God se wysheid

 

Be obedient even when you do not know where obedience may lead you. —Sinclair Ferguson

 

God se wysheid

Dink ‘n bietjie na aan al die besluite wat jy in jou lewe moet neem. Hierdie besluite bepaal die koers van jou lewe. Daarom is dit so belangrik om God se leiding in jou keuses te soek. Hy is immers die enigste bron van ware wysheid. Ignoreer ons sy raad gaan ons skerlik besluite neem waaroor ons later spyt sal wees. Keuses het gevolge. Ons huidige kultuur sê vir ons dat ons vir vandag moet leef en nie die gevolge van ons besluite hoef te oorweeg nie. Daarom koop ons huise wat ons nie kan bekostig nie.

 

1 Korintiërs 3:18 – 20 onderskei tussen twee tipes wysheid – God se wysheid en die wêreld se wysheid. Die inwoners van Korinte het baie waarde aan wysheid geheg, maar die Here beskryf hulle wysheid as dwaasheid.

 

  1. Wêreldse wysheid vertrou op die mens se perspektief

Selfs die briljantste mens het beperkte kennis. Jakobus 3:15 beskryf die wysheid van die wêreld met drie byvoeglike naamwoorde:

  • Aards – dit is beperk tot die mens se sintuie en rede.
  • Sinlik – dit verwys na die deel van die mens beheer deur sy sondige natuur.
  • Demonies – Satan is voortdurend besig om die mens te mislei dat hy nie die Here nodig het nie.

 

  1. Ware wysheid is om die lewe uit God se gesigspunt te sien en om op sy opdragte te reageer

Wysheid begin met die dien van die Here; almal wat dit doen, het ware insig. Die roem van die Here hou altyd stand (Psalm 111:10). Die enigste plek waar ons God se perspektief kan kry, is in sy woord. Daarom moet sy woord ‘n daaglikse prioriteit in ons lewens wees. Ons moet nooit ons besluite baseer op wat ander mense doen of dink nie. Ons moet uitvind wat God oor die saak dink.

 

  1. God se wysheid is genoeg om enige menslike bekommernis te kan hanteer

Hy ken elkeen van ons en verstaan elkeen se behoeftes. Here, U sien dwarsdeur my, U ken my … U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom … U is met al my paaie goed bekend (Psalm 139:1 – 6). Met so ‘n bron van wysheid tot ons beskikking waarom wil ons op ons eie rede, gevoelens en begeertes staatmaak?

 

  1. God wil sy wysheid met sy kinders deel

Dit is die Here wat wysheid gee, uit sy mond kom die kennis en die insig (Spreuke 2:6). As ons na Hom luister en Hom gehoorsaam, lei Hy ons tree vir tree. As ons net voortploeter sonder om Hom te vra, sal ons in die moeilikheid beland.

 




Wat moet ek met vertroue doen as ek dit het?

 

What keeps most of us from God is not the sin we know we have, but the righteousness we think we have. —Nate Larkin

 

Wat moet ek met vertroue doen as ek dit het?

Vertroue fluktueer volgens jou sukses/mislukking ratio. Almal van ons het soms mislukkings wat ons vertrouensvlak verlaag. Daarom moet ons gedurig ons vertroue ontwikkel.

 

Vertroue is ook aansteeklik – dit versprei deur jou invloedsfeer. In die Bybel kry ons interessante voorbeelde van die aansteeklikheid van vertroue. Hoeveel soldate het Saul gehad wat reuse kon verslaan? Niks nie. Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle geskrik en baie bang geword (1 Samuel 17:11). Dawid gaan uit in geloof en verslaan vir Goliat. Na Dawid koning geword het was daar heelwat mense wat reuse kon verslaan. In 1 Kronieke 20:4 – 8 lees ons van Dawid se oorloë teen die Filistyne. Hier lees ons van ‘n hele paar helde in Dawid se leër. Wat was die verskil? Een rede was dat Saul nie reuse verslaan het nie. Dawid, daarenteen, is iemand wat reuse verslaan het en daarom verslaan van sy volgelinge ook reuse. As jy vertroue ontwikkel, sal diegene om jou se vertrouensvlakke ook styg.

 

Almal van ons moet bevestig word. Dit is baie maklik om ‘n generiese kompliment te gee, maar ‘n kompliment het net waarde as dit spesifiek is – ‘n sekere kenmerk noem. Ons is maar suinig met lof. Ons moet ons spanlede bemoedig en opbou. Onthou: prys in die openbaar, kritiseer in die privaat.

 

Vertroue kan die momentum verskaf wat jy nodig het om die persoon te word wat God bedoel het jy moet wees. Natuurlik kan vertroue nie karakter of vaardighede of kennis verplaas nie, maar dit kan hierdie eienskappe versterk. Vertroue gee jou die momentum wat die verskil maak.

 

 

 

 

 

 

 




Ons moet mekaar bemoedig

 

Modern church worship is characterized by an exaltation of the self, but authentic worship is marked by an emptying of ourselves. —Jared Wilson

 

Ons moet mekaar bemoedig

Praat mekaar moed in en versterk mekaar dan met hierdie woorde, soos julle trouens reeds doen (1 Tessalonisense 5:11)

Sy naam was Josef, maar die apostels het hom Barnabas genoem – dit beteken iemand wat mense moed inpraat (Handelinge 4:36). Sou dit nie wonderlik wees om so ‘n persoon te wees nie. Moed is die gewilligheid om ‘n bedreiging te aanvaar. Moed word deur hoop – die hoop vir iets sterker as dit wat ons vrees – aangevuur.

