Moet ons evangeliseer?

 

They that know God will be humble, and they that know themselves, cannot be proud. —John Flavel

 

Moet ons evangeliseer?

Daar is baie redes waarom ons moet evangeliseer. Johannes Calvyn noem ses redes:

  1. God het aan ons ‘n opdrag gegee om te evangeliseer.
  2. Ons wil God verheerlik. Ware Christene wil God se waarheid oral verkondig sodat Hy verheerlik kan word.
  3. Ons wil God tevrede stel. Calvyn sê dat om die evangelie te versprei ‘n offer is wat God tevrede stel.
  4. Ons het ‘n plig teenoor God. Calvyn glo dit is gelowiges se plig om die goedheid van God aan al die nasies te verkondig.
  5. Ons het ‘n plig teenoor ons medesondaars. Ons moet weet dat ander mense nie God kan aanroep nie, behalwe deur diegene wat deur die verkondiging van die evangelie God se goedheid leer ken het.
  6. Ons is dankbaar teenoor God. Ons is dit aan God verskuldig om vir die verlossing van ander te streef. Geloof wat ons broers ignoreer, is dood. Om die kennis van God vir jouself te hou, is verkeerd.

 

 




Vals godsdienste

 

“A private faith that does not act in the face of oppression is no faith at all.” ― William Wilberforce

 

Vals godsdienste

Wat maak dat sekere groepe nie as Christene nie, maar as vals godsdienste beskou moet word? Wanneer word hulle as dwaalleer en nie net nog ‘n denominasie geklassifiseer nie? Die Nuwe Testament noem drie fundamentele leerstellige kriteria waardeur vals onderrig en vals godsdienste geïdentifiseer kan word.

 

  1. Die verkeerde siening van verlossing

Vals godsdienste voeg goeie werke by die evangelie van genade. En as dit uit genade is, dan is dit nie uit verdienste nie, anders sou die genade nie meer genade wees nie (Romeine 11:6). Eerder as om op Christus alleen vir hulle verlossing te glo, probeer hulle God se guns wen deur menslike pogings.

 

  1. ‘n Verkeerde siening van die Skrif

Vals leraars verwring en is ongehoorsaam aan die Skrif. Petrus sê van die dwaalleraars: Hulle sal verderflike dwaalleer insmokkel en die Here wat hulle vrygekoop het, verloën (2 Petrus 2:1) Hulle voeg by of neem weg van God se geopenbaarde waarheid. Hulle kyk na een of ander vals gesag vir dit wat hulle glo.

 

  1. ‘n Verkeerde siening van die Verlosser

Vals godsdiens verwring die waarheid oor Jesus Christus. Hulle ontken aspekte van sy persoon (sy Goddelikheid, sy menslikheid, ens) en sy werk (sy opstanding, sy hemelvaart, ens). As jy nie die ware Christus aanbid nie, is jy nie ‘n Christen nie.

 




God se liefde

 

Fallen man is not simply an imperfect creature who needs improvement: he is a rebel who must lay down his arms –  C. S. Lewis

 

God se liefde

In die Skrif lees ons van God se liefde en wonder soms hoe dit moontlik is. Sommige waarhede is so onpeilbaar diep dat ons dit nie kan verstaan nie – hulle moet gevoel en ondervind word. God se liefde is so. Hy sê nie net dat ons ons vyande moet liefhê nie – hy stuur Jona na sy ergste vyand in Nineve.

 

God se liefde moet ons laat stilstaan. J. D. Greear sê dat ons dan drie vrae moet vra:

  1. Glo ek in die onwankelbare liefde van die Vader?

Die verhale van Jona, Hosea en die verlore seun gaan oor my. Ek is Nineve, ‘n stad so boos dat God se liefde vir my onverstaanbaar is. Ek is Gomer wat herhaaldelik in die arms van ander mans hardloop, maar wat God steeds liefhet en nie kan opgee nie. Ek is die verlore seun vir wie God daagliks op die voorstoep van die hemel staan en verlang dat ons terugkom huis toe.

 

Daar is dae wat ons nie hierdie liefde van God voel nie. As ek dit nie voel nie, moet ek steeds kies om dit te glo. My persepsie van die liefde van God moet berus op die waarheid dat Hy my gesoek en gekoop en aan die kruis vergewe het.

