Hoekom is daar ‘n hel?

 

Things have come to a pretty pass when religion is allowed to invade the private life – Lord Melbourne, Britse eerste minister in die 1830’s

 

Hoekom is daar ‘n hel?

Sommige mense wil nie net vir God wegkruip nie, maar wil so ver as moontlik van Hom wees. Die beste plek vir hulle om te wees, is daar waar God nie is nie. En dit is die hel. Die fundamentele werklikheid van die hel is skeiding van God. Dit gebeur omdat mense nie by Hom wil wees nie.

 

Dallas Willard sê ‘n deel van ons probleem om die hel te verstaan, is die manier waarop ons oor die hemel dink. Ons dink aan die hemel as ‘n gemaklike blyplek. Die belangrikste ding van die hemel is dat ons in die teenwoordigheid van God gaan wees. Hy het toegelaat dat ons Hom op aarde kan vermy as ons sou wou, maar as jy hemel toe wil gaan, is God die belangrikste ding op jou horison. Daar is geen manier wat jy Hom sal kan vermy nie.

 

Ons het heelwat simboliek oor die hel oor die jare ontwikkel. Dit het ons op ‘n verkeerde spoor laat beland. Baie mense dink dat die duiwel in beheer is van die hel – die koning. Onwaar. Hy is aan die ontvangskant van straf en lyding in die hel. Hy is verantwoordelik vir baie daarvan op aarde, maar hy is nie verantwoordelik vir wat in die hel gebeur nie.

 

Natuurlik is dit nie God se wil dat iemand moet omkom nie; God probeer nie mense uit die hemel hou nie; Hy probeer juis om hulle in die hemel te kry. Die enigste manier waarop daar nie ‘n hel sou wees nie, is as almal God sou liefhê en in sy teenwoordigheid wou wees. God respekteer die wil van die mens. All that are in hell in hell choose it. Without that self-choice there would be no hell. No soul that seriously and constantly desires joy will ever miss it (C. S. Lewis) As die mens homself as god sien, as hulle tevrede is om in hulle eie wêreld te bestuur, sal dit hulle van God weghou.

 

Jesus het voortdurend probeer om mense deel van sy koninkryk te maak; Hy het nie geprobeer om mense na die hel te stuur nie. God probeer sy bes met ons binne die beperkings van ons verbeelding en denke. Soms het ons die verkeerde indruk van God. God het nie die hel gemaak omdat hy kwaad was nie; omdat Hy mense wou sien ly nie; omdat Hy daarvan hou om mense te martel nie. Die enigste rede waarom daar ‘n hel is, is omdat God voorsiening  maak vir wat mense wil hê.

 

 

 




Die fases van geloof

 

A church without the broken is a broken church. —Ed Stetzer

 

Die fases van geloof

Volgens Rick Warren gebruik God ‘n baie voorspelbare proses om jou karakter te bou, Die proses bestaan uit ses fases. As jy nie die proses verstaan nie, kan jy baie maklik ontmoedig word as probleme opduik. Jy wonder: “Hoekom gebeur dit met my?”

 

Kom ons kyk na hierdie fases:

Fase #1: ‘n Droom

God gee aan jou ‘n droom – ‘n idee of doelwit. Elke groot prestasie begin met ‘n Godgegewe droom. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneidig meer te doen as wat ons bid of dink (Efesiërs 3:20).

 

Fase #2: Besluit

‘n Droom is waardeloos totdat jy besluit om iets daarmee te doen. Dit is die oomblik van waarheid wanneer jy besluit om jou tyd, energie, geld en selfs jou reputasie te belê. As jy op die water wil loop, moet jy eers uit die boot klim. Maar ‘n mens moet gelowig bid en nie twyfel nie, want iemand wat twyfel is soos ‘n brander in die see wat deur die wind aangejaag en heen en weer gedryf word (Jakobus 1:6)

 

Fase #3: Vertraging

Daar is altyd ‘n vertraging voor jou droom bewaarheid word. God gebruik juis hierdie wagperiode om jou te leer om Hom te vertrou. Die openbaring geld vir ‘n bepaalde tyd; dit sal gou kom, want dit kom beslis. Jy moet net geduldig bly wag as dit nie gou kom nie, want dit kom beslis, dit sal nie uitbly nie (Habakuk 2:3).

 

Fase #4: Probleme

Nou begin probleme opduik. Die algemeenste probleme is kritici en omstandighede. Moenie bekommerd wees nie, want dit is deel van God se plan. Verheug julle hieroor, selfs al is dit nodig dat julle ‘n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word. Julle geloof is baie kosbaarder as goud wat vergaan (1 Petrus 1:6 – 7).

 

Fase #5: ‘n Doodloopstraat

Jou situasie maf selfs verder versleg. Jou situasie lyk hopeloos. Nou moet jy God vertrou. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het … Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe (2 Korintiërs 1:8 – 9)

 

Fase #6: Verlossing

God voorsien ‘n bonatuurlike antwoord. Wonderbaarlik val alles in plek. As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie … (Psalm 27:13).

