Na die oorwinning

 

There can be no keener revelation of a society’s soul than the way in which it treats its children – C. S. Lewis

 

Na die oorwinning

Josua het van Jerigo af manne gestuur na Ai toe, naby Bet-Awen, oos van Bet-El, en vir hulle gesê: “Gaan verken die land.” Die manne is toe weg en het Ai verken.  Toe hulle by Josua terugkom, sê hulle vir hom: “Dit is nie nodig dat al die manskappe gaan nie. so twee of drie duisend man kan gaan en Ai inneem. Die manskappe hoef hulle nie almal daar te gaan moeg maak nie, daar is min mense in Ai.” (Josua 7:2 – 3).

Israel het pas vir Jerigo ingeneem. Na Jerigo kom Ai. In vergelyking met Jerigo was Ai maar ‘n klein stadjie. Daarom glo die Israeliete dat hulle Ai sommer in hulle slaap kan inneem. Hulle het nie eers die hele leër nodig gehad nie – net so twee of drie duisend man is meer as genoeg. Hulle dink so, want hulle het pas die groter stad Jerigo ingeneem en verwoes.

 

As daar een ding is wat ons uit die oorwinning by Jerigo kan leer, is dit dat Israel bitter min met die oorwinning te doen gehad het. God het dit gedoen. Die Israeliete was egter nederig genoeg om dit op God se manier te doen. Daarom die groot oorwinning. Toe hulle by Ai kom, tree hulle op asof hulle sonder God hierdie stad sal kan inneem en vernietig. Hulle hoef nie op God te vertrou nie.

 

God se plan was dat die Israeliete die hele Kanaän moes inneem. Maar hulle moes God se wil op sy manier doen. Hulle ly ‘n vernederende nederlaag by Ai. Soms is ons baie kwesbaar na ‘n oorwinning – meer kwesbaar nadat God ons geseën het. Ons moenie verbaas wees as God iets groot in ons lewe doen en net daarna word ons geestelik aangeval nie.

 

By Jesus se doop daal die Heilige Gees in die vorm van ‘n duif op Hom neer. Net daarna word Hy in die woestyn deur die duiwel versoek – na die duif kom die duiwel.

Let us be as watchful after the victory as before the battle (Andrew Bonnar, Skotse prediker).

 




Is my werk wettig?

 

We become what we worship – G. K. Beale

 

Is my werk wettig?

Nick Walenda is die eerste man in ‘n eeu wat oor die Niagara waterval op ‘n tou geloop het. Hy is ‘n Christen. Terwyl hy geloop het, het hy voortdurend gebid. Hy praat voor, tydens en na sy lopie van hoe Christus hom ondersteun het – dit voor ‘n TV en Internet gehoor wat luister. Maar is dit ‘n wettige Christelike roeping? Deur gedurig God aan te roep, maak dit ‘n beroep heilig? Gee die Bybel vir ons sekere riglyne oor watter werke vir ‘n Christen wettig is?

 

Hier is ‘n paar riglyne:

  1. Kan ek God in my werk verheerlik?

Kan ek sy Naam verhoog? Skaad my werk nie God se reputasie nie? As ek God se Naam herhaaldelik gebruik, verheerlik ek werklik vir God of is ek net besig om myself te verheerlik? Jesus is ook versoek om van ‘n hoë plek af te spring. Wat antwoord Jesus? Daar is gesê: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie (Lukas 4:12).

 

  1. Kan ek goed doen aan ander in my werk?

My werk moet van waarde vir die samelewing wees – ek moet iets wat die moeite werd is, kan bydra. Dit beteken ook dat ek nie iets moet doen wat ander onnodig skade aandoen nie.

 

  1. Het God aan my die talent gegee vir die werk?

God roep ons nie vir ‘n taak sonder om ons vir daardie taak toe te rus nie. Net omdat ons die talente het om iets te doen, beteken nie dat ons dit moet doen nie.

 

  1. Kan ek God in hierdie werk gehoorsaam?

As my werk teen God se woord is, is dit onwettig.

 

Is dit nie tyd dat ons die “gewone” Christene wat daagliks getrou hulle Godgegewe gawes gebruik om God te verkeerlik en hulle naaste lief te hê, bewonder nie?

 

 

 

 




Blydskap en Geloof

 

There are many who preach Christ, but not so many who live Christ. My great aim will be to live Christ. —Robert Chapman

 

Blydskap en Geloof

In Paulus se brief aan die Filippense staan blydskap sentraal. John Piper vra: wat is die verhouding tussen blydskap en geloof? Meeste teoloë voel dat 1:27 dié belangrikste punt in die brief is:

Hoofsaak is dat julle lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees.

Hoofsaak is dus dat ons lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie moet wees – die evangelie waardig moet wees. Maar wat beteken dit om in ooreenstemming met die evangelie te leef? Kom ons lees 1:27 verder:

As ek dan kom, sal ek self sien, of as ek nie kan kom nie, sal ek deur berigte hoor dat julle in volkome eensgesindheid standvastig saamstry vir die geloof in die evangelie.

 

Dit is Paulus se manier om te sê hoe ons kan wys dat die evangelie waardevol is: saam jaag ons die geloof van die evangelie na. As die evangelie geglo word, is die waardig en waardevol. Hoekom is dit so?

  1. Geloof self of die vrug van geloof?

Ons kry die leidraad vroeër in Filippense 1. Paulus praat hier of dit vir hom beter sal wees om hemel toe te gaan of hier op aarde te bly. Hoekom sê hy dit?