 

  1. Het ek sy liefde vir my omhels?

God gaan nie sy liefde op my afforseer as ek dit nie wil ontvang nie. Maar God se liefde is nie ‘n eenmalige transaksie wat by my bekering plaasvind nie – dit is ‘n vloed wat op ons uitgestort word. As God vir my die Regter, Skepper of Heilige is, maar nie my Vader en Verlosser nie, sal my liefde vir Hom altyd gespanne wees.

 

  1. Het ek al God se liefde vir ander aangevoel?

As ek die genade en liefde van God ondervind het, moet ek verander. Ek het lief, want Hy het my eerste liefgehad. As ek God ontmoet het, kan ek nie onveranderd daar wegloop nie. Hoe kan ek ‘n liefde soos syne ken en dit vir myself hou? Hoe kan ek ‘n liefde soos syne ken en nie ander vergewe nie.

 

 

 

 

 




Beginsels vir die beoefening van Christelike vryheid

 

Hell is full of people who think they deserve heaven. Heaven is full of people who know they deserve hell. —Trevin Wax

 

Beginsels vir die beoefening van Christelike vryheid

Ons kom dikwels voor sekere vrae te staan. Voorbeelde is:

  • Wat is die verband tussen die Ou en Nuwe Testamente?
  • Is daar ‘n verband tussen die wet van Moses en die evangelie van Jesus Christus?
  • Hoe moet ‘n Christen vryheid in Christus beoefen?

Die vergadering in Jerusalem (Handelinge 15) het probeer om sulke praktiese vrae van die vroeë Christene te antwoord.

 

Paulus het ook baie aandag aan hierdie vrae gegee. Hy gee dan ook vir die gemeente in Rome ‘n aantal beginsels vir die uitleef van Christelike vryheid. Hierdie beginsels geld steeds vir Christene vandag. Kom ons kyk na vier van hulle.

Beginsel #1: Moet nooit met Christelike vryheid te koop loop nie

Laat jou oortuiging hieroor ‘n saak tussen jou en God wees (Romeine 14:22)

Ons is vry van die dieetwette van Moses; Jesus het alle kos rein verklaar. Ons kan maar krewe eet. Maar jy moet jou vryheid beoefen as jy dit wil geniet. Sal dit die onderlinge vrede en opbou bevorder? Is dit heilsaam vir jou of verslaaf dit jou? (1 Korintiërs 6:12).

 

Beginsel #2: Christelike vryheid beteken nie dat jy medegelowiges verwelkom nadat jy hulle siening oor X of Y uitgesorteer het nie

Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil (Romeine 14:1). God sal hulle nie laat soos hulle tans is nie, maar hulle manier van optrede is nie die basis vir sy verwelkoming van hulle nie. Ons moet dit ook nie doen nie. Ons het baie verantwoordelikhede teenoor ons mede gelowiges, maar om hulle te oordeel, is nie een daarvan nie. Om ander te oordeel is nie ‘n teken van onderskeidingsvermoë nie, maar van ‘n gees van veroordeling. Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn (Romeine 14:10).

 

Beginsel #3: Christelike vryheid moet nooit so gebruik word dat dit ‘n struikelblok vir ander Christene word nie.

Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot ‘n val kan bring nie (Romeine 14:13). Hierdie beginsel moet deel van ons gedrag word; dit moet deel van ons denke word en uiteindelik moet dit ons optrede rig. Ons ontvang vryheid in Christus sodat ons dienaars van ander kan wees.

 

Beginsel #4: Christelike vryheid beteken dat ons die Bybelse balans sal handhaaf.

Ons moenie aan onsself dink nie: elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou. Christus het immers ook nie aan Homself gedink nie … (Romeine 15:1 – 3). Baie eenvoudig Dit gaan basies oor ons liefde vir Jesus Christus en ons begeerte om Hom na te boots, want sy Gees woon in ons om ons meer en meer soos Hy te maak.

 

Ware Christelike vryheid, anders as die vryheidsbewegings van die sekulêre wêreld, beteken nie dat ons op ons regte aandring nie. Die Christen besef dat hy voor God geen regte het nie. In ons sondigheid het ons al ons regte verbeur. As ons besef dat ons geen regte het nie, kan ons hulle as voorregte beoefen.

A Christian man is the most free lord of all, and subject to none; a Christian man is the most dutiful servant of all, and subject to every one – Martin Luther