Volg My (2)

 

Where truth is denied, only therapy remains – Al Mohler

 

Volg My (2)

David Platt het ‘n kort boekie: What did Jesus really mean when He said: Follow me? geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Sonde is nie tot een of twee dinge beperk nie – dit gaan na die kern van wie ons is en maak dit vir ons onmoontlik om na God te draai op ons eie. Dit is wat die Bybel bedoel as hy sê dat ons dood in ons sonde is. Volledig dood.

 

As sonde ons probleem is en as ons dood is as gevolg daarvan, wat beteken dit? Hoe kan ons onsself help? Onmoontlik. In jou dood het jy iemand buite jouself nodig om jou te help. Dit is presies wat Jesus gedoen het.

 

Jesus het gekom om die lewe te leef wat ons nie kon leef nie (‘n lewe sonder sonde) en om die dood te sterf wat ons as sondaars verdien het om te sterf. Jesus het gekom om die heilige toorn van God wat ons as sondaars verdien, te verduur. Ons sonde bestaan nie buite ons nie – dit is in die kern van ons wese. Ons sondig nie net nie, ons bestaan as sondaars. Toe Jesus aan die kruis gesterf het, het Hy nie net vir ons sonde gesterf nie – Hy het die straf wat ons as sondaars verdien, betaal. Hy sterf in ons plek – vir ons. Hy verduur die volle straf wat ons as sondaars verdien het.

 

Almal van ons is sondaars. God is heilig en sy toorn teen sonde en sondaars is geregverdig. Maar God is ook genadig en het ‘n heilige liefde vir sondaars. Hoe kan God dan heilige toorn en heilige liefde teenoor sondaars bewys? Die antwoord is: die kruis van Jesus Christus. Daar sien ons die volle uitdrukking van God se toorn en sy liefde.

 

Hierdie reiniging van sondaars is ‘n gawe van God en berus nie op ons meriete nie. Ons word nie gered oor die dinge wat ons gedoen het nie, maar slegs deur sy genade. Geloof is Christus alleen is die enigste manier om van sonde gereinig te word. Daar is niks wat ons kan doen behalwe om te vertrou op dit wat reeds in die lewe, dood en opstanding van Jesus Christus gedoen is nie. Geloof is die besef dat God se aanvaarding van jou nooit van jou prestasies afhanklik is nie. Dit berus altyd op wat Christus vir jou gedoen het.

 

Volgende keer gaan ons kyk na hoe ek ‘n volgeling van Jesus word.

 




Wil jy hê dat mense na jou moet luister?

 

Followers of Jesus who count the cost and are willing to take up their crosses after him must have broad shoulders. —Os Guinness

 

Wil jy hê dat mense na jou moet luister?

Meeste konflikte in die kerk is die gevolg van swak kommunikasie.. Jou beste planne, idees en voorstelle is waardeloos as jy hulle nie doeltreffend kan kommunikeer nie. Net omdat iemand hoor dat jy iets sê, beteken nie dat hulle luister nie. Daar is sekere vaardighede wat jy kan ontwikkel om te verseker dat mense na jou luister. Volg net hierdie Bybelse riglyne. Rick Warren noem die volgende riglyne:

  1. Kies die regte tyd. Jy mag gereed wees om te praat, maar is hulle gereed om te luister? Elke ding het sy tyd en sy manier (Prediker 8:6).
  2. Beplan jou voorlegging. Dink voordat jy iets sê – veral jou inleiding. Moenie met die besonderhede begin nie. ‘n Wyse mens praat verstandig en kies sy woorde sodat hy ander kan leer (Spreuke 16:23)
  3. Begin met sy/haar behoeftes. ‘n Luisteraar wil altyd weet waarom hy na iets moet luister – hoe gaan dit my bevoordeel? As jy hierdie vrae antwoord, gee mense hulle onverdeelde aandag aan wat jy sê. Praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goed kan kom (Efesiërs 4:29).
  4. Luister eers. Ons kom in die moeilikheid as ons sommer aannames maak. Luister eers na die ander kant. Elke mens moet maar te gewillig wees om te luister, nie te gou praat nie en nie te gou kwaad word nie (Jakobus 1:19).
  5. Sê dit positief. Niemand hou van slegte nuus nie. Leer om realisties en optimisties te wees. As jy slegte nuus het, sê dit aan die begin op ‘n feitelike manier. ‘n Mens wat met wysheid bedeel is, word verstandig genoem, en as hy sy woorde reg kies, kan hy ook ander leer (Spreuke 16:21).
  6. Verduidelik jou gevolgtrekkings. Som op dit wat jy gesê het; wees spesifiek; sê weer wat jy besluit het. Ek vermaan … om eensgesind te wees in die Here (Filippense 4:2b).
  7. Eindig met ‘n bemoedigende woord. Hoe jy ‘n gesprek afsluit, is belangrik Probeer altyd op ‘n hoë noot eindig. ‘n Mens kan voorspoedig word deur altyd die regte woorde te gebruik (Spreuke 12:14).

 

Probeer hierdie riglyne en kyk watter verskil hulle maak.

 




Christene moet bekend wees vir …

 

Faith that fizzles before the finish was faulty from the first – Vance Havner.

 

Christene moet bekend wees vir …

‘n Mens kry die indruk dat Christene meer bekend is vir dit waarteen hulle is as vir dit waarvoor hulle staan. Maar waarvoor moet Christene bekend wees? Jarrid Wilson identifiseer agt dinge

 

  1. Liefde

Wie nie liefhet nie, het geen kennis van God nie, want God is liefde (1 Johannes 4:8). Liefde is ‘n intrinsieke waarde van elke Christen. Maak nie saak wat die omstandighede is nie, Christene word gekenmerk deurdat hulle ‘n helpende hand van liefde uitsteek. God het ons lief, al betoon ons nie altyd liefde teenoor Hom nie. Ons moet dieselfde vir ander doen.

 

  1. Genade

Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het (Efesiërs 4:32). Die genade van God bedek baie sondes en sy kruisdood het daarvoor betaal. Ons verdien nie die genade wat so oorvloedig uitgedeel word nie. Net so moet ons as Christene bekend staan vir die genade en vergifnis wat ons aan ander bewys. Dit mag onverdiend wees, maar ons genade en vergifnis was ook onverdiend.

 

  1. Reinheid

Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is –  watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig (Filippense 4:8). Reinheid geld nie net vir ons verhoudings nie, maar ook vir ons praat en optrede en motiewe.

 

  1. Geduld

In Galasiërs 5:22 lees ons van die vrug van die Heilige Gees – een daarvan is geduld. Die res van die wêreld mag kitsoplossings verkies, maar die woord van God maak dit duidelike dat Christene onder alle omstandighede geduldig moet wees. Dit is nie altyd die maklikste pad om te kies nie, maar is beslis die beste.

 

  1. Opoffering

In Johannes 3:16 lees ons van Jesus se offer aan die kruis. Ons sal nooit tot dieselfde mate kan offer nie, maar dit beteken nie dat ons hierdie voorbeeld wat Jesus gestel het, moet probeer navolg nie.

 

  1. Onselfsugtigheid

Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan dié van ander (Filippense 2:4). Gee jy net om iets terug te kry of gee jy uit die oorvloed van jou hart? Onthou net dat alles wat ons het, nie ons s’n is nie – ons is maar net rentmeesters.

 

  1. Toewyding

Laat julle ‘ja’ eenvoudig ‘ja’ wees en julle ‘nee’ ‘nee.’ (Matteus 5:37)

As Christene sê dat hulle iets sal doen, moet hulle dit doen. Die wêreld moet sien dat hulle ons kan vertrou.

 

  1. Respek

Julle moet alle mense respekteer en julle medegelowiges liefhê (1 Petrus 2:17). Ons sal sekerlik mense teenkom wie se siening van ons s’n verskil. Dit beteken nie dat ons hulle nie kan respekteer nie. Selfs as ons verskil, kan ons liefde en genade bewys.

 

 

 

 

 

 




Volg My (1)

 

Be careful, be careful of your private lives … and I believe your public lives will be sure to be right. Remember that it is upon your public life that the verdict of the world will very much depend – Charles Spurgeon

 

Volg My (1)

David Platt het ‘n kort boekie: What did Jesus really mean when He said: Follow me? geskryf. Ek gaan ‘n paar blogs aan hierdie boekie spandeer.

 

Jesus loop eendag langs die See van Galilea en roep vier vissers om Hom te volg, en Ek sal julle vissers van mense maak (Matteus 4:19). Petrus, Andreas, Johannes en Jakobus los hulle nette net daar en volg Hom. Hulle lewens, en die hele wêreld, was nooit weer dieselfde nie. Maar Jesus se uitnodiging om Hom te volg, geld ook vir elkeen van ons.

 

Hierdie oproep van Jesus is nie iets wat ons sommer kan ignoreer nie – selfs nie in ons besige lewens nie. Dit vereis ons volle aandag. Jesus het gesê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Johannes 14:6). Jesus is nie een gereg van die buffet waaruit ons die elemente waarvan ons hou, kan kies nie. As sy aansprake waar is, het ons geen keuse nie – soos die vier vissermanne moet ons alles los en Hom volg.

 

Jesus se roeping van die vissermanne is duidelik: hulle los hulle nette en volg Hom. Hulle loop saam met Hom waar Hy ook al gaan. Na sy dood en opstanding volg hulle Hom deur sy lewenswyse na te boots en deur die goeie nuus oor wat Hy op aarde gedoen het, te versprei. Maar wat beteken dit vandag om Hom te volg?

 

Ons moet ons mees fundamentele probleem voor God hanteer. Ons probleem is nie dat ons ‘n klompie slegte besluite geneem het nie. Ons probleem is dat ons almal in opstand teen God is. Die opstand is wat die Bybel sonde noem en dit hou ons weg van God. In die Bybel is dit duidelik dat sonde en sondaars gestraf word. Lot se vrou is ongehoorsaam – sy kyk terug na Sodom en Gomorra – en sy verloor haar lewe. Daar is baie sulke voorbeelde. Mense lees hierdie verhale en is verward. Is God dan nie ‘n God van liefde nie? Is hierdie strawwe darem nie ‘n bietjie te erg nie

 

Hierdie vrae is eerlik, maar maak ‘n probleem van ons perspektief duidelik. Ons sien sonde deur die oë van ‘n mens. Die straf vir sonde word nie deur ons maatstaf daarvan bepaal nie. Die straf vir sonde word bepaal deur die grootte van die Een teen wie ons gesondig het. As ek teen die oneindig heilige en ewige God sondig, is ek skuldig en verdien die ewige straf.

 

Volgende keer kyk ons na die betekenis van dood in ons sonde.