Hoe moet Christene op armoede reageer?

 

I learned more about Christianity from my mother than from all the theologians in England. —John Wesley

 

Hoe moet Christene op armoede reageer?

Anne Bradley en Art Lindsley (For the Least of These: A Biblical Response to Poverty) sê dat die mensdom nog nooit ryker was as nou nie. Daar was ook ‘n afname in armoede in meeste lande. Maar daar is nog baie mense wat nie toegang tot skoon water, genoegsame kos en skuiling het nie. In die Bybel kan ons leer wat om te doen en hoe om dit te doen.

 

Die ongelykheid aan inkomste is ‘n onderwerp wat algemeen bespreek word. Natuurlik is dit soms waar dat die rykes die armes uitbuit. Maar hoe kan die Skrif ons help om hierdie probleem te oorbrug?

 

God het ons na sy beeld gemaak. Hy het alles uit niks gemaak nie. Ons as mense kan net iets uit iets anders skep. God het ons gelyk, maar nie dieselfde gemaak nie. As ons almal dieselfde was – dieselfde talente en vaardighede – was dit geen probleem nie. Maar, ons het unieke gawes en verskillende sterkpunte. Dit is hoe God alles gemaak het. Ons moet die kwesbares help om te wees wat God hulle gemaak het om te wees. Hoe?

 

Om vir die armes te sorg het sekerlik met geld te doen, maar ook veel meer as net geld. Die kern van armoedeverligting is om weer ‘n Godgegewe waardigheid in hulle harte wakker te maak deur hulle te bemagtig om hulle volle potensiaal te bereik. Armoedeverligting gaan oor verhoudings. Jesus het die armes liefgehad en vir hulle gesorg. As iemand ‘n onmiddellike behoefte het en ons kan hulle help, moet ons dit doen. Maar dit is net die begin.

 

Hier is ‘n paar riglyne.

  1. Armoedeverligting is die kerk se verantwoordelikheid. Dit is die taak van die kerk om met passie en opregtheid die armes te versorg.
  2. As ons doen dit waarvoor God ons gemaak het, help ons ander. Tree as vrywilliger op; dien in jou gemeente; werk elke dag hard. Jy moet jou gesin, vriende en bure liefhê.
  3. Die stryd om armoede uit te roei, begin in jou gemeenskap. Dit begin by die bou van langtermyn verhoudings. Hanteer werklike behoeftes. Maak jou hande vuil.

 

Is armoedeverligting nog vir Christene ‘n prioriteit?

 




Volg My (7)

 

Prayer is not overcoming God’s reluctance. It is laying hold of his willingness –  George Mueller

 

Volg My (7)

David Platt het ‘n kort boekie: What did Jesus really mean when He said: Follow me? geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

As ons volgelinge van Jesus word, kom daar ‘n breek met ons ou lewenswyse en ons volg ‘n nuwe lewenswyse. Soos Christus in ons begin leef, begin alles verander. Ons denke verander – ons besef wie God is en wat Jesus gedoen het en hoeveel ons Hom nodig het. Ons begeertes verander – die wêreldse dinge wat ons eenmaal liefgehad het, haat ons nou; die dinge van God wat ons eenmaal gehaat het, het ons nou lief. Ons wil verander – ons gaan waarheen Jesus sê en doen wat Hy ons beveel. Ons verhoudings verander – ons lê ons lewens in liefde vir mekaar af. Ons rede om te leef verander – besittings en posisie is nie meer belangrik nie. Ons wil God se heerlikheid sien.

 

As ons Christus volledig volg, sal ons sy kerk liefhê. Op die pad na Damaskus vra Christus vir Saulus waarom hy Hom vervolg het. Saulus het nie vir Jesus nie, maar die kerk vervolg. Jesus identifiseer Hom hier met die kerk. Mense leef vandag geïsoleerd van mekaar. Maar dit is nie hoe God op ons reageer nie. Ten spyte van ons sonde agtervolg Hy ons steeds. Soek ons nie mense wat ons lief genoeg het om na ons om te sien as ons op die pad van sonde loop nie? God bring sy kinders bymekaar in ‘n geloofsgemeenskap. Hierdie gemeenskap aanbid gereeld, dien mekaar, pas mekaar op, gee vir mekaar en sorg vir mekaar.

 

In die kerk behoort volgelinge van Christus aan mekaar en sorg vir mekaar op so ‘n manier dat hulle verantwoordelikheid vir mekaar aanvaar. Hierdie gemeenskap behels meer as om een maal per week langs mekaar te staan en ‘n paar liedere saam te sing. Dit beteken ons besef dat ons vir mekaar verantwoordelik is om as dissipels te groei. As ons ons lewens vir mekaar in die kerk aflê, illustreer ons God se liefde vir mense. Jesus het gesê dat die mense sy dissipels sal herken weens hulle liefde vir mekaar. Die kerk is Jesus se bruid gekoop deur sy bloed. Dit is ‘n voorreg om aan so ‘n gemeenskap te behoort. Dit is prakties onmoontlik om ‘n dissipel van Christus te wees sonder totale toewyding aan die familie van Christene.

 

Maar dit is nie net die kerk wat verander nie – die wêreld verander ook. Daarna kyk ons volgende keer.

 

 




Hoe lees ek daagliks die Bybel?

 

Integrity is doing the right thing, even when no one is watching.” (C. S. Lewis)

 

Hoe lees ek daagliks die Bybel?