 

 

 

 




Dawid se wapenrusting

 

There is no such thing as a great man of God, only weak, pitiful, faithless men of a great and merciful God. —Paul Washer

 

Dawid se wapenrusting

En Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon nie loop nie, want hy was dit nie gewoond nie. Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie.” En Dawid het dit uitgetrek (1 Samuel 17:390.

Dawid, die jong skaapwagter, hoor die uitdaging van die Filistyne om iemand te stuur om teen Goliat te veg. Niemand behalwe Dawid bied aan om teen die reus te veg nie. Koning Saul bied sy wapenrusting vir Dawid aan. Dawid trek hierdie swaar toerusting aan, maar besluit gou dat hy nie met hierdie swaar wapenrusting sou kon veg nie.

 

God rus elkeen van ons op ‘n unieke manier wat by ons sterkpunte en vermoëns pas, toe. Dawid is as skaapwagter opgelei om ander wapens te gebruik – ‘n slingervel. Dawid besef baie gou dat hy nie doeltreffend met Saul se wapenrusting sou kon veg nie.

 

Wat is die gawes en talente wat God vir jou gegee het? Het jy al ooit probeer om iets te doen met wapens waarmee jy nie toegerus is nie? God laat elkeen van ons sekere vaardighede wat uniek aan ons is, ontwikkel. God verwag nie van ons om iemand anders se wapens te gebruik nie.

 

Hierdie is nie die hele storie nie. Hierdie talente moet saam met geloof gebruik word – talente alleen is nie genoeg nie. Dit is net as ons talente en geloof saamvoeg dat God se mag in ons vrygestel word

 

Meng vandag jou unieke gawes met geloof en jy sal verbaas wees oor wat God deur jou kan vermag.

 

 




Die konteks van apologetiek

 

The purpose of the home is to be a place of refuge, grace, and productivity—not a platform for me to prove what a great homemaker I am. — Courtney Reissig

 

Die konteks van apologetiek

Kom ons kyk nader na 1 Petrus 3:15 – 16. In verse 10 – 12 haal Petrus Psalm 34:13 – 17 aan. As iemand die lewe liefhet en ‘n lang lewe begeer om die goeie te geniet, moet hy sy tong weerhou van kwaadpraat en sy lippe van leuens. Hy bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, soek vrede en jaag dit na! Die Here sorg vir die opregtes en luister na hulle hulpgeroep, maar Hy tree op teen dié wat kwaad doen. Hy gaan verder in verse 13 en 14: Wie sal julle kwaad aandoen as julle julle beywer vir wat goed is? Maar selfs as julle sou ly omdat julle doen wat reg is, moet julle dit as ‘n voorreg beskou. Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie.

 

Hier moet ons die konteks van apologiek verstaan. Hier het ons ‘n situasie waar mense wat hulle beywer vir wat goed is, ly. Waar het ons dit vantevore gehoor? In Jesus se seënuitsprake. Geseënd is dié wat vevolg word omdat hulle doen wat reg is, want aan hulle behoort die koninkryk van die hemel (Matteus 5:10). Hoe is dit moontlik? Om vervolg te word vir wat reg is, beteken dat ons die werklikheid van die koninkryk van die hemel in ons lewens ondervind.

 

As jy gelukkig is en nie bekommerd oor die bedreiging is nie, is dit omdat jy aan die Here God ‘n spesiale plek in jou hart gegee het. Nou is jy gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe … met beskeidenheid en met eerbied vir God. Dit is nie die einde van die opdragte nie. Petrus gaan verder: Sorg dat julle gewete skoon bly, sodat dié wat julle oor julle goeie lewenswandel in Christus belaster, daarvoor skaam kan kry dat hulle kwaad van julle gepraat het.

 

Die konteks van hierdie gedeelte is een waar mense ly … en hulle is gelukkig. Hulle is nie bang nie; hulle is nie bekommerd nie. Die mense om hulle sien dat hulle vol hoop en vreugde is. Hierdie is nie ‘n verbygaande sensasie van plesier nie, maar ‘n voortdurende en oorheersende sin van welstand.

 

Die ekwivalent vandag sou wees as mense na Christus se volgelinge kyk en hulle slegte omstandighede sien en sê” “Jy is besig om aan kanker te sterf; jy doen goed, maar mense behandel jou sleg …  en tog is jy vol hoop.” Hierdie mense huil nie en loop rond en vra waarom dit nou juis met hulle gebeur nie – soos baie mense, ook Christene – doen. My broers, julle moet bly wees as allerlei beproewings oor julle kom (Jakobus 1:2). Die probleem is dat ons soos meeste ongelowiges optree. Ons praat hier van ‘n lewe waarvan Jesus gesê het: En elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie. Glo jy dit? (Johannes 11:26).

 

As ons aan Jesus verbind is, is daar iets verskillend aan ons. Mense sal begin vra hoekom dit so is. Dit is die konteks van apologetiek.