Hoekom het ek vertroue nodig?

 

“In God there is no hunger that needs to be filled, only plenteousness that desires to give.” ~ C. S Lewis

 

Hoekom het ek vertroue nodig?

Vertroue beteken dat jy met jouself tevrede is – jy het alles wat jy vir die huidige omstandighede nodig het. Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my onder alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; Van alles het ek ondervinding; om genoeg te hê om te eet sowel as om honger te ly, om oorvloed te hê sowel as om gebrek te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag  gee (Filippense 4:11 – 13). Daar is ‘n versekering om die lewe se laagtepunte en ook die hoogtepunte te ervaar. Paulus se versekering is God se krag.

 

Tevredenheid is om jou huidige situasie, al is dit hoe sleg, te neem en te erken dit is nie lekker nie, maar om nooit te sê jy kan dit nie hanteer nie. Jy mag bang wees, maar jy is nooit wanhopig nie. Paulus sê dat daar onbeperkte hulpbronne is. As jy sê dat jy dit nie kan hanteer nie, maak jy nie van hierdie hulpbronne wat Christus tot jou beskikking gestel het, gebruik nie.

 

Vertroue beteken my fondament is stabiel en sterk. Nou kan ek myself begin uitdaag. Onseker mense daag nie hulleself uit nie. Security is mostly a superstition. It does not exist in nature, nor do the children of men as a whole experience it. Avoiding danger is no safer in the long run than outright exposure. Life is either a daring adventure or nothing – Helen Keller. As onsekerheid veroorsaak dat ons nie kan groei nie, eindig ons met ‘n oninteressante lewe.

 

Volgende keer gaan ons kyk hoe vertroue ons as leiers help.

 




Voel gemaklik met ander mense

 

We are too prone to engrave our trials in marble and write our blessings in sand. —C.H. Spurgeon

 

Voel gemaklik met ander mense

Dit is maklik en gou om in ‘n groep agter te kom watter mense invloed het. As daar een kenmerk is wat mense motiveer en oortuig om jou leiding te volg, is dit vertroue. As jy vertroue met leiding en sukses in die verlede kan kombineer, het jy ‘n kragtige kombinasie. Dit is moontlik vir iemand om te weet waarheen hy op pad is, maar hy het net nie die vertroue om ander te oortuig om hom te volg nie. Vertroue is aansteeklik. Julle geloofsvertroue moet julle dus nie prysgee nie: dit hou groot beloning in (Hebreërs 10:35).

 

Die mense met wie ons assosieer het ‘n groot invloed op ons vertrouensvlakke. Mense om ons bou ons vertroue op of breek dit af. Mense wat ander se vertroue afbreek, sien altyd die negatiewe kant van ‘n saak raak. Christene gaan deur tye van toetsing; hulle wonder of God werklik in elke behoefte kan voorsien. Dit is dan maklik om in jou vermoëns te begin twyfel. Maar vertroue hou ‘n groot beloning in. Dit is baie moeilik vir diegene wat nie in hulleself glo nie om geloof in ander te hê.

 

Volgende keer gan ons verder kyk na hoekom ons vertroue nodig het.

 

 




Die erediens is vervelig

 

One proof of the inspiration of the Bible is that it has withstood so much poor preaching. —A.T. Robertson

 

Die erediens is vervelig

R. C. Sproul in sy boek The Holiness of God sê dat baie mense die kerk verlaat, want dit is vervelig. Hy glo dat ons meer eerbied in die kerk nodig het. Dit plaas ‘n verantwoordelikheid op die prediker, maar ook op die lidmaat wat die erediens bywoon. Wat moet die lidmaat doen?

  • Voorbereiding

Net soos die prediker moet voorberei vir die erediens moet die luisteraars ook voorberei. Ek kan nie Saterdagaand laat in die bed kom, Sondag laat slaap en dan jaag om net voor die begin van die erediens in die kerk aan te kom nie. As ons God nie privaat voor die erediens ontmoet het nie, is dit onwaarskynlik dat ons Hom in die openbaar gaan ontmoet.

 

  • Entoesiasme

As ons teensinnig sonder enige entoesiasme of verwagting die erediens bywoon, gaan ons nie veel kry nie. As ons met entoesiasme God se teenwoordigheid in gebed opsoek en by Hom pleit om teenwoordig te wees en die erediens te seën, sal Hy dikwels ons verwagtings oortref.

 

  • Deelname

Aanbidding is nie ‘n toeskouersport nie – almal moet deelneem. Sing met vreugde – dit roer jou hart en die harte van diegene om jou. Lewendige uitdrukkings is aansteeklik. As die prediker bid, laat ons ons harte en denke vul met God. As daar uit die Bybel gelees word, luister daarna – dit is immers God se woord.

 

  • Eenheid

God hou daarvan om teenwoordig te wees waar die mense verenig is in hulle liefde vir die waarheid en hulle liefde vir mekaar. God is nie teenwoordig waar daar verdeeldheid is nie.

 

  • Eerbied

As ons besef wie ons is, wat aanbidding is en wie dit is wat ons aanbid, sal daar eerbied wees in alles wat ons doen. Dit beteken nie dit is vervelig nie, maar dit sal ‘n invloed hê op hoe ons sit en staan en luister.

 

  • Konsentrasie

Van die grootste probleme vir eerbied in ons eredienste is geraas en optredes wat ons aandag en fokus aftrek.

