Hier is die eerste keer wat ons sien dat iemand hierdie deug beoefen. [Daar is nie ‘n Hebreeuse woord wat ekwivalent aan godsdiens is nie. Vrees van die Here is die ekwivalente term.]

 

Daar is onmiddellik twee vrae wat na vore kom.

  1. Hoekan ‘n goeie persoon gewillig wees om sy kind te offer?

Die openingswoorde van hierdie hoofstuk help ons: Na hierdie dinge het God Abraham beproef (OAV). God se plan om die mense van die aarde te seën, het van Abraham afgehang (Genesis 12:3). Daar het dinge gebeur wat aan God rede gegee het om aan Abraham te twyfel. Dit was noodsaaklik om Abraham te toets om te sien of hy God se vertroue werd was.  Twee maal het Abraham sy vrou in die steek gelaat teenoor ‘n vreemde koning. Hy het dit gedoen om homself te beskerm, waarskynlik omdat hy God nie genoeg vertrou het om dit in die vreemde te doen nie. Wat hier ter sprake is, is nie gehoorsaamheid nie, maar totale wedersydse vertroue. God beproef vir Abraham om te sien of hy God vertrou al beteken dit dat hy sy seun moet prysgee. Abraham se vrees is ‘n toestand van totale kwesbaarheid voor God. Dit is die menslike toestand waarop die verbond berus.

 

  1. Hoe kan ‘n goeie God vereis dat Abraham sy kind moet doodmaak?

Daar is twee moontlike redes om God vry te spreek op ‘n aanklag van sadisme.

  • Hierdie is ‘n ware toets. God het nie vooraf geweet hoe Abraham gaan reageer nie Net deur alles van hom te vereis, weet God of hy sy toewyding aan God voor alles plaas. Die boek Genesis ondersteun nie die algemene teologiese siening dat God alles weet voor dit gebeur nie. As Abraham die toets slaag lees ons: Want nou weet Ek dat jy God vrees … (22:12).
  • God eis alles van Abraham, want Abraham moet besef dat hy nie in beheer van die verbondsverhouding is nie. Hierdie staan teenoor Genesis 18 waar Abraham aggressief God se oordeel oor Sodom uitdaag. Laat dit ver van U wees! Sal die Regter van die ganse aarde geen reg doen nie? (Genesis 18:25). God het na Abraham se intrede vir die “onskuldige” mense geluister. God verwys selfs na Abraham as ‘n profeet (Geneis 20:7). Ons sien dus Abraham se deernis met mense (Genesis 18) en sy vertroue op God (Hoofstuk 22). Beide is noodsaaklik vir Christene.

 

[In die Koran kry ons ‘n soortgelyke verhaal van die amperse offer van Abraham se seun. Maar die Koran noem nie spesifiek watter seun van Abraham betrokke is nie. Latere tradisie sê dit was Ismael.]

 




Hoe bid ons?

 

The usefulness of the law lies in convicting man of his infirmity and moving him to call upon the remedy of grace which is in Christ – Augustinus

 

Hoe bid ons?

Jy leer baie van ‘n persoon deur te luister na sy gebede. Soms hoor ons gebede wat soos ‘n lysie vir Kersfees klink – ek wil dit hê; ek wil dat hê. Sommige mense wil soos die Fariseër mense met hulle gebede probeer beïndruk.

 

Ons kan baie by Nehemia leer van gebed. Toe Nehemia van die vervalle toestand van Jerusalem verneem het, bid hy vir vier maande.

 

Rick Warren sê dat ons in hierdie gebed van Nehemia vier geheime kry van gebede wat beantwoord word.

 

  1. God se karakter moet die basis van jou versoek wees

Ag, Here, God van die hemel, groot en ontsagwekkende God wat u verbond en u troue liefde handhaaf teenoor dié wat U liefhet en u gebooie gehoorsaam (1:5). Nehemia sê drie dinge oor God:

  • God is groot – dit is sy posisie
  • God is ontsagwekkend – dit is sy krag
  • God kom sy beloftes na – Hy handhaaf sy verbond.

Die eerste ding wat Nehemia doen, is dat hy erken wie God is en dat Hy ‘n groot God is. Hy begin deur die regte perspektief te kry. Hy erken dat God ‘n getroue God is. God se karakter moet die basis van ons gebede wees.

 

  1. Bely die sondes in jou lewe

Ek doen belydenis van die sondes wat ons teen U begaan het (1:6). Kyk net hoe dikwels praat hy van “ek” en “ons.” Ons  het U nie geëer nie; ons was ongehoorsaam … Dit was nie Nehemia se skuld dat die volk in ballingskap gesit het nie – dit het 70 jaar vantevore gebeur. Tog sluit hy homself in by die volk se sondes – “ek is deel van die probleem.”

