Ek is geregtig op

 

“The Church exists by mission, just as a fire exists by burning. Where there is no mission, there is no Church; and where there is neither Church nor mission, there is no faith.”- Emil Brunner (1889-1966)

 

Ek is geregtig op

Baie mense dink hulle is van verantwoordelikheid vrygestel en geregtig op spesiale behandeling. Dit is mense wat dink hulle staan bokant die reëls. Dit verwys nie na die persoon wat behoeftes het wat hy nie op sy eie kan hanteer nie. Natuurlik moet ons hulle help. Waarvan ons hier praat is diegene wat in staat is om hulleself te help, maar van ander verwag om hom te help, wat hy voel hulle skuld dit vir Hom.

 

Wat is die oplossing? Die moeilike pad: Die gewoonte om te doen wat die beste is eerder as wat gemaklik is om ‘n resultaat te kry wat die moeite werd is. As jy glo dat iets die moeite werd is, kan jy dit op twee maniere benader:

  • Jy is geregtig daarop – gee die minste, kry kortpaaie en dink net aan jouself.
  • Die moeilike pad – doen wat ook al die beste is om jou doel te bereik al is dit moeilik, ongemaklik, vereis meer energie en duur langer. Dit klink moeilik, want dit is moeilik.

 

Dit klink Bybels, want dit is Bybels. Gaan deur die nou poort in. Die breë poort wat na die verderf lei, is wyd en die pad daarheen breed, en dié wat daardeur ingaan, is baie. Maar die poort wat na die lewe lei, is nou en die pad daarheen is smal, en dié wat dit kry, is min (Matteus 7:13 – 14).

 

Die beginsels van die moeilike pad werk – dit is prakties en doeltreffend. Jesus het hierdie pad geloop. Dwarsdeur die Bybel doen Hy die regte ding al was dit die moeilike ding om te doen Hy het ‘n pad geloop wat moeiliker is as enige pad wat ons moet loop en dit om vir ons ‘n pad te skep waardeur ons verlos kan word en lewe. Die moeilike pad is God se pad.

Loop jy liewer die pad van die goeie mense, bly op die paaie van die regverdiges (Spreuke 2:20).

 

 




‘n Unieke optrede wat aan ‘n omvattende behoefte voldoen: die kruis (1)

Blog242

“There is not one blade of grass, there is no color in this world that is not intended to make us rejoice.”– Johannes Calvyn (1509-1564)

 

‘n Unieke optrede wat aan ‘n omvattende behoefte voldoen: die kruis (1)

Dat Jesus  vir ons sondes gesterf het, is seker dié deel van die evangelie wat die meeste beklemtoon word. Maar die idee dat ons aanspreeklik is aan ‘n Skepper gaan nie vandag meer goed af nie. Ons is geneig om ons eie pad te loop en God te ignoreer. Hierdie wanverhouding tussen ons aanspreeklikheid en ons optrede is die beginpunt van alle menslike behoeftes.

 

Wat vereis ‘n verhouding met God? Wat verwag Hy? Vier gedeeltes help ons.

  • Miga 6

In Miga 6 maak God ‘n hofsaak teen sy mense met die skepping as getuie. In hierdie teks sien ons wat God van die mens verlang.

Hoor wat die Here sê: Maak klaar, roep die berge op as getuie, laat die heuwels hoor wat jy te sê het. Berge, vaste fondamente van die aarde,  julle moet luister na die saak wat die Here het. Die Here het ‘n saak teen sy volk, Hy het Israel aangekla. My volk, wat het Ek jou aangedoen? Hoe het Ek jou moeggemaak? Antwoord My! (6:1 – 3).

Wat het ek verkeerd gedoen, vra die Here vir sy volk wat Hom verwerp het. Hulle sou goed besef het dat hierdie ‘n retoriese vraag is. Dit is nie God wat verkeerd gedoen het nie, maar sy mense. God was getrou; sy mense was ontrou.

 

Daarna vertel God vir hulle dat Hy hulle uit Egipte, die plek van slawerny, gered het; Hy het vir hulle leiers soos Moses en Aäron gestuur … Hulle moet God se trou onthou; hulle moet onthou waaroor die paasfees gaan. Nou skielik verander die trant van die gesprek. Nou hoor ons die stem van die sondaar. Hy wil weet wat kan vergoed vir die mense wat nie God se teenwoordigheid en goedheid waardeer het nie. Offers? Olie? Selfs: Moet ek my eersgeborene offer vir my sonde? Dit is sekerlik ‘n groot genoeg offer om God tevrede te stel. Maar God sê: Nie een van hulle nie. Ons soel altyd die groot dinge, maar God soek nie altyd die groot dinge nie. Hy soek iets eenvoudiger.

Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God (6:8). Eenvoudig, maar moeiliker. God vra dat ons Hom respek sal bewys en om daardie respek oor te dra deur ons verhouding met ander. Om dit nie te doen nie, is sonde. God se probleem met sy mense is nie dat hulle verkeerd offer nie, maar hulle gewilligheid om voordeel uit ander te trek. Dit beskryf die profeet in 6:9 – 12. Dit gaan oor geweld, leuens, bedrog, roof, ens. In die res van die hoofstuk sê Miga dat God nie sulke gedrag ignoreer nie. Ons verhouding met Hom se basis is ons aanspreeklikheid teenoor Hom.

