Simson

 

Character may be manifested in the great moments, but it is made in the small ones. —Phillips Brooks

 

Simson

Simson herinner ons baie aan onsself – nie sy hare en krag nie, maar sy grootste vyand. Simson se grootste vyand was hyself. Is dit nie ook waar van ons nie? Simson vertel ons storie. Hy is ‘n verteenwoordiger van die volk van God, maar hy is ook ‘n waarskuwing vir ons dat ons grootste vyand nie daar buite is nie, maar binne in onsself

 

Sy lewe wys vir ons vyf maniere wat alles van binne na buite saboteer.

 

  1. Simson was impulsief

Alles wat Simson doen, word deur een of ander begeerte gedryf. Hy soek seks, so hy besoek ‘n prostituut; hy is honger, so hy eet heuning wat hy nie mag eet nie; hy vereg hom en tel ‘n kakebeen op en maak ‘n duisend mense dood. Impulsiwiteit is ‘n kanker – as jy dit nie beheer nie, gaan dit jou vernietig. Ons moet leer om nee te sê vir ons begeertes. ‘n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm, so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersing het nie (Spreuke25:28). As jy nie selfbeheer het nie, is rampspoed jou voorland.

 

  1. Simson maak kompromieë

Simsom het hom nie veel aan sy Nasireër-belofte gesteur nie. Toe hy een opdrag verbreek en nie God se toorn ondervind nie, het hy net eenvoudig aangehou om af te dwaal. Totdat, op een tragiese oomblik toe God nie meer by hom was nie. Sê nou net die gevolge van my oortredings is nie al nie?Die grootste gevaar is dat jy God uit jou lewe dryf. Geleidelik word jou hart vir die stem van God verhard.

 

  1. Simson was onleerbaar

As hy ‘n idee in sy kop gekry het, kon niemand hom keer nie. Sy ouers waarsku hom om nie met die Filistyne te lol nie, maar hy luister nie. ‘n Paar keer stamp hy sy kop deur vrouens wat seks gebruik om hom uit te buit. Tog val hy steeds vir die strik wat Delila vir hom stel. Hy leer net nie.

 

  1. Simson was ‘n alleenloper

Simson was ‘n een man vertoning. Hy luister na niemand nie; hy vra niemand se hulp nie; hy vorm geen bondgenootskappe nie. Hy het niemand naby genoeg aan hom gehad om vir hom te sê: “Broer, dit is ‘n slegte idee.” Is daar mense in jou lewe na genoeg aan jou om jou tereg te wys? Luister jy as ander praat? Leer jy by ander? Of is daar gebiede in jou lewe wat niemand mag betree nie. Daar is nie so iets soos ‘n geïsoleerde Christen nie. Mense wat ernstig oor Jesus voel, voel ernstig oor die geloofsgemeenskap.

 

  1. Simson was trots

Simson gee nooit die eer aan God nie. Hy gebruik God se seëninge vir sy eie doel. Hy aanvaar – verkeerdelik – dat hy nooit sy krag sal verloor nie. Hy het vergeet dat sy krag ‘n genadegawe van God was. Gaan jy deur die lewe en dink dat jou gawes jou eie is? Jy is maar net ‘n rentmeester. Jy kry alles op bruikleen by God. Vra vir God: “Waarom het U hierdie gawes vir my gegee? Wat wil U hê moet ek daarmee doen?”

 

Hier is ‘n paar belangrike lesse om te leer.

 

.

 




Hoe kan ek diegene wat die kerk verlaat het weer betrokke kry?

 

“Here is a test to find whether your mission on earth is finished: If you’re alive, it isn’t” –  Richard Bach, skrywer van Jonathan Livingston Seagull

 

Hoe kan ek diegene wat die kerk verlaat het weer betrokke kry?

Ons is bekend met die sogenaamde nones – mense sonder enige kerkverband. Daar is ook ‘n nuwe kategorie – die dones. Hulle was aktiewe Christene, maar is nou klaar met die kerk. Hoekom? In hulle boek Church Refugees beskryf Josh Packard en Ashleigh Hope vier redes waarom hulle die kerk verlaat het:

  • Hulle soek gemeenskap … en kry oordeel.
  • Hulle wou die lewe van die kerk beïnvloed … en kry burokrasie.
  • Hulle soek gesprekke … en kry leerstellings.
  • Hulle soek betekenisvolle betrokkenheid by die wêreld … en kry morele voorskrifte.

 

Hierdie boek beveel vier strategieë aan om weer die dones betrokke te kry. Hulle verwys na hulle as vlugtelinge.