 

Wanneer laas het ek/ons die sondes van ons volk of familie of ons vriende bely? Ons dink nie meer so nie, want ons is te individualisties. Die samelewing leer vir ons dat elkeen vir sy eie heil verantwoordelik is. Dis nie waar nie. Luister weer na Kain se vraag na hy sy broer vermoor het: Moet ek dan my broer oppas? Die antwoord is: Ja. Aanvaar die blaam. Moenie verskonings maak nie; moenie dink dit is altyd iemand anders se fout nie.

 

  1. Maak aanspraak op God se beloftes

Dink tog aan die belofte wat U aan u dienaar Moses gemaak het (1:8). Nehemia herinner God aan wat Hy in die verlede gesê het. Abraham, Moses, Dawid en die profete het dit gedoen: “God, ek wil U aan een van u beloftes herinner …”  Moet God herinner word? Nee. Sal God vergeet wat Hy belowe het? Nee. Hoekom moet Hy dan aan sy beloftes herinner word? Want dit help ons om te onthou wat Hy belowe het.

 

  1. Wees spesifiek in wat jy vra

As jy ‘n spesifieke antwoord op jou gebed verlang, moet jy spesifieke versoeke rig. As jy sommer so in die algemeen bid, gaan jy in ieder geval nie weet of jou gebed beantwoord is nie. Nehemia huiwer nie om vir sukses te bid nie. Daar is niks verkeerd daarmee om vir sukses te bid as wat jy vra God sal verheerlik nie. Dit is wat Nehemia gedoen het: Laat my tog voorspoedig wees met wat ek vandag wil doen (1:11). As ek God nie kan vra om my te seën met wat ek besig is om te doen nie, moet ek dalk iets anders doen. God wil nie hê dat jy jou lewe moet mors nie.

 

 




Die Here is my herder

 

Every Christian is also an evangelist, who should teach other and publish the glory and praise of God – Martin Luther

 

Die Here is my herder

As iemand een psalm gememoriseer het, is dit waarskynlik Psalm 23. Waarom is hierdie psalm, een van 150 in die Bybel, so gewild? Dit was nie altyd die geval nie. Sy gewildheid het maar gewissel. In die VSA is hierdie psalm gewild omdat  Henry Ward Beecher, prominente prediker, dit in 1858 as die nagtegaal van die psalms beskryf het.

It is small, of a homely feather, singing shyly out of obscurity; But, oh, it has filled the air of the whole world with melodious joy, Greater than the heart can conceive. Blessed is the day on which that psalm was born.

Teen 1916 was die psalm deel van die begrafnisdienste in die Metodiste kerke. Waarskynlik was dit as gevolg van die laaste vers:

U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.

Die feit dat dit ‘n kort psalm is  en dat hy oënskynlik individuele godsdiens beklemtoon, het ook tot die pslm se gewildheid bygedra.

 

Waaroor gaan die psalm? Dit kan as ‘n lied van vertroue geklassifiseer word. (Soos psalm 4, 11, 16, 62 en 131) Hierdie hoop word deur twee sentrale beelde oorgedra:

  • God is die herder wat die psalmis as ‘n skaap wat versorging nodig het, sien (vers 1 – 4).
  • God is ‘n gasheer wat die psalmis as sy gas sien (vers 5 – 6).

 

Wat opvallend is, is God se oorvloedige versorging – as herder en as gasheer. Die dood speel geen rol in hierdie psalm nie, behalwe in die bekende frase: in ‘n dal van doodskaduwee (OAV). Hierdie is ‘n ou vertaling wat sy oorsprong in die Septuagint het. Die Hebreeuse woord beteken waarskynlik nie ‘n dal van doodskaduwee nie. Daarom kry ons in nuwere vertalings eerder frases soos donker dieptes (NAV). As hierdie nuwe vertalings korrek is, vermeld die psalm nooit dood nie – dit gaan eerder oor lewegewende beelde van God wat vertroue inboesem en inspireer.

 

Maar wat dan van tuis wees in die huis van die Here  tot in lengte van dae? Tot in lengte van dae  het ‘n parallelle verhouding met my lewe lank vroeër in die vers. Die psalmis is diep dankbaar vir God se versorging wat hom in staat stel om goedheid en liefde te alle tye te ondervind. Dit stel hom ook in staat om gereeld na God se huis – die tempel – terug te keer.

 

Die boodskap is kragtig: die psalmis sal nie deur vyande nie, maar deur goedheid en liefde agtervolg word. Hy sal aanhou om God se teenwoordigheid in die tempel te ondervind. Dit is hoekom die psalm so gewild is. God se beskermende leiding en gasvryheid beteken dat hierdie psalm in feitlik alle omstandighede gebruik kan word. Dit fokus op God se oorvloedige versorging: my beker loop oor (OAV).