In Matteus 4 lees ons van Jesus se versoeking in die woestyn. Jesus was honger, want vir veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie. Die Satan kom by Hom: As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.  Dit moes ‘n groot versoeking gewees het, maar Jesus antwoord: ‘n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom. Selfs in sy honger toestand is geestelike voedsel vir Jesus belangriker as fisiese kos.

 

Ons het dikwels ‘n stryd om gereeld Bybelstudie te doen. Maar as Jesus sê om te hoor wat God sê belangriker is as ons daaglikse kos, kan ons dit tog nie verwaarloos nie. Hier is ‘n paar basiese idees om ons met daaglikse Bybelstudie te help.

 

  1. Beplan ‘n gereelde tyd en plek in jou daaglikse skedule

In ons besige lewens gaan Bybelstudie verlore tensy dit in ons daaglikse skedule gestruktureer is. Vir party mense is dit vroeg in die oggend. Ander mense sukkel om wakker te word en daarom doen hulle dit later. Maak nie saak wanneer jy dit doen nie, maar skeduleer dit sodat jy seker is dat dit sal gebeur.

 

  1. Doen dit met iemand anders

Dit beteken dat jy iemand moet kry wat op dieselfde skedule as jy is en wat jy gereeld sien. Kontroleer hoe dit gaan en wat jy geleer het. Dit beteken ingeboude aanspreeklikheid, maar dit gee ook die geleentheid vir dialoog oor wat jy geleer het. Jy lees baie versigtiger as jy weet dat jy ‘n gesprek met iemand gaan hê oor wat jy gelees het. Jy sien ook nuwe dinge in die teks wat jy nie op jou eie raakgesien het nie.

 

  1. As jy nuut is hiermee hou dit kort en eenvoudig

Dit hoef nie super-lank of super in diepte te wees nie. As jy sukkel moenie met kommentare  of groot stukke teks begin nie. Begin eenvoudig en bou daarvandaan op. ‘n Bietjie is beter as niks en dit gee aan jou ‘n plek vanwaar jy kan bou.

 

  1. Ontwikkel ‘n sisteem om dit wat jy leer op te som en te onthou.

As ek halfpad deur die dag nie kan onthou wat ek die oggend gelees het nie, het ek nie reg daaraan laat geskied nie – ek het nie werklik God se woord verteer nie. Daarom moet ek ‘n sisteem hê om te onthou. Om ‘n opsomming van die gedeelte neer te skryf help baie – veral as jy dit gedurende die dag herhaal en bid. Dit moet iets tasbaar wees om aan vas te hou. Dit help ook met kontinuïteit die volgende dag.

 

  1. Implementeer ‘n struktuur vir gebed en toepassing

Dit is nie maklik nie – veral nie vir sekere gedeeltes uit die Ou Testament nie. Probeer om elke individuele teks in die groter storie van die verlossingsgeskiedenis in te pas. Bryan Chappell (Christ-centered Preaching) vra twee vrae:

  • Wat openbaar hierdie gedeelte oor die menslike natuur wat bekering noodsaak?
  • Wat openbaar hierdie gedeelte oor God se aard wat bekering voorsien?

Hierdie is ‘n goeie beginpunt. Dan word ek diep bewus van hoe nodig ek werklik vir Christus het. Ek dank Hom en vra dat Hy my verder op sy pad sal lei.

 

In elke hoekie van die Bybel is daar iets uniek – ‘n unieke bydrae tot die openbaring van die Bybel. Daar word geen spasie in die Bybel vermors nie.

‘n Mens leef … van elke woord wat uit die mond van God kom (Matteus 4:4).

 

 

 

 




Volg My (6)

 

We cannot all argue, but we can all pray; we cannot all be leaders, but we can all by pleaders; we cannot all be mighty in rhetoric, but we can all be prevalent in prayer –  Spurgeon

 

Volg My (6)

David Platt het ‘n kort boekie: What did Jesus really mean when He said: Follow me? geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

In Johannes 6 het Jesus wonderbaarlik ‘n skare mense met die padkos van ‘n seuntjie gevoed. Jesus sê: Ek is die brood wat lewe gee. Wie na My toe kom, sal nooit weer honger kry nie, en wie in My glo, sal nooit weer dors kry nie. Jesus sê vir die skare dat Hy die voorsiening is wat God gestuur het vir ons siele. Hierdie het geweldige implikasies vir wat dit beteken om ‘n dissipel van Hom te word. In Hom kry jy die einde van al jou begeertes. In Hom kry jy ‘n ewige blydskap veel meer as die tydelike plesier van die wêreld.

 

Ons diepste verlange is nie vir iets nie, maar vir Iemand – die Gewer van ons goeie gawes. Ons het niks meer as Hy nodig nie. Hy verander ons smaak as ons in Hom glo en ons begin die dinge van God wat ons eens gehaat het, liefhê. Die trekpleister van sonde is steeds in die lewe van elke gelowige. Hoe oorwin ons dit?

  • Ons werk hard om ons optrede te verander. Ons kry ‘n lysie van moets en moenies. Dit gaan nie werk nie.
  • Ons kan op Christus vertrou om ons begeertes te verander.

Die manier om sonde te oorwin is nie deur harder te werk om ons dade te verander nie, maar om op God te vertrou om ons begeertes te verander.

 

Ons het gepraat oor die koste om Jesus te volg, maar dit is ook ‘n wonderlike geleentheid vir ons. Daarna gaan ons volgende kyk.