Volg My (5)

 

God answers the prayer we ought to have made rather than the prayer we did make. —J.I. Packer

 

Volg My (5)

David Platt het ‘n kort boekie: What did Jesus really mean when He said: Follow me? geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Daar is ‘n koste aan verbonde om Jesus Christus te volg, maar dit is die moeite werd. Jesus vereis meer as om intellektueel te glo; dit is meer as eentonige geestelikheid. Daar is onbeskryflike vreugde te vind en ‘n ewige doel om te vervul om vir Hom te leef.

 

Maar om te sterf is moeilik. Geen wonder dat meeste mense die breë pad met die breë poort verkies nie – dit is maklik en gewild. Maar Jesus sê dat ons deur die nou poort moet ingaan. Hierdie smal pad met sy nou poort lei na die lewe. Al wat gevra word om op hierdie breë pad te reis is ‘n eenmalige besluit vir Christus. Daarna kan jy van sy gebooie en standaarde vergeet – jy het jou kaartjie hemel toe. Langs die pad sal jou sonde verdra word.

 

Maar dit is nie Jesus Christus se pad nie. Sy pad behels pyn, verdrukking, vervolging – nie ‘n maklike pad nie. Ons skram weg vir die koste. Ons herdefinieer die Christelike geloof volgens ons persoonlike voorkeure en kultuurnorme. Stadig maar seker verwring ons die Jesus van die Bybel en verander Hom na iets waarmee ons meer gemaklik is. Ons water die koste af, ons ignoreer wat Hy sê van mense wat Hom nie volg nie; ons ignoreer wat Hy van materialisme sê; ons hoor glad nie wat Hy oor roeping sê nie. Ons skep ‘n aangename, polities-korrekte Jesus wat net soos ons is en dink.

 

Jesus laat Homself nie oop vir interpretasie nie of aanpassing of verandering nie. Hy het Homself duidelik in sy woord geopenbaar Ons sal vind dat sy woord ons aannames en oortuigings konfronteer.

 

Om Jesus te volg, vereis totale transformasie. Daarna kyk ons volgende keer.

 

 




Christene word nie net vergewe nie

 

Sin forsaken is one of the best evidences of sin forgiven. —J.C. Ryle

 

Christene word nie net vergewe nie

Christene hou nogal van plakkers op hulle karre. Een van die ergste is: Christian’s aren’t perfect, just forgiven. Paulus sê: Aangesien ons met Hom een geword het in sy dood, sal ons sekerlik ook met Hom een wees  in sy opstanding (Romeine 6:5). Die evangelie is nie net ‘n manier om die straf vir sonde te vermy nie, maar ook om die mag van sonde te ontsnap.

 

Baie Christene lewe feitlik onbewus van die krag wat God aan hulle in Christus gegee het. Hulle kyk na so min as dit by verlossing kom. Hulle soek innerlike vrede of ‘n kaartjie uit die hel uit. Die evangelie kan dit voorsien, maar dit is baie groter as dit. Een met Christus beteken dat wat waar vir Christus is ook nou wetlik waar vir ons is. Ons het sy opstandingskrag. Die Christelike geloof gaan nie oor die omblaai van ‘n nuwe bladsy nie, maar oor die krag van ‘n totale nuwe lewe.

 

Dit moet bemoedigend vir ons wees. Die mense wat God gebruik om die wêreld te verander, is nie diegene met ‘n morele skoon bladsy nie. Petrus was ‘n lafaard; Paulus het maklik mense aanstoot gegee … Hulle was nie van beter materiaal as ons gemaak nie. Die  nuwe geboorte verander hulle in mense met ongelooflike krag. Daar is geen gebrokenheid of swakheid wat die krag van Jesus se opstanding nie kan genees of verwyder nie.

 

Hoe kry ons toegang tot hierdie krag? Julle moet dus altyd onthou dat ook julle vir die sonde dood is, maar vir God lewe, omdat julle een is met Christus Jesus (Romeine 6:11). God gee aan ons die krag van nuwe lewe. Ons gevoelens sal vir ons sê dat ons dood vir God en lewend vir die sonde is. Die woord van God sê vir ons die teenoorgestelde. Dit is net as ons glo dat ons die beloofde krag kry.

 

Ons sal krag kry om dood vir die sonde te wees as ons glo dat God ons reeds dood vir die sonde gemaak het. Ons moet eers glo en dan sal ons voel. Jesus se beloftes van krag is nie vir meer prestige of invloed of rykdom nie, maar vir iets meer waardevol – groei om meer soos Christus te word.

 

Die ewige lewe is binne ons bereik. Ons kan reeds nou aan ‘n nuwe kwaliteit van lewe deelneem. Ons vra so graag: As jy vannag doodgaan waar gaan jy heen? Ons moet eerder vra: As jy môre wakker word, hoe sal jou lewe môre anders lyk omdat Christus daarin is?

