Die geloofsgemeenskap

 

I’d rather see a sermon than hear one any day; I’d rather one should walk with me than merely tell the way. –Edgar Guest, digter (20 Aug 1881-1959)

 

Die geloofsgemeenskap

Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself (Lukas 10:27). Hierdie liefde vir jou naaste word ten beste in ‘n geloofsgemeenskap uitgeleef. Wat kan ons doen om hierdie geloofsgemeenskap te bevorder:

  • Uitbouing van die geloofsgemeenskap vereis toewyding – jy sal moeilike besluite en moeilike keuses moet maak.
  • Uitbouing van die geloofsgemeenskap vereis eerlikheid – ware gemeenskap vereis openheid Jy moet genoeg omgee om te konfronteer en die onderliggende hindernisse te verwyder.
  • Uitbouing van die geloofsgemeenskap vereis nederigheid – nederige mense fokus op hulle diens aan ander. Hulle dink nie aan hulleself nie.
  • Uitbouring van die geloofsgemeenskap vereis ordentlikheid – almal van ons het gewoontes wat ander irriteer. Gemeenskap het niks met verenigbaarheid te doen nie. Die basis is ons verhouding met God – ons is almal familie van mekaar.
  • Die uitbouing van die geloofsgemeenskap vereis vertroulikheid – net in ‘n veilige omgewing waarin mense aanvaar word, sal mense oopmaak en hulle diepste seerkry, behoeftes en foute met ander deel. Vertroulikheid beteken nie dat ek stilbly terwyl my broer/suster sondig nie. Dit beteken wat in jou groep gedeel is in daardie groep bly. Ons skinder nie na buite daaroor nie.
  • Die uitbouing van die geloofsgemeenskap vereis gereelde kontak – om verhoudings te bou, vereis tyd.

 

As ons na hierdie vereistes kyk, is dit nie verbasend dat ‘n ware geloofsgemeenskap seldsaam is nie. Maar die voordele oortref die koste daaraan verbonde om jou lewe met ander te deel.

 




Hoe moet ek getuig van God?

 

Perfect holiness is the aim of the saints on earth, and it is the reward of the saints in Heaven. —Joseph Caryl

 

Hoe moet ek getuig van God?

Paulus se besoek aan Atene (Handelinge 17) sê vir ons baie oor die Bybelse benadering tot getuig. Ons lê veral klem op sy benadering in die sinagoge en dié op die markplein Ons ontleed sy toespraak op die Areopagus en sien dat hy verbind met maar ook die godsdiens en kultuur van die Ateners konfronteer.

 

Maar ons moet ook na verse 24 – 27 kyk: God, wat die wêreld met alles wat daarin is, gemaak het, Hy is die Here van hemel en aarde, en Hy woon nie in tempels wat deur mense gemaak is nie. Hy het ook nie nodig dat mense Hom versorg nie. Inteendeel, dit is Hy wat aan almal lewe en asem en alles gee.. Uit een mens het Hy al die nasies gemaak. Hy het hulle gemaak om oor die hele aarde te woon. Hy het bepaal hoe lank hulle sal bestaan en waar hulle sal woon. God het hulle gemaak om Hom te soek, al sou hulle ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie.

Daar is ‘n God wat die wêreld en alles daarin gemaak het – insluitend my bure, familie, ens. Hy het alles en almal gemaak; Hy het ons nie nodig nie, maar ons het Hom nodig. Hy het selfs besluit hoe lank en waar ons sal lewe.

 

  1. God het hulle daar geplaas

Jou buurman woon langs jou, want God het hom daar geplaas. Jou kollega werk saam met jou in dieselfde kantoor, want God het hom daar geplaas. Hoekom het God hulle daar geplaas? Om Hom te soek; sodat hulle met die evangelie bereik kan word. God het hulle daar geplaas sodat ons aan hulle die goeie nuus kan vertel.

 

  1. Dit was nie toevallig nie

Dit is nie toevallig dat sekere mense ons pad kruis nie. Hulle het Jesus nodig en jy ken Hom. God wil hê dat hulle die evangelie moet hoor – by ons. God het reeds afsprake in my dagboek vir my neergeskryf.

 

Ons moet glo dat God sekere mense spesifiek langs ons geplaas het, want Hy wil hê dat hulle van sy Seun hoor. Ons moet God se soewereiniteit verstaan – en ons dae koördineer met sy sending.

 

 




Klaagliedere

 

God’s loving care comes to us largely through the labor of others – Tim Keller

 

Klaagliedere

Ons leef in ‘n wêreld vol pyn en hartseer – oorloë, onderdrukking, hongersnood … In ons aanbidding is daar dikwels min plek vir klaagliedere. Ook die boek word verwaarloos. In The Message of Lamentations stel Christopher J. H. Wright  ons bekend aan hierdie boek wat ons kan help om menslike lyding te verstaan.

 

Die boek het sy ontstaan kort na die vernietiging van Jerusalem deur die Babiloniërs in 587 vC. Hierdie was ‘n traumatiese gebeurtenis in die geskiedenis van Israel. Die skrywer skilder ‘n prentjie van totale vernietiging en erge lyding: hongersnood, siekte, verkragting, steel en die ontheiliging van heilige dinge.