 

Miga sou presies dieselfde gesien het as hy vandag ons koerante sou lees. Ons leef op ‘n wyse wat nie God se begeerte vir sy skepsels weerspieël nie. As ons ons eie pad loop, laat God soms toe dat ons die gevolge van ons keuses oes; soms gryp Hy in om ons aandag te trek. Maar God hou ons altyd aanspreeklik.

 

Hoe reageer God op die situasie. Daarvan lees ons in Miga 6:13 – 16. God oordeel ons. Die volk sien duidelik dat God nie sonde ignoreer nie. Soms oordeel God onmiddellik; soms wag Hy tot aan die einde, maar ons bly altyd aanspreeklik.

 

Volgende keer kyk ons na verdere teksgedeeltes van God se unieke optrede wat ‘n omvattende behoefte van die mens hanteer.




God vereis nie dat jy gekwalifiseerd moet wees nie

 

If we reflect that the Spirit of God is the only fountain of truth, we will be careful…not to reject or condemn truth wherever it appears. In despising the gifts, we insult the Giver.” -Johannes Calvyn

 

God vereis nie dat jy gekwalifiseerd moet wees nie

Jy wil graag doen wat God vir jou gegee het om te doen. Maar nou begin jy twyfel: God gaan my nie gebruik nie; ek is nie gekwalifiseerd nie. Een hartseer reaksie is: ‘God wil my nie gebruik na wat ek gedoen het nie.’

 

Sou Petrus nie so gevoel het nie? Jesus het baie tyd saam met hom gespandeer. Jesus noem hom selfs die rots. Daarna doen hy presies wat Jesus gesê het hy sou doen – hy verloën vir Jesus. Wat doen Petrus? Hy keer terug na sy ou lewe – hy vang vis. Jesus dink na op die skip. Jesus het hom gekwalifiseer, maar hy het homself gediskwalifieer. Toe sien hy vir Jesus op die strand staan. Dit was Jesus en Jesus sê hom dat daar nog werk is om te doen. “Ek het jou gekies … wat soek jy op die skuit?”

 

Ons luister graag na die mense om ons – veral as hulle ons herinner aan ons verlede.  Laat Jesus toe om sy arm om jou skouers te plaas en jou skuld en skaamte weg te vat. Hy bied aan jou ‘n nuwe begin met ‘n nuwe lewensdoel. Dit het niks met jou kwalifikasies te doen nie. As God jou roep, rus Hy jou toe.

.




Van Johannes die Doper na Jesus

 

Whoever, then, thinks that he understands the Holy Scriptures, or any part of them, but puts such an interpretation upon them as does not tend to build up this twofold love of God and our neighbor, does not yet understand them as he ought.” ~Augustinus

 

Van Johannes die Doper na Jesus

In Lukas 3:16 sê Johannes: Ek doop julle met water, maar my meerdere kom, en ek is nie eers werd om sy skoene los te maak nie. Hy sal julle met die Heilige Gees en met vuur doop.

Johannes maak hierdie stelling toe mense spekuleer dat hy dalk die Messias kan wees. Wat is die teken van die nuwe tyd? God gee sy Gees aan sy mense – hulle word inwendig met die Gees gedoop. Hierdie nuwe tydperk breek aan met die koms van Jesus. As Hy die Gees bring, bring Jesus ‘n nuwe verhouding – ‘n nuwe hart en gees in hulle. Jesus vervul die belofte van Esegiël.

 

Johannes sê ook dat hy nie werd is om die skoene van Hom wat gaan kom, los te maak nie. wat beteken dit?

  • Johannes is ‘n profeet van God – die grootste van al die profete.
  • Volgens die Joodse wet kon geen Joodse slaaf sy eienaar se sandale losmaak om sy voete te was nie – dit was te vernederend. Die verskil tussen Johannes en die Een wat sou kom, was so groot dat selfs Johannes, ‘n profeet, nie waardig was om hierdie vernederende taak te verrig nie. Die Een wat sou kom, is so uniek. Die een wat God se belofte bring is nie net nog ‘n profeet nie – Hy is totaal anders; Hy is in ‘n unieke kategorie.

 

Die kern van die nuwe tyd is die koms van die Gees. Die doel van al die verbondsaktiwiteite is die herstel van ‘n verlore verhouding – om weer God en sy mense te verbind. God se teenwoordigheid en rigtinggewing in sy mense staan op die voorgrond van die evangelie. Die  evangelie gaan oor die voorreg van God wat ons lewens permanent inkom en so ons verhouding met Hom herstel – Hy maak ons deel van sy kosbare familie. Dit is die goeie nuus van Lukas 3:16.

 

Die belang van hierdie idee word al hoe duideliker in die res van Lukas-Handelinge. Die belofte van ‘n nuwe verhouding en ‘n goddelike teenwoordigheid in gelowiges loop soos ‘n goue draad deur hierdie twee boeke.

 

Die goue draad wat ons kan volg, weerspieël die boodskap wat sentraal in die evangelie staan. Die kern van die goeie nuus is ‘n belofte om ‘n nuwe verhouding en ‘n nuwe gemeenskap te vorm.