Dank God omdat Hy God is

 

It is usually considered good practice to examine a thing for one’s self before echoing the vulgar ridicule of it. —J. Gresham Machen

 

Dank God omdat Hy God is

Ons het almal baie om voor dankbaar te wees, maar bedank ons ooit vir God omdat Hy God is: dat daar ‘n God is en dat Hy ons God is. Hier help die psalms ons baie. Psalm 103 dank God omdat Hy die Verlosser-Koning is. In Psalm 104 word Hy as die Skepper-Koning gedank. Kom ons kyk nader na Psalm 104:

  1. Dank God vir sy betrokkenheid by die wêreld (104:1 – 4)

God is so hoog, so verhewe, maar tog is Hy betrokke – so naby. Hy gebruik die fisiese wêreld om Homself te openbaar. Die lig is sy kleed en die hemel sy tent. Waar ons die wolke sien, daar is Hy. As ons die wind voel, daar is Hy.

 

  1. Dank God dat Hy die wêreld gemaak het (104:5 – 7)

Hier beskryf die psalmis God se sistematiese en pragtige organisasie van die skeppingsproses. Hy het eenvoudig die waters aangespreek en hulle neem hulle plek in.

 

  1. Dank God vir sy heerskappy oor die wêreld (104:8 – 10)

Die heidense kultuur van destyds het die wêreld as swak en kwesbaar gesien – dit is voortdurend deur onvoorspelbare en onbeheerbare natuurkragte bedreig. Dis nie waar nie. God bepaal waar elke ding moet kom; Hy stel die grense vas – selfs van die magtige see; Hy maak seker dat alles op hulle plek bly.

 

  1. Dank God vir sy voorsiening in die wêreld (104:11 – 15)

God gee oorvloedige reën – die aarde word versadig. Die psalms dank God vir die manier waarop Hy dit stuur, dit kanaliseer en verseker dat dit by die diere, voëls en mense kom. Hy voorsien ook vir die oeste en bome. God gee nie net wat ons nodig het nie, maar ook vir ons plesier: Wyn om mense se harte bly te maak, olie om die gesig te versorg, kos om die mens nuwe krag te gee.

 

  1. Dank God vir sy beskerming van die wêreld (104:16 – 18)

Hy gee skuiling aan die grootste tot die kleinste skepsels. Hy gee skuiling in bome (voëls), berge (klipbokke), rotse (dassies), ens.

 

  1. Dank God dat Hy die wêreld reguleer (104:19 – 23)

God reguleer die seisoene, dag en nag en selfs die dier-mens siklus – as dit donker word, roer al die diere in die bos; as die son opkom gaan die mens na sy werk toe.

 

  1. Dank God vir die wye verskeidenheid van die wêreld (104:24 – 26).

U het baie dinge geskep, Here, die aarde is vol van wat U gemaak het. Kyk na God se diversiteit en bestudeer sy kreatiwiteit. Doen ons dit kan ons nie anders as om Hom te dank nie. Ons moet elke dingetjie wat God geskep het, gebruik om God te dank.

 

  1. Dank God vir sy goedheid aan die wêreld (104:27 – 28)

Hulle is almal van U afhanklik, U gee hulle kos op hulle tyd. Hy gee so baie dat Martin Luther by geleentheid gesê het dat God ‘n baie groot kombuis moet hê.

 

  1. Dank God vir die vernuwing van die wêreld (104:29 – 30)

Maar as U U terugtrek is dit klaar met hulle, as U hulle asem wegneem, is hulle dood. Maar ook dit is onder God se beheer. Hy neem lewe, maar Hy gee ook lewe. Voortplanting is nie net ‘n natuurlike proses nie – God se Gees is betrokke by die vernuwing van die skepping.

 

  1. Dank God vir sy toekomstige verlossing van die wêreld (104:31 – 35)

God kan ‘n aardbewing of vuurspuwende berg laat begin deur net na die aarde te kyk. Daarom pleit die psalmis: Mag hierdie bepeinsings van my vir Hom aanneemlik wees … Mag die sondaars van die aarde af verdwyn, mag die goddeloses ophou om te bestaan. Hy kyk vooruit na God se nuwe skepping – die nuwe hemel en die nuwe aarde.

 

Is dit nie tyd dat ons God dank omdat Hy God is nie? Kyk na wat Hy in die skepping doen en verander dan elke nuwe insig in ‘n loflied. Mag die werk van die Here Hom vreugde verskaf; ons word uitgenooi om deel te word van sy vreugdelied.

 

 

 

 

 

 

 

 




‘n Sagte antwoord

 

I have but ons candle of life to burn, and I would rather burn it out in a land filled with darkness than in a land flooded with light – John Falconer

 

‘n Sagte antwoord

‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede opvlam (Spreuke 15:1).