 




God se teenwoordigheid in my lewe

 

The unrighteous look for the good in themselves and for evil in others … the righteous try to see their own faults and overlook those of others – Martin Luther

 

God se teenwoordigheid in my lewe

Is ek bewus van God se teenwoordigheid in my lewe? Selfs vir gelowiges voel dit soms asof God afwesig in ons lewens is. Daar is weer ander tye wanneer ons baie naby aan Hom voel. Ons is geneig om te oordeel of God by ons is deur ons omstandighede. As alles reg verloop en Hy antwoord ons gebede, is Hy naby aan ons. Maar as ons swaarkry, glo ons dat God afwesig is.

 

Ons moenie toelaat dat omstandighede ons persepsie beïnvloed nie. Ons moet vertrou op wat die Skrif sê. Luister wat sê die psalmis: Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig (Psalm 23:4). As gelowiges het ons dieselfde belofte – die Here stap saam met ons in goeie en in slegte tye. Glo ons dit? As ons dit nie glo nie, sal ons die voordele en seëninge van sy teenwoordigheid verbeur.

 

As ons van God se teenwoordigheid bewus wil wees, moet ons ons verhouding met Hom verdiep. Die plek om te begin is by sy woord. Lees elke oggend sy woord en ons gedagtes word die hele dag op Hom gerig. As ek vertrou op God se kragtige teenwoordigheid in my, word my lewe verander.

 

  1. My perspektief verander

Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie. Daarom is ek bly en juig ek en voel ek my veilig (Psalm 16:8 – 9). As ek van God se teenwoordigheid bewus is, is daar ‘n gevoel van vrede en veiligheid oor my. Al lyk dinge donker hoop ek steeds, want my vertroue is op Hom – nie in my omstandighede nie. Ons skryf nou nie ons seëninge aan geluk toe nie, maar ons word bewus dat God die bron van alle goeie dinge is.

 

  1. As ons van God se teenwoordigheid bewus is motiveer dit gehoorsaamheid

Ons sal nie sonde in ons lewens verdra nie want dit pas nie by ons identiteit in Christus in nie. Nou sif ons elke besluit wat ons neem deur sy wil, want ons wil doen wat Hy begeer.

 

  1. Ons liefde vir God en ons sensitiwiteit vir Hom neem toe

Gebed word nou ‘n geleentheid om met die Here te praat – nie net ‘n tyd om versoeke te rig nie. Ons kan die hele dag lank ons gesprekke met Hom in ons harte dra. Aanbidding word nou meer as ‘n roetine – dit is ‘n geleentheid om die Here te eer.

 

God wil hê dat ons meer bewus van Hom sal wees. Maak nie saak wat in jou lewe gebeur nie, Hy is by jou. Niks is vir Hom verborge nie; niks is buite sy bereik nie.

 




Die belangrikste vers in die Bybel

 

Learning to pray doesn’t offer us a less busy life; it offers us a less busy heart. —Paul Miller

 

Die belangrikste vers in die Bybel

  1. D. Greear sê dat hy dink Romeine 4:5 is die belangrikste vers in die Bybel. Hier kry ons die evangelie. Kom ons kyk na die direkte vertaling in die Interliniêre Bybel:

En aan die een wat nie werk nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose regverdig maak, word sy geloof gereken tot geregtigheid.

Die kernwoord om hierdie vers te verstaan, is gereken. Kom ons kyk eers na wat hierdie woord nie beteken nie.

 

  1. Gereken beteken nie dat geloof mense regverdig maak nie

Paulus praat hier van Abraham. Ons sien dat Abraham se lewe hom nie outomaties ‘n regverdige man gemaak het nie. Hy word steeds deur kompromië gepla. Hy twyfel aan God se beloftes en slaap met  Hagar om ‘n erfgenaam te kry. By twee geleenthede los hy vir Sara oor aan die genade van magtige konings. Deur God se genade het die konings nooit dit gebruik nie. Alles gebeur na Abraham se verklaring van sy geloof in Genesis 15:6. Dat Abraham se geloof aan hom gereken word, beteken nie dat hy nou skielik regverdig optree nie.

 

  1. Gereken beteken nie dat geloof regverdigheid is nie

Baie mense glo dat as jy geloof het, is niks anders belangrik nie. Geloof is die goue standaard van gehoorsaamheid. Maar geloof is nie die belangrikste deug wat daar is nie. Paulus sê dat dit liefde is. Hy sê dat geloof sonder liefde feitlik waardeloos is. Jesus het ook die hele wet opgesom met liefde – liefde vir God en liefde vir jou naaste.

 

Maar wat beteken gereken dan? Gereken beteken dat God my geloof as regverdigheid tel al is dit nie. Regverdigheid is nie iets wat ons bereik nie; dit is iets wat ons ontvang. Dit is ‘n gawe van God wat ons op grond van ons geloof ontvang – nie verdien nie. Ware geloof is ‘n verklaring van bankrotskap. Ek së as ‘t ware vir God: “Ek vertrou U, want ek het niks anders om aante bied nie.”

 

As ek op Jesus se voltooide werk vir my verlossing vertrou, reken God dit as regverdigheid. God sê: “Noudat jy na my met leë hande kom, kan ek hulle vul.” Die evangelie sê nie: “Doen dit en jy verdien jou plek in die hemel” nie. Die evangelie sê: “Dit is klaar gedoen. Kom stukkend en vol sonde soos jy is; kom leeg en ontvang die ewige lewe.”