Die kerk vandag (3)

 

Religious people find God useful. Christians find God beautiful. – Tim Keller

 

Die kerk vandag (3)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

As gelowiges God aanbid, kommunikeer dit aan die verlore wêreld wie God is en wat Hy gedoen het. Die probleem is dat aanbidding vandag dikwels meer op die gemeente se gevoel van opwinding en betrokkenheid gerig is as op die verheerliking van God. As die doel van ons aanbidding is om goed te voel, aanbid ons nie meer vir God nie.

 

Dit is nie net die fokus van aanbidding wat belangrrik is nie, maar ook die resultate. Navorsing wys vir ons dat hierdie kerke nie hulle teikenmark – kerklos mense – bereik nie. Dit is duidelik dat die onvermoë om kerklos mense te bereik nie met aanbiddingstegnieke of –styl te doen het nie. Die ironie is dat die aantal megakerke toeneem en hulle bywoning vermeerder, maar die mense wat elke Sondag oor die land eredienste bywoon, neem af.

 

Wie vul hierdie kerke? Christene. Soms is dit Christene wat in ander gemeentes ontnugter is of wat ontevrede is. Meestal is dit Christene wat verveeld is met die dienste en goedere in die een gemeente wat na ‘n ander een trek – ‘n gemeente met aantrekliker aanbidding, meer dinamiese prediking, mooier en beter fasiliteite, beter koffie, beter kinderbediening … Na ses jaar is hulle weer ontevrede en skuif weer. Die retensiesyfer is laag. Dat hierdie gemeentes kerklos mense trek, is ‘n mite. Die hele paradigma is een van onsekerheid.

 

Om getalle te tel, is nie genoeg nie. As die getalle hoog is, beteken dit nie dat ons doen wat die Bybel van die gemeente verwag nie. Meeste mense wat na hierdie kerke kom, is reeds gelowiges, bly net vir ‘n kort rukkie en word nie doeltreffend op die pad van geestelike groei gelei nie. Getalle is nie die primêre  instrument wat die Bybel gebruik om die getrouheid van die gemeente te meet nie.

 

Groot gemeentes sit baie geld, energie en tyd in hulle strukture. Vraag: Is dit nie dalk ‘n vermorsing van hulpbronne nie? ‘n Gemeente kan die voorkoms van sukses hê en tog nie suksesvol wees nie; hy kan die voorkoms van lewe hê en tog dood wees. Ons sê altyd dat gesonde dinge groei, maar kanker groei ook. ‘n Gemeente kan groot en suksesvol lyk, sonder om groot en suksesvol te wees in daardie sake wat regtig saakmaak. Gemeentes kan toeneem in getalle en agteruitgaan in gesondheid. Dit gaan nie oor die grootte van gemeentes nie, maar oor die ongesonde obsessie met getalle.

 

In baie van hierdie groot gemeentes is daar baie vrywilligers betrokke by die eredienste oor die naweke. Vrywilligers voel asof hulle maar net nog ‘n rat in die wiel is. As dit hulle totale betrokkenheid by die gemeente is, kry hulle beslis nie die voeding wat hulle nodig het om geestelik te groei nie. Vra hulle vir versorging, word daar gesê dat hulle onvolwasse is. Die neiging is om lidmate nie as skape wat voeding nodig het te hanteer nie, maar eerder as osse wat ‘n vrag het wat hulle moet trek. Natuurlik moet lidmate tot die bediening in die gemeente bydra.

 

Is dit wat ons in en deur ons gemeente doen dit wat God gedoen wil hê?  Is dit wat die Skrif ons leer? ‘n Gemeente kan groot en opwindend wees en tog nie doen wat God van hulle verwag nie. Ons kan die voorkoms van sukses met getrouheid en vrugbaarheid verwar.

 

 




God help diegene wat hulleself nie kan help nie

 

There is no such thing as a great man of God, only weak, pitiful, faithless men of a great and merciful God. —Paul Washer

 

God help diegene wat hulleself nie kan help nie

Mense haal dikwels ‘n algemene spreuk aan en vra dan waar dit in die Bybel staan. Dikwels is dit egter net iets wat mense gesê het. Een hiervan is: “God help diegene wat hulleself help.” Dit kom nie in die Bybel voor nie. Waarskynlik is dit iets wat Benjamin Franklin gesê het.

 

Dit klink baie goed, maar ons moet verstaan dat die enigste ding wat ons kan doen om onsself te help sodat God ons kan help, is om ons vertroue in Hom te plaas om ons te help. God wil sy kinders help; as gevolg van sy liefde wil God sy kinders seën. Wat belangrik is, is sy liefde vir ons en ons liefde vir Jesus Christus – nie dit wat ons gedoen het om onsself te help nie.

 

Toe die Israeliete deur die farao agtervolg word, sê Moses vir hulle: Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg (Eksodus 14:14). Ons taak is nie om onsself te help nie, maar om kalm te bly en toe te laat dat God sy plan in ons lewens uitvoer.

