Gemeentes wat mense uitstuur (4)

 

Take away the cross of Christ, and the Bible is a dark book. —J.C. Ryle

 

Gemeentes wat mense uitstuur (4)

  1. D. Greear en Mike McDaniel het pas ‘n klein e-boek gepubliseer: Sending capacity, not seating capacity. Dit gaan oor gemeentes wat mense in die wêreld uitstuur.

 

Die beperkende faktor om meer kerke te plant, is die beskikbaarheid van gekwalifiseerde kerkplanters. Jy moet jou beste mense stuur, maar dit is juis die mense wat jy wil behou. Hier is ‘n belangrike beginsel om te onthou: om leiers vry te stel, skep nuwe leiers. As jy jou beste leiers uitstuur, vervang God hulle. Klink onwaarskynlik, maar dit is waar. Hoekom gebeur dit? Leiers word aangetrek na plekke waar hulle hulle volle potensiaal kan bereik. In werklikheid trek jy jong leiers. Maar God is vrygewig: as jy iets weggee verplaas Hy dit. Hy vermenigvuldig jou leierskapshulpbronne. As jou gemeente nie leiers ontwikkel nie, kan jy nie leiers in die wêreld uitstuur nie. Daar is tans 4,72 biljoen mense in die wêreld wat nie vir Christus ken nie. Ongeveer 2 biljoen van hulle het min of geen toegang tot die evangelie nie. Maar ook in sogenaamde “Christelike” lande woon minder as 20% van die mense nog eredienste by. Dit behoort mense aan te spoor tot optrede. Hierdie syfers mag mense motiveer, maar gewoonlik word dit nie volgehou nie.

 

In die Bybel lees ons van ‘n ander manier om mense vir sending te motiveer. Daar is by Paulus groot droefheid en voortdurende hartseer. Waaroor? Oor my broers, my eie volksgenote. Dan sê hy: Ek sou self vervloek wil wees, afgesny van Christus, as dit tot julle voordeel kan wees (Romeine 9:3). Hierdie passie dryf Paulus om swaarkry en vervolging te verduur om te kom waar Christus nie geken is nie. Hierdie passie het, ten spyte van alles wat hy moes verduur, nooit verflou nie. Hoe kan ons hierdie passie in ons mense kry? Dit sal nie gebeur deur aan hulle ontstellende statistiek te gee of stories van geloofshelde te vertel nie. Blywende motivering vir sending kom as ek onthou wat God gedoen het om my te verlos. As ek deur ‘n gevoel van dankbaarheid oorweldig word as ek besef dat ek niks gedoen het om my verlossing te verdien nie, dan sal ek deernis met ander hê. Dit gebeur as jy besef dat jy in presies dieselfde posisie was toe Jesus jou gevind het. Dit gaan nie oor ‘n verpligting nie, maar oor dankbaarheid. Die evangelie veroorsaak ‘n lewenskragtige heroriëntering van die hart.

 

 

 

 

 

 

 

 




Die koste van vriendskap

 

What will really save the lost world? Let me tell you: none of our complaints against it. —Jared Wilson

 

Die koste van vriendskap

Ons gebruik van die woord vriend is dikwels taamlik onverskillig. Deels is dit die gevolg van Facebook waar “like” gelyk is aan vriend. Hiermee verloor ons die betekenis van wat vriendskap in die Bybel werklik is. Vriendskap is meer as aangename geselskap. Miskien is ware vriendskap vandag skaars omdat dit baie kos om ‘n ware vriend te wees.

 

Kom ons kyk na die koste van vriendskap.

  1. Vriendskap kos jou persoonlike gemak

Die ware toets vir vriendskap kom as my vriend iets wil doen of iets nodig het wat my nie pas nie. Dan moet ek my persoonlike voorkeure eenkant plaas: Moet niks uit selfsug of eersug doen nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Filippense 2:3). Miskien beleef hulle ‘n moeilike tyd; miskien het hulle ‘n guns wat ‘n las op my gaan plaas nodig. Vriendskap mag soms vir my persoonlik ongemaklik wees, maar as ek sê “iemand is my vriend” moet ek bereid wees om op te offer.

 

  1. Vriendskap kos tyd

Die mens is gemaak vir gemeenskap. God het gesê dat dit nie goed is vir die man om alleen te wees nie (Genesis 2:18). Dit was voor die sondeval – dit is vandag nog meer waar. Jy kan nie ‘n betekenisvolle vriendskap verwag as jy nie bereid is om tyd daarin te belê nie. Maar as twee of meer nie gereeld bymekaar is nie, is dit moeilik om mekaar te ken en te dien.

 

  1. Vriendskap kos intimiteit

Aan die begin sien ek net die goeie in my vriende. As dit al is wat ek sien, is ons vriendskap maar oppervlakkig Almal het ‘n donker kant. Sonde is ons gemeenskaplike vyand. Twee vaar beter as een. Hulle inspanning kom tot iets. As die een val, kan die ander hom ophelp. Maar as een val wat alleen is, is daar niemand om hom op te help nie. As twee langs mekaar slaap, word hulle warm, maar hoe sal een wat alleen is, warm word. Een alleen kan oorweldig word, twee saam kan weerstand bied. ‘n Driedubbele tou breek nie maklik nie (Prediker 4:9 – 12). Om dit reg te kry moet jy die hart van jou vriend ken en hy moet jou hart ken. Ek moet bereid wees om die goeie en die slegte te deel.

 

  1. Vriendskap kos gemak

Vriendskap is maklik as alles goed gaan. Maar wat gebeur as die storms kom? Wat doen ons as ons verskil? Ware vriendskap vergewe en soek herstel. Dit is sekerlik die moeilikste deel van vriendskap. As ek ‘n vriend aanvaar, aanvaar ek ook ‘n verantwoordelikheid. Ek weet nie watter laste ek sal moet dra of watter opofferings ek sal moet maak nie of watter hartseer saam met die vriendskap kom nie. As ons eers vriende is, moet ons getrou wees – maak nie saak wat die koste is nie.

 

  1. Vriendskap kos gebed

Vriende bid vir mekaar. Hoe kan ons die mense wat ons sê ons vriende is nie aan God in gebed opdra nie. Ware vriende bid nie net af en toe vir mekaar nie – hulle bid gereeld en lê mekaar se behoeftes voor God.

 

  1. Vriendskap kos liefde

Hoe meer tyd ek met vriende spandeer, hoe meer word hulle en my sondes geopenbaar. Ons moet mekaar aanhou liefhê al sien ons die lelike raak. As God ons roep om vriende te wees, roep Hy ons om mekaar lief te hê en mekaar te vergewe. Om dit te kan doen, het ons die krag van Jesus Chriistus nodig.

 

Jesus was ‘n vriend van sondaars. Hy het vir ons gesterf en het opgestaan sodat ons vriende van God kan wees. Net as ons na ons Verlosser kyk en van Hom leer, kan ons ware vriendskappe met ander aanknoop.

 

 




Gemeentes wat mense uitstuur (3)

 

“If anyone falls, he falls alone. But no one is saved alone.” – Alexei Khomiakov

 

Gemeentes wat mense uitstuur (3)

  1. D. Greear en Mike McDaniel het pas ‘n klein e-boek gepubliseer: Sending capacity, not seating capacity. Dit gaan oor gemeentes wat mense in die wêreld uitstuur.

 

Sommige mense in die gemeente is geroep om gestuur te word en ander om te bly. Die vraag is nie of jy geroep is nie, maar waarheen jy geroep is. God plaas mense op spesifieke plekke met spesifieke verhoudings waar hulle hulle gawes moet gebruik om God se sending te bevorder. Om Jesus te volg beteken om gestuur te word, om deel van die stuurproses te wees na mense wat nog nie bereik is nie. Gemeentes het mense om te stuur nodig, maar ook mense om te bly met die spesifieke doel om ander voor te berei om gestuur te word.

 

Die kern van die Groot Opdrag is om dissipels te maak. Dit beteken twee tipes groei – wyd en diep. Ons opdrag is om mense van alle nasies te bereik– dit is wydte. Dan moet ons hulle leer om alles te onderhou wat Jesus geleer het – dit is diepte. Om getrou aan Jesus se opdrag te bly, moet ‘n gemeente beide doen.

 

Gemeentes wat wyd, maar nie diep is nie, is nie so wyd as wat hulle dink nie. Jesus se opdrag was nie om bekeerlinge te maak nie, maar disispels. Dink maar aan die gelykenis van die saaier (Matteus 13). Daar is mense wat lyk asof hulle gered is, maar hulle word deur die son verskroei of deur die onkruid verdring.

 

Gemeentes wat diep maar nie wyd groei nie, is nie so diep as wat hulle dink nie. Baie getroue sendelinge het jare gewerk sonder om enige vrugte op hulle werk te sien. Die vraag is of ons begeer om ‘n oes te sien? Het ons dieselfde dringendheid as Paulus? Glo ons dat God die oes kan inbring? God se arm is nie kort nie. Hy is nog net so sterk as daardie dag toe hy Jesus uit die graf laat loop het.

 

Diepte + wydte – gebalanseerde bediening. Sonder diepte het gemeentes geen dissipels om te stuur nie. Sonder diepte mag gemeentes dissipels hê, maar hulle kort die ondervinding en ywer. Gemeentes moet diepte en wydte balanseer.

 

 




‘n Apostoliese kerk

 

Wherever the people do not believe in something beyond the world, they will worship the world.  – Chesterton

 

‘n Apostoliese kerk

Wat beteken dit as ons van ‘n apostoliese kerk praat? Die Here het sy kerk op Petrus gebou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou (Matteus 16:18). Jesus het aan die apostels die opdrag gegee om sy getuies te wees in Jerusalem sowel as die hele Judea en in Samaria en tot die uithoeke van die wêreld (Handelinge 1:8). In Matteus 28 gee Jesus sy laaste opdrag aan sy dissipels: Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels, doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

 

Die kerk vandag is in lewende voortsetting van die kerk in die tyd van die apostels. Die werk van die apostels is deur hulle opvolgers voortgesit. Ons sien die reeds in die Nuwe Testament waar die apostels lede (soos Judas) verplaas het (Handelinge 1:15 – 26). In 1 Timoteus 3:1 – 7 lees ons van nuwe leiers – ouderlinge – wat vir gemeentes aangestel word. Hierdie proses word vandag steeds voortgesit.

 

Die taak van die nuwe leiers van die kerk is om dieselfde boodskap wat die oorspronklike apostels van Jesus ontvang het, oor te dra. Ons hoef dus nie bekommerd te wees oor die integriteit van die evangelieboodskap nie – dit is deur Jesus Christus verkondig wat dit op sy beurt aan die apostels en hulle opvolgers toevertrou het. Hulle het hierdie boodskap bewaar, beskerm en oorgedra – ten spyte van vervolging en die vyandigheid van die wêreld en die duiwel. Toe Jesus vir Petrus gesê het dat Hy sy kerk op hom gaan bou, voeg Hy by: En die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie. Daarom mag die kerk nooit van die onderrig van Christus afdwaal nie.

 

Maar die kerk is ook apostolies in sy sending.  Die woord apostel in Grieks beteken ambassadeur of “die een wat gestuur is.” Daarom moet alle Christene uitgaan om die die goeie nuus van Jesus Christus aan ander te bring. In hierdie sin van die woord behoort elke gelowige ‘n apostel te wees.

 

Om aan die apostoliese kerk te behoort, beteken dat ons geloof geanker is in die verkondiging en getuienis van die apostels van Jesus. Dit beteken ook dat ons gestuur is om die evangelie met blydskap te verkondig. Ons hoef nie te probeer verstaan wat van die begin af reeds duidelik was nie. Die kerk se onderrig moet die evangelieboodskap – toegepas en verstaan onder die leiding van die Heilige Gees – weerspieël. Hierdie kontinuïteit met twintig eeue van die kerk, verseker dat ons seker kan wees dat ons God se woord ken. Daarom moet ons hierdie woord met ons familie, vriende en die mense wat ons ontmoet deel met die wete dat wat ons hulle vertel, waar is.

 

Die kerk is ‘n geestelike gemeenskap, maar ons kan die kerk identifiseer deur sy tekens: een, heilige, algemene en apostoliese kerk. Die kerk besit hierdie eienskappe as gevolg van ons gemeenskap met Jesus Christus.