Moet ek al die Psalms lees?

 

I’d rather be found in Christ than lost in God – James Donney

 

Moet ek al die Psalms lees?

Wees my genadig, Here, want ek is in die nood; van verdriet het my oë swak geword, ja, alles in my.  My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry; deur ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit … Dié wat my op straat sien, vlug vir my. Ek is vergeet soos iemand wat lankal dood is, ek het geword soos ‘n ding wat lê en vergaan … (Psalm 31:10 – 14

Sjoe. Moet ons die klaagpsalms lees? Lees net Psalm 31:10 – 14. Die psalmis skep hier vir ons ‘n probleem. Wat hy daar beskryf, is op min van ons se lewens van toepassing. Met meeste van ons gaan dit baie beter. Kan ons nie maar sulke psalms oorslaan nie? Nee, daar is goeie redes om hulle te lees:

  1. Dit herinner ons dat daar Christene dwarsoor die wêreld is wat swaarkry – Christene wat deur diep waters gaan. Sing/lees ons hierdie psalms bid ons in werklikheid vir hierdie Christene. Dit herinner ons ook aan diegene in ons eie omgewing wat swaarkry. Ons word uitgedaag om na hulle in praktiese deernis uit te reik.
  2. Dit herinner ons aan wat ons werklik verdien. As gevolg van ons sonde het ons die reg op ‘n gemaklike lewe verbeur. Elke dag sonder pyn is ‘n dag van genade – van onverdiende guns. As ons wel swaarkry, moet ons altyd onthou dat daar ‘n dag sonder trane sal kom.
  3. Dit herinner ons om vir probleme en uitdagings voor te berei. Op een of ander stadium kom almal van ons voor moeilike tye te staan. Sing hierdie psalms op ‘n voorbereidende manier. Vra God om ons gereed te maak en toe te rus vir sulke tye as hulle kom.
  4. Dit herinner ons om al ons probleme na die Here te bring. Hy is ons enigste hoop in moeilike tye, maar soms is ons geneig om van Hom af weg te hardloop. Maar deur hierdie psalms roep God ons terug en sê vir ons: ‘Bring al jou pyn na My toe. Stort jou hart teenoor My uit. Vertel vir My presies hoe jy voel.” Hierdie is ‘n uitdrukking van ons groot behoefte en afhanklikheid van Hom
  5. Dit herinner ons dat ons lyding nie naasteby opweeg teen wat Jesus Christus vir ons gely het nie. Hy kon hierdie psalm soos niemand anders sing nie. Daarom moet ons dit ook tot lof van Jesus Christus sing.

 

Dink mooi voor jy besluit dat ‘n sekere deel van die Bybel nie iets het om vir jou te sê nie.

 




Die kerk vandag (10)

 

When we give to God we give him what is his; when we give to the poor we merely redistribute God’s wealth –  Derrett

 

Die kerk vandag (10)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Een ding wat ons vandag baie algemeen hoor, is dat gelowiges hulleself moet voed. As dit beteken om gelowiges op te lei en toe te rus om die Christelike dissiplines te beoefen, is dit reg. Wat ons nie nodig het nie, is ‘n groep eensame mense wat eensaamheid beoefen nie. Is meer individualisme werklik die antwoord?

 

Die kerk is die liggaam van Christus – en ons het dit nodig. Ons het die geloofsgemeenskap en die ondersteuning wat dit bied, nodig. Ons het ook die herders nodig.

 

Jesus vra vir Petrus in Johannes 21:15: Het jy my baie lief, meer as hulle hier? Ja, Here antwoord Petrus hom. Maar nou sê Jesus nie vir hom: “Leer my skape om hulle self te voed” nie. Nee, Jesus sê: pas my skape op. Jesus praat hier van ‘n herder se persoonlike sorg vir sy kudde. Jesus help vir Petrus om te sien dat sy rol die werk van Jesus Christus self moet weerspieël: “As jy my waarlik liefhet, sal jy aan ander doen wat Ek vir jou gedoen het.” Jesus gee nie net hulpbronne en programme uit nie, maar Hy sit/stap/praat/eet/bid saam met hulle. Hy gee hulle raad en help hulle reg; Hy bemoedig hulle. Hy sweet, huil en slaap voor hulle – en Hy sterf vir hulle. Jesus weet dat die skape ‘n herder nodig het.

 

Dit beteken nie ons moet nou alles los nie. Wat ons van moet vergeet, is dat ‘n program die sleutel tot geestelike groei is. Dissipelskap is nie ‘n sisteem nie – dissipelskap is om Jesus te volg. Dit vereis hulp wat meer persoonlik as ‘n program is. Die selfvoedingsprogram aanvaar dat wat mense kortkom is ‘n stel vaardighede om hulle behoeftes te hanteer. Jesus sê nie: “Leer my skape nie.”  Ons het vaardighede nodig, maar eerstens het ons genade nodig. Jesus is nie ‘n rolmodel nie, maar die soewereine God.

