‘n Model om twyfel te hanteer

 

In terms of Christian theology, the gospel is the glue between doctrine, experience, mission, and practice – Michael Bird

 

 ‘n Model om twyfel te hanteer

In Johannes 20 lees ons hoe Jesus ‘n twyfelaar – Tomas – benader. Johannes begin deur vir Tomas te beskryf:

Tomas, wat ook Didimus genoem is, een van die twaalf, was nie by die dissipels toe Jesus gekom het nie. Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!” Maar hy sê vir hulle: “As ek nie die merke van die spykers in sy hande sien en my vinger in die merke van die spykers steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nooit glo nie” (20:24 – 25). Sjoe. Tomas wil nie net sien nie, hy wil vat ook. Hy wil absoluut seker maak hy hallusineer nie. Dit is ‘n eerlike benadering. God waardeer ons eerlike vrae, want dit gee aan Hom iets solied om mee te werk.

 

Jesus laat Tomas braai met sy vraag vir agt dae. Dit is goed vir jou om ‘n bietjie te braai met jou vrae, mits dit binne perke is. Teen die tyd wat jy die antwoord kry, is jy gereed daarvoor. Jesus los vir Tomas om te werk aan sy probleem – ag dae lank. Ag dae later verskyn Jesus weer aan sy dissipels. Hierdie keer is Tomas by. Jesus gaan staan tussen hulle: ”Vrede vir julle!” Daarna sê Hy vir Tomas: “ Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek  hom in my sy; en moenie langer ongelowig wees nie, maar wees gelowig.”  Jesus was bereid om Tomas by te staan om deur sy twyfel te werk. Dit is ‘n kenmerk van die Here in verhouding met sy mense. Luister wat sê Hy volgende vir Tomas: “Glo jy nou omdat jy My sien? Gelukkig is dié wat nie gesien het nie en tog glo.” Let daarop dat Jesus nie maar net vir Tomas laat ly het nie – Hy gee aan Tomas die bewyse  wat hy nodig gehad het. Dit is tipies van Jesus se benadering tot twyfel. Hy reageer op mense wat eerlik twyfel op die manier wat Hy weet die beste is om van twyfel na kennis te beweeg.

 

Baie gelowiges het groot geword met die idee dat hulle nie vrae mag vra oor wat hulle in die kerk hoor nie en dat twyfel ‘n slegte ding is. Hulle sien nie die groot waarde in twyfel raak nie – dit stimuleer jou om aan te hou dink en vrae te vra. Sien net wat Jesus alles reggekry het deur bloot net vrae te vra. Ons moet hierdie proses aan die gang hou in gesprekke met ander, om na goeie sprekers te luister, om boeke te lees, ens. Hierdie mag tydrowend wees en daarom moet ons dit in ‘n gemeenskap doen waar ons deel wat ons besig is om te leer. Maar dan moet ons gemeenskap oop wees. Mense, veral jongmense,  moet aangemoedig word om hulle twyfel te erken en daaroor te praat. Om oor jou twyfel te praat is goed.

 

 




Wat is die waarheid?

 

The gospel is where God meets us and where we introduce the world to God – Michael Bird

 

Wat is die waarheid?

Die siening van ons hededaagse kultuur is dat daar geen absolute waarheid of werklikheid is nie. Wat ons “feite” noem is die produk van mense. Kennis is daarom die “beste professionele praktyk” soos tans gedefinieer. What is reality anyway? Nohtin’ but a collective hunch (Lily Tomlin). Morele beginsels word beskou as die vooroordele van sekere groepe waarvan nie een beter is as enige ander nie.

 

Dit tradisionele siening van die waarheid was nog altyd dat die waarheid, kennis en die werklikheid nie sake is wat jy of jou groep uitdink nie. Die waarheid besluit oor wat in werklikheid daar is, maak nie saak hoe jy of ander dit sien nie. Hou by die waarheid, moet daar nie van afstand doen nie; hou by wysheid, by selfbeheersing, by insig (Spreuke 23:23). Die waarheid is kosbaar en die waarheid en die bose kan nie saam bestaan nie.

 

Die waarheid is so belangrik dat Jesus Christus na die wêreld gekom het om van die waarheid te getuig. Daar word na die gemeente verwys: die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid (1 Timoteus 3: 15). Die waarheid is kosbaar vir die mens se lewe in al sy dimensies, want dit alleen maak dat ons die werklikheid kan insien. Die waarheid is nie alles nie, maar daarsonder loop alles skeef. As ons aan die Christelike evangelie en wat ons as Christene doen, dink, moet ons hulle in die kategorie van die waarheid verstaan. As ons die evangelie nie in hierdie lig sien nie, verstaan ons dit nie. Jesus se woorde is die beste inligting oor die onderwerpe van wesenlike belang vir mense. Dit is die enigste soliede fondament vir ons idees.

