Die kerk vandag (13)

 

Too many are willing to sit at God’s table, but not work in his field. —Vance Havner

 

Die kerk vandag (13)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Die verlore seun hardloop huis toe. Sy vader hardloop hom tegemoet. Dit is ‘n pragtige prentjie van berou en vergifnis – dit is versoening. Die hele storie het begin toe die seun vir sy vader gesê het: “Ek weet beter. Gee vir my wat myne is en ek kan dit nou gebruik soos ek wil.” Die vader was bereid om die seun toe te laat om die moeilike les van dinge op jou eie doen, te leer.

 

Elke dag gee God aan ons ‘n nuwe porsie genade – genoeg om dit wat oor ons pad kom te hanteer. Hy plaas hierdie genade in die oop hande van ons geloof: “Dit is vir jou.” Nou het ons ‘n keuse. Gaan ek sê: “Ek vertrou U, Vader. Gee my die wysheid om te weet hoe om dit reg te gebruik.” Of gaan ek soos hierdie seun sê: “Gee my vandag se genade. Ek sien U weer môre.” Dan gaan ons deur die dag en ons misbruik sy genade – ons gebruik dit op.

 

Daar is meer genade in God as wat daar sonde in ons is. Die punt is nie dat ons sy genade aan ons moet rantsoeneer nie. Ons kan God vertrou vir die genade wat Hy gee en werk asof dit kosbaar is. Of ons kan God se genade aanneem en dit verwring, omdat ons aanvaar dat sy genade ‘n lisensie vir ons is om enigiets te doen.

 

Ons word elke dag getaak om ons kruis op te neem. En elke dag kry ons nuwe genade. Elke dag herbesin ons. Elke dag het ons berou. Wat nodig is, is ‘n terugkeer na God en om ons om Hom te heroriënteer. Die HG roep ons gedurig terug na die Bybelse beeld van die kerk en na parameters vir bediening gesentreer op die evangelie. Ons voorgangers het sekere merkers opgerig: Moenie verder as hierdie punt gaan nie. Maar ons is arrogant; ons weet beter; ons is slimmer en meer verlig. Daarom ignoreer ons die merkers – ons wil net groei.

 

Neem die woorde wat jy van my gehoor het, as voorbeeld van gesonde verkondiging en volg dit na in die geloof en liefde wat ons in Christus Jesus het. Wat aan jou toevertrou is, is goed. Bewaar dit deur die Heilige Gees wat in ons woon (2 Timoteus 1:13 – 14). Laat ons na die evangelie terugkeer.

 

 

 

 




Hoe moet Christene reageer as hulle geteiken word?

 

Till we serve God we are idlers. However busy we may be we do nothing till we live for God. – Spurgeon

 

Hoe moet Christene reageer as hulle geteiken word?

“As jy ‘n Christen is, gaan jy God nou sien.” Dit was die opskrif in die koerant na aanleiding van Chris Harper Mercer se massamoord. Hy het ten minste nege studente van die Umpqua Community College doodgeskiet. Hoe moet Christene hierop reageer? Ons aanvanklike reaksie moet deur deernis en wat ons aangaande die evangelie glo, gevorm word. Ons eerste reaksie moet wees om vir die families te bid – die families van die slagoffers, maar ook die familie van die moordenaar.

 

Dan moet ons vra: “In die lig van ons geloof, hoe moet ons reageer?” Ed Stetzer identifiseer vier maniere om te reageer.

  1. Ons moet gereed wees om ‘n antwoord te gee oor die hoop wat in ons lewe

As volgelinge van Jesus Christus wat ons lewe vir die koninkryk van God opgeoffer het, moet ons altyd onthou dat Christene hulle hoop plaas in ‘n verhaal wat verder as ons jare hier op aarde strek. Die evangelie sê vir ons dat terwyl ons nog sondaars was Christus vir ons gesterf het en dat Hy vir ons ‘n plek voorberei waar die gebrokenheid van hierdie wêreld ons nie kan doodmaak nie en waar ons trane vir altyd afgevee sal word. Onthou altyd: Ons hoop is nie in hierdie lewe nie, maar die lewe na die graf.