 

 




Die grootste probleem van jongmense

 

There is no sin that exists that is more powerful than the grace that is to be found in the person and work of the Lord Jesus Christ. —Paul Tripp

 

Die grootste probleem van jongmense

I have seen more young people ruined by pride than perhaps by any other lust whatsoever – Matthew Henry in Sober-Mindedness Pressed Upon Young People. In sy boekie maak hy veral van twee verse gebruik:

  • Net so moet jy die jonger mans vermaan om hulle verstandig te gedra (Titus 2:6).
  • Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het (Romeine 12:3)

Hoe doen ons dit? Henry sê dat ons so min van wat ons bereik het, moet maak soos meeste mense van hulle foute maak. Ons moet eerder ander se prestasies besing en min maak van hulle foute.

 

As Henry en nie Mark Zuckerberg Facebook ontwerp het, sou ons ons status opgedateer het ten opsigte van ons foute, mislukkings en slegte dae. Ons sou foto’s van ander mense se oorwinnings, prestasies en suksesse geplaas het.

 

Henry sien nie nederigheid as ‘n doel in sigself nie, maar as ‘n weg na ‘n ander wonderlike einde: Voortdurende afhanklikheid van Christus en sy genade waarsonder ons niks sal wees nie.

 

 




Die kerk vandag (9)

 

There will be no peace in any soul until it is willing to obey the voice of God. —D.L. Moody

 

Die kerk vandag (9)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Baie gemeentes, veral nuwe gemeentes, probeer aanvanklik te veel doen. ‘n Reeks programme en bedienings word aangebied in ‘n poging om die gemeente vir die gemeenskap aanvaarbaar en aantreklik te maak. Hoe groter die gemeente word, hoe meer programme en bedienings glo hy moet hy aanbied. Dit is die probleem van enige gemeente wat hom as ‘n verskaffer van dienste en hulpbronne sien.

 

Die lewe in baie gemeentes is vol aktiwiteite wat lidmate se aandag aftrek en meeding met dit wat werklik saakmaak. Elke bediening ding met die ander vir aandag mee. Mense spandeer baie tyd om “hulle” bediening te bevorder in plaas daarvan om hulle bediening te lei. Energie word verdun en die gemeente verwar. Hoekom doen ons dit? Omdat ons dink dat dit gedoen moet word. Ons glo dit is die enigste manier om mense te trek, tevrede te stel. Miskien moet ons eerder snoei as byvoeg.

 

Een groot probleem is die leen van suksesvolle modelle van ander gemeentes. Ons doen dikwels dinge net omdat ons veronderstel is om dit te doen. We depend on plans, programs, vision statements – but somewhere along the way we have succumbed tot the temptation to displace the foolishness of the cross with the wisdom of strategic planning – D. A. Carson. Luister na Paulus se eenvoudige visiestelling: Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde (1 Korintiërs 2:2).

 

Wat is die probleme van te veel programme?

  1. Jy kan baie dinge middelmatig doen of ‘n paar dinge baie goed. Te veel programme verdeel die energie en fokus. Bly by dit wat die Bybel sê ons moet doen. Dit is moeilik, maar dit is nie gekompliseerd nie.
  2. Te veel programme skep die illusie van vrugbaarheid.’n Groot skare by ons eredienste mag geestelik onaangetas wees en glad nie betrokke by die visie wees nie. Die lewe wat ons sien is nie werklik lewe nie. Daar is ‘n illusie van vrugbaarheid, maar dit is nie die werklikheid nie.
  3. Te veel programme is nadelig vir fokus op die gemeenskap.
  4. Te veel programme se gevaar is dat dit die gemeente verander in ‘n gasheer van buite-kurrikulêre aktiwiteite. Dit is ideaal vir mense wat aktiwiteite wil hê.
  5. Te veel programme water die doeltreffendheid van bedienings af. Administrasie word vermeerder en hulpbronne kom onder druk.
  6. Te veel programme lei tot segmentering volgens ouderdom, lewensfases en belangstellings wat verdeling kan veroorsaak.
  7. Te veel programme versmoor sending. Hoe meer ons binne die vier mure van die gebou vasgevang word, hoe minder kan ons die sout en lig vir die gemeenskap wees.
  8. Te veel programme beteken lidmate kan te besig wees – en uitbrand. Sabbatsrus word uitgedruk uit die program.
  9. Te veel programme beweeg die kerk al verder weg van die Nuwe Testamentiese siening van die plaaslike gemeente.
  10. Te veel programme is gewoonlik die gevolg van refleksreaksies ten op sigte van behoeftes en die onvermoë om heilige koeie dood te maak.