Ek stel uit.

 

The reason we come away so cold from reading the Word is because we do not warm ourselves at the fire of meditation. —Thomas Watson

 

Ek stel uit.

Ek hou daarvan om dinge tot op die laaste minuut uit te stel. Hoekom? Omdat ek dan beter onder druk sou werk!  Om uit te stel, is ‘n baie algemene probleem. Die probleem is dat dit mettertyd ‘n leefstyl word – hoe meer jy uitstel, hoe beter word jy daarmee.

 

Jakobus 4:17 sê: As iemand weet wat die regte dinge is om te doen en hy doen dit nie, is dit sonde. Maar as ons dan weet wat om te doen, hoekom doen ons dit nie?

  • Besluiteloosheid

So ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weê (Jakobus 1:8 – OAV). As ek besluitloos is, stel ek uit.

  • Perfeksionisme

As jy wag vir die volmaakte omstandighede gaan jy nooit iets gedoen kry nie. Jy het net nie tyd en geld vir dinge om volmaak te word nie.

  • Vrees

As ek bang is, stel ek dinge uit. Dink maar net hoe ons ‘n besoek aan die tandarts uitstel. Ek is ook bang om van my geloof by die werk te getuig.

 

Hoe kan ek ophou om uit te stel?

  • Hou op om verskonings te maak

Mense wat goed is met die maak van verskonings is selde goed met enigiets anders. Wat is die algemeenste verskoning om dinge uit te stel? Ek wag net totdat dinge rustiger is – die stof gaan lê het. Ons woon in ‘n samelewing waar die rotteresies hoogty vier. Dinge gaan nooit rustiger word nie.

  • Begin vandag

Wat jy ook al gaan doen, doen dit nou. Ons weet in ieder geval nie wat tussen nou en môre gaan gebeur nie. Die wil van die koning staan onder die gesag van die Here; soos ‘n stroom water lei Hy dit soos Hy verkies (Spreuke 21:1). Ek sal dit een van hierdie dae doen – een van hierdie dae is nooit. Daarom doen dit nou.

  • Stel ‘n skedule op en bly daarby

If you fail to plan, you plan to fail. Skeduleer spesifieke tydsgleuwe vir spesifieke take. Die lewe is nie maklik nie. Druk deur die frustrasie en kyk wat jy wen as jy deur die pyn gegaan het. Kyk na die beloning en nie na die tydelike ongemak nie. Laat ons dan nie moeg word om goed te doen nie, want as ons nie verslap nie, sal ons op die bestemde tyd ook die oes insamel (Galasiërs 6:9). Die verkeerde vraag is: “Wat wil ek graag doen?” Die regte vraag is: “Wat wil God hê, moet ek doen?”

 

Jesus het nooit gesê dat die lewe maklik sou wees nie. Die lewe gaan oor opoffering en toewyding, maar daar is ‘n groot beloning vir diegene wat deurdruk.

 

 

 

 




Kenmerke van doeltreffende leiers (1)

 

If He has said much about prayer, it is because He knows we have much need of it. —C.H. Spurgeon

 

Kenmerke van doeltreffende leiers (1)

Daar is vyf ononderhandelbate kenmerke wat elke doeltreffende leier moet hê.

 

  1. Roeping

Ware leiers voel ‘n innerlike drang om te lei; hulle het ‘n verantwoordelikheidsgevoel. Vir die kerkleier is daar ‘n spesiale roeping van God – ‘n diep innerlike gevoel of begeerte wat veroorsaak dat hy dit doen waartoe hy geroep is. In Jesaja 6:1 – 9 kry ons die voorbeeld van iemand wat spesifiek deur God geroep is. In verse 1 – 5 ontdek Jesaja vir God en vir homself. Hy word oorweldig deur die grootheid en heerlikheid van God in die tempel. Dit staan in teenstelling met sy eie onwaardigheid en onreinheid. Mense wat geroep word, ontdek iets groter as hulleself: ‘n uitdaging, ‘n doel wat hulle in die arena intrek.

 

Maar as iemand geroep word om te lei, kry hy ook ‘n gevoel van oorwinning. Een van die serafs het toe ‘n gloeiende kool met ‘n tang van die altaar gevat en na my toe gevlieg. Hy het my mond aangeraak met die kool en gesê: “Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen (6:6 – 7). Die leier kry die versekering dat hy die werk sal kan doen. Hierdie voorsmaak van oorwinning  stel hom in staat om voort te gaan ten spyte van hindernisse langs die pad.

 

Leiers sal ook altyd hulle spesifieke tyd vind. Daar kom tye wat ‘n leier se besondere gawes en talente nodig is ten tye van ‘n krisis. Leiers gebruik hierdie gawes vir God se heerlikheid. Hulle voel ook ‘n sterk drang om deur God gebruik te word. In vers 8 kry Jesaja die geleentheid as die Here vra: Wie kan Ek stuur? Wie sal ons boodskapper wees?  Dan antwoord Jesaja: Hier is ek! Stuur my!