 

  1. Ons moet veg om te vergewe

Wat ons nie nou nodig het nie, is haatgevulde toesprake, maar vergifnis wat ons in Jesus Christus kry. Vergifnis is nie maklik nie, maar dit wat reg is, is selde maklik om te doen. Everyone says forgiveness is a lovely idea, until they have something to forgive  (C. S. Lewis). Ons vergewe ander met dieselfde genade waarmee God ons vergewe het. Ons word gemotiveer deur sy liefde vir ons.

 

  1. Vertrou God

Ons sukkel om enige sin te maak uit tragedies soos hierdie. Ons moet Hom wat alles in sy hand hou, vertrou. Ons weet dat God goed is. Wat ons nie weet nie is hoe God ‘n massamoord kan gebruik in sy plan nie. Ons moet onthou wie die eindgesag het. God is altyd aan die werk. Die feit dat Hy stilbly, moet ons nie as ‘n teken van apatie of gebrek aan belangstelling sien nie.

 

  1. Werk vir geregtigheid en weerstaan die versoeking vir wraak

Leer om weer goed te doen, sorg dat daar reg geskied, gaan die verdrukker teë (Jesaja 1:17). Geregtigheid is belangrik, maar die lyn tussen geregtigheid en wraak is soms moeilik om te bepaal. As daar reg geskied, is mense wat reg doen, bly, en staan dié wat onreg doen, verskrik (Spreuke 21:15). Geregtigheid is ‘n vereugde vir die regverdiges, maar ‘n verskikking vir die bose. Maar: Moenie self wraak neem nie, geliefdes, maar laat dit oor aan die oordeel van God. Daar staan immers geskrywe: “Dit is my reg om te te straf; Ek sal vergeld,’ sê die Here (Romeine 12:19).

 

Soos ons rou, bid en reageer, moet ons alles in ons vermoë doen om die goed in die wêreld om ons te soek en verdere tragedies te verhoed. As God se instrument vir geregtigheid moet Christene die gespek lei om ‘n oplossing vir al die geweld in ons samelewings te kry.

Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat vir julle vervolg (Matteus 5:44)

 

 

 

 




Hoekom laat God die bose toe?

 

The blood of Christ was not shed for the devil or the angels; it was shed for sinners – Martin Luther.

 

Hoekom laat God die bose toe?

As God so groot en goed is, hoekom laat Hy toe dat mense mekaar doodmaak? Die antwoord lê in dit wat ons grootste seën en grootste vloek is: ons vermoë om keuses te kan maak. God het aan die mens ‘n vrye wil gegee. Hy het aan ons die vermoë gegee om te besluit oor hoe ons wil optree. Dit onderskei ons onder andere van diere, maar dit is ook ‘n bron van groot pyn. Mense, almal van ons, maak dikwels selfsugtige, selfgesentreerde en verkeerde keuses. Gebeur dit kry mense seer. In werklikheid is sonde selfsugtigheid: ek wil doen wat ek wil en nie wat God van my verwag nie. Sonde maak ongelukkig nie net vir my seer nie, maar ook ander.

 

God kon alle boosheid verwyder het deur net ons vermoë om te kies weg te neem. Hy kon ons soos marionette gemaak het met toutjies wat Hy getrek het. Hy wil hê dat ons Hom moet liefhê en gehoorsaam – vrywillig. Liefde is nie opreg as daar geen ander opsie is nie. Om te sê dat boosheid God se wil was, is onsin. Blameer mense wat nie doen wat God ons beveel het nie: Jy moet jou naaste soos jouself liefhê.

 

Die wêreld is ‘n onvolmaakte plek. Ons moet elke dag kies om God se wil te doen – dit gebeur nie outomaties nie.

En so kom die skeiding: die lig het na die wêreld toe gekom, en tog het die mense eerder die duisternis as die lig liefgehad, want hulle dade was sleg (Johannes 3:19).

 

 




Hoekom ontstel God se heiligheid vir ons?

 

Prayer advertises that we are dependent and He is dependable. —Mark Dever

 

Hoekom ontstel God se heiligheid vir ons?