As dinge moeilik is en ons is aan spanning onderworpe, is ‘n sagte antwoord nie so maklik nie. Ons sê dan maklik dinge waaroor ons later spyt is. Dit is moeilik om ‘n sagte antwoord te gee  as jy voel die mense verstaan en waardeer jou nie. Dan moet ons kyk na Jesus.

Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed (Matteus 1:29).

 

Ons moet ons emosies in toom hou deur kalm te kommunikeer. Dit bevorder vrede. Reik geduldig na ander uit.

Bekommernis druk ‘n mens neer; ‘n vriendelike woord vrolik hom op (Spreuke 12:25).

 

As jy in ‘n hewige argument betrokke is, haal diep asem en bid saam. Dit is moeilik om kwaad te bly as jy op jou knieë staan en jou sonde bely voor Jesus Christus. Maak verskoning en vra vergifnis. Nederigheid ontwapen gesprekke wat dreig om te ontplof.

 

Die werk van die Heilige Gees in ons harte beweeg ons van kwetsende taal na ‘n sagte antwoord.

Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing (Galasiërs 5:22 – 23).

 




Gewoon en onverdiend

 

Some want to live within the sound of church or chapel bell; I want to run a rescue shop within a yard of hell – C. T. Studd

 

Gewoon en onverdiend

God soek nie spesiale mense om sy werk te doen nie. Daar was niks ongewoon aan Maria nie. Sy kom nie uit ‘n ryk en beroemde familie nie. Toe die engel aan hierdie tienerjarige meisie verskyn, was sy verloof. Sy het waarskynlik nie verwag dat haar lewe op ‘n buitengewone manier gebruik sal word nie. Die belang van Maria se lewe berus nie op enige ding waaraan die wêreld soveel waarde heg nie – agtergrond, skoonheid, intelligensie, opvoeding en vermoëns. Dit was haar verhouding met Jesus wat aan haar lewe betekenis gegee het.. Toe die engel by haar kom, sê hy: “Ek groet jou, begenadigde! Die Here is by jou.” (Lukas 1:28) Dit is wat al die verskil in hierdie jongmeisie se lewe gemaak het … en in ons lewens maak.

 

God het nie vir Maria gekies omdat sy die eer werd was nie. As enigeen van ons deur God aanvaar word, is dit as gevolg van genade – nie iets wat ons gedoen het nie. Gereeld in die Bybel lees ons dat God mense kies wat dit nie verdien nie. Maria was verbysterd oor die woorde van die engel – hoekom sou God nou juis vir haar gekies het?

 

As ons nie meer onsself as instrumente in God se hand wat dit nie verdien nie sien, is ons nie meer bruikbaar in sy hande nie.

 




Hoe kan ek vertroue ontwikkel? (1)

 

Because of the gospel, I no longer live for approval; I live from approval. —Dave Harvey

 

Hoe kan ek vertroue ontwikkel? (1)

Ons het gesien dat vertroue belangrik is. Maar hoe kan ons vertroue ontwikkel?

  • Ek moet my waarde volgens God se waardesisteem vestig. God het ons belangrikheid gedemonstreer: Hy het ons gemaak na sy beeld en deur Jesus Christus het Hy vir ons sondes gesterf. God het so baie van jou gedink, in jou geglo dat Hy toegelaat het dat sy Seun aan die kruis sterf sodat jy kan leef. Sien ons hierdie optrede van God raak? As jy besef hoe kosbaar jy vir Hom is, vermeerder jou vertroue.

 

  • Fokus op God en nie op jouself nie. Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees? As misdadigers op my afstorm om my dood te maak, my teëstanders en my vyande, dan is dit juis hulle wat struikel en val. Al sou ‘n leër teen my stelling inneem, sal ek nie bang word nie. Selfs al sou die aanval op my begin, sal ek nog steeds vertroue hê (Psalm 27:1 – 3). Uit hierdie gedeelte kan ons drie gevolgtrekkings maak:
  • Vertroue is nie die afwesigheid van probleme nie. Die psalmis ondervind baie probleme. Hy verwys na sy teëstanders, misdadigers, vyande en ‘n leër wat teen hom stelling inneem.
  • Vertroue is as ons God met ons probleme vertrou. Te midde van alles fokus die psalmis op God en nie op sy situasie nie. Die Here is my toevlug.
  • Oorwinnings in die verlede gee meer vertroue vir vandag. Vertroue vandag is as gevolg van oorwinnings gister.

 

  • Knoop vriendskappe aan met mense met vertroue. Oppas vir mense wat net altyd dit wat jy verkeerd doen uitwys. As jy jou met sulke mense omring, gaan jy maar sukkel om vertroue te ontwikkel. Daarom is dit belangrik om jou met mense wat in jou glo en jou gedurig aanmoedig te omring.

 

Volgende keer gaan ons verder kyk na maniere om vertroue te ontwikkel.