 

Ja daar is dinge wat ons kan doen om eerbied tydens eredienste te verseker of te verhinder. Ja ons kan dinge doen wat God tevrede sal stel. Ons kan nie alleen eerbied produseer nie – net God kan dit doen. Kerke moet plekke van die buitengewone en bonatuurlike wees – die heilige God is immers daar teenwoordig. Daarteenoor, as almal profeteer, en daar kom ‘n ongelowige of buitestaander binne, dan word hy deur almal in sy gewete aangespreek en kom tot selfondersoek. Die verborge dinge van sy hart kom aan die lig. En so kom hy daartoe om op sy knieë te val, God te aanbid en openlik te getuig: “Waarlik, God is hier by julle!” (1 Korintiërs 14:25 – 26)

Wanneer laas het dit in jou gemeente gebeur?

 

 




Wat sing ons?

 

God does not change — and neither does His love. He loved you before you were born… He loves you now… and He will love you forever. – Billy Graham

 

Wat sing ons?

Daar is honderde nuwe Christelike liedere wat elke jaar bykom. Tog vind ons dat die psalms op sekere plekke ‘n herlewing ondervind. Hoekom? Hulle is van terapeutiese waarde. Daar is vandag soveel deurmekaar emosies en mense vind dat die psalms hierdie verskillende emosies kragtig hanteer.

  • Die psalms balanseer Goddelike openbaring en menslike emosies.

Sommige Christelike liedere is emosioneel roerend, maar het maar min teologiese inhoud. Die hart, maar nie die denke nie, word betrek. Soms kry ons ook die teenoorgestelde: baie teologiese feite, maar dit raak nie die persoon se gevoelens nie. In die psalms kry ons ‘n balans – die objektiewe en subjektiewe word volmaak gabalanseer. Gereeld lees ons: “Loof die Here vir …” Daarna volg redes en motiverings vir die lof.

 

  • Psalms ondersoek die volle omvang van menslike emosies

In die psalms kry ons ‘n onvergelykbare mengsel van menslike emosies: hartseer en vreugde, twyfel en vertroue, eensaamheid en gemeenskap, wanhoop en hoop, vrees en moed, mislukking en oorwinning, klagtes en lof, ens. Calvyn sê dat die psalms “’n anatomie van al die dele van die siel is.” Hy sê dat daar nie ‘n emosie is wat nie daar verteenwoordig is nie.

 

  • Die psalms skilder ‘n realistiese beeld van Christelike emosies

Die psalms skilder nie die Christelike lewe as die een oorwinning na die ander nie. Baie van die hedendaagse musiek is net positief – dit verskil van dit wat Christene in die ware lewe ondervind. Uiteindelik mag dit tot sinisisme en twyfel lei. In die psalms, daarenteen, kry ons eerlikheid. Hierdie sterk uitdrukking van die mens se emosies mag ons aanvanklik ontstel, maar gou vind ons psalms wat uitdrukking gee aan wat ons dink, voel en ondervind in ons daaglikse lewens.

 

  • Die psalms is ‘n welkome uitlaat vir ons pynlike emosies

Het jy al ooit van sekerheid gesing terwyl jy vol twyfel is? Het jy al ooit van vreugde gesing terwyl jy terneergedruk is? Aaklig. Hoekom kan ek nie sing wat ek werklik voel nie? Met die psalms kan jy. Sommige laat ons toe om twyfel, selfs wanhoop, uit te druk (Psalm 88). Ander help ons om ons stryd met terneergedruktheid te verduidelik (Psalm 42). So kan ons aangaan. Die psalms stel ons in staat om uitdrukking aan ons pynlikste emosies te gee. Dit is nie meer nodig om hulle op te krop of te ontken nie. Die psalms reik in om hierdie emosies te kry en reik dan na bo, na God toe, met hulle.

 

  • Die psalms vra vir die transformasie van ons emosies.

Die psalms laat ons nie net toe om ons emosies te lug nie, maar vra ook vir die transformasie daarvan. Ons word nie toegelaat om in ons emosies voort te ploeter nie, maar word gewys hoe ons van vrees na moed, van hartseer na vreugde, van wanhoop na hoop kan beweeg. Die beginpunt is pynlik, maar die eindpunt is emosionele heling. Ons moet met die psalmis se leiding na hierdie eindpunt beweeg.

 

  • Die psalms roep ons op na simpatieke emosie

Soms wonder ons waarom ons van hartseer moet sing as ons bly is of sing van blydskap as ek terneergedruk is? Dit is die denke van ‘n selfgesentreerde persoon. As ek ‘n gelowige is, leer ek om verder as myself te kyk. Ek mag miskien nie hierdie dinge voel nie, maar daar is ander wat dit wel voel. Die psalms vra my om saam met dié wat huil te huil en bly te wees saam met dié wat bly is – al voel ek nie so nie. Die psalms herinner my aan die emosionele diversiteit in die gemeente en nooi my uit om in die lyding en suksesse van ander te deel.

 

  • Die psalms voorsien ‘n emosionele stimulus vir ‘n lewe van geregtigheid.

Die psalms gebruik die emosionele energie wat hulle genereer om praktiese gehoorsaamheid te stimuleer. Let net op hoeveel wysheidspsalms kry ons in die Psalms. In hulle word die pad van gehoorsaamheid uitgestippel. Emosionele transformasie moet lei na lewenstransformasie.