 

  1. Nooi hulle uit vir deelname

Hieronder het hulle ‘n paar moontlike planne:

  • Groot burokrasieë kan nie ware innovering sentraliseer nie.
  • ’n Organisassie wat nie misluk nie, is dikwels ook nie ‘n sukses nie.
  • Die grootste bate van enige sterk, florerende organisasie is sy mense – nie ‘n persoon nie.
  • Ondermyn die burokrasie

 

  1. Teikendatums

Baie van die werk in ‘n gemeente geskied op ‘n projekbasis en nie op ‘n programbasis nie. As ‘n projek klaar is, is hy klaar en die gemeente beweeg verder. Wat kan ons doen om ‘n impak op die dones te maak?

  • Laat hulle verstaan hulle moenie verwag dat die leiers alles moet doen nie.
  • Hou die roeping en sending van die gemeente altyd voorop.

 

  1. Beklemtoon verhoudings

Beklemtoon dat daar in die gemeente ‘n plek vir diens en verhoudings is. Verhoudings was ‘n kernboodskap van Jesus. Wat gemeentes moet doen, is om ‘n benadering tot gemeenskapsontwikkeling te ontwikkel. Met hierdie benadering moet gemeenskappe versterk word. Daar word gefokus op die sterkpunte wat reeds in die gemeenskap teenwoordig is.

 

  1. Maak ‘n impak op jou gemeenskap

Om dit te kan doen, moet ons verstaan dat ons verstaan van ‘n probleem verdiep en uitgebrei word deur ‘n hele aantal perspektiewe te hoor. Luister na die gemeenskap – na soveel as moontlik mense.

 




Die belang van bekering

 

The true convert does not receive the gospel as an addition to his previous life, but in exchange for it. —Paul Washer

 

Die belang van bekering

Bekeer julle en glo die evangelie (Markus 1:15)

Dit was Jesus se eerste openbare oproep. As bekering dan so hoog op Jesus se prioriteitslys was, moet ons sekerlik ook aandag daaraan gee. Maar hoe moet ons dit doen? Hier kan Psalm 32 ons baie help. Ons kry hier vyf belangrike stappe:

  1. Wees eerlik oor jou behoefte aan bekering

Dit gaan goed met die mens vir wie die Here die oortredings nie toereken nie en in wie se gees daar geen valsheid is nie (32:2). Bekering vereis eerlikheid Niemand kom na die Here voordat hulle nie eers hulle behoefte aan vergifnis en versoening met Hom erken het nie. Net diegene wat nie meer probeer om hulle sonde met selfregverdiging te bedek nie, kan diep en blywende verandering ondervind.

 

  1. Erken die gevaar van sonde en die skade van skuldgevoelens

Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het. U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte (32:3 – 4)

Ons blameer dikwels ander vir ons spanning, maar dikwels voel ons sleg, want ons het slegte dinge gedoen. Die psalmis beskryf hier die fisiese en emosionele simptome van iemand met ‘n skuldige gewete. Ons moet eerlik die gevolge van ons sonde ondersoek – beide persoonlike gevolge en die impak wat dit op ander het.

 

  1. Bely volledig

Toe het ek my sonde bely, my oortredings nie weggesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid” (32:5).

Dit klink vir ons verkeerd, maar die enigste manier om deur God vergewe te word, is as ek my sonde volledig blootlê. Ons moet 100% deursigtig oor die breedte en diepte van ons sonde voor God wees. Ons eerlikheid lei na vryheid en vreugde.

 

  1. Skuil in God

U het my skuld vergewe. Dit is waarom elke gelowige in ‘n tyd van nood tot U bid; selfs vloedwaters sal hom nie skielik oorval nie. U is vir my ‘n skuilplek, U beskerm my teen aanvalle. U laat my oorwinningsliedere sing (32:5 – 7).

Adam en Eva het agter onvoldoende, mensgemaakte bedekkings hulle sonde probeer wegsteek. Ons skuil ook dikwels agter selfgemaakte geregtigheid om ons meer aanvaarbaar te laat lyk. As jy egter werklik wil verander, moet jy by God skuil. Dit is nie genoeg om berou oor sonde te hê nie – baie mense doen dit. Ons moet ook oor ons pogings om ons sonde weg te steek, berou hê. Moenie in jou eie pogings probeer skuil nie – skuil in God.

 

  1. Gryp die hoop aan

Die goddelose het baie smarte, maar wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde (32:10).

Hoe kan ek verseker weet dat die Here my sal vergewe? Sy onfeilbare liefde. Dink na en word verseker deur sy geloftes deur die geskiedenis en hoe hulle in Jesus Christus vervul is. Dink maar net aan God se beloftes aan Abraham, Moses en Dawid. Hy is voldoende. Kyk weer na sy beloftes en gryp die hoop aan.