 

Ontmoediging tree in as die hoop vervaag – ons word bang. As dit gebeur het ons weer hoop nodig. Dit is wat bemoediging is. Barnabas het mense oortappings van hoop gegee. Dit het hulle in staat gestel om in die geloofstryd te volhard. Ons het Barnabas-mense nodig. Ons moet self ‘n Barnabas wees.

 

Ons word verdrink in ‘n see van ontmoediging: kritiek, misdaad, armoede … Dit is die taal van ons hedendaagse wêreld Bemoediging is maar skaars. Al die ontledings wat ons hoor, is negatief. Die oorvloed negatiwiteit is deels die gevolg daarvan dat ons trotse harte geoefen is om die swakhede, foute en sondes van ander raak te sien. Ons soek vir hulle. Geen wonder ons almal soek hoop nie. Om te oorleef, het ons kritiese onderskeiding nodig.

 

Bemoediging is geestelike oorlogvoering. As ons iemand wil bemoedig moet ons eers teen Satan en ons eie sonde veg. Satan is gedurig besig om ons te ontmoedig: hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het (Openbaring 12:10). Sy nalopers is gedurig besig om brandpyle na ons te gooi (Efesiërs 6:16). Alles wat vooraf in die Skrif opgeteken is, is tog opgeteken om ons te leer sodat ons deur die stanvastigheid en bemoediging wat die Skrif ons gee, vol hoop kan wees (Romeine 15:4).

 

Josef is Barnabas genoem waarskynlik omdat hy ‘n oog gehad het om onder alle omstandighede God se genade raak te sien. Hy het volhardend in God bly hoop. As sy vriende mismoedig geword het, het hy hulle aan God se beloftes herinner sodat hulle hoop weer opgevlam het. Ons het weer Barnabas-mense nodig.

 

Aan u beloftes hou ek vas, dit weerhou my van sonde teen U (Psalm 119:11). Dit is Barnabas-mense. Dit is mense wie se lewens steeds deur die Gees van God beheers word (Galasiërs 5:16). En as hulle dan praat? Praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom (Efesiërs 4:29). Hou op om mekaar gedurig te kritiseer.

 

Om ‘n Barnabas-mens te word, vereis dat ons God moet vra om ons in mense van bemoediging te verander. Dan sal almal wat ons pad kruis meer bemoedig weggaan as wat hulle daar aangekom het.

 

 




Hoe kan ek vertroue ontwikkel? (2)

 

What that minster is on his knees in secret before God Almighty, that he is and no more – John Owen

 

Hoe kan ek vertroue ontwikkel? (2)

Ons gaan nou verder kyk na maniere om vertroue te ontwikkel.

  • Behaal ‘n paar oorwinnings. Begin met klein suksesse en bou dit geleidelik uit. ‘n Paar oorwinnings agter die rug gee vir jou die impetus om jouself verder uit te daag. As jy wel misluk, probeer onmiddellik om ‘n paar oorwinnings te behaal. Moenie in selfbejammering rondploeter nie.

 

Uit die Bybel kan ons kyk na twee persone:

  • Ons weet van al Simson se oorwinnigs oor die Filistyne. In Rigters 16:20 sê Delila dat die Filistyne op hom is. Hy word wakker en dink: ek sal weer uitstap soos die vorige kere en my losruk. Maar hy het nie besef dat die Here hom verlaat het nie.
  • In 1 Samuel 17:37 sê Dawid: Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hy sal my red uit die mag van hierdie Filistyn

 

Daar is ooreenkomste tussen hierdie twee manne. Hulle was beide deur God uitgekies; hulle was beide leiers van Israel toe Israel teen die Filistyne geveg het. Maar hulle het ook van mekaar verskil:

  • Simson wou homself plesier. Hy lewe ‘n sedelose lewe. Hy vertrou op sy eie krag en daarom het hy nie die nodigheid ingesien om op God te vertrou nie. Hierdie is ‘n pad wat altyd op mislukking uitloop. Dawid, daarenteen, besef dat as hy net op homself moes staatmaak hy al klaar verloor het. Daarom roep hy die Here aan voor sy geveg met Goliat. Sy swakheid word God se krag. So word hy van ‘n oorwinning verseker.
  • Simson se vervreemding van God lei nie net tot sy nederlaag nie, maar dit was ook die einde van sy leierskap. Vir Dawid was die oorwinning oor Goliat die begin van sy leierskap.

 

  • Moenie jouself met ander vergelyk nie.

 

  • Identifiseer jou sterkpunte en fokus daarop. ‘n Suksesvolle leier weet dat hy sy volgelinge help deur hulle te help om hulle spesiale gawes te ontdek, deur hulle aan te moedig om dit te ontwikkel en hulle dan te help om dit te gebruik.

 

Volgende keer gaan ons na ons laaste vraag oor vertroue kyk: Wat moet ek doen met die vertroue wat ek het?