 

 

 




Ek moet ander van Jesus Christus vertel

 

If your heart is the same as my heart, you can hold my hand – John Wesley

 

Ek moet ander van Jesus Christus vertel

To be simple, humble, and thoughtful as we listen to others and help them come to faith in the One who has given us life – Dallas Willard

Jesus se laaste opdrag aan sy dissipels was om na al die nasies te gaan en die mense sy dissipels te maak. Maar hoe moet ons dit doen? Met sagmoedigheid soos Jesus dit gedoen het. Dit is nie sagmoedigheid gekenmerk deur passiwiteit nie, maar die sagmoedigheid van skouer-aan-skouer reis met iemand oor steil bulte en diep, donker valleie.

 

‘n Riet wat geknak is, sal Hy nie afbreek nie (Matteus 12:20). Jesus was sagmoedig, maar tog het Jesus ‘n wêreldwye revolusie van stapel gestuur. Jesus se impak was nie ten spyte van sy sagmoedigheid nie, maar juis as gevolg daarvan. Wat vandag verlore gegaan het, is om in sagmoedigheid en liefde mense se eerlike twyfel en vrae te antwoord.

Maar die wysheid wat van Bo kom, is allereers sonder bybedoelings, en verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam, vol medelye en goeie vrugte, onpartydig opreg (Jakobus 3:17)

 

As ons vandag die woord apologetiek (= verdediging van die Christendom as studievak – HAT) hoor, dink ons onmiddellik aan woorde soos argument, rede, bewyse. Sagmoedigheid is nie juis ‘n woord waaraan ons dink nie. Die woord apologetiek kom uit die Griekse regstelsel waar jy jou verdediging stel teenoor die aanklaer se aanklag. Paulus en ander skrywers van die Nuwe Testament het hierdie woord aangeneem om die pogings van Christene om hulle geloof teenoor ander te verdedig of te verduidelik te beskryf.

 

Vandag het apologetiek toenemend vasgevang geword in intellektuele debatte en argumente. Daar is niks mee verkeerd nie. Apologetiek het te doen met idees, intellektuele aansprake en rede en daarom is dit gepas om by intellektuele debatte betrokke te wees. Wat egter nie gepas is nie, is om aan hierdie debatte deel te neem met ‘n antagonistiese, arrogante gees. Om apologetiek meer doeltreffend te maak, is om dit met ‘n sagmoedige gees te kombineer.

 

As ons apologetiek doen, doen ons dit as dissipels van Jesus – daarom moet ons dit doen op ‘n manier waarop Hy dit sou doen. Daarom moet ons dit doen om ander mense te help – veral diegene wat graag gehelp wil word.

 

 

 




Rampe

 

He who chooses the beginning of a road chooses the place it leads to. It is the means that determines the end – Harry Emerson Fosdick

 

Rampe

Rampe gebeur en daar is niks wat ons as mense kan doen om dit te verhoed nie. Rampe sal gebeur totdat Jesus Christus weer kom. Jesus het na aardbewings en ander rampe verwys as tekens wat na die einde van die wêreld verwys. As rampe dan ‘n onvermydelike lewensfeit is, wat kan ons uit rampe leer?

  1. Rampe herinner ons

Rampe herinner ons daaraan dat ons lewensduur maar kort is. Ons liggame is kwesbaar vir die onvoorspelbare en dreigende  rampe wat ons gereeld in die gesig staar. Hierdie herinnering moet ons na God se woord lei om daar rigting te kry. In Efesiërs 2:11 – 12 herinner Paulus die nie-Joodse gelowiges om te onthou dat hulle vroeër sonder Christus was. Noudat ons deur genade naby aan Hom is, kan ons nie anders as om aan diegene wat nog ver van Hom is te dink nie. Rampe herinner ons dat baie mense, gemaak na die beeld van God, op pad is na sy oordeel, omdat hulle nie vir Jesus Christus ken nie.

 

  1. Rampe mobiliseer

In meeste rampe is plaaslike gemeentes gewoonlik dié wat eerste reageer. Hulle verlaat ook nie die omgewing sodra die aanvanklike hulp verleen is nie. Hulle is deel van die gemeenskappe. Hulle is gemotiveer om langtermyn hulp te verskaf, want die ramp het hulle eie huise, skole, dorpe en werkplekke getref. Die plaaslike gemeente fokus ook op die noodsaaklikste behoeftes. Fisiese behoeftes in onmiddellik en sigbaar, maar uiteindelik moet die geestelike behoeftes van die rampslagoffers ook hanteer word.

 

  1. Rampe wys mense na Christus

Tegnologie kan help, maar dit kan nie rampe vermy nie. Rampe wys mense na Jesus Christus – daar is ‘n dringendheid om die evangelie te verkondig. Te midde van die verskriklike ramp sien ons dikwels vir God aan die werk op maniere wat ons nie anders raaksien nie.

 

Rampe herinner ons aan die genade van ons Verlosser. Dit mobiliseer die kerk om te dien en wys mense na Christus.