 

Anders as in die geval van Job en die Psalms sê God niks vir die skrywer nie. Hoe verklaar ons dit?

  • God laat toe dat die mense wat swaarkry hulle sê ten volle kan sê – Hy luister sonder om hulle te onderbreek om hulle te vertroos of reg te help.
  • Die profete het reeds verduidelik dat dit sal gebeur en hoekom dit sou gebeur.
  • God praat nie in die boek nie, maar Hy praat wel deur hierdie boek in sy woord in te sluit.

 

Daar is verskille tussen Klaagliedere en Job en die Psalms. Job se lyding was duidelik onverdiend. In die Psalms is lyding soms die gevolg van sonde, soms as gevolg van bose vyande en soms onverklaarbaar. Selfs al is Jerusalem deur die bose Babiloniërs vernietig, word dit aanvaar as God se oordeel oor die morele, sosiale en geestelike agteruitgang van die volk. Klaagliedere aanvaar God se straf terwyl dit terugdeins vir die omvang daarvan.

 

Kan Klaagliedere nog vir ons vandag iets bied? Daar is vandag steeds mense wat moord, verkragting, die verlies aan huise en die ontheiliging van heilige plekke ondervind. Vir hulle beskryf Klaagliedere die werklikheid. Ons kan en moet saam met hulle hartseer wees. Ons roep na God vir diegene wat swaarkry as gevolg van sonde, ongeregtigheid en onderdrukking. Klaagliedere beskryf die aakligheid van hierdie lyding en vra Hom om regverdig op te tree. Die boek bevestig ook God se soewereiniteit. Die tempel op aarde is vernietig, maar sy troon staan steeds in die hemel.

 

In ons moderne Westerse kerk is daar min plek vir klaagliedere. Ons laat die gedeeltes oor lyding en onderdrukking, waarvan die Bybel baie sê, uit. Ons gee voor ons het emosies wat ons nie regtig het nie of ons onderdruk die emosies wat ons het. As ons by die kerkdeur uitstap, kom al hierdie emosies maar net weer terug, want ons het dit nie in God se teenwoordigheid uitgebring nie.

 

Klaagliedere help ons om die wêreld se lyding te hanteer en daaroor te huil – selfs daarteen te protesteer. Dit gebeur in die oorkoepelende verhaal van die Bybel met Jesus Christus as middelpunt. Ons sien met hoop vooruit na die nuwe skepping sonder lyding, trane en die dood,

 

 

 




Versoeking

It is better to preach five words of God’s Word than five million words of man’s wisdom. — C.H. Spurgeon

 

Versoeking

Sal jy toelaat dat versoeking jou verteer of sal jy dit gebruik om in geregtigheid te groei? Tim Chaddick (The Truth About Lies: The Unlikely Role of Temptation in Who you will Become) sê dat as ons dramatiese materiaal vol waarhede wil lees, moet ons die preke van Engelse predikers van die 17de eeu lees. John Owen is een van daardie predikers. Luister wat sê hy van versoeking: “Temptation is like a knife, that may either cut the meat or the throat of a man; it may be his food or his poison, his exercise or his destruction.” Dus: Versoeking kan jou of doodmaak of sterker maak.

 

Ons is almal seker dat versoeking jou kan doodmaak, maar wat minder duidelik is, is hoe versoeking ‘n geleentheid vir groei kan wees. Hoekom sien ons dit nie raak nie?

  • Ons siening van versoeking is te vlak. As dit gebeur leef ons in ontkenning – ons gee toe sonder dat ons eers daarvan bewus is.
  • Of ons verstaan van versoeking se rol in ons lewens is te nou. Nou word ons wanhopig en ontmoedig, want ons besef nie wat God se doel hiermee is nie.

 

As ons net luister na wat die Skrif oor versoeking sê, kan ons baie pyn gespaar word. Natuurlik moet ons besef dat versoeking ons kan vernietig, maar ons moet ook besef dat versoeking kan veroorsaak dat ons groei – mits ons God in die midde daarvan raaksien.

 

Voor Jesus sy openbare bediening begin het, is Hy eers in die woestyn versoek. Hierdie was ‘n belangrike gebeurtenis, want dit word in drie van die evangelies beskryf. Daarom is dit belangrik dat elke mens verstaan wat versoeking is en hoe ons dit in ons daaglikse lewens moet hanteer. Onthou: as versoeking in die woestyn kan voorkom, kan dit feitlik oral voorkom.

 

Elke versoeking bevat ‘n leuen. As ons dit glo, verswak dit ons geestelike gesondheid en lei ons op ‘n pad wat op vernietiging uitloop. Maar elke versoeking is ook ‘n geleentheid wat ons verder op God se pad sal lei. Binne in elkeen van ons is daar botsende begeertes. Ons wil graag ander mense liefhê en tog word ons na selfgesentreerdheid aangetrek. Elke keer as ons die waarheid en nie die leuen kies nie, bult ons as ‘t ware ons geestelike spiere – ons word sterker met elke uitdaging. Ons word meer volwasse en ons karakter groei. Elke oomblik van versoeking is ‘n oefening van wat dié belangrikste in jou lewe is.