 

John Maxwell noem hierdie begeerte in ‘n leier se hart die “moet doen” gevoel. Die leier voel dat hy iets moet doen. Dit is nie ‘n gevoel dat hy ‘n keuse het nie. Inteendeel, daar is tye wat die leier eerder sal wil terugsit en kyk hoe iemand anders die uitdaging aanvaar. Maar as ek sien of voel dat God besig is om iets te doen dan dwing hierdie “moet doen” gevoel my. ‘n Leier mag ‘n goeie leier wees sonder hierdie gevoel van roeping, maar hy sal nooit ‘n groot leier wees nie.

 

Hoe weet ek dat ‘n leier geroep is? Een leidraad is dat hy volhard – hulle gooi nie sommer tou op nie. ‘n Ander leidraad is dat God diegene wat Hy roep as leiers ook toerus. Sy arbeid dra vrugte; hy rus nuwe leiers toe.

 

Volgende keer kyk ons verder na die kenmerke van doeltreffende leiers.

 

 

 




Ses stabiliserende waarhede van tye van anargie

 

A message of grace will attract people, but a culture of grace will keep them. —Jared Wilson

 

Ses stabiliserende waarhede van tye van anargie

Die wêreld is onstabiel. Anargie vier hoogty. Dit is gerusstellend om sekere stabiliserende en vertroostende waarhede te hê.

  1. Ons soewereine God sit op sy troon. Voor Hom is nasies, super moondhede en wêreldryke soos ‘n druppel in die see.
  2. God besluit watter nasies sal vooruitgaan en watter nasies sal disintegreer en val. Nee, dit is God wat verneder of verhef, Hy is die regter! (Psalm 75:8).
  3. God se koninkryk is nie van hierdie wêreld nie – dit is onafhanklik van hierdie wêreld en kom beslis. My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie (Johannes 18:36); Die koningskap oor die wéreld behoort aan ons Here en sy Gesalfde en Hy sal as koning heers tot in alle ewigheid (Openbaring11:15).
  4. Ons kan die vrede en teenwoordigheid van God geniet al gaan dinge ook hoe sleg.
  5. Elke individuele Christen is in God se hande. Al word ons fisiese veiligheid nie gewaarborg nie, is ons geestelik veilig – vir ewig. Ek gee hulle die ewige lewe, en hulle sal in ewigheid nooit verlore gaan nie. Niemand sal hulle uit my hand ruk nie. Dié wat die Vader my gegee het, is die belangrikste van almal, en niemand kan hulle uit die hand van die Vader ruk nie (Johannes 10:28 – 29).
  6. Die huidige anargie mag “’n teken van die tyd” wees wat ons herinner aan die naderende eintyd – die begin van die nuwe hemel en die nuwe aarde waar geregtigheid en nie anargie heers nie. Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers (2 Petrus 3:13).

 

As ons moedeloos raak oor dinge om ons moet ons net weer na hierdie waarhede kyk.




Word ‘n persoon wat mense graag wil volg

 

It is better to go bruised to heaven than sound to hell. —Richard Sibbes

 

Word ‘n persoon wat mense graag wil volg

Soms is daar ‘n gebrek aan leiers. Wat kan ons daaraan doen?  Michael Korda, die skrywer van Power, skryf: It is the result of a long process, the consequence of our fear of power and authority. Die gevoel is dat mag misbruik is. Daarom moet ons daarsonder klaarkom. Alles moet aan die wil van die mense onderwerp word. ‘n Gebrek aan vertroue in leierskap het ’n nadelige effek op die verhouding in groepe.

 

Ons kry hierdie siening ook in die kerk. Leraars word geleer om as herders op te tree – nie as leiers nie. Die probleem is dat die sukses van geen bediening hoër kan styg as die vlak wat die leier bepaal nie. Leierskap stel die standaard. Hoe hoër die standaard, hoe doeltreffender die leierskap. Uit die Bybel leer ons dat ware leierskap beteken dat ek ander dien. Ons lees ook: As ‘n blinde ‘n blinde lei, val altwee in die sloot (Matteus15:14).

 

Waar is al die leiers? Die kompleksiteit van ons tyd belemmer die opkoms van leiers. Miskien het ons te analities geword om beslissend op te tree. Ons spandeer te veel tyd aan die bestudering van ons probleme en te min tyd aan die oplossing daarvan. Daar is ook ‘n baie negatiewe siening van gesag. Daar is nie meer ‘n lojaliteit teenoor diegene in gesagsposisies nie – almal word wantrou.

 

Met hierdie as agtergrond gaan ons volgende keer kyk na die ononderhandelbare kenmerke van doeltreffende leiers.