  1. S. Lewis het gesê dat mense praat van “vir God ontmoet” asof dit ‘n warm, gemoedelike ondervinding sal wees. They need to think again. As ons in die Bybel lees van mense wat God ontmoet het, sien ons dat C. S. Lewis reg was. Dikwels is dit ‘n toneel van vrees.

 

Jesaja beskryf dit baie goed: Hulle het so hard geroep dat die deure in hulle kosyne gerammel het en die tempel vol rook geraak het. Toe het ek uitgeroep: “Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lippe is onrein, en ek woon onder ‘n volk van wie elke woord onrein is. En nou het ek die Koning gesien, die Here die Almagtige.” Jesaja kry ‘n blik op God in al sy volmaaktheid. Hoe reageer hy? Dit is klaar met my! Ek is verlore!

 

Dit is wat gebeur as ons God se heiligheid sien – dit maak ons bang. Selfs die serafs het hulle gesigte bedek. Die deure van die tempel het in hulle kosyne gerammel. Hoekom maak God se heiligheid ons bang?

  1. Om in die teenwoordigheid van grootheid te wees, is vreesaanjaend

Die idee van ‘n vreesaanjaende God is vandag uit die mode uit – nie juis modern nie. Tog in die teenwoordigheid van menslike grootheid voel ons ‘n mate van intimidasie en vrees. Hoeveel te meer moet ons dit nie in die teenwoordigheid van Goddelike grootheid voel nie.

 

  1. God se heiligheid is vreesaanjaend want dit wys ons goedheid is nie so goed nie

Dit is wat Jesaja ondervind het. Die gom wat sy lewe bymekaar gehou het – sy gevoel van goedheid –  word vernietig as hy voor God se rein, absolute goedheid te staan kom. Dit is hoe dit voel as God se teenwoordigheid in jou lewe begin kom – dit is disoriënterend. Jy voel deurmekaar voor alles weer bymekaar kom. Een van die sekerste tekens dat jy God nog nooit ontmoet het nie, is as jy baie goed oor jouself voel. Ons hou daarvan om te vergelyk – ek vergelyk my met ander en sê: “Ek is darem nie so sleg soos … nie.” As ek egter ware heiligheid sien, as ek ware goedheid sien, weet ek ek skiet ver tekort.

 

  1. God se heiligheid is vreesaanjaend, want dit wys vir my dat my sterkpunte eintlik my swakhede is.

Wat sê Jesaja as hy van God hoor: my lippe is onrein. Jesaja was ‘n profeet – sy lippe was sy trots. Dit is hoe hy die boodskap aan Israel verkondig het. Dit was sy sterkpunt. Maar God wys vir hom dat sy grootste sterkpunt waardeloos is. Selfs sy beste is nie voldoende nie. God se heiligheid maak Jesaja nie skaam vir sy swakhede nie, maar vir sy sterkpunt. Hoekom? Dit is nie werklik ‘n sterkpunt nie. In almal is daar iets waarop ons vertrou – nie noodwendig ons lippe nie. As dit enigiets anders as God se genade is, sal een kyk na God se heiliheid die gom wat ons lewens bymekaar hou, laat loskom. Dit is nie primêr ons swakhede wat ons van God weghou nie. Dit is ons sterkpunte, want as ons sterk is, kyk ons nie meer na God se genade nie.

 

Is daar dan hoop? Toe Jesaja vir God in al sy heiligheid sien, was hy bevrees. Maar God se heiligheid was nie net vreesaanjaend nie, maar ook reinigend. Daardie selfde God wat hom bevrees gemaak het, bring ‘n gloeiende kool van die altaar en raak Jesaja se mond aan. Noudat die gloeiende kool jou lippe aangeraak het, is jou oortredinge vergewe, jou sonde versoen. Dit was die enigste manier waarop dit vir Jesaja moontlik was om voor die heiligheid van God te staan.

Ons mag die idee van ‘n heilige God weerstaan, maar net ‘n heilige God kan ons reinig. Net ‘n heilige God is ons aanbidding werd. Net ‘n heilige God kan ons weer aanmekaar sit as die gom wat ons lewens bymekaar hou, losgekom het. Net ‘n heilige God kan ons verlangens bevredig.