Omdat ek daarvan oortuig is, weet ek dat ek sal bly, sodat julle kan toeneem in geloof, en blydskap in julle geloof kan hê (1:25).

Is blydskap dan die brug van die geloof? Piper glo dat blydskap ‘n deel van geloof is:

Ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde. Ter wille van Hom het ek alles prysgegee en beskou ek dit as verwerplik sodat ek Christus as enigste bate kan verkry (Filippense 3:8).

Wat is die verband tussen Paulus se blydskap en om Christus te ken deur geloof?

 

  1. Sien is glo; glo is om bly te wees

En een met Hom kan wees: vrygespreek, nie omdat ek die wet onderhou nie, maar omdat ek in Christus glo. Dit is die vryspraak wat God gee omdat ‘n mens in Hom glo (Filippense 3:9).

Filippense 3: 8 sê dat Paulus alles as waardeloos beskou, want om Christus te ken oortref alles in waarde. Filippense 3:9 sê dat ons Christus as bate kan kry, nie deur die wet te onderhou nie, maar deur geloof in Jesus Christus. Daarom: ‘n noodsaaklike element van verlossende geloof is om Christus bo alles te stel.

 

Filippense 1:27 sê dat ons lewenswandel in ooreenstemming met die evangelie van Christus moet wees. Dit doen ons deur volkome eensgesind te wees. Alles saamgevat beteken dat om die evangelie te glo nie voldoende is nie, maar dat ons Jesus Christus moet waardeer – waarde aan Hom heg.

 

  1. Werk met blydskap

Ons sien hierdie verband tussen blydskap/geluk en geloof ook in 2 Korintiërs 1:24:

 Ons wil nie as heersers voorskryf wat julle moet glo nie. Julle staan immers vas in die geloof. Maar ons wil medewerkers wees om julle geluk te bevorder.

Geluk/blydskap is deel van geloof.

 

Die evangelie van Christus is veral waardevol in ons as die Christus van die evangelie deel is van ons.

 




Christofobie

 

It is good to be weary and frustrated with the fruitless search for the good, so that one can reach out one’s arms instead to the Redeemer – Blaise Pascal

Christofobie

[Christofobie – ‘n onwerklike/onredelike vrees en haat van Christus en Christene.]

In Lukas 8:26 – 39 lees ons van Jesus wat ‘n besetene in die land van die Geraseners van bose geeste bevry. Maar die mense is nie bly oor dit wat Jesus gedoen het nie, maar vra Jesus om hulle land te verlaat. Selfs die man wat genees is, smeek Jesus om by Hom te kan bly.

 

Christofobie is besig om toe te neem in die wêreld. Die pous het hom onlangs skerp uitgespreek teen die vervolging van Christene. Oral word pogings aangewend om die Christelike geloof uit die openbare sfeer te verwyder. Geen godsdiens in skole nie; vergaderings mag nie met gebed geopen word nie. So kan ons voortgaan.

 

Kom ons keer terug na Lukas 8. Hoekom Christofobie?

  1. Mense is bang dat ander mense verander sal word

Toe Jesus in die besetene se lewe kom, verander alles vir hom: klere, taal, optrede, liggaam, siel en denke. Maar in plaas daarvan dat die mense hierdie verandering verwelkom, is hulle bang. Hoekom is mense bang as ander tot bekering kom?

  • Baie mense wil nie hê dat diegene wat slegter as hulle is beter as hulle word nie, want dit laat hulle sleg lyk. Dit is ongemaklik. Baie sondaars sê dat hulle meer liefde en simpatie van gelowiges gekry het voordat hulle bekeer is.
  • Bekering bewys die teenwoordigheid van ‘n bonatuurlike en goddelike mag. Mense besef onmiddellik dat hulle nie hier met die werk van mense te doen het nie. Dit is ‘n getuienis van God se mag en genade.

 

  1. Mense is bang die samelewing word verander

Toe Jesus die bose geeste bevel om die man te verlaat, gee Hy aan hulle toestemming om in ‘n trop varke in te vaar. Die trop varke hardloop toe in die see en versuip. Hierdie was nie ‘n normale dag nie; Jesus verander die status quo. Hierdie verandering ontstel die plaaslike inwoners. Wat sien hulle toe hulle by Jesus kom? Die besetene is genees en die trop varke het versuip. Was hulle bly oor die verandering – die man wat genees was? Nee, hulle verkies dinge soos dit was.

 

Daarom is mense bang vir die Christelike geloof. Hulle is bang vir verandering in hulle kultuur, besigheid, ontspanning en openbare sedes. Hulle sien eerder ander mense swaarkry as dat hulle sake geraak word.

 

  1. Mense is bang hulle word self verander

Toe die mense die verandering in die besetene sien, word hulle bewus van hulle eie behoefte aan verandering. Sommige mense wil graag hê dat ander moet verander of selfs dat die samelewing moet verander, solank as wat hulle nie self hoef te verander nie. Miskien ‘n klein persoonlike veranderinkie, maar nie ‘n radikale verandering soos hierdie man ondergaan het nie. Mense is bang dat God dalk hulle verhoudings, hulle vermaak, hulle besigheidspraktyke, ens sal verander.

 

Hoe kan mense Jesus Christus wat mense so lief het so haat? Wys dit nie vir ons hoe nodig ons self  verandering nodig het nie?