 

Miskien het jy probeer om jouself te help sodat God jou kan help. Hou op. Wees kalm; wag vir die Here; laat Hy jou help – op sy tyd en volgens sy plan. Jy is tog sy kind.

Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het (1 Petrus 5:6).




Deur God gesoek

 

Nothing is easier than saying words. Nothing is harder than living them, day after day. What you promise today must be renewed and redecided tomorrow and each day that stretches out before you.” (Arthur Gordon)

 

Deur God gesoek

Maar nou sal jou koningskap nie bestendig word nie. Die Here sal vir Hom ‘n man na sy hart soek. Die Here sal hom aanstel as regeerder oor sy volk, want jy het nie gedoen wat die Here jou beveel het nie (1 Samuel 13:14).

God soek mense wat sensitief vir sy hart is. Saul was deur trots en vrees gemotiveer. Daarom het hy hy nie God se opdragte gehoorsaam nie. God stel vir Dawid as die volgende koning van Israel aan. ‘n Leier verloor God se respek as hy nie God se opdragte nakom nie. ‘n Individu verloor sy invloed by mense as sy invloed by God kwyn. God soek mense wat opreg na Hom soek, sodat Hy hulle kan vertrou – mense wat hulle aan Hom onderwerp.

 

Ons ken God se opdragte so goed dat ons skoon van hulle vergeet. Nou het ons ‘n keuse: keer in gehoorsaamheid terug na God of loop die risiko dat God jou uit jou posisie gaan verwyder. Onder God se magtige hand kan ons alles verduur, maar as ons buite sy gesag beweeg, verskraal ons hoop. Daarom moet ons ons aan God se gesag onderwerp.

 

Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Maar nou het jy dwaas opgetree en daarom sal jy van nou af oorlog hê (2 Kronieke 16:9)

Moenie dwaas optree deur God se gebooie te verontagsaam nie. God kan ons gebruik as ons sensitief bly vir die Heilie Gees se influisteringe. God kyk na ons innerlike skoonheid en integriteit.

Onderwerp jou aan God, dan sal jy in vrede leef, en so sal jy voorspoed hê (Job 22:21).

 

 




Die kerk vandag (2)

 

It is not the mountain we conquer but ourselves. -Edmund Hillary

 

Die kerk vandag (2)

Daar het onlangs ‘n goeie boek van Jared C. Wilson – The Prodigal Church –  verskyn. [Prodigal = verkwistend, luuks, uitspattig] In hierdie boek kyk hy na die manier waarop ons vandag kerk “doen.” Ons gaan ‘n hele aantal blogs aan hierdie boek spandeer.

 

Die hele idee van baie gemeentes vandag is om die Christelike geloof vir mense aantreklik te maak. Die primêre doel van aanbidding is om soveel mense as moontlik in die kerkgebou te kry sodat hulle kan hoor wat die beteken om ‘n verhouding met Jesus Christus te hê. Dit help gelowiges om praktiese maniere om Jesus Christus te volg, te ondervind. Hulle glo dat hulle ook hierdeur ongelowiges sal trek as hulle sien dat die Christelike geloof wel relevant vir die alledaagse lewe is. Hierdie is edel doelwitte. Hulle wil daarmee die ondervindig so gemaklik en verstaanbaar as moontlik maak vir diegene vir wie die kerk vreemd is – mense wat nie die taal van die Bybel ken nie. Elke struikelblok behalwe die kruis moet tussen die verlorene en Jesus Christus verwyder word.

 

Die probleem is dat met verloop van tyd die boodskap van die kruis verlore gaan ten spyte van goeie bedoelings. Dit gaan meer oor ons persoonlike sukses as oor Jesus Christus se oorwinning. Hierdie boodskappe is aantreklik, maar dit dra die boodskap oor dat dit meer oor onsself – selfverbetering – gaan.

 

Die dominante boodskap in hierdie gemeentes is dat Jesus Christus gekom het om die lewe vir ons gemakliker en beter te maak. Sy onderrig sal ons help om te slaag. Hierdie kerke sukkel om oor sonde te praat – sonde word ‘n probleem of ‘n gebrokenheid of baggasie genoem. Hulle sê nie vir ons wat sonde werklik is nie, want daar moet eerder op die meer positiewe dinge gefokus word. Hierdie is mos nie Jesus Christus se volle boodskap nie en tog word hierdie kerke net voller en voller.

 

Wat daarvan as persepsie nie die werklikheid is nie? Wat daarvan as getalle nie die volle verhaal vertel nie? Die probleem is dat persepsies dikwels ons werklikheid is. Ons glo dat groot kerke die antwoord is – dit is die norm. Hulle kry dan die meeste van die mediadekking. Tog is die gemiddelde groote van gemeentes in die VSA 75. Net 2,5% van gemeentes het meer as 1 000 gereelde kerkbywoners.

 

Wat daarvan as ons nie diegene bereik wat ons dink ons bereik nie? Daarna kyk ons volgende keer.