Verbly julle in die Here en juig, regverdiges, jubel, alle opregtes (32:11)

 




Die Prediker

 

Holiness is not freedom from temptation, but power to overcome temptation. —G. Campbell Morgan

 

Die Prediker

Soms moet ons stilstaan en nadink oor ons lewens as deel van die soewereine God se storie. ‘n Boek wat ons hierin kan help, is Prediker. Hierdie boek is realisties. Dit leer vir ons dat die lewe dikwels leeg is, maar ons eindig nie op die rotse van wanhoop nie. Die einde van die boek is die lens waardeur ons die hele boek moet lees: Die slotsom van alles wat jy gehoor het, is dit: Dien God en gehoorsaam sy gebooie. Dit is wat van die mens gevra word. God sal rekenskap eis oor alles wat gedoen word, ook oor wat in die geheim gedoen word, of dit goed is of kwaad (12:13 – 14). Ons moet verstaan dat hierdie wêreld nie ‘n paradys is nie. Die belangrikste is dat niks belangriker is as die regte verhouding met God nie.

 

Prediker herinner ons aan ons beperkings en tydelikheid. God het elke ding gemaak dat dit pas in ‘n bepaalde tyd, maar Hy het ook aan die mens ‘n besef gegee van die onbepaalde tyd (3:11).

 

Thomas Schreiner kyk na ‘n paar aspekte van hierdie lewe soos die Prediker dit sien.

  • Die vreugde van skoonheid

Die lewe is ‘n mengsel van skoonheid en misterie. Ons sien die skoonheid in die natuur om ons. Ons sien die skoonheid van die wêreld wat God gemaak het, maar ons verlang na iets meer – ons voel daar is iets meer as net hierdie lewe.

 

  • Die misterie van die lewe

God het in ons harte ‘n begeerte vir die ewigheid en skoonheid geplaas. Maar tog bevat ons lewe baie dinge wat ons nie verstaan nie. Ons kan nie ons lewens bemeester nie. Die lewe maak nie altyd vir ons sin nie. Kyk na die werk van God: wie kan reguit maak wat Hy krom gemaak het (7:13). Die lewe is vol raaisels en geheime en lyding wat ons nie kan oplos nie. Baie van die diepste lewensvrae kan ons nie beantwoord nie. “Reason’s last step is the recognition that there are an infinite number of things that are beyond it.” (Blaise Pascal).

 

  • Die vreugde van die lewe

Prediker leer vir ons dat die lewe vol lyding en tragedies is. Terselfdertyd word ons opgeroep om die lewe te geniet. Wees bly op die dag van voorspoed, en as daar ‘n dag van teëspoed kom, sien dit so: Soos die een het God ook die ander een gegee, sodat die mens nie sal weet wat vir hom voorlê nie (7:14); Ek het tot die insig gekom dat daar vir ‘n mens niks beter is nie as om vrolik te wees en die goeie van die lewe te geniet. Dat die mens kan eet en drink en onder al sy arbeid nog die goeie kan geniet, ook dit is ‘n gawe van God (3:12 – 13). God gee aan ons die tyd om die vrugte van ons arbeid te geniet. Maak nie saak wat ons posisie in die lewe is nie, God beplan vir ons vreugde.

 

  • Die vreugde van nederigheid

Die sleutel vir vreugde is nederigheid. God sê dat ons tevrede moet wees. Ons is skepsels van vleis en bloed. Ons aanvaar elke dag ons dagtaak van God. Ons weet nie alles nie, maar ons kan leef en werk en rus in God. Ons dank God vir dit waarvoor Hy ons geroep het.  Ons bemeester nie die lewe nie en ons weet nie wat vir ons voorlê nie, maar ons vertroue is in God. Ons dank Hom vir ons daaglikse brood. As ons die lewe as God se gawe ontvang, sien ons die heerlikheid in die gewone.

 

  • Buitengewone vreugde in die gewone

Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, die lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld gegee het, die lewe wat tot niks kom nie. Dit is wat jou toekom in die lewe, wat jou toekom vir al jou geswoeg in hierdie wêreld (9:9). G. K. Chesterton stel dit so: “The most extraordinary thing in the world is an ordinary man and his ordinary wife and their ordinary children.” Die Prediker sê dat ons nie alles wat in hierdie wêreld gebeur, moet uitredeneer nie – dit is buite ons vermoë. As die dae goed is, geniet dit. Geniet die dae wat God jou saam met jou vrou, jou gesin en jou vriende gegee het.