Gemeentes wat mense uitstuur (1)

 

The man who has God for his treasure has all things in one – A. W. Tozer.

 

Gemeentes wat mense uitstuur (1)

  1. D. Greear en Mike McDaniel het pas ‘n klein e-boek gepubliseer: Sending capacity, not seating capacity. Dit gaan oor gemeentes wat mense in die wêreld uitstuur.

 

Om mense uit te stuur, klink goed op papier, maar ons het hier met ware mense wat gapings gaan laat as hulle weggaan, te doen. Maar, God bou sy koninkryk nie as ons aan mense vasklou nie, maar as ons hulle laat los. Die sleutel om die wêreld te bereik, is om mense te stuur. Elke gemeente is geroep om ‘n gemeenskap te bereik, maar die ware roeping van die kerk is nie om gelowiges bymekaar te maak nie, maar om dissipels te maak en dan uit te stuur.

 

Om te stuur is God se strategie om die Groot Opdrag van Matteus 28 te vervul. Maar om te stuur kos iets: ons moet die vrugte wat God aan ons gegee het, loslaat. Is dit moontlik? Wat help dit nou om gemeentes te plant en jou eie gemeente gaan dood? In die praktyk is presies die teenoorgestelde gevind. Nie alleen is dit moontlik om te stuur nie, maar dit help die gemeente wat stuur. Dit beteken nie dat dit maklik is nie. Dit skep spanning. Maar mettertyd glo mense dat om in die gemeenskap uit te reik, die gemeente sal laat groei.

 

Om te stuur klink goed, maar is dit die storie van elke gemeente? Is dit nie wat God vir elke gemeente beplan het nie? Is dit normaal of is dit die uitsondering? Om mense uit te stuur is vandag die uitsondering en nie die reël nie. Die Nuwe Testament skep ‘n ander beeld. Om gemeentes elders te plant is nie traumaties nie – dit is normaal en algemeen.  Lees net weer die boek Handelinge: die evangelie word verkondig; dissipels word gemaak; gemeentes word geplant; herhaal die proses. Om te stuur is in die materiaal van die kerk ingeweef.

 

Om te stuur is een van die dinge wat ‘n gemeente moet doen – soos dissipelskap en aanbidding. Wat nodig is, is ‘n kultuur van stuur. Jy kan ‘n kultuur van kerkplanting ontwikkel, maar as die kultuur van stuur nie teenwoordig is nie, gaan dit of nooit of selde gebeur.

 




Preek soos Jesus

 

Jesus had every reason to be proud yet he was humble, and we have every reason to be humble yet we’re proud. —Burk Parsons 

 

Preek soos Jesus

Rick Warren sê dat Jesus se onderrig prakties en eenvoudig was. Dit was duidelik, relevant en toepaslik. Sy doel was nie om mense in te lig nie, maar om hulle te verander. Kom ons kyk na die grootste preek wat nog ooit gepreek is: die bergrede:

  • Jesus begin deur agt geheime van werklik gelukkig wees, te deel.
  • Dan praat Hy oor ‘n voorbeeldige lewe, die beheer van die humeur, die herstel van verhoudings, en sake soos kuisheid en egskeiding.
  • Volgende praat Hy oor die hou van beloftes en om kwaad met goed te vergeld.
  • Daarna gaan Hy oor na ander belangrike lewensake soos hoe om met die regte gesindheid te gee, hoe om te bid, hoe om vir jou ‘n skat in die hemel bymekaar te maak en hoe om die sorge van die lewe baas teraak.
  • Hy eindig sy boodskap deur te sê dat ons nie ander moet oordeel nie, om te volhard in gebed en waarsku ons teen vals leermeesters. Hy eindig met ‘n eenvoudige storie wat die belang van doen wat jy geleer is, beklemtoon.

Dit is die soort prediking wat ons vandag steeds nodig het, want dit verander lewens. Dit is nie genoeg om te sê: “Christus is die antwoord” nie – ons moet vir kerklos mense wys hoe Christus die antwoord is. As ons mense oproep om te verander, maar nie vir hulle wys hoe om te verander nie, lei dit net tot skuldgevoelens en frustrasie.

 

Baie van wat ons vandag in ons kerke hoor, is net klagtes oor die samelewing – en ons veroordeel mense. Daar is baie diagnose en min genesing. Dit laat Christene meerderwaardig voel teenoor “diegene daar buite,” maar dit verander nie juis iets nie. As ek na ‘n geneesheer toe gaan wil ek nie net hoor wat met my verkeerd is nie – ek wil hê hy moet vir my spesifiek sê hoe ek beter kan word. Die diepste onderrig is daardie onderrig wat ‘n verskil in mense se lewens maak.

The Bible was not given tot increase our kmowledge but to change our lives (D. L. Moody)

 

Jesus het gesê dat Hy gekom het sodat ons lewe kan hê. Hy het nie gesê dat Hy gekom het sodat ons godsdiens kan hê nie. Die Christelike geloof is ‘n lewe en nie ‘n godsdiens nie. As Hy klaar was met sy onderrig, het Hy dikwels vir sy gehoor gesê dat hulle moet gaan en dieselfde moet doen.

 

Kerklos mense vra nie dat ons die boodskap moet verander of afwater nie, maar dat ons vir hulle die toepaslikheid van die boodskap moet wys – watter verskil maak dit? Dit is ‘n mite dat jy kompromieë moet aangaan as jy mense wil trek. Jesus het nie.

You don’t have to transform the mesaage, but you do have to translate it (Rick Warren)

 




Christus is ons geestelike aanbidding waardig.

 

How simple life becomes when things like mirrors are forgotten. -Daphne du Maurier

 

Christus is ons geestelike aanbidding waardig.

As ons God se grootheid sien, as ons die regte perspektief kry op wie Christus is en wat Hy vir my gedoen het, sal ek nooit weer speletjies met God speel nie. As ons Christus as die beeld van God sien, moet ons met liefdevolle aanbidding en gehoorsaamheid reageer As gevolg van Jesus Christus kan ons hierdie offers uit ‘n rein hart bring. Elke gelowige is ‘n priester geroep om geestelike offers te bring. As priesters bring ons lewende offers vir die Here.

 

Maar wat offer ons?

  • My liggaam (Romeine 12:1 – 2): Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is.
  • My finansies (Filippense 4:14 – 18): Julle gawe is voor God ‘n offer met ‘n lieflike geur, vir Hom aanneemlik en welgevallig.
  • My lof (Hebreërs 13:15): Laat ons dan onophoudelik deur Jesus aan God ‘n offer van lof bring, die lof wat aan Hom gebring word deur die lippe wat sy Naam bely.
  • My goeie werke (Hebreërs 13:16): Moenie nalaat om goed te doen te doen en mededeelsaam te wees nie, want dit is die offers wat vir God aanneemlik is.
  • Diegene wat die evangelie aanvaar het as gevolg van my verkondiging (Romeine 15:16): Dit is my priesterlike taak om die evangelie van God aan hulle te bedien, sodat daar uit die heidennasies ‘n offergawe mag wees wat vir God aanneemlik is en deur die Heilige Gees geheilig is.

Deur God se genade mag ons betekenisvolle aanbidding gee aan Hom aan wie al die eer en heerlikheid toekom.

 

 




Die skepping sug

 

Joy is the most infallible sign of the presence of God.” Leon Bloy (1846-1917)

 

Die skepping sug

Op een of ander stadium vra elke Christen of dit die moeite werd is om ‘n Christen te wees. In Romeine 8:18 – 25 antwoord Paulus hierdie vraag met ‘n onomwonde ja. Hy sê: Ek is daarvan oortuig dat die lyding wat ons nou moet verduur, nie opweeg teen die heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek nie. Wat is hierdie heerlikheid wat God vir ons in die toekoms sal laat aanbreek? Die skepping sien met gespanne afwagting daarna uit dat God bekend sal maak wie sy kinders is. Die hele skepping sal hernuwe, herstel en verlos word. Ons kindskap sal geopenbaar en erken word.

 

Ook sal ons as sy kinders gelykvormig wees  aan die beeld van sy Seun – net so heilig soos Hy is (8:29). Dit is wat heerlikheid is. Maar dit is nie die huidige posisie nie: Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting. Toe die mens in sonde geval het, deel die skepping in daardie val. Die natuur is nie wat dit behoort te wees nie. Dit is van ons, wat veronderstel is om in harmonie met die natuur te leef, vervreem. Die skepping is aan verydeling onderworpe, nie uit eie keuse nie, maar omdat God dit daaraan onderwerp het. Maar hierdie verydeling gaan gepaard met ‘n belofte van hoop wat God gegee het. Daarom kan die skepping in hoopvolle afwagting wag.

 

Tans is die skepping nog verslaaf aan verganklikheid (vers 21). Dit is aan ‘n voortdurende siklus van dood en agteruitgang onderwerp. Die natuur is in pyn en lyding vasgevang: Ons weet dat die hele skepping tot nou toe sug in die pyne van verwagting.

 

Maar dit is nie die laaste woord nie. Die skepping sal self ook bevry word … om so tot die vryheid te kom van die heerlikheid waaraan die kinders van God deel sal hê. In plaas van sugte sal daar vervulling wees. In plaas van pyn sal daar vreugde wees.

 

Dit is die toekoms waarna die skepping kan uitsien. Dit is Paulus se antwoord op die vraag of ons toekomstige heerlikheid die huidige swaarkry die moeite werd maak. Ons is nog nie daar nie, maar ons sal daar wees. Ons het die Gees ontvang … as die eerste gawe van God – die voorsmaak van dit wat sal kom, naamlik totale vryheid van die gevolge van sonde en die dood wat die Gees eendag aan ons sal gee. Dit gebeur as God ons as sy kinders aangeneem het: Hy sal ons van die verganklikheid bevry (vers 23).

 

Ons weet dat ons nog nie is wat ons eendag sal wees nie. Ons het ook nie reeds alles wat ons eendag sal hê nie. Ons weet dat al ons beste dae nog voor ons lê en dat ons pynlike dae dan agter ons sal lê. Daarom, selfs tydens ons slegste dae weet ons: Dit